November 2, 2009
November 2, 2009
Ek sien die regering wil TV-lisensiegeld afskaf en met ‘n belasting vervang. Belastings is die mees oneffektiewe manier om so iets te doen. Met ‘n belasting wat by almal ingesamel word wat geld het, ongeag of hulle TV kyk, hoef die SAUK al minder aan sy kykers (sy klante) verantwoording te doen- talle van sy kykers betaal hom nie en het geen sê oor hom nie, en talle van sy betalers gebruik nie sy diens nie. En selfs kykende betalers het so geen sê nie- as belasting-ontvanger behoort die Es Y Bie Sie aan die Y En Sie en nie aan sy kykers nie. Dit word so ‘n manier om die regering se waardes en idees af te dwing.
En dít is so onregverdig as kan kom. ‘n Stelsel waarin enige TV-koper ‘n lisensie moet kry is al klaar meer regverdig. (Al is daar maniere om dit te omseil.)
Maar die heel regverdigste sal wees om uitsendings te kodeer, soos M-Net. Net mense wat betaal kan die sein opvang. En as al minder mense jou programme kyk, en jou sein probeer opvang, dan moet jy jou klante/ potensiële klante vra: “Hoekom kyk julle nie meer nie? Hoe kan ek vir julle ‘n beter produk lewer?” En dan doen die uitsaaier net verantwoording aan sy klante- wat vir sy produk betaal.
Oktober 31, 2009
Frankly, Dawkins presents the facts of microevolution very well. But does Dawkins accomplish his overall thesis to demonstrate macroevolution as a fact? This reviewer found Dawkins’ thesis to fall short on three points: His case was incomplete, inconsistent, and ultimately insufficient to reach the doubter. …But the real insufficiency in Dawkins’ case, in this reviewer’s estimation, was Dawkins’ amazing logical jumps and marshalling of ambiguous data. The author’s many unwarranted extrapolations and fallacies of affirming the consequent are simply not excusable for an Oxford professor. This is insufficient to bridge the logical gap between microevolutionary facts and macroevolutionary extrapolations.
…And then it goes from bad to worse. He uses intelligent selection by human dog-breeders as proof of the efficacy of random mutation and natural selection. Intelligent design that produces micro-evolution is used as evidence for unguided macro-evolution.
—————————
* 1) Die verskil tussen mikro- en makro- evolusie is nie iets waarvan net kreationiste praat nie, anders as wat party evolusioniste dit wil tipeer. Gould en Eldredge reken byvoorbeeld ook “macro-evolution is not micro-evolution writ large.”
2) Die stuk oor mikro- en makro- evolusie is aangepas oor Albert vir my ‘n fout daarin uitgewys het. Die sin “Mikro-evolusie voeg geen nuwe informasie by gene by nie.” is o.a. uitgehaal.
Oktober 25, 2009
‘n Toegewyde Christen-vrou kom by my aan met ‘n breë glimlag. Sy vertel my: “Die Here vertel my ek is geroep om met stukkende vroue te werk. Ek is nou klaar met kinders gespeel, ek het my Sondagskoolklas aan Annemarie oorgegee.”
En ek is onmiddelik kwaad. Oor sy haar Sondagskoolklas drop? Nee. Die Here kan haar dalk die begin van die vierde kwartaal vir iets anders roep, en as sy selfs iemand anders kry om haar klas oor te neem, hoekom nie? En vir al wat ek weet het die Here Annemarie geroep om by kinderwerk betrokke te raak.
Oor sy met stukkende vroue wil werk? Nee, nooit, wat is daarin om oor kwaad te wees?
Wat my so kwaad maak dat dit al my selfbeheersing gevat het om nie daar te begin berispe voor almal nie (daar is ‘n tyd en plek vir alles) is dat sy impliseer dat kinderwerk net “speel” is, en nie ‘n sinvolle spandeer van tyd nie. Oor sy kinders minag, en nie as belangrik in die koninkryk beskou nie.
Die Bybel sê:
“Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang my. … Julle moet nooit een van hierdie kleintjies minag nie, want Ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurig by my hemelse Vader is.” Matteus 18
Die koninkryk van God het, volgens Matteus 18:3, ’n bordjie op: Slegs vir kinders (en mense soos hulle). Ons moet verander en soos kinders word om daar in te gaan. (Kinderlike geloof , terloops- net om misverstand te voorkom noem ek dit- beteken nie ‘n geloof wat anti-rede en anti-kennis is nie, of “blinde geloof” nie- dit beteken iets anders.)
Junior sondagskool/kinderkerk/ kleuterkerk is nie een van die kerk se laagste takies vir mense wat niks beter kan doen nie. Dis belangrike werk met mense wat vir God belangrik is, wat na Sy beeld geskape is. George Barna, kerk-statistikus, het eenkeer ‘n opname onder Christene gemaak oor die ouderdomme waarop hulle tot bekering gekom het. (Grafiek hier regs. 100% verteenwoordig alle bekeerdes, nie alle mense nie.)
Wat mens by ‘n vraag uitbring? Watter persentasie van die kerk se geld, tyd, en beplanning gaan daarin om kinders tussen 4 en 14 te bedien? Kom ons vat, vir ‘n rowwe raaiskoot, 15% ? Wel, as ek in verskeie projekte belê, en ek sien dat 85% van my wins konstant kom uit ‘n plek waar ek gewoonlik 15% van my “geld” belê, sal ek meer daar belê- en minder elders. Die gemiddelde ouderling (en dalk selfs dominee) behoort dit mos te verstaan?
Die beroemde 19de-eeuse prediker Charles Spurgeon het gesê:
A child of 5, if properly instructed, can savingly believe and be regenerated as well as any adult.
Ek wil van hom “verskil”, en saamstem met wat ‘n jeugwerker my eentyd geleer het:
An adult, if properly instructed, can savingly believe and be regenerated as well as any child of 5. – Tania Schultz.
Daar is ‘n klomp voordele aan kinderbekerings. Die een is dat God ‘n groter deel van die bekeerde se lewe kry. (Bv. 60 jaar i.p.v. 30jaar.) ’n Ander is dat die kerk so lidmate kry wat nog nie verval het in soveel sonde en slegte keuses en seer, en so baie nodig het om te verpleeg en genees en te vernuwe nie.
En die punt is? Die punt, medegelowige, is om oor kinders te dink soos God oor hulle dink. En God reken nie kinders, of werk met hulle, is onbenullig nie.
—————
Naskrif: Vir ‘n Christen wat verder oor hierdie saak wil dink, beveel ek hierdie aanhalings aan.
Oktober 18, 2009
Oktober 14, 2009
Die aanhalings is weereens van daardie webblad af:
waag dit om te weet
Maak nie sin nie: Daar is niks waaghalsig daaraan om iets te weet nie. Dit kan soms waaghalsig wees om iets te wete te kom, of om op te tree volgens wat jy weet, of dit te verkondig, maar “Waag dit om te weet” is onsinnig.
Ons leuse rakende opvoeding is eenvoudig: Leer ons kinders alles wat ons weet, maar geen van ons vrese nie.
Ja, ons doen dit/? Met die eerste helfte van die sin stem ek saam. En baie van ons (die onderwysers onder ons ook) weet- uit ervaring- dat Jesus van binne af nuut maak as mens jou lewe aan hom oorgee. En dit moet ons vir ons kinders leer, want ons weet dit. Wat die tweede helfte betref: Is ek seker dat die AVB niks van hulle vrese vir kinders wil oordra nie? Party ongelowiges het byvoorbeeld die belaglike vrees dat godsdiens oorlog gaan veroorsaak, of die vrees dat die leer van godsdiens dalk die kind minder rasioneel gaan maak. Maak die AVB seker dat hulle glad nie hulle vrese op hulle kinders oordra nie?
Ongelukkig omseil baie Afrikaanse (gewoonlik ou model-C) openbare skole en individuele onderwysers die wette rakende godsdienste-onderrig en godsdiensinskerping wat sedert 2003 van krag is.
Kort bewyse: Skole en regsverteenwoordigers ontken dit. Hoe weet ek die AVB praat hier die waarheid, en die regsverteenwoordigers wat in koerante aangehaal word nie?
Die kern van die saak wentel daarom dat skole, veral Afrikaanse skole, steeds voortgaan met die Calvinistiese gebruik van ons ou Christelike Nasionale Onderwys-agenda wat ‘n ras-gebaseerde … elitisme bevorder
Onwaar: Soos ek reeds uitgewys het: Calvinisme bevorder nie ‘n ras-gebaseerde elitisme nie. Ek het ook nog nooit beleef dat godsdiens in skole ‘n ras-gebaseerde elitisme bevorder nie. (Ek vermoed dat die AVB hier oneerlik die rassekaart speel om aandag te kry van die regering.)
Julle ook: My vraag is: Deur hulself die Afrikaanse (nie Engels nie, nie Zoeloe nie) Vrye Denkers (bewering dat hulle denke superieur aan ander s’n is) te noem, bevorder hulle nie ‘n soort taal- en denke- gebaseerde elitisme nie? Hierdie saak gaan alkante toe: Almal wat ‘n opinie het reken hulle opinie is reg. Dis wat opinie beteken. As jy reken dat jou opinie (oor geloof of vrye denke of politiek of wat ook al) reg is, maak dit jou (nog) nie ‘n elitis nie. Dit geld ook vir onderwysers wat hulle opinie oor geloof verkondig.
Weens polities-geïnspireerde inmenging groei ons kinders egter steeds op in ‘n omgewing van geloofsapartheid (Geloofsapartheid = “Ons” geloof … is die “regte” een, en blootstelling van kinders aan ander “dwaalleringe” skep ‘n geleentheid vir “Satan” om die kind se siel te verlei. Sulke “heidense” “agendas” lei dan tot ‘n politieke teologie waar geloofsmotiewe verdedig word ter wille van die behoud van een of ander denkbeeldige ideaal.)
Verwarde denke: “Hulle” sê dat kinders nie in ‘n omgewing moet grootword waar ‘n idee oor geloof as die regte een voorgehou word nie. Eerstens wil ek vra: Sal hulle hul standaarde oor godsdiens ook op ander dinge toepas, soos lees of morele waardes of higiene of wiskunde? Mag geen kind geleer word dat vriendelikheid met ander kinders beter is as om hulle te boelie nie; dat die “k” klank anders uitgespreek word as die “t” klank nie, dat gereeld tande borsel beter is as om dit glad nie te doen nie; dat 1+2=3 en nie 7 nie? Hoekom op aarde moet kinders nie op skool geleer word watter idee reg is nie? Wat is die punt van onderwys as jy nie daar mag sê wat reg en verkeerd is nie? Waarom wil hierdie mense godsdiens op skool anders hanteer as enigiets anders? Skool gaan daaroor om sekere idees as reg voor te hou! En dis nie ‘n fout van skool nie, dis ‘n fout van die AVB om te dink skole moet ophou daarmee.
Kort bewyse/ onbenullig selde waar: ” polities-geïnspireerde inmenging”: Hulle moet my wys dat onderwysers wat oor geloof op skool praat polities gemotiveerd is. Want ek kan eerlik sê dat van al die mense wat ek al ooit in my lewe oor christenskap of die Bybel hoor praat het (dis baie mense) was net 2 polities geïnspireer. Dis seker so dat daar iewers in die land enkele onderwysers is wat polities gemotiveer is as hulle oor geloof praat. Maar dis nie iets om oor te veralgemeen nie.
word kennis van die wêreld en ander kulture van hulle weerhou
Non sequitur (Gevolgtrekking wat nie volg op gegewens nie): Om iemand ‘n sekere kennis te leer, beteken nie dat kennis oor ander sake van hom weerhou word nie. Ek sien absoluut geen rede waarom ‘n Christen kennis van die wêreld en ander kulture van kinders sal weerhou nie.
word ‘n ongewensde klimaat van “ons” teen “hulle” in gemeenskappe bevorder
Misleidend: Enigiets wat almal nie doen/ is nie, skep ‘n ons-hulle. “Ons” is meisies, “hulle” is seuns; ons huistaal is Afrikaans, “hulle” s’n is Zoeloe; “ons” is deel van die interskole-atletiekspan, “hulle” nie, ens. Maar ‘n ons/ hulle beteken nie noodwendig dat ons iets téén hulle moet hê nie.
Julle ook: Nota aan die hulle-webblad: As daar een manier is om ‘n ons-teen-hulle houding tussen Christen en nie-Christen te bevorder, is dit deur Christenskap/ geloof “onwetenskaplike wensdenkery” te noem. (Julle inleidingsblad het tot onlangs daardie woorde opgehad.) Ander suksesvolle manier om ons-teen-hulle te bevorder, is deur spesifiek Christene uit te sonder vir aanvalle, (julle webblad noem bv. nie enige probleme met Moslem-skole, of universiteitsprofessors wat ateïsme verkondig nie.); deur te beweer-soos julle maak- dat kinders in die donker gehou en “perdevye gevoer word” deur gelowiges; of deur “evangelisties” en verkramp in een paragraaf te noem. (Dit was ook nog onlangs deel van julle inleiding.)
nog ‘n geslag Afrikaanse kinders word onkundig gehou (en wonder later hoekom ander groepe voorkeur kry in die werksplek).
Misleidend: Die AVB probeer die indruk hier skep dat a) Afrikaanse skole akademies minderwaardig is bo meeste ander skole in die land en b) dat godsdiens die rede vir daardie minderwaardigheid is. Onwaar. Oor die algemeen is die Afrikaanse skole oraloor van die akademies beste staatskole in hulle gebied- en ek glo dis juis te danke aan die sout en lig van toegewyde Christen-onderwysers. Ons almal weet hoekom ander groepe voorkeur kry. Dis nie oor Afrikaanse kinders dom of onkundig of swak werkers is nie.
Om op te som: Die AVB se klagtes is misleidend en grootliks onwaar. En hoewel hulle beweer dat hierdie nie ‘n Christen-teen-ongelowig saak is nie, gee hulle webblad my die teenoorgestelde idee. Die blote feit dat George Claassen van Skepties SA die saak eerste aangeroer het, vertel my ook: Selfs waar hulle nou iets sê waarmee Christene kan saamstem, is hierdie groep se uiteindelike agenda nie iets waarmee ek kan saamgaan nie.
Oktober 3, 2009
Bysteek het my vriendelik uitgenooi na die webblad “Hulle.” Die webblad gaan oor godsdiens se plek in skole. Dit open met die Woorde “AVB Waag dit om te dink.” Nou ja, ek neem daardie uitdaging aan. Hier gaan ek dit waag om te dink oor AVB se bewerings op bladsy een van die Hulle-webblad. Alle aanhalings wat ek maak sal van daardie bladsy af kom.
Skole, veral Afrikaanse skole, gaan steeds voort met die Calvinistiese gebruike van ons ou Christelike Nasionale Onderwys-agenda wat ‘n oordrewe ras- of geloofs-gebaseerde nasionalisme in kinders se koppe inprent en hulle wêreldbegrip verarm.
Verkeerde begrip: Ras-gebaseerde nasionalisme, selfs geloof-gebaseerde nasionalisme, is nie Calvinisties nie. Die skrywer van hierdie stuk moet gaan opkyk wat Calvinisme beteken.
Kort bewyse: Hulle-webblad moet bewys dat (veral) Afrikaanse skole ‘n “geloofs-gebaseerde nasionalisme” in kinders se koppe inprent. Ek glo baie skole leer geloof, maar hy moet bewys dis ‘n vorm van nasionalisme.
Kort bewyse: Hulle-webblad moet bewys -nadat hulle bewys het die “Calvinisme”, en die “geloofs-gebaseerde nasionalisme” (twee verskillende dinge) albei in skole geleer word – dat hierdie dinge wel die kind se wêreldbegrip verarm en nie ‘n ekstra idee is wat die kind se wêreldbegrip verryk nie.
Ander nota: Aha! Ek het gedink dat dit nie gaan oor bv. skole met ‘n Moslemgrondslag nie- hierdie is ‘n manier om Christenskole en Christene te by te kom. Dis nie oor gelykheid, ongeag wie tans bevoordeel word nie, dis spesifiek gemik teen Christene- en dit word al in paragraaf twee erken.
Dit ten spyte van wetgewing (sien Skakels-bladsy) wat voorskryf dat openbare skole op staatsgronde …..alle kinders en hulle gelowe gelykmatig moet respekteer
Kort bewyse: Ek kan nie sien waar dit staan dat skole (onderwysers) alle kinders se gelowe gelykmatig moet respekteer nie?
Verwarde gedagte: Dis ‘n eenvoudige feit dat niemand alle idees oor geloof gelykmatig respekteer nie. Ongeag of jou wêreldbeeld Hindu, Christen, of sekulêr humanisties is, jy het meer respek vir dit wat jy glo as vir dit wat jy onwaar vind. Dis nie net die geval met godsdiens nie- as jy bv. glo sekere politieke beginsels sal die land ‘n beter plek maak, het jy meer respek vir daardie politieke gelowe as vir teenoorgestelde politieke gelowe. Mens kan nie alle standpunte/ gelowe ewe veel respekteer nie. Ek verwag dit van niemand. Ek verwag van myself, en is bly as ander mense ook so maak, om alle mense, ongeag wat hulle glo (oor God/gode, oor politiek of oor wat ookal) met respek te behandel.
Ons het hier te make met ‘n politieke teologie wat vinnig, ook met die oog op opkomende munisipale verkiesings en die franchise-benadering van die opsweep-kerke, vir eie gewin uitgebuit word. Hierdie polities-geïnspireerde inmenging…
Onwaar: Hierdie is nie vir my, wat oor die saak praat, ‘n politieke teologie nie. Ek glo bloot daarin om dit wat mooi is en ‘n bewese positiewe verskil maak- wat ek al in kinderlewens beleef het- met kinders te deel. En die gelowige onderwysers waarmee ek al gepraat het het nie een politieke, nasionalistiese ideale nie, en hulle belewenis van wat nou gedoen word het niks te doen met die komende verkiesing nie.
Onwaar/ grootliks onwaar: Kerke kan nie ‘n franchise-benadering volg nie, want die meerderheid kerklidmate maak geen geldelike gewin uit kerkbetrokkenheid nie. En talle van die mense wat wel hulle salaris by ‘n kerk kry, kan meer maak buite die kerk met dieselfde vlak van opleiding. Dis ook onlogies om op godsdiens in skole te fokus as jy aan eie gewin dink: Kinders gee nie kerkbydraes nie. En mense gaan waarskynlik nie na jou kerk stroom oor jy meer oor die saak sê as hulle pastoor nie….
het tot gevolg dat kinders steeds in ‘n omgewing van religieuse apartheid opgroei,
Byna vansefsprekend, maar teenstrydig met AVB-doelwitte elders: In enige omgewing waar kinders van hulle geloof leer, hetsy kerk of moskee of by ‘n soortgelyk-denkende onderwyser, en waar kinders van ander gelowe dit nie hoef by te woon nie, word ‘n soort “religieuse apartheid” geskep. As ‘n kind sekulêr grootword, terwyl ander kinders om hom ‘n tempel of moskee of kerk bywoon, is hy ewe veel deel van ‘n “religieuse apartheid” van ander kinders. Die enigste manier ,, waaraan ek kan dink, om “religieuse apartheid” te keer, is deur alle kinders te dwing om saam te gaan kerk toe, én moskee toe, én tempel toe. Is dit wat die hulle-webblad se skrywers wil hê? Klaarblyklik nie, want Dirk Koekemoer vertel elders op die webwerf: ” Ek wonder net somtyds hoekom mense dink die AVB is teen godsdiens. Die hele beweging het dan begin omdat ons voel dit is die ouers se voorreg om godsdiens aan hul kinders oor te dra en om seker te maak dat hul kinders nie deur anderster leringe gekonfronteer word terwyl hy/sy nog op graad een sit nie.” Watter een is waar, AVB? Wil julle religieuse apartheid keer, en kinders aan alle gelowe blootstel? Of wil julle juis religieuse apartheid sien, met kinders wat nie aan ander leerstellings blootgestel word nie?
(Word vervolg.)
September 30, 2009
Skepties SA, soos koerantlesers of selfs lesers van hierdie blog reeds weet, wil ‘n hofsaak maak om godsdiens in skole te beperk.
Een van die kommentare hier oor die saak was van ‘n blogger genaamd Skoor:
Ek vertrou dat die George Claassen en die res van die heksejagters sal kry wat hulle toekom. Om spesifieke skole uit te sonder en te teiken, gaan my verstand te bowe. Ek kan horror verhale neerskryf oor hoe dit in skole in die land gaan. Van hoenderpote wat in ‘n groot kastrol kook in personeelkamers, en waar GEEN klasgee plaasvind tot na eerstepouse, wanneer die onderwysers hulle pote klaar geeet het, tot viktimisering van onderwysers en vandalisme. En dan mors hulle tyd op sulke twak!
Ja, ons land het talle swak skole met totaal ongemotiveerde onderwysers, soos Skoor uitwys. Ek kan my kop op ‘n blok sit die skole wat Claassen by die naam noem en wou vervolg, is van die beter akademiese skole in sy gebied. Wat Skepties SA beoog, is eintlik om goeie skole af te trek na die vlak van skole waar niks onderrig voor eerste pouse plaasvind nie- en Skepties SA verstaan dit nie. Hulle verstaan dit nie, want hulle kan nie skepties kyk na hulself, na menslike natuur, of die resultate van godsdiens uit skole haal elders in die wêreld nie.
Skepties SA besef nie, vir een ding, dat goeie skole juis skole is waar die ouers betrokke is, en kies wat hulle kinders leer en wie die onderwysers is nie. Die regering voel vere vir jou kind. Jy as ouer gee die meeste om. As Skepties SA wil hê die regering moet meer beheer neem oor wat kinders mag en nie mag leer nie, word ouerbetrokkenheid- wat baie goed vir skole is- afgewater. (Hans Pietersen en diesulkes is egter vanselfsprekend welkom om as ouers ook deel te neem aan besluite oor wat geleer word by hulle kinders se skole.)
Vir die soort onderwyseres wat vrywillig haar geloof met kinders deel, is onderwys ‘n missie wat sy doen om God te eer en kinders vir wie God lief is te help. Maar om haar te vra om nie God te deel met kinders nie, is om eintlik te vra dat sy haar missie op die agtergrond skuif. En om te dink dat ‘n onderwyser(es) wat se missie en visie op die agtergrond geskuif/ vergeet word, ‘n ewe goeie en toegewyde onderwyser sal bly op die lang termyn (net ene wat stilbly oor godsdiens) is naief. Om te glo alle jong SA-ners wat in God hulle motivering vind, kan maar ander beroepe as onderwys kies, en dat skole nie sal ly wanneer daardie soort innerlik gemotiveerders wegbly uit die onderwysberoep nie, is uiters kortsigtig.
Om dit eenvoudig te stel: Daar is ‘n minderheidsgroepie onderwysers wat gemotiveer word deur hulle geloof. Hulle sien hulle werk as ‘n missie en doen dit met ‘n visie. Selfs waar hulle in die minderheid is, trek dit ander onderwysers by hulle skool om ook goeie werk te lewer. Toegewyde onderwysers skep ‘n kultuur van toewyding. Hulle is die sout en die lig van die onderwysberoep. As jy die visie- en missie- onderwysers vra om stil te bly oor hulle geloof, is die kanse goed dat jy party van hulle sal demotiveer. Op die lang duur demotiveer jy ook diesulkes om onderwys as beroep te kies.
En ons kinders het elke gemotiveerde onderwyser nodig wat ons kan kry. In ‘n ander onlangse pos (nie oor godsdiens in skole nie) het ek juis ook gevra vir meer aansporings om onderwysers te motiveer, nie minder nie.
Ek hoop en bid regtig dat ons land nie die soort skole kry wat die Skepties SA mense verdien nie. Want ons kinders verdien beter…
September 27, 2009
Ek sien George Claassen het die saak van godsdiens in skole gelos, en aan Hans Pietersen oorgegee. Claassen beweer sy opponente is “onaanvaarbaar beledigend en lasterlik.” Nou ja, niks wat ek in die media teëgekom of gehoor het kom neer op lasterlike aanvalle of selfs persoonlike beledigings teen Claassen nie. (In elk geval het ek al biografieë gelees van martelare vir geloof soos Richard Wurmbrand, Brother Yun, en Roger Youderian- hulle. Daardie mense laat “martelare” soos Claassen wat “belaster” en “persoonlik aangeval word” vir hulle aksies teen geloof maar taamlik on-indrukwekkend klink.)
Vermoedelik het Claassen om ander redes die saak in iemand anders se hande gelos. Sluit daardie redes dalk die volgende redes in:
* Dat hy weet party van sy bewerings teenoor skole in sy omgewing heeltemal onwaar was? Met ‘n nuwe man aan die stuur kan hulle voortgaan sonder daardie leuens en sonder dat hy verskoning hoef te vra daarvoor? Pietersen gaan nie uitgedaag word op wat Claassen gesë het nie.
* Dat hy bang is die hof vra hom hierdie blog se vraag: Deel hy sy opinie oor geloof in (tersiëre) klaskamers? (Pietersen gee heel waarskynlik nie enige soort onderwys nie, en die vraag hoef dan nie vir hom gevra word nie.)
* Dat hy reeds weet minder gaan met die saak bereik word as wat hy sou wou? Hy het ‘n week gelede gepraat van kriminele vervolging van skole, en Hans Pietersen praat nou bloot van duidelikheid kry oor wat presies toelaatbaar is.
(Pietersen sê hy voel “soos Dawid teen Goliat.” Nee, Hans, dink weer. Dawid se gevoel in die Goliat-saak was sterk daarop gegrond dat hy geglo het God is aan sy kant. – Lees 1 Sameul 17, veral vers 45. En Hans – ek hoop en bid regtig jy kan eendag soos Dawid voel!)
Ek hoop dat wat die hof ook al besluit, dat daar pertinent gesê word dat dit ook vir ateïste en Claassens-tipe “skeptici” tel wat leerders wil indoktrineer. Indien daar bv. besluit word: Godsdiens opinies mag net met kinders gedeel word as die ouer/ voog van die kind dit skriftelik goedkeur” dan moet dit ook vir iemand soos Claassen geld. Dan moet opinies soos Claassen s’n net op universiteit verkondig word, reken ek, waar die beurs-betalers/ studielening-borg dit goedkeur.
—————–
Naskrif: Christene, sit hierdie hofsaak hoog op julle gebedslysie. Want, soos pous Pius XI gesê het: “since education consists essentially in preparing man for what he must be and for what he must do here below, in order to attain the sublime end for which he was created, it is clear that there can be no true education which is not wholly directed to man’s last end.” Sit dit op julle gebedslysie, want kinders het God nodig. Sit dit op julle gebedslysie, want ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. Sit dit op julle gebedslysie, want God hoor. Sit dit op julle gebedslysie, want neutraliteit oor aanbidding is ‘n mite- waar God nie in die skole aanbid word nie sal iets of iemand anders aanbid word- soos hierdie Noord Koreaanse Amerikaanse video van Kim Jong Il Obama wys.
September 21, 2009
George Claassen van Skepties SA wil glo skole wat gebed en Bybel lees in klastyd toelaat strafregtelik vervolg. Volgens hom luister sulke skole nie na die nasionale beleid oor godsdiens in skole nie.
Die skole wat hy by die naam noem maak kapsie teen wat hy sê, en antwoord hom met:
“Die Grondwet sê jy kan nie godsdiens afdwing nie, maar jy kan ewe min die afwesigheid van godsdiens afdwing,” Enige beleid oor dié kwessie is ondergeskik aan die Grondwet se beskerming van godsdiensvryheid.- prof. Rassie Malherbe, grondwetkenner aan die Universiteit van Johannesburg, wat al artikels oor die grondwetlikheid van skolegodsdiens gepubliseer het.
Die staat moet ’n ruimte skep waar mense hul geloof vrylik kan beoefen. Dit sluit openbare skole in. – ook prof. Rassie Malherbe
Claassen beskuldig die skool verkeerdelik. Ons godsdiensbeleid “is nagesien en in orde bevind deur vooraanstaande kenners van die onderwysreg en konstitusionele reg. “Dit is bevestig deur die direkteur van onderwys in die Wynlandstreek en die twee kringbestuurders.”- Dr. Johan van der Merwe, voorsitter van die Laerskool Stellenbosch se beheerliggaam
Deelname aan dié skool se godsdiensaktiwiteite is “absoluut vrywillig” – Mnr. Hawkie de Villiers, skoolhoofDie beskuldigings teen my skool is feitelik verkeerd. -. Mnr. Arrie Genis, skoolhoof van die Laerskool Louw Geldenhuys
“Ingevolge die raamwerk van die Grondwet kan ’n skool steeds ’n Christelike of ’n Moslemskool wees. Die Grondwet bepaal bloot jy kan nie meer alle leerlinge verplig om aan godsdiensaktiwiteite deel te neem of mense met ander menings uitsluit nie. Skole moet begrip en verdraagsaamheid kweek, eerder as om een siening rigied af te dwing.” – Jaco Deacon, nasionale bedryfshoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole
Dit wil voorkom dat Claassen se idee oor skolegodsdiens en die grondwet verkeerd is. Dit wil ook voorkom dat sy feite oor wat die skole doen verkeerd is, volgens Mnr. Arrie Genis. (Verder wil dit voorkom dat dit ‘n vendetta teen Christene spesifiek is – ek sien nie dat hy bv. een Moslem-skool insluit nie.)
Claassen sê:
“Skepties Suid-Afrika oorweeg dit om strafregtelike klagte teen skole aanhangig te maak tensy dié optrede dadelik gestaak word en skole begin om die nasionale beleid oor godsdiens in onderwys te gehoorsaam. Ons woon nie meer in Nazi-Duitsland of die apartheidstaat nie.”
Nee, George, ons bly nie in Nazi-Duitsland nie. Ons bly in ‘n demokrasie. En in ‘n demokrasie moet die gewone, belasting-betalende mens die reg hê om self te kies dat hy dit wat hy goed vind – soos sy geloof – ook met sy kinders wil gedeel hê. En evangeliese Christenskap is juis ook iets waarin mens nie ingedwing kan word nie, maar waarin mense- ook kinders -vryelik moet kies of hulle dit wil volg of nie. En ons demokrasie het vryheid van spraak ook. Dit geld sekerlik ook vir Christen-onderwysers?
Dan wil ek ‘n vraag vir George vra: As onderwysers nie in klastyd met leerders mag praat oor hulle geloofstandpunte nie, geld dit vir universiteitsprofessors wat in klastyd ateïsme verkondig ook? Sal George hulle ook wil strafregtelik laat vervolg?
En die punt hier? Die punt is dat ons gelowiges nugter en wakker moet wees. Ons moet ons regsgeleerdes vra om ons regte te verdedig, voor dit van ons weggeneem word. Voor ons soos kommunistiese China of Rusland word. Maar ons moet ook onthou ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, nie teen die George Claassens van hierdie wêreld nie. Ons moet onsself toerus om die stryd te stry teen die propaganda van ongelowiges, en teen die magte wat agter hulle sit. Ons moet ook ons kinders toerus om die waarheid te ken.
————————————-
Naskrif: Kan iemand vir ons bevestig dat George Claassen, ‘n professor in Stellenbosch,
a) Nooit sy standpunt oor godsdiens(hy is daarteen
) in klastyd deel nie
OF dat hy
b) Wel sy standpunt oor godsdiens in klastyd deel?
Want dit wil vir my voorkom dat, indien hy wel sy standpunt oor godsdiens in klastyd deel, hy skynheilig is en net agter (sy verstaan van) “die grondwet” wegkruip. As hy egter volkome selfbeheersing toepas en nooit sy standpunt oor godsdiens deel waar mense wat dit nie wil hoor daaraan blootgestel sal wees nie, is hy bloot ‘n opregte ou wat die grondwet misverstaan