xm1.jpg 

Elke jaar hoor ons van mense wat iets wil doen om minder bevoorregtes se Kersfees op te helder. Mooi. Dis ‘n lofwaardige ideaal. Ek help graag. En dan voeg hulle by dat hulle ‘n Kerspartytjie vir die kinderhuis/ kersfees-ete vir eensame bejaardes/ kersboom by ‘n sentrum vir straatkinders wil gee- in die middel van November. ‘n Nuwe afrikaanse tydskrif adverteer op sy voorblad ‘n artikel oor ‘n Kersfees-ete in Hilbrow. Die “Kersfees”-ete het ‘n paar weke terug gebeur.

Ek verstaan waarom ons dinge so doen. Dis makliker so. Dis ‘n groot opoffering om die minderbevoorregtes deel van ons planne vir 25 Desember te maak. Maar ‘n kerspartytjie op, sê maar, 17 November maak niemand se Kersfees spesiaal nie. Dit maak sy 17 November ‘n beter dag as Kersdag.

Ek stel dus voor dat ons nog meer kersfees-geleenthede reël vir minderbevoorregtes. Natuurlik moet hulle hierdie spesiale tyd deel in die vreugde! Met een klein modifikasie: Kom ons doen dit die 25ste Desember! Kom ons sluit daardie mense by ons gesinne se Kersfeesplanne in.