Genadedood?

Daar was onlangs op Bosparra, ‘n blog waar ek dikwels rondhang, twee drade (Hier en hier) oor genadedood. Ek is versigtig vir genadedood, want:

Dis maklik om, terwyl jy gesond is, te sê jy soek nie ‘n lewe op masjiene/ ‘n pynlike siekte nie, maar sal jy dieselfde sê as jy in daai posisie is? Selfs onder die aakligste omstandighede kies ‘n baie klein persentasietjie van mense selfmoord. Is dit waar dat iemand wat nie meer kan kommunikeer nie genadedood sou kies? Soos ek vandag voel, sê ek ook ek wil nie byvoorbeeld as ek oud is ‘n laat stadium van seniliteit bereik nie, ek sal eerder wil dood wees. Maar veronderstel dat ek wel eendag Altzheimers het, sal ek nog steeds so voel in die vroeë of middelstadiums daarvan? Of sal ek aan lewe bly vasklou, want dis wat ek nog het? En sal my wil om te lewe dan minderwaardig wees teenoor wat ek oor genadedood gesê het in my jeug?

Kom ons dink aan iemand wat in ‘n motorongeluk beland en bewusteloos op masjiene gekoppel word. Die dokter sê die kanse is skraal dat hy sal bykom, maar dis nie onmoontlik nie. Hy het baie geld om aan erfgename na te laat. Daardie selfde erfgename is sy naasbestaandes en kan besluit oor of sy masjiene moet aan bly. Wat is die kanse dat iemand wat ryk kan erf vroeër of later gaan kies om masjiene sommer gou af te skakel- terwyl die mens nog sou bygekom het andersins?

Ek is bekommerd dat die “reg om te sterf” later “die verantwoordelikheid om te sterf” gaan word. In ‘n samelewing waar genadedood normaal is, sal daar vroeër of later druk uitgeoefen word op verswaktes- druk wat hulle laat glo hulle is ‘n las op hulle geliefdes, Sarie-se-ma-het-dieselfde-siekte-gehad-en-sy-het-gekies-om-te-sterf- tipe druk. Dit sal moreel oneties van die samelewing, dokters of geliefdes wees om sulke druk op ‘n swak en siek mens, wat nog die normale instink het om te wil leef, uit te oefen.

Watter invloed het genadedood op dokters? Veronderstel ‘n dokter help ‘n pasiënt om dood te gaan. Stomp dit hom nie af teenoor die volgende pasiënt met dieselfde probleem, wat kies om te alles in die stryd te werp om te LEWE nie? En ‘n afgestompte dokter is ‘n swakker dokter vir al sy pasiënte- nie net díé wat terminaal siek is nie.

Vir mense wat ten gunste van genadedood is, het ek die volgende vraag: Veronderstel jou man, vrou of kind is ‘n depressielyer. Hy/sy drink ‘n handvol pille om selfmoord te pleeg. Jy kom op hom/haar af. Het jy as ouer of huweliksmaat die reg om hom/haar hospitaal toe te jaag en sy/haar maag te laat uitpomp? As jy werklik glo in mense se reg om die dood te kies, sal jy mos nie hom/haar hospitaal toe vat nie?

Sal ek iemand veroordeel wat pynlik en dodelik siek is, en kies om ‘n handvol pille op een slag te drink en te uit hierdie lewe te gaan? Nee. Sal ek iemand veroordeel wat, met sy geliefde al ‘n geruime tyd op masjiene en menslik gesproke geen kans dat sy weer sal bykom nie, die masjiene afsit? Nee. Maar om genadedood voor te staan los hopeloos te veel deure oop vir misbruik.

About these ads

24 responses to “Genadedood?

  1. As mediese dokter in paliatiewe sorg is ek ‘n voorstaander van genadedood- ek self het dit nog nooit toegepas nie, maar ek weet ek sou myself ‘uithelp’ as ek met ‘n terminale siekte gediagnoseer is. Baie mense sal redeneer dat die lewe in elke geval terminaal is! Genadedood behoort net beperk te word tot jou eie lewe, maw jy moet nie kan besluit oor jou eggenoot, ouer of kind nie.

    Ek sien gereeld mense wat deur die hele rou proses gegaan het van Ontkenning tot Aanvaarding, al hulle sake is in orde en hulle het vrede met die familie en berusting in God se Wil gevind, maar hulle het konstante uitmergelende pyn- bv. die met kankeruitsaaiings na die werwels toe. Hoekom moet hulle in pyn verkeer vir weke of selfs maande?- hulle is optimaal behandel met chemoterapie en bestraling.

    Soms kan die blote toediening van effektiewe pynmedikasie die dood meebring- voorbeeld morfien onderdruk die asemhalingsstelsel in die brein teen hoe dosisse en soms is hoe dosisse nodig vir effektiewe pyn beheer. Hoe nou gemaak? Ek sal eerder pynvry in ‘n diep slaap gaan en dan ophou asemhaal as om heeldag en nag pyn te verduur, maar dit is my persoonlike mening.

    Sal dit dokters afstomp? Ek dink nie so nie, die uitvoering van aborsies is mynsinsiens veel erger op die psige as om iemand met ‘dignity’ te laat sterf.

    Die laaste woord is egter nie hieroor gespreek nie en ekself het soms erge teenstrydige opinies, maar ek sou verkies dat my man eerder medies van sy pyn verlig word as dat hy homself sal skiet- dit lei net tot meer trauma by die naasbestaandes.

    Dankie vir hierdie sinvolle pos op jou blog!

  2. christianrethinker

    Dankie, Blixer.

    Ek waardeer jou mening. Party sake is doodeenvoudig nie maklik nie….

  3. Blixer, ek sal jou iets wil vra. Deur jou mening “Genadedood behoort net beperk te word tot jou eie lewe” glo jy waarskynlik klaar iets waarmee ek saamstem: Dat daar perke moet wees, indien genadedood beoefen word, op wie dit mag beoefen. Verstaan ek jou reg?

    En dan ‘n vraag vir jou: Mag enige mens ‘n besluit neem om sy lewe te beeindig? Dis relatief maklik om te glo iemand wat terminaal siek is en in konstante pyn kan eerder nou doodgaan(genadedood) as oor ‘n maand of drie.

    Maar wat van iemand wat baie pyn het, maar wie se siekte nie terminaal is nie? Moet hy die reg hê om genadedood te kies? En ‘n ma van klein kindertjies wat depressie het, maar relatief gesond fisies is? Moet sy die reg hê om genadedood te kies?

    So my vraag is (en ek stry geensins met jou nie, ek wil beter verstaan deur jou mening): Waar trek mens ‘n streep? Moet mens iewers ‘n streep trek met genadedood, is daar gevalle waar iemand nie die dood mag kies nie? Voor mens “ja” sê vir aktiewe genadedood moet mens daaroor dink.

  4. Genadedood- behoort jou eie persoonlike besluit te wees, maw jy besluit oor jou eie lewe. Ek wil nie besluit oor my ma, pa, broer, suster of selfs ‘n vreemdeling se lewe nie. Dus as jy in die situasie is moet dit jou besluit wees, want net jy weet wat jy bereid is om te verduur. Dit moet verseker nie ‘n geval wees van Ouma is 90 en nou is haar heup gebreek en sy het onuithoudbare pyn- kom ons pas genadedood toe nie.

    Voorts dink ek genadedood behoort slegs toegepas te word na ‘n multi-displinere evaluasie. Depressie is behandelbaar, sekere pyn sindrome is behandelbaar-chirurgies ens. Ek weet net dat ek nie met iets soos Veelvuldige Sklerose (eind geval) wil lê en kwyl in ‘n bed met geweldige pyn en ‘n las vir my naasbestaandes nie- dan eerder genadedood.

  5. Ek dink dit gaan onder andere oor die onderskeid tussen wat is medies behandelbaar, en wat nie (met ‘n veronderstelling dat genesing of herstel moontlik is).

    Dan is daar ook oorwegings oor die kwaliteit van ‘n terminale lewe, of ‘n ongeneeslike siekte. Kyk maar gerus weer na die voorbeeld van die spesifieke Franse dame, Chantal Sebire van Plombieres-les-Dijon, waarna ek in my stuk by bosparra verwys het. ‘n Vinnige soek op google en ‘n kort blootstelling aan van die onderskeie foto’s van haar toestand gee mens ‘n skerp insig tot haar pyn en lyding.

    Bestudeer dan ook die talle regtelike aansoeke in die VSA en Europa om genadedood. Daar is inderdaad argumente uit alle uithoeke, vir en teen.

    Dit is vanselfsprekend ‘n persoonlike besluit, maar moet gegrond wees in aanvaarbare, mediese praktyk en evaluering – en glo my, dan nog sou ‘n mens seker ‘n oordeelsfout kon begaan.

    Ek dink – en dit is my persoonlike opinie – godsdienstige oorwegings kompliseer die saak onnodig. Maar ek verstaan daardie uitgangspunt ook – dit gaan vir baie mense oor die heiligheid van die lewe. Ander oorweeg weer eerder die kwaliteit van die lewe.

    Dat hierdie praktyk oop is vir misbruik, verseker – net soos die geval met enige ander praktyk wat aan die euwel van die mens blootgestel word. Daar moet beslis oor gedink word – wat onduidelik begin word, is die betrokke oorwegings wat ‘n rol speel by hierdie besluit. En hier is opinies wydgesaai, net soos die Here se genade. Vir my lê die antwoord in wat medies en wetenskaplik bereikbaar is, al dan nie.

    Waar lê die streep? Seker maar waar die betrokke persoon en/of persone se oortuigings dit toelaat. Soos in die geval van Chantal Sebire pleit ek vir die keuse – dit is interesant dat sy nie selfmoord oorweeg het in hierdie tyd nie (alhoewel dit nog onduidelik is hoe sy gesterf het). Vir haar was dit ‘n saak uit die moed van haar oortuiging, haar keuse en die geroofde kwaliteit van haar lewe.

    En nee, dit is geensins ‘n lisensie om jou 90-jarige ouma “uit te sit” nie.

  6. Ek hou baie van die blog en sal gereeld kom inloer. Dankie!

  7. Wat my in die eerste plek gemotiveer het om hierdie te skryf, (Sowel Christianrethinker – die pretensieuse naam waaronder ek my blog begin het – en Retha, is albei my kommentaar) is dat ek mense hoor beweer het: “As ek genadedood kies, het dit niks met enigiemand te doen nie.”

    Julle albei noem in julle kommentare dat iemand wat genadedood soek duidelik geevalueer moet word. Dit kan dus nie iets wees wat “niks met enigeen te doen het” nie. Dis in elk geval onrealisties om te glo enigiets wat jy doen het “niks met enigeen te doen” nie. Byna elke keuse wat jy maak het een of ander invloed op die mense om jou. Om onvoorwaardelik pro-euthanasia te wees is bitter gevaarlik en ek sou hoop dat enige mense wat hulle ten gunste daarvan uitspreek ‘n lys van voorwaardes sou bysit. (“Dit moet onwettig wees vir dokters om enigsins die gedagte van genadedood aan ‘n pasient voor te stel”, sal ‘n voorbeeld van so ‘n voorwaarde wees.)

    Pro-euthanasia mense oorbeklemtoon natuurlik verhale van mense met skrikwekkende pyn, terwyl mense wat daarteen is verhale oorbeklemtoon soos “‘n Siek man, 53 jr., kry ‘n brief wat verduidelik die staat sal nie vir sy chemoterapie betaal nie, maar wel vir selfmoord met doktershulp.” (Sies vir enige staat wat druk op iemand uitoefen om dood te kies! Want as die staat bereid is om te betaal vir dood en nie lewe nie, is dit druk om dood te kies!) http://www.foxnews.com/story/0,2933,392962,00.html

    Wat my ongemaklik maak, is die wete dat die Nazi’s nie dadelik begin het om die Joodse ras, Gypsies en homoseksuele uit te wis nie: Hulle het begin by verstandelik gestremde babas. Mense van wie ons kan reken hulle “kwaliteit van lewe” is nie hoog genoeg nie. (Dalk o.a. daarom wat Blixer voorstel dat mens NET oor jouself kan besluit wat genadedood betref?) Daar moet dus moreel perke wees aan waar “kwaliteit van lewe” argumente ons mag vat. Party mense, soos Greg Koukl, (van wie ek die hoogste moontlike dunk vir sy denkwyse het) sal reken dit is ‘n rede om glad nie “kwaliteit van lewe”/ “‘n lewe werd om te leef” argumente te gebruik nie. http://www.str.org/site/News2?page=NewsArticle&id=5469

  8. Emil, net so ‘n paar gedagtes, oor die invloed wat godsdienstige oorwegings op hierdie saak het: As die Bybel se bewerings oor lewe na die dood waar is, maak dit natuurlik die saak meer gekompliseerd. Maar dis nie onnodige komplikasies nie. Dit word dan nodige feite om in ag te neem, nes die toestande in jou nuwe land iets is om in ag te neem as jy wil emigreer.

    ‘n Geloof dat lewe nie stop by die graf nie, gee die wete dat selfs as iemand uit hierdie lewe uitgaan (natuurlik, deur genadedood, deur geweld of hoe ookal,) dat lewe nie verby is nie. En Christene sê daar is dinge wat meer werd is as lewe self, wat werd is om jou lewe voor te gee. Lewe hierdie kant van die graf is niks om van ‘n afgod te maak nie. Aan die ander kant is die weggaan uit hierdie lewe nie noodwendig ‘n einde aan lyding nie.

  9. In die boek “the House of God” praat hulle van sg Gomers. Genadedood is prsies dit genade- in ekstreme gevalle kan chroniese siekte lei tot haat. Ek sê dit is altyd die gevalle nie, maar ek het dit al gesien dat pasiente hulle families begin haat en omgekeerd- die familie wil nie die pasient laat sterf nie en die pasient wil nie meer leef nie. Die gebied van genadedood bly volgens my ‘n moreel-eties -godsdienstige mynveld en ek is nie altyd seker ek(ons) sal daardeur kom sonder skade nie.

  10. Daar is nogal baie mense wat jaarliks selfmoord pleeg, so elke twee jaar kom ‘n verslag uit oor die natuurlike en onnatuurlike oorsake waaraan mense sterf. Selfmoord is nogal hoog. In die lasste een het 10 700 mense selfmoord gepleeg vergeleke met die 38 000 wat in motorongelukke dood is. Ek sou se dit is hoog.

    Die Nazi’s het begin by die Jode, reeds in 1933 is mense na Dachau gestuur. Ek is jammer waar ek moet van jou verskil hier. Hulle oorhoofste teiken was om die Jode sistematies uit te wis, asook gypies, gay mense, filosowe, skrywers wat teen hulle was, politieke gevangens en mense wat fisiese en/of volgens hulle gestermd was. Dit het mense wat dood en blind was ingesluit.

  11. jammer die gestremdes is: doof en blind

  12. Rosalind, ek waardeer dat jy syfers en feite gebruik om te stry. Ek is self lief daarvoor. Maar as jy syfers en feite wil gebruik, is dit goed om te kruisverwys na jou data.

    Oor jou “selfmoord is hoog” teenoor my “bitter min”: My woorde beteken dat die oorgrote meerderheid van mense nie selfmoord pleeg nie. Selfs in die liederlikste omstandighede(nou bedoel ek byvoorbeeld konsentrasiekampe) kies meeste mense lewe bo dood. 10 700 mense (ek neem aan jy bedoel in Suid Afrika) is maar ‘n bitter klein persentasie van 48 miljoen Suid Afrikaners.

    Wat betref jou inligting dat die Nazi’s nie by (verstandelik) gestremde kinders begin het nie: Ek sal nog bronne nagaan. (Sal seker Saterdag tyd hê vir opsoek.) As jy die waarheid praat sal ek dit nie weer sê nie. Wil jy vir my jou bron gee, Rosalind?

  13. Wel ja mens kan nou nie die syfer van selfmoord vergelyk met die totale syfer van mense nie, omdat 48 miljoen nie dood is nie. Natuurlik kies mense lewe bo die dood, dit was nie my punt nie. My punt was dat baie mense selfmoord pleeg. (ek skry ook nie).

    NATIONAL INJURY MORTALITY SURVEILLANCE SYSTEM is my bron. http://www.sahealthinfo.org.za/violence/2005injury.htm
    Gaan kyk gerus na die selfmoord-syfers.

    Met graagte, die sogenaamde genade-doodprogram van die gestremde mense het in 1939 begin. Die eerste Jode en mense wie se ideologie verskil is al in 1933 doodgemaak.

    http://www.ushmm.org/wlc/article.php?lang=en&ModuleId=10005143
    Dit is die VSA Holocaust Museum

    The Holocaust was the systematic, bureaucratic, state-sponsored persecution and murder of approximately six million Jews by the Nazi regime and its collaborators. “Holocaust” is a word of Greek origin meaning “sacrifice by fire.”

    The Nazis, who came to power in Germany in January 1933, believed that Germans were “racially superior” and that the Jews, deemed “inferior,” were an alien threat to the so-called German racial community.

    During the era of the Holocaust, German authorities also targeted other groups because of their perceived “racial inferiority”: Roma (Gypsies), the disabled, and some of the Slavic peoples (Poles, Russians, and others). Other groups were persecuted on political, ideological, and behavioral grounds, among them Communists, Socialists, Jehovah’s Witnesses, and homosexuals.

    In 1933, the Jewish population of Europe stood at over nine million. Most European Jews lived in countries that Nazi Germany would occupy or influence during World War II. By 1945, the Germans and their collaborators killed nearly two out of every three European Jews as part of the “Final Solution,” the Nazi policy to murder the Jews of Europe.

    Although Jews, whom the Nazis deemed a priority danger to Germany, were the primary victims of Nazi racism, other victims included some 200,000 Roma (Gypsies). At least 200,000 mentally or physically disabled patients, mainly Germans, living in institutional settings, were murdered in the so-called Euthanasia Program.

    Maar dit is nie genadedood nie, dit is moord.

    Ek kruisverwys met graagte, jy is vry om dit self ook te doen.

  14. christianrethinker

    Jou aanhaling oor die 2de wêreldoorlog vertel nie a) die jaar waarin hulle begin het om gestremdes dood te maak of b) die jaar waarin hulle begin het om Jode dood te maak nie. Ten einde jou punt te staaf, moet jou aanhaling die jaar van albei gee; en b) se jaar moet voor a) se jaar wees.

    Ek stem saam, dit was moord en nie genadedood nie. Maar die punt was juis dat die “sekere lewens is nie werd om te leef nie” argument (dis tog wat die lewenskwaliteit-argument sê!) mens argumentsonthalwe (nie my argument nie, maar ‘n argument waarheen ek kruisverwys het), die lyn kan laat oorsteek van genadedood na moord.

  15. Jy a)lees dit mis of b)iets anders:
    Hier is dit weer:

    “Met graagte, die sogenaamde genade-doodprogram van die gestremde mense het in 1939 begin. Die eerste Jode en mense wie se ideologie verskil is al in 1933 doodgemaak.”

  16. christianrethinker

    Maar Rosalind, daardie sin is nie ‘n bron-aanhaling nie. Dis jou eie sin.

    Jou bron-aanhaling(in pos 13) vertel nie dit wat jy vertel nie. Jy gee dus ‘n la-a-ang bron-aanhaling in pos 13, maar jou bron-aanhaling rugsteun nie jou bewering nie. En dis die ding waarvoor ek jou bron wou kry, want dis die punt waar ons verskil.

  17. Net ‘n voorstel: julle kan in beide hierdie bronne (1) Backing Hitler van Robert Gellately (2001) en (2) die absolute seminale werk The Third Reich van Michael Burleigh (2000) verwysings na die konsentrasie kampe en die sistematiese Joodse uitwissings vind.

    Die eerste kampe is wel in 1933 gevestig, maar toe nog nie onder die direkte beheer van die SS nie, wel die Gestapo.

    Dachau het in May 1933 die eerste gevangenis ontvang, meestal kommuniste, maar dan ook ander ongewensdes, soos siekes en gestremdes. Opvallend dat Gellately op bl 59 skryf: “Jews were not listed separately, and it is unlikely that many were in Dachau or the other camps in Germany at the same time.” Dit kom dan voor dat Jode eers in 1935 by die kampe ingesluit is, nadat Himmler vir Hitler oortuig het om die kampe aan die gang te hou.

    Burleigh wy ‘n hele gedeelte aan hierdie kwessie onder die skrikwekkende titels “Extinguishing the ideas of yesterday: Eugenics and ‘euthanasia’” (bl 345-404) en “Iron times, iron brooms: Racial war against the Jews” (bl 574-664). Reeds in 1933 sê Hermann Goring: “This war is not the Second World War. This is the great racial war. In the final analysis it is about whether the German and Aryan prevails here, or whether the Jew rules the world, and that is what we are fighting for out there” (Burleigh bl 574).

    In 1939, met die inval in Pole, is daar aggresief begin om die Jode uit te wis, en dit word algemeen aanvaar dat die stelselmatige uitwissing van die Jode eers daadwerklik enorm uitgebrei het na die Wannsee ontmoeting in 1941.

    Ek sien nie hoe hierdie punte ‘n bydrae tot die debat lewer nie … of mis ek nou iets? Rasse suiwering was beslis voor die kollektiewe en berekende uitwissing van die Jode, maar “genadedood” hier het ‘n totale anderse betekenis as wat ons hierbo verwys. Verseker is riglyne nodig – die feit dat ek genadedood “voorstaan” beteken nie parallel dat ek vra om ‘n lisensie om links-en-regs uit te wis nie. Dis nie die punt nie. Die punt is, in sekere mediese omstandighede is genadedood dalk geregverdig en sou mens hierdie keuse kon uitoefen. Ek dink dit is wyd verwyderd van die praktyk in Nazi-Duitsland, waar geen “Rule of the Law” gegeld het nie.

  18. Emil, ja dit uitwissing van die Jode en ander het NIKS met genadedood te make nie, ek stem met jou saam. Ek het bloot op ‘n feite-fout uitgewys, wat niks met genadedood te doen gehad het nie!

    Asook dat die selfmoordsyfer laag is, en toe verwys ek na my bron dat dit eintlik hoog is.

  19. christianrethinker

    In verband met die selfmoordsyfer, Rosalind, wil ek jou innig bedank vir jou bydrae. Soveel so dat ek nou my blog-inskrywing gewysig het omdat mens werklik my woorde daar verkeerd kon verstaan. (OU SIN: Selfs onder die aakligste omstandighede kies bitter min mense selfmoord. NUWE SIN: Selfs onder die aakligste omstandighede kies ‘n baie klein persentasietjie van mense selfmoord. ) Rosalind, jou kritiek het my gehelp om my pos te verbeter. Dankie!

    Wat die ander onderwerp betref: Tensy ek iets mislees, lyk dit nog steeds of jou Engelse bron-aanhaling het nie jou Afrikaanse stelling gestaaf het nie? Watter Engelse sin lees ek mis?

    Ek, jy, Emil en enige logiese mens sal met jou saamstem dat die uitwissing van miljoene Jode nie genadedood is nie. Die argument was dat as jy eers begin met “sekere lewens is nie werd om te leef nie” bring dit jou dalk eers uit daarby om te aanvaar dat dokters iemand wat terminaal siek is en baie pyn het help gaan. Dan kan mens ongelukkig ook die argument verder vat en reken dat gestremdes nie werd is om te leef nie(selfs as hulle wil leef) , ensovoorts. Op die ou end kan die beginsel van respek vir lewe verlore gaan. Dit sal gaaf wees as jy of Emil of wie ookal my help dink oor die moontlike teenargumente waarom “sekere lewens is nie werd om te leef nie” nie op die lang duur tot vergrype sal lei of verder gevat word nie.

    Ek glo NIE dat “sekere lewens is nie werd om te leef nie” nooit ‘n toelaatbare rede is vir iemand om euthanasia vir homself te kies nie. Maar ek sal ‘n redenasie waardeer, as daar een is, waarom mense nie bang is dat daardie argument op die ou end tot vergrype kan lei nie.

  20. Dis soos ek in my oorspronklik stuk by bosparra ook genoem het – verseker, vergrype kan en gaan plaasvind, net soos dit seker in ander areas van etiek en moraliteit ook gebeur.

    Wat ek beslis nie aanvoer nie, is: “sekere lewens is nie werd om te leef nie” – daarvoor het ek te veel respek vir die lewe. Elke lewe is werd om geleef te word, die omstandighede ten spyt, maar ‘n kwalifikasie is nodig. Vir sommige is die heiligheid van die lewe van allergrootste belang, nieteenstaande enigiets. Vir ander is dit die kwaliteit van daardie lewe. Daar is die onlangse voorbeeld van Ben Mullany. Amptelik breindood verklaar nadat geen positiewe breinfunksies bespeur is en ‘n keuse om die masjiene af te skakel, is gemaak. Gerief, of genade?

    Vir my lê die verskil in die keuse. In Nazi-Duitsland is die “ongewensdes” van hulle keuse tot lewe ontneem deur ‘n kategorisering van iemand anders. Dit is doodeenvoudig verkeerd.

    Ek gee jou gelyk dat vergrype gaan plaasvind, maar reken nie dat in ons huidige wêreld die kwalifikasie van “terminaal siek” sondermeer sal uitbrei “gewone” gestremdes in te sluit nie. Daarvoor is daar genoeg waghonde. Die feit dat die Franse regstelsel geweier het om Chantal Sebire se aansoek tot genadedood toe te staan, is ‘n bewys hiervan. Hulle kon steeds nie haar afsterwe keer nie, maar dit is nog onbekend of sy selfmoord gepleeg het aldan nie.

    Ek kan maar net hoop, sou hierdie ‘n aanvaarbare praktyk word, dat riglyne en wetgewing dit sal kan reguleer.

  21. My pa is terminaal met kanker van die pankreas. Ek versorg hom self en wil hom nie in ‘n hospitaal he nie. Hy het soms pyn en soms voel hy goed. Dit verwissel van dag tot dag sonder enige patroon. Maar hy vat sy lot soos hy goed dink. Dit gaan oor geloof hier. Is genadedood regitg God se genade?

  22. christianrethinker

    Ai, Harry, jammer om te hoor. Woorde skiet tekort. Dalk sal ek later my gedagtes oor jou vraag probeer orden. Maar ek sal jou beledig as ek jou nou ‘n gladde eensin-antwoord of eenwoord-antwoord gee.

  23. Ek lees vanaand al die komentare oor genade dood
    Ek self (65) het terminale kanker lewens verwagting 3 tot 5 jaar
    Om elke sekonde in pyn te lewe is geen grap nie
    Ek sal die geleentheid gebruik indien dit wettig gemaak word net met mediese hulp
    Om my 4 kinders en hul families te sien ly a.g.v. my lyding maak dit vir my nog erger ek is ‘n Christen en bid baie dat God my moet kom haal
    Om elke dag te voel en sien hoe jou liggaam deur die siekte amper onherkonbaar vernietig word wens ek niemand toe nie
    Oplaas dink ek dit moet elke mens se keuse wees

  24. Ai, Magdalena, my hart huil vir jou. Dis darem iets om te weet dat al breek hierdie lywe af, kan ons uitsien na ‘n toekoms wat God ons ‘n ander soort liggaam sal laat kry. Maar sterkte, ek dink aan jou.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s