Daar is heelwat gelowiges wat sê dat hulle sukkel om “soos kinders te glo.” Ek het baie empatie met daardie standpunt. Ek kan self nie glo op die manier wat hulle van praat nie. Maar verwag die Bybel werklik dat mens moet glo sonder bevraagtekening, sonder om bewyse te soek? Ek dink nie so nie. Iemand wat nie omgee of wat hy glo waarheidsgronde het of nie, kan mos net sowel in reïnkarnasie glo, of in ‘n vlieënde spaghetti-monster. Of in enigiets anders.
Dalk is hier nou iemand wat my wil herinner: Oppas wat jy sê, Retha! Die Bybel sê ons moet verander en soos kinders word!” As jy dit antwoord, is jy reg. Veels geluk dat jy jou Bybel so goed onthou. Matteus 18:2, om meer spesifiek te wees, sê inderdaad so. Maar daardie vers sê nie mens hoef te “glo soos ‘n kind” nie.
Die dissipels het daar gestry oor wie die belangrikste is in die koninkryk. Toe vertel Jesus hulle dat hulle soos kindertjies moet word. Hy voeg nie by: “Want kindertjies glo maklik” nie. Hy voeg by dat wie homself gering ag die belangrikste is. Babatjies stry nie oor wie die duurste bababedjie verdien nie. Kleuters stry nie oor wie die belangrikste by die kleuterskool is nie.
Het jy al gesien hoe ‘n 2 of 3-jarige seerkry, en dadelik in ‘n vertrek vol mense na sy ma hardloop vir hulp? Hy hardloop na haar, niemand anders nie, want ervaring (bewyse) vertel dat sy die een is wat hom in die verlede gehelp het. Selfs kleintjies soek – en gebruik – bewyse.
Wat sê die Bybel dan oor die saak? Mag jy jou geloof aan bewyse toets of nie?
- * Jesus het sy bediening begin as iemand wat al klaar bewysskrifte het uit die ou Testament se profete: Daar was onder andere voorspel dat die Messias sal afstam van Sem, Abraham, Isak, Juda, en Dawid. Daar word ook voorspel dat hy in Betlehem gebore sal word, uit die vrou se saad (ander mense kom van ‘n man se saad) en dat hy vooraf gegaan sal word deur ‘n boodskapper.
- * Deur Jesus se lewe, sterwe en opstanding het hy voortgegaan om nog profesieë waar te maak, en dus nog meer te bewys wie Hy is. Hy bewys dit ook met wonderwerke.
- * Jesus belowe ook tekens aan die son, maan en sterre voor Sy wederkoms.(Luk. 21:25)
- * Toe die Fariseërs vra vir ‘n teken, het Jesus wel geantwoord dat ‘n ongelowige en ontaarde geslag ‘n teken vra, en nie een gaan kry nie. (Matt. 16: 4) Maar onder die omstandighede het Hy nie verwag mense moet glo sonder bewyse nie. Jesus het immers al klaar ‘n hele klomp van die Messias-profesieë vervul, profesieë wat die skrifgeleerdes moes ken. Hy het ook wonderwerke gedoen waarvan die Fariseërs moes geweet het. Dit lyk of hy daarteen was dat mense net nóg en nóg tekens vra, eerder as om te begin die rigting/ persoon volg wat deur vorige tekens aangedui is.
- * Jesus bewys sy boodskap van dood oorwin en opstanding- deur op te staan.
- * Toe Tomas sê hy sal nie glo voor hy sy vingers in die spykermerke gedruk het nie, het Jesus hom Sy hande gewys. (Ek vermoed die verskil tussen Tomas en die Fariseërs was dat die Fariseërs verskoning gesoek het om nie te glo nie, en Jesus het dit geweet. Tomas, het Jesus geweet, sou bereid wees om vir Hom te sterf as hy net verstaan. Buite-Bybelse geskiedenisbronne vertel ons Tomas was later met ‘n spies doodgemaak omdat Hy Jesus bly verkondig het.)
Die volgelinge van Jesus sit hierdie toets-dit-aan-bewyse patroon voort na die hemelvaart: Hulle maak beroep op ooggetuie-bewyse(1 Luk. 1:1-3; Hand. 1:3; 2:22; 26:26, 2 Pet. 1:16; Joh 1:1-3.) Boonop vra Paulus in 1 Tess. 5:20-21 dat ons profesieë moet toets.
Ek beweer nie dat daar voldoende bewyse sal wees vir elke punt in die Bybel nie. Die kleuter wat na haar ma hardloop eerder as na die ander mense in die vertrek, het nie voldoende bewyse dat haar ma wel ‘n salf vir hierdie pyn het nie. Sy het wel bewyse (alles wat Mamma in die verlede vir haar gedoen het) dat haar ma sal wil help en die pyn sal wil wegvat.
Die evangelie van Jesus kan maar met ‘n oop kop bevraagteken word. (‘n Oop kop beteken hier een wat bereid is om die bewyse te volg, waarheen hulle ook al lei. Net ‘n waarskuwing: Om bewyse te volg as hulle in die evangelie se rigting lei, is om jou lewe in Jesus se hande oor te gee, wat ook “tot bekering kom” genoem word. Mense soos Frank Morison en CS Lewis was oopkop oor die saak.)
As jy dus nie kan “glo soos ‘n kind” nie, moenie bekommerd wees nie, die Bybel beveel dit nêrens nie. Glo dan maar soos ‘n volwassene. En dalk sal jy vind, as God jou Vader word, dat “glo soos ‘n kind” iets anders beteken as wat jy gedink het. En dat dit nie so moeilik is nie.
September 6, 2008 at 10:37 vm
My pa sê jou geloof moet soos ‘n rots wees. Te veel debat oor die storie kan jou deurmekaar maak. Op die einde van die dag is dit maar net daai klein stemmetjie binne jou wat vir jou gaan vertel of jy reg of verkeerd is. As jy reg is en jy probeer jou lewe reg leef dan gaan jy nie oor jou geloof hoef te wy nie, want God sal altyd daar met jou wees.
September 8, 2008 at 11:06 nm
Wetenskaplikes glo sekere teorië en na vele navorsing en eksperimente, bewys hulle dit. Ons moet ook geloof hê en dinge op die proef stel, om die bewyse te ervaar. Ons moet ook dinge bevraagteken, om by die waarheid uit te kom. Ons moet soos ‘n kind wees, in die sin, dat ‘n kind sal, sonder oordeel, na eenvoudiges asook na vooraanstaandes luister en leer. ‘n Kind kan nou vir ‘n maatjie kwaad wees en oomblike later, speel hulle weer, heerlik saam. Bly soek en jy sal vind.
September 10, 2008 at 9:53 nm
Dis soms makliker!
September 18, 2008 at 2:53 nm
jy het die konsep van glo soos n kind heel verkeerd. om te glo soos n kind beteken as jy vir jou seun of dogter van 3 of 4 se pappa kan vir jou n lekker bring van die kafee af. dan gan hy vas glo pappa han vir my die lekker bring. en dis prisies hoe ons in God moet glo jy moenie twyfel nie, net soos jou kind nie gaan twyfel dat jy vir hom iets van die kafee sf sal bring nie. as n mens so in god glo sal jy die wereld kan beskyf.
September 18, 2008 at 4:56 nm
Tanya, hoe sal jy die ongelowige antwoord wat sê: “Ek kan my glad nie daarmee vereenselwig om soos ‘n kind te glo nie. Ek soek bewyse voor ek glo.” Sal jy hom vertel dat “glo soos ‘n kind” ‘n voorwaarde is voor hy iets van God kan leer? Om dit te vertel, sal hom juis wegdryf, want hy vertel mos vir jou hy kan nie!
Ek verstaan heeltemal dat ons nie hoef te twyfel aan wat God sê nie. Maar as “glo soos ‘n kind” vir iemand ‘n struikelblok is, dan stel ek voor dat hy of sy solank die Bybel ondersoek soos ‘n denkende volwassenne.
Jou voorbeeld van “glo dat Pa ‘n lekker kan bring” is nie so anders as my voorbeeld van “glo dat Ma die seerplek kan gesond maak” nie. In albei gevalle vertrou die kind iemand wat hy ken, nie sommer die eerste en beste persoon nie.
My stuk sê vir die leser wat God nog nie só ken nie: Jy hoef nie net oë toe te knyp en te glo nie. Jy kan maar solank die betroubaarheid van God en sy bewerings objektief ondersoek. Om te “glo soos ‘n kind” (wat terloops, nie in die Bybel staan nie) is iets wat jy net kan doen as jy Hom as Vader aanneem.
September 19, 2008 at 2:42 nm
ek het gelees wat jy vir my geskryf het ek gaan vir jou bewyse bring. julle verstaan nie omdat julle als wil uit ride neur. ons koppe is te klein om God se werke te verstaan. ek gan die gesprek met ons pastoor om neem en ek gan vir jou bewyse bring. Geloof is om aan iets te glo voor dat jy dit nog kan sien.
September 19, 2008 at 6:16 nm
Doen my ‘n guns, Tanya? As jy na jou pastoor toe gaan, moenie net ‘n uitdruk van hierdie blogpos saamvat nie. Vat sommer ook ‘n uitdruk van my “Om Jesus te volg maak sin” bladsy saam, dan sien jou pastoor wat my uitgangspunt is. Ek sal dankbaar wees as jy so maak.
(Ns: Retha en Christianrethinker is dieselfde persoon.)
September 22, 2008 at 2:06 nm
wel weet jy retha kom ons los die hele storie want jy glo jou kant en ek glo myne en dit lyk my of jy nie kritiek kan vat nie
September 22, 2008 at 5:05 nm
Tanya
As ek verkeerd is, wil ek verander. Ek kan kritiek vat- kritiek met redes by. Ek sal met graagte my meningsverskil saam met jou ondersoek, dat ons saam na redes kyk.
Jy het gesê jy sal bewyse bring,(bewyse- nou praat jy my taal!) en ek het goedgekeur dat jy my mening na jou pastoor vat. Jy is nog steeds welkom om dit te doen.
Ek nooi jou uit-sit redes agter wat jy dink! Kan jy vertel hoekom jy van my verskil? Ek haat dit om goed “net so te los.” Ek wil altyd die waarheid soek.
September 25, 2008 at 3:10 nm
wel dan moet jy my net tyd gee wnt ek gan nou vir 2 weke op vankansie saam mt my familie asek terug kom gan ek eers weet ons pasttor sien en vir jou die gud kry. Lekker dag verder prt weer binne kort.
Oktober 4, 2009 at 2:48 nm
ek glo daar is waarhede in altwee van julle se gedagtes. onthou ons Pappa loop met ons almal n pad en dis vir jou om meer en meer te leer uit jou gedagtes
Oktober 4, 2009 at 3:09 nm
Dankie, Johann, ek glo ook God loop verskillende paaie met ons almal.