Heelwat gelowiges wonder oor mense wat nog nooit van God gehoor het nie: Is dit regverdig as God hulle sou hel toe stuur? Party ongelowiges gebruik dit selfs as ‘n verskoning waarom hulle nie kan glo nie. Ongeag wie dit vra, dit kom neer op: “Baie mense kry nooit die kans om God te leer ken nie. Hulle word in die verkeerde land gebore. Of hulle gaan as babas dood. Stuur God dan al hierdie mense hel toe?”
Die konsep van hel kom natuurlik uit die Bybel. Die konsep dat mense wat die evangelie hoor, kan kies en gered word, ook. Die regte antwoord hier is dus om te kyk wat die Bybel oor die saak sê. (Hierdie paragraaf klink vanselfsprekend, maar ek het al gehoor hoe Nuwe Ateïste op internet-forums ‘n vloermoer gooi oor hulle nie “met Bybelversies bestook” wil word nie. Die ongelowige wat hierdie beswaar maak, bring egter self die Bybel as onderwerp in.)
Die Bybel vertel redding gebeur slegs deur Jesus. (1)
Dieselfde Bybel vertel ook dat party mense wat voor Jesus geleef het, bv. Abraham, klaarblyklik gered is.(2) Redding deur Jesus gebeur dus ook met party mense wat nie vir Jesus kon aanneem nie.
Jesus erken bekerings in Ninevé, al het die mense daar nie van Hom gehoor nie. (3)
Jesus noem dat dit op die oordeelsdag beter met Sodom en Gomorra sal gaan (wat nooit Jesus geken het nie) as met party van sy Joodse hoorders (wat Hom kon ken en kon volg, as hulle wou). (4) Hy vertel ons nie presies wat Sodom se lot sal wees nie, maar dit sal beter wees as Kapernaum s’n. (Sodom se mense is, anders as Ninevé s’n, verlore. Maar God oordeel nog steeds regverdig deurdat Hy meer genadig op hulle sal wees as op Betsaida, Gorasin en Kapernaum(5) se mense. En hierdie meer genadig gee ook die idee dat daar grade van straf in die hel (6) is.)
My gevolgtrekking is dat die Bybel oor die algemeen, en Jesus spesifiek, nie almal verlore noem wat geen kans gehad het om Hom te kies nie. Hy noem diegene wat Hom kon kies, en nie wou nie, verlore.(7) Hy noem diegene wat Hom gekies het gered.(8) Die Bybelse leidrade gee die idee dat God regverdig en genadig oor die ander mense sal oordeel ook.
Die Bybel noem nie presies hoe God gaan oordeel oor kleintjies wat as babas dood is nie. Maar Jesus kon met mense so divers soos Abraham; die mense van Ninevé, en die mense van Sodom, hulle onkunde oor Jesus in ag neem. Hy kan dit met babas en verstandelik gestremdes ook doen. Dieselfde geld vir mense wat nooit die evangelie hoor nie. God het genoeg wysheid, genade en regverdigheid om hierdie probleem te hanteer. Ons hoef nie hoofbrekens daaroor te hê nie. Ons hoef nie te dink hy is onregverdig oor Hy nie vir ons presies vertel het wat Hy gaan doen nie.
———————
(1) Joh. 14:6; Hand. 4:12
(2) Rom. 4:22, Luk 16:23;
(3) Matt. 12:41
(4) Matt. 10:15; 11:24
(5) Matt. 11:23
(6) Lees ‘n motivering vir grade van straf in die hel by http://www.rationalchristianity.net/hell.html , onder “Degrees of punishment”
(7) Matt. 11:23; Joh. 12:48; 2 Kor. 4:3-4;
(8) Rom 1:16-17; Heb 7:25
October 3, 2008 at 10:13 am
As “redding” in ‘n mens se verwysingsraamwerk geen plek het nie, is hierdie vrae irrelevant.
October 3, 2008 at 11:15 am
((((Emil))))
Op ‘n kop-vlak sal ek jou vertel dat jy ‘n absoluut vanselfsprekende stelling maak. En dat ek hierdie pos maak vir mense wat wel vrae of verwarring hieroor het- en daar is baie sulke mense.
Op ‘n ander vlak kan ek jou vertel dat ek wel redding ken. Nee, ek het nog nie die hemel gesien nie. Ek verwag ook nie om dit hierdie kant van die graf te sien nie. Maar daar is Iemand wat my innerlik verander het- op maniere wat ek nie myself kon verander het nie- toe ek gebid het: “Jesus, neem my lewe oor.” Die verskil is van binne. (Ek sukkel om nie hier in “love, joy, peace” cliches te verval nie.) Hy het my selfsug verander(minder); my omgee vir ander (meer); my gelukkig wees (meer); my ervaring van die sinvolheid van my lewe (meer); my negatiewe houdings (minder).
October 3, 2008 at 11:21 am
Hierdie is ‘n tegniese punt. Vyf woorde ontbreek om jou stelling waar te maak:
“As “redding” in ‘n mens se verwysingsraamwerk geen plek het nie, is hierdie vrae volgens daardie mens se verwysingsraamwerk irrelevant.”
As iemand se verwysingsraamwerk g’n plek het vir redding nie, maar ewige straf is ‘n werklikheid, bly redding relevant ongeag sy verwysingsraamwerk!
October 3, 2008 at 12:35 pm
Die menslike verwysingsraamwerk is sy eie reg ons “downfall”. En as die stelling net beperk was tot die menslike opinie is die antwoord gewis ja. Ongelukkig of eerder gelukkig werk dit so, dat mens soms gekonfronteer word in die lewe met issues wat jou dwing om antwoorde buite jouself te soek. Dis wanneer mens veral mense teekom wat na God uit”lash” en vir hom kwaad is oor alles wat volgens hulle nie pas in hulle denkraamwerk nie. En nooit dus bekommer is oor God se opinie nie, selfs nie as Hy gerieflikheidshalwe geblameer word vir dit wat verkeerd is,wanneer humanisme kontradiksie skep met wie God nou eintlik is. Die ware feit vir my is dat die mens homself nie kan red nie. Ander mag van my verskil en dis ok. Ek het hierdie waarhede ontdek die dag toe ek aan die einde van myself gekom het, toe die antwoorde wat ek gehad het nie meer sin gemaak het nie. Toe religion/godsdiens nie meer vir my antwoorde kon bied en ek uit my desperaatheid begin uitroep het na God. Dit was 1989. En ek is tot vandag nie spyt daaroor nie. Ek het ‘n visie van ewigheid. Die univers wat binne in my wese spin en ek ken ‘n hemelse Vader wat in elke behoefte van my menswees voorsien, en wat my jeug aan my teruggee.