designer-baby‘n Onlangse pos by Emil oor die 23andMe genome scan raak onder andere aan die onderwerp van genetiese engineurswese.

 

Daar is ‘n hele klomp moeilike etiese vrae wat verband hou met die onderwerp, en Emil vra ‘n paar van hulle. Rustig vra ook ‘n belangrike een by daardie draad:

“Are we going to end up like the Spartans? When a baby does not meet the criteria, we destroy it? Sounds cruel, but is it not we reducing ourselves to?”

 

Daar is vanselfsprekend ‘n taamlike afstand tussen

a) ‘n vermoë om gene te ontsyfer, te weet watter geen ‘n siekte-geen is

en

b) ‘n vermoë om gene te manipuleer om van siektes en ongewenste eienskappe (bv. ‘n lae IK of geneigdheid tot depressie) ontslae te raak.

Maar die een sal noodwendig op die lang duur tot die ander lei. Teoretiese kennis sal wetenskaplikes laat vra hoe hulle daardie kennis kan toepas. Om kennis toe te pas is op sigself ‘n goeie idee, maar elke moontlike toepassing van kennis is nie goed nie.

 

 Nou ja, ek is nie so slim soos Emil nie en wil nie weer sê wat hy in elk geval goed gesê het nie. Daarom gaan hierdie pos net op een punt oor genetiese engineurswese fokus:

Is dit wat ons as mense dink dat ons nodig het, werklik wat ons nodig het? As iemand slimmer, gesonder mense wat langer leef ontwerp, maak hy werklik die wêreld ‘n beter plek?

 

‘n Geniale mens wat se werk nooit deur siekte, of gebrek aan energie onderbreek word nie, en dubbel so lank leef as die gemiddelde, kan dalk wonderlike goed regkry. As só iemand byvoorbeeld ‘n kankernavorser sou word, is sy kanse om geneesmiddels te vind seker beter as meeste navorsers s’n. Maar as hy sou kies om ‘n moorddadige diktator te wees, sal die skade wat hy kan doen soveel groter wees.

 

Een van die mees onthoubare boeke wat ek ooit gelees het was Brave New World. In daardie wêreld is almal geneties gemanipuleer sodat daar presies soveel mense as nodig vir elke beroep is. Pyn word byna uitgeskakel, en by die eerste aanvoel van ‘n negatiewe emosie neem die inwoners ‘n soma, ‘n kalmeerdwelm. Nogtans is die Brave New World ‘n lelike wêreld.  Want daar is wel feitlik geen probleme en perfekte gesondheid, maar daar is ook nie menslike warmte of betekenis nie. Mense daar beleef byvoorbeeld nie ongelukkigheid omdat iemand na-aan hulle dood is nie, want hulle is nie na aan enigiemand nie. (Ander onderwerp: Ek het al gedink Brave Nuwe World bied ‘n uitstekende argument teen die vraag: “As God liefde is, hoekom laat hy pyn in die wêreld toe?”)

 

“Nuwe verbeterde” breine en “nuwe verbeterde” lywe, dink ek, is nie heeltemal genoeg om die  wêreld ‘n beter plek te maak nie. “Nuwe, verbeterde” harte is ook nodig.