Na intensiewe gesprek met o.a. Johan Swarts op die draad “Kan evolusie Christenskap verkeerd bewys” het ek besluit om een stelling daar uit te haal en liewer dit vir ‘n tweede pos te gebruik. (Daardie pos bly evolve – met hulp van intelligente ontwerp!) Ek het daar vertel dat evolusioniste reken dat lewe vanuit nie-lewe kom. Johan het my daarop gewys dat die ontstaan van lewe uit nie-lewe abiogenese is, nie evolusie nie.
Die onderskeid klink vir my bra kunsmatig. Is dit naaldwerk om jou skêr uit te haal, lap uit te soek, garing te koop of jou omkapmasjien te bedraad? Nie heeltemal nie, maar naaldwerkers moet dit doen voor hulle begin. Is abiogenese evolusie? Nie heeltemal nie. Maar vir spesie-evolusie (van toenemende of afnemende genetiese inligting) om te gebeur, moet lewe bestaan. En daarom kan mens die evolusioniste seker ook vra hoe dit begin het. Maar kom ons gee vereers vir Johan gelyk: Abiogenese en evolusie is twee verskillende, maar verwante temas.
Richard Dawkins beweer: ” Darwin made it possible to be an intellectually fulfilled atheist.” Nou ja, selfs as Darwin/ Darwinisme/Nieu-Darwinisme kan verklaar hoe lewe van eensellig tot kompleks gevorder het, by aanname sonder dat ‘n Skepper nodig was om dit te doen, verklaar evolusie nog steeds sekere dinge nie.
Evolusie, reg of verkeerd, verklaar nie:
* Hoekom daar hoegenaamd ‘n heelal is nie. Waarom bestaan iets in plaas van niks?
* Hoe dit is dat die syfers so presies reg vir lewe is. Die kanse daarvoor is klaarblyklik kleiner as 1/1-met-120-nulle(1)
* Hoe daardie eerste lewe hoegenaamd ontstaan het nie.(2)
* Dat genoemde evolusie noodwendig sonder ‘n bonatuurlike wese se leiding gebeur het nie. (3)
As iemand dus vertel dat noudat hy in evolusie glo, hy nie meer hoef te glo dat God geskape het nie, dan vergeet hy ‘n hele klompie aspekte van die waarneembare wêreld. Of so lyk dit my. En as Nuwe Ateïsme se Aartsbiskop van Oxford nog steeds glo dat Darwin hom ‘n intellektueel vervulde ateïs maak, dan is sy intellek met ‘n hele klomp kennis-gapings tevrede.
—————-
(1)Die kosmologiese konstant is daardie getal, maar ander dinge waarvoor die kanse ook piepklein is speel ook ‘n rol, dus kleiner as 1/1-met-120-nulle. Party mense stel ‘n groter kans voor, maar selfs dan bly dit nog steeds ‘n mikroskopiese kans.
(2)Dit wil vir my voorkom dat die ateistiese evolusionis nie veel van ‘n keuse het wat hy wil glo oor abiogenese nie. As hy moet antwoord hoe lewe ontstaan het, kan hy glo dat lewe nie ontstaan het nie. (Absurd.) Of dat iemand lewe op aarde geplant het. (Dit antwoord nie die vraag nie.) Of dat lewe uit nie-lewe ontstaan het.
(3) Party evolusioniste beweer anders, maar dan probeer hulle filosofie as wetenskap verkondig. Wees maar skepties wanneer iemand die frase “unguided evolution” gebruik, hy probeer heel waarskynlik sy opinie insmokkel en dit as dit as wetenskap verkondig.

Ek wens al my blog-lesers ‘n geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige Nuwe Jaar toe. Bestuur veilig. Rus goed uit as jy die kans kry. Mag die Here julle seën.
Hierdie stuk het nie uitgedraai soos ek hom wou laat uitdraai nie. Amper alles wat ek hier wou sê, het ek besluit om nie te sê nie. Of vereers nie te sê nie. Sodat my lesers (Hallo, julle twee!) eerste kan praat.
