Voor in Pieter W. Grobbelaar se boek “‘n Bietjie baie Bogtery” staan die volgende:
Ik hebt mijn boekje lief
Wie hem steel, is een dief.
Die hem krijgt, breng hem weer,
voor een appel of een peer.
Die het niet doet
staat de galg voor goed,
totdat hy zegt: “O, toch, mijn heer,
hier heb gij uw boekje weer!*
Dit bring my by ‘n hartseer saak uit: Mense wat boeke leen en dit nie teruggee nie. Ek het al op laerskool boeke so verloor. Ek dink die eerste een was “Skatsoekers van Ouplaas”, een van die Daan Retief boekklub-boeke wat ek elke maand gekry het as ‘n kind. (Rosalind Franklin vertel ook op haar blog hoe opgewonde sy was oor haar maandelikse pakkie van die Daan Retief boekklub. Rosa, dit maak twee van ons.)
Sedertdien het ek al alles van Kuifie-boeke (as jong tiener) tot biografieë so verloor.
Party mense dink die oplossing is maklik: Moenie goeie boeke uitleen nie.
Maar daardie oplossing is onmoontlik. Goeie boeke móét gedeel word. Moet nooit swak boeke uitleen nie. As jy ‘n boek nie waardeer nie, gee hom weg, of ruil hom by die 2dehandse boekwinkel. Maar as ‘n boek goed is, en jy ken iemand wat hom dalk sal waardeer, leen hom uit. As jy dit geniet, kan nog iemand dit geniet.
Ek weet, my “One flew over the Cuckoo’s Nest” is in’n vreeslike toestand, en my “The Cross and the Switchblade” skoonveld, oor ek boeke uitleen. En dis maar twee voorbeelde. (Ek hou duim vas- en glo darem- die meisie wat onlangs my “Ciske” en “Fiela se kind” geleen het is van ‘n beter stoffasie as bogenoemde leners.) Maar die oplossing is nie om op te hou uitleen nie.

———–
*Hierdie gedig is uit my kop neergeskryf, nie regstreeks uit die boek nie, die kanse is dus goed dat die Hollands iewers sou verkeerd gegaan het. Dis nie regstreeks uit Pieter W. Grobbelaar se kompilasie geskryf nie, want ek het die boek uitgeleen……
Ander nota: Hierdie tema is geinspireer deur ‘n gedagte in antwoord hierop.