As jy ‘n ou hand op die internet is, ken jy dit seker:

 Jy begin deelneem aan ‘n blog of forum waarvan jy hou. Daar daag later iemand op wat gruwelik beledigend is, of ellelange poste vol twak praat, of op ‘n ander manier net die blog of forum se hele karakter verander. Dalk het só iemand al by jou blog opgedaag. Wat nou gemaak? Hoe maklik mag mens iemand blok, sodat sy kommentare nie kan verskyn nie?

 

Jy mag dalk selfs ‘n etiese probleem hê met die saak: Die soort trolle wat jou forum of gunsteling-blog binneval, het natuurlik ook vryheid van spraak. Beperk jy iemand se vryheid van spraak as jy hom jou blog verbied? Beperk ‘n forum-moderator die trol se spraakvryheid as hy dit doen?

 Ek sien die saak só: Veronderstel ek skryf ‘n brief aan Huisgenoot/ Vrouekeur/ watter tydskrif ookal, met die idee dat dit op hulle brieweblad verskyn. Hulle kies om dit nie te publiseer nie. Hulle het dan nie my spraakvryheid belemmer nie. Hulle het bloot nie vir my ‘n mikrofoon geleen nie.

Dieselfde met enige ander publikasie: Mens kies wat jy in jou publikasie wil hê. Om te kies wat jy wil publiseer en wat nie, is deel van jou vryheid van “spraak.” As jou publikasie ‘n blog of ‘n forum is, waarom moet die reêls anders wees? As iemand jou blog lelik maak, blok hom as jy so voel, sê ek. Dis jou blog, jy het begin blog oor jy dit geniet. Moenie dat jou lesers/ kommentaar-leweraars heeltyd in irriterende twak vaskyk nie.  En as iemand jou gunsteling-forum lelik maak, moenie sleg voel as jy die moderator vra om hulle te verban nie. Spraakvryheid kom nie in gedrang nie. Dis debateerbaar of “Oopkop luister” in die gedrang kom.

 

En as jy geblok word iewers? As jy nie jou opinie op ‘n bepaalde koerant of blog of forum mag sit nie? Dan beoefen jy jou vryheid van spraak elders. Ons in die blogosfeer kan in elk geval nie maklik stil gemaak word nie.

 

trollWat dink julle? Hoe maklik moet/ mag mens iemand blok? Wat is swak/ eties onaanvaarbare redes om iemand uit te blok? Waarvoor sal jy iemand nie meer op jou blog toelaat nie? Het jy al mense gekeer om aan jou blog deel te neem? Moes jy al inskrywings uitvee?