Tensy jy ‘n baie groot bewonderaar is, is jy seker al daarvoor moeg: Michael Jackson wat op TV en die media in jou keel afgedruk word. Dalk het jy selfs al die grappies gehoor. Onsmaaklike goed soos dat hulle hom gaan smelt en Lego-blokkies maak, sodat kinders met hom kan speel.

Is mense wat sulke grappe maak dalk jaloers op sy sukses, soos Rian van Heerden beweer? Is die grapmakers se gedrag slegter, of beter, as mense wat hom bewonder sonder om ‘n oomblik te dink aan misdaadklagtes teen hom? Kan mens redeneer dat mense wat sulke grappe maak, minstens gewalg is deur kindermolestering-klagtes, en die bewonderaars vergeet iets groots?

Ongeag of die molestasie-bewerings waar was of nie, dis onbeskryflik tragies- en totaal onnodig- as mense selfmoord pleeg oor die dood van ‘n sanger wat hulle nie geken het nie. Ja, hy was die top-albumverkoper van alle tye, maar watter ewigheidswaarde het dit?

Op die ou end is daar g’n dalk g’n rede om beroemdes soos helde te vereer nie. Hulle is ook maar net mense. Hulle maak ook foute- party erger as ander. Dalk is Karin Eloff reg dat ons eerder goeie polisiemanne, onderwysers, verpleegsters en paramedici moet vier- mense wat ‘n verskil in die samelewing maak elke dag.