Vir party mense is dit moeilik om te verstaan: Hoe kon Christus tegelyktydig volkome mens, 100% mens gewees het, en volkome God, 100% God? Is mens wees en God wees nie twee verskillende dinge, soos wat ‘n 100% houtstoel nie tegelyktydig ‘n 100% plastiekstoel is nie? En sou die 50% DNA van Maria hom nie 50% mens, 50% God gemaak het nie?

Maar menswees gaan, so dink ek, oor die vlees waarvan ons en Jesus gemaak was, en hoe ons lyk. Dit gaan oor die inhoud van ons DNA.

God wees – die klein bietjie wat ek daarvan verstaan – gaan oor God se karakter, God se dade, en God se denke. Mens kan nie iemand se denke en dade ken deur sy liggaamsvorm te sien of sy DNA te ontleed nie. Denke, dade en karakter gaan oor die mens se “sagteware”, nie sy “hardeware” nie.

Myns insiens is dit dus soos om van ‘n houttafel te praat. ‘n Tafel kan 100% hout (die materie waarvan dit gemaak is) en 100% tafel (die aard van wat dit is) wees.

Maar dis bloot hoe ek dit sien. Use it, don’t use it. Jy kan my dalk selfs anders oortuig.