Daar is baie van ons. In die kerkwêreld en in die sekulêre wêreld. Ons vertel, in ons 20′s, dat daar regtig belangriker dinge is om na te jaag as ‘n man en kinders. Ons loopbaan of ons bediening of wat ookal is so belangrik dat ander dinge maar kan wag.
As jy nou in jou 20′s of vroëe 30′s is en so dink, die kanse is meer as 95% dat jy later gaan wens dat jy wel ‘n man en kinders gehad het. Ek is nou 36 en ek was verkeerd hieroor. Jy is dalk ook nou waar ek was.
Dalk is daar nog ‘n kans dat ek ‘n goeie, gelowige man sal raakloop wat ook die Here dien, en wat my wil hê. Dalk nie. Maar jy wat nou is waar ek was, se kanse is beter. Jy kan uit ander se foute leer.
Feministe gaan my kruisig, maar hier is dit: Vroue se behoefte aan ‘n man en kinders is baie groter as wat selfs party jong vroue besef. ‘n Gesin is ‘n belangrike prioriteit. As jy nou jou keuses so maak dat jy ‘n toekomstige man en kinders op die lange baan skuif, gaan jy waarskynlik later spyt wees. As jy ‘n ambisieuse jong vrou ken, vertel dit vir haar. Want dis waar. En belangrik.

