Eendag het ‘n anti-geweer groep plakkate op ‘n kampus opgeplak. Die plakkate het die bewoording gehad: DISARM NOW!
Die volgende dag toe die studente weer verby die plakkate loop, het iemand op verskeie plakkate bygeskribbel: DAT ARM NEXT!
Een Baie Geopinioneerde Blogger wat ek lees, reken dat wette teen vuurwapens vroulike kiesers se skuld is. Tot daar is hy waarskynlik reg. Dan gaan hy verder. Volgens hom behoort vroue nie te stem nie, want hulle stem gewoonlik vir die verkeerde goed, dinge wat die samelewing minder vry maak.
Ek kan verstaan, liewe leser, as jy tans ontsteld is: Watter soort misogeniese Neandertal reken dat vroue nie moet stem nie? Hy vertel dat Europese en Amerikaanse samelewings heelwat minder vry geword het sedert en omdat hulle vroue stemreg gegee het. Sy argumente het my nie oortuig nie, want samelewings word in elk geval minder vry. Nuwe wette kom makliker by as wat ou wette van die boeke af gaan. En die één land waar mans kan stem en vroue nie – Saudi Arabië- is geensins ‘n voorbeeld van ‘n vry land nie.
Tot ek vandag hierdie gelees het. Steve Hofmeyr spreek homself uit ten gunste van ‘n mediatribunaal, want die media vertel lelike goed van hom. En vertel dat hy tot die politiek wil toetree.
Toe tel ek die kommentare met mansname by, en díé met vrouename by. Vir die doel van die telling was kommentaar met androgene byname soos C v R, Steve bo! of Huh? geignoreer. Mens weet nie of dit van mans of vroue kom nie.
> Uit 17 vroulike en 20 manlike kommentare het 10 vroue en 3 mans Steve verdedig of gekomplimenteer. 2 vroue en 1 man het gesê hulle sal vir Steve stem.
> 6/17 vroue en 10/20 mans het hulle teen Steve uitgespreek.
> 1/17 vroue en 5/20 mans het gepraat teen ‘n media-tribunaal. *
> 5/20 mans en geen vroue het hulself ten gunste van só ‘n tribunaal uitgespreek.
Of te wel, helfte van die mans en 16 uit 17 vroue het die politieke punt gemis, en net oor Steve gepraat en nie oor ‘n mediatribunaal nie. En dit laat my vir die eerste keer wonder: Is dit regtig so ‘n goeie ding dat vroue stemreg het?
Aan die ander kant, mnr. Baie Geopinioneerde Blogger sal nie noodwendig sy vry samelewings sien as vroue nie stem nie. Helfte van die mans wat oor só ‘n tribunaal gepraat het, was ten gunste daarvan…
——————————————————-
Naskrif:
* Die manssyfers tel nie presies op nie oor verskeie mans hulle oor sowel Hofmeyr as oor ‘n mediatribunaal uitgespreek het.
Ander nota: Hierdie is ‘n besprekingspunt, nie ‘n opinie nie. Maar jy is seker slim genoeg om dit te sien.






