Category Archives: Idees vir Sondagskool Kleuterkerk Bybelklubs

Idees vir volwassenes wat kinders van God probeer leer

Ienie, mienie, maainie, mou – Watter kategese-materiaal moet my gemeente kies? Deel 1: Inleiding en Lesse wat Leef

“Dis fantastiese Kategeseboeke” het ‘n buurgemeente ons vertel. “Strate beter as Daai Lesboeke wat julle gebruik.” Ons gemeente besluit toe om Daai Lesboeke vir die Fantastiese Kategeseboeke te verruil. Maar waar ek nooit ons kategete hoor kla het oor Daai Lesboeke nie, het hulle gekla oor die Fantastiese Kategeseboeke. Ek is nou nog seker die Fantastiese Kategeseboeke is baie goed in die regte gemeente. Maar ek is ewe seker Daai Lesboeke is goed in die regte gemeente. Een soort lesboek pas net beter by ons gemeente. En iets anders pas by daardie gemeente.

Omdat daar soveel kategesemateriaal op die mark is, kan ‘n evaluasie van al dieklik hier materiaal, met voorbeeldlesse en op die ou end ‘n vergelykende tabel met skakels na waar die materiaal bestel kan word, dalk gemeentes help om die regte materiaal te kies. Ek is natuurlik nie die enigste een met ‘n opinie hieroor nie – dit sal wonderlik wees as ander kategete hier vertel wat hulle goed vind (of minder goed) in die lesse wat hulle gebruik. Julle kommentaar is welkom!
Die evalueerder: Sedert 1991 gee ek al omtrent 20 jaar lank Sondagskool vir laerskoolkinders. Ek het ook Kinderbediening-opleiding van CEF en die Kinder Evangeliste Opleidings Instituut. In die jare wat ek nie Sondagskool gegee het nie, het ek gewoonlik kleuterkerk, kinderkrans of Bybelklubs vir kinders aangebied. Ek het al in 3 gemeentes en met 6 (die ou AJK – Algemene Jeugkommissie, NG Kerk – boeke wat tot die laat ’90s in gebruik was, die huidige AJK boeke, Modkats, Lesse wat leef, Paidion, LP3 ) stelle handboeke gewerk.
Hier volg dan opinies oor die 5 stelle handboeke wat nog steeds nuut gekoop kan word. Die opinie handel slegs oor Gr. 1-6 materiaal. ‘n Reeks boeke wat nie die beste laerskoolmateriaal het nie kan goeie tienermateriaal aanhou, en andersom. Dis gewoonlik nie dieselfde persone wat die laerskool- en tienermateriaal vir ‘n reeks handboeke skryf nie. Die volgorde waarin boeke aan die beurt kom in die resensies is toevallig, dis nie in volgorde van hoe goed die materiaal is nie.

‘n Evaluasie van Lesse wat Leef se Gr.1-6 lesse

Lesse wat leefSusan Fourie het haar baie goed van haar taak gekwyt, veral as mens in ag neem dat hierdie boeke hoofsaaklik deur een individu geskryf is.
Boodskap: Die boodskappe is werklik eenvoudig vir kinders om te verstaan  Continue reading

Les prente: Sondeval

As jy die sondeval met kinders behandel, is jou klem waarskynlik daarop dat dit ongelukkigheid ingebring het tussen mens en God, mens en skepping, mens en mens. Iets sleg het ingekom in wat God goed geskape het.

Hierdie twee prente het ek vroeër vanjaar geteken om dit vir my Sondagskoolklas te wys.

Jy is welkom om dit ook te gebruik.

Naskrif: Ons gemeente gebruik deesdae Paidion Kinderbediening se materiaal. Hierdie is gebruik met die handleiding vir juniors, les 4, Siklus 1.

As God in beheer is, waarom gebeur sulke dinge? (Deel 4 – Die natuur)

Eerste deel hier

(Hierdie kom nie uit dieselfde boek as meeste dele nie.)

As God dan nie beheer vat vir alles wat mense doen nie, wat van natuurrampe? Moet God die blaam vat vir elke dood in ‘n droogte of aardbewing of oorstroming?

Hier beskryf die wetenskaplike Rich Deem waarom natuurrampe nodig is op aarde. Dis nie wreedheid van God as hierdie dinge gebeur nie, maar deel van wat die natuur nodig het.

Wanneer ‘n natuurramp gebeur, moet jy ook onderskei tussen wat wel op die natuur geblameer kan word, en watter deel die resultaat van mense se keuses is. Nie so lank terug nie was daar byvoorbeeld ‘n aardbewing in Haiti. Haiti is een van 2 state wat op dieselfde eiland lê. Die ander een is die Dominikaanse republiek. Waarom het jy gehoor van ‘n rampspoedige aardbewing in Haiti, en nie in die Dominikaanse republiek nie? Want Dominikane bou hulle geboue met beter boustandaarde, sodat dit nie op mense geval en soveel dood gemaak het nie. Hulle infrastruktuur is beter, sodat hulle na die tyd nog die mense laat doodgaan het van gebrek aan lewensmiddele nie.

Hoekom het droogte in Zimbabwe so ‘n paar jaar terug soveel mense laat verhonger? Die droogte het immers nie op Zim se grenslyne gestop nie, maar buurlande ook getref, en hulle het nie honger gely nie? Want dis nie die droogte se skuld nie. Zimbabwiërs het gekies om boere weg te jaag. Boere is die vervaardigers van voedsel. Jaag die kos-makers weg, en die resultaat is … te min kos.

In talle oorstromings bou mense huise waar die weerkundiges weet daar elke 20, of hoeveel ookal, jaar ‘n oorstroming is. Moet God dan blameer word as die huis oorstroom word? As jy wonder of ‘n natuurramp God se wil was, maak eers seker watter deel van gebeure is mense se fout.

(Deel 5)

——

Kommentaar hierop sal geopen word in die volgende aflewering.

Die wyse man bou sy huis op die rots: Ekstra vers

Hier is ‘n ekstra vers vir die kinderliedjie “Die wyse man bou sy huis op die rots.” Die ekstra vers is omdat jong kinders baie letterlik dink en die figuurlike boodskap van die liedjie nie noodwendig by ‘n kind insink as hy dit sing nie.

(1) Die wyse man bou sy huis op die rots x3

en die reën het neergeval.

En die reën val neer en die vloed styg op x3

en die huis op die rots bly staan!

(2) Die dwase man bou sy huis op die sand x3

en die reën het neergeval.

En die reën val neer en die vloed styg op x3

en die huis op die sand val plat!

(3) Die wyse mens doen wat God wil hê x3

al wil ander mense nie.

Ander doen verkeerd, luister nie na die Woord x3

maar die mens met die Woord staan vas!

Christenskap en gaaf-enskap

“Jesus”, vertel die Sondagskooljuffrou, “was gaaf met almal. Ons moet ook gaaf wees met almal. God het almal baie lief. Ons is almal sy kinders.”

Kobus glo dit. En Kobus word ouer, soos wat maar met alle kinders gebeur. En Kobus hoor dat Jesus dinge gedoen het soos om handelaars uit die tempel te verdryf en mense te vertel dat ellende vir hulle wag. Hy lees Jesus het soms skelwoorde soos “addergeslag” gebruik. Kobus vermoed dat wat hy in die Sondagskool geleer het nie waar is nie.Kobus onthou nog veral twee dinge uit die Sondagskool:

1) God was gaaf en liefdevol met almal.

2) Ons moet gaaf en liefdevol wees met almal.

En Kobus hoor van dinge in die Bybel soos dat God die hele Sodom en Gomorra uitgewis het, en ander Bybelverhale waarin God allesbehalwe gaaf en lieftallig was. Hy glo nog die tweede een- dat hy gaaf en liefdevol moet wees. Nou glo Kobus hy is meer moreel as die Bybel se God. En Kobus verwerp geloof, oor die geloof wat hy kleintyd geleer het nie die ware geloof is nie.

Punt van die verhaal?

1) As jy ‘n ouer is, of op een of ander manier kinders van God leer, moenie vertel dat God altyd goed en gaaf is met almal, of dat ons almal God se kinders is, nie. Want die Bybel beeld Hom nie so uit nie. Vertel oor die algemeen dit wat jy glo, en niks wat jy self weet nie waar is nie.

2) As jy iemand is wat besef dat dit wat jy kleintyd by die kerk geleer het nie die Bybelse waarheid is nie, verwerp gerus wat jy geleer het. Maar moenie aanneem dit wat jy geleer het is Christenskap, en dan Christenskap laer ag nie. Want gaaf-enskap is nie Christenskap nie.

Kerk-wees gaan nie oor programme nie (Vir predikante, ouderlinge en ouers)

“BKJA (Belydende Kerk Jeug Aksie, of te wel ‘n omgeegroep vir jong volwassenes) het nog nooit gewerk in ons gemeente nie”, vertel die ouderling my. “Die moeilikheid is dat mense trou en nie die groep verlaat nie, maar eerder saam met hulle huweliksmaats bly kom. En so 5 of 6 jaar later het mens ‘n kliek van meestal egpare waar jong enkellopendes nie meer voel om aan te sluit nie.”

Oom, dit klink vir my of BKJA wonderlik gewerk het in jou gemeente. Die lede bou ware verhoudings en word deel van ‘n groep.  As programme belangriker as gemeenskap was in die kerk, sou hierdie ‘n probleem gewees het. Maar dit is nie. Kry vir julle BKJA ‘n ander naam wat nie “jeug” inhet nie, stig ‘n nuwe groep elke klompie jare vir net-net skoolverlaters en almal wat daar meer tuis voel as in die ouer groep.

Program-gedrewenes reken ook dinge soos dat kinders op omtrent 12 vanuit die “kindergroep” na die “tienergroep” met ander leiers moet skuif, en die verhouding met die kinder-groepleier tot ‘n einde kom.

Die kerk moet onthou dat verhoudings belangriker as programme is. En daarom moet jy dink hoe om ouers te lei om hulle kinders te leer. Daarom moet groepe nie opgebreek word vir definisies (soos “hierdie is die ongetroude jongmense se groep en paartjies wat trou, moet wegraak”) nie.

As jy besef dat verhoudings belangriker as programme is, sal jy anders oor kerk dink. Vir ‘n begin, sal jy verkies om ouers wat Sondagskool gee verkieslik by hulle kinders se klasse in te deel. Op die lang duur sal jy ook, as jy dit besef, ouers leer om self hulle kinders van God te leer- hulle is beter daartoe in staat as ‘n kategeet oor die reeds bestaande verhouding. Maar waar kry mens ‘n predikant wat ouers leer en motiveer om hulle kinders God en geloof te wys?

Klippe gooi kan nie vergeestelik word nie

Jy moes dit al gehoor het: ‘n Christen/ Bybelboelie/ Fariseër of wat jy dit ookal wil noem, vertel dat iets sonde is, dat die dader daarmee moet ophou. En die reaksie is dan: “Hou op klippe gooi!”

Verkeerd. Baie verkeerd.

Die Bybelverhaal waarvolgens mens nie moet klippe gooi nie, is in Johannes 8: ‘n Vrou word betrap op owerspel. (Waars die man wat op dieselfde daad betrap is? Volgens die Mosaiese wette moes albei die owerspeliges gestenig word.) Mense wil haar stenig volgens die wet. Jesus sê die een wat sonder sonde is, moet die eerste klip gooi. Hulle verdwyn. Dan vertel Jesus: “Ek veroordeel jou nie. Hou op sonde doen.”

Volgens die Hou-op-klipgooi-kalante is Jesus daar besig om klippe te gooi – Hy vertel dan die vrou moet ophou sonde doen! Wat meer is, voor dit impliseer Jesus dat al die klipgooiers ook sonde het – nog klippe wat hy gooi?

“Klippe gooi” verwys na ‘n letterlike aktiwiteit in die Bybel, nie om iets sonde te noem nie. Iemand wat oor klip gooi kla wanneer ‘n ander mens sonde of beweerde sonde aanspreek, verdraai die Bybel.

——————-

Ns: As jy Sondagskool gee vir tieners/ ‘n Bybelstudiegroep vir jongmense lei/ ‘n predikant is, kan jy jou jong mense leer wat die Bybel oor oordeel sê. Die Bybel is nie so eensydig anti-oordeel soos die moderne samelewing se oor-vereenvoudigde idee van “Jy mag nie oordeel nie.” (Sien Joh 7:24, 1 Kor. 2:15, 1 Kor 5:12-13, Jak. 2:9. Sien Matt 7:1-2 Lukas 6:37 in konteks met verse rondom, en in konteks met die feit dat mens wel deur God geoordeel gaan word, sodat dit nie beteken “noem niks sonde en niks wat jy doen sal later sonde genoem word nie.”)

Lesse vir kinderwerk: Nog skakels

Liewe leser, as jy in hierdie tema belangstel, daar is nuwer inligting  in hierdie reeks artikels:

Klik hier vir die nuwe reeks se deel 6: Voorstelle en vergelyk van lesmateriaal (Sien veral die vergelykende tabel van daardie blad, want daar is skakels direk na voorbeeldlesse en waar lesse gekoop kan word.

Klik hier vir deel 7: Voorbeelde van tiener- en kleutermateriaal

  – Rooi woorde bygevoeg 6 Sept 2013

Paidion kinderbediening verkoop materiaal vir kinders van peuters (2 en 3 jaar) tot Gr. 6.

Ek is regtig beindruk deur Paidion se Gr. 4-6 voorbeeldles (hier en hier), en die lys temas vir daardie ouderdomsgroep. Aan die bietjie wat ek sien lyk dit meer intellektueel stimulerend as meeste materiaal – dit is die eerste kinderles wat wat ek ooit gesien het wat werk maak van ‘n sogenaamde teenstrydigheid in die Bybel (Die verskillende klem in Genesis 1 en 2). Te oordeel daaraan dat kinders gevra word om ‘n paar Bybelboekname ‘n slag op ‘n ry te leer lyk dit of Bybelhantering deel van die lesse is. En die program-siklus lyk op die oog af meer gebalanseerd en op wêreldbeskouing en dissipelskap gefokus as baie kinderlesse se eensydige, “vroulike” fokus op God se liefde en genade en ander liewe en dierbare sake. (Hierdie is ‘n eerste oogopslag- beoordeling, van materiaal wat ek nog nooit gebruik het nie.)

KidsXpress het nuwe Kinderkerk-materiaal: 4×4 avontuur vir kinders: ‘n Reeks van 6 lesse oor die lewe van die volk van God vanaf die beloftes van Abraham tot die bou van die Tabernakel.

En Bybelmedia se jeugfokus-katalogus kan hier afgelaai word.

Hier is ‘n paar kort voorwerplesse vir wanneer jy net vir ‘n paar minute iets met kinders moet aanbied, les-idees as jy oor Paulus se sendingreise praat, en gebed-idees.

————-

Soortgelyke artikels hier en hier.

Soldate! Swaarde uit die skedes!

Hierdie is ‘n manier om vir ouer laerskoolkinders (Gr. 4-7) dit opwindend te maak om die Bybel te gebruik, hulle indirek te motiveer om hulle Bybel beter te leer hanteer en hulle Bybels klas toe te bring, en hulle te herinner dat die Bybel die swaard van die Gees is.Wat jy nodig het: 2 Bybels, ‘n vers wat relevant tot jou les is, 2 kinders in jou klas wat gaan kompeteer.

1) Die twee kompeteerders staan rug aan rug, elk met Bybel  in een hand langs die sy.

2) Jy sê: “Soldate! Swaarde uit die skede!” Hulle tel die Bybels op tot voor hulle, gereed om dit oop te maak.

3) Jy sê die teksverwysing, byvoorbeeld: “Johannes drie vers sestien!” Hulle begin die vers opsoek, so vinnig as moontlik.

4) Die eerste een wat die vers kry, draai om na die ander een en begin die vers uitlees. Die een wat die vers uitgelees het, wen die swaardgeveg.

Jy kan hierdie metode maar elke week gebruik – kinders raak nie moeg daarvoor nie en jy het seker elke keer iets in jou les wat hulle uit die Bybel uit kan lees. ‘n Vindingryke kategeet kan dit gebruik om kinders te motiveer om hulle Bybels saam te bring klas toe (díé wie se Bybels onthou is, kry die swaarddril-beurte) en selfs Bybelboeke in volgorde te leer. (“Oor twee weke het ons ‘n swaarddril -kompetisie waaraan al die verse in die Nuwe Testament gaan wees. Hoe meer boeke van die Nuwe Testament jy in volgorde ken, hoe makliker om dit op te soek.” Dan wys jy vir hulle dat dit nie moeilik is om die boeke van die Nuwe Testament agtermekaar te ken nie deur dit self op te sê, terwyl hulle in die inhoudsopgawe volg of jy reg is.)

JP Moreland oor “How do we know Christianity is right out of all the religions in the world?”

George Claassen van Skeptic SA het my laas hier gevra:
Retha jy noem dat Jesus God is en dat dit al op talle maniere bewys is. Kan jy asb. net een stukkie bewys bring dat enige een van hulle bestaan (het).

En ene Annette het my al vertel:
Christenskap mag dalk waar wees vir jou, maar dis nie waar vir my nie.

Louwie stel dit dalk goed:
Wie is dan reg? Wie se “waarheid” is DIE waarheid? Wie se Gees is die regte Gees? Wie se heilige geskrif is die regte heilige geskrif? Hoe toets jy dit?

Is daar enige redes om te glo dat Jesus bestaan het, en was wie die Christene glo hy was? Hoekom, behalwe oor mens voel dis reg vir jou, kan mens in die Christendom se God glo? Hier kan jy ‘n .mp3 aflaai waar JP Moreland ‘n eenvoudige inleiding daaroor gee.

Luister dit, en moenie ‘n Wonmug* wees nie!

———–

*Jy vra dalk nou: Wat is ‘n Wonmug? Wel, Moreland beskryf hom in hierdie lesing.
Naskrif 2: Waarom liasseer ek hierdie ook onder “Idees vir Sondagskool …”? Want dit sal tieners ook baat om hierdie dinge te leer by die Sondagskool. En dit sal enige kategeet of jeugwerker baat om dit te weet. Selfs as die kinders in jou groep te klein is om dit te vra, maak  dit van jou ‘n meer oortuigde (en dus oortuigende) Christen.