Tag Archives: belasting

Wat kom nou eintlik die keiser toe?

Matteus 22: 16 En hulle stuur hul dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie– 17 sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? 18 Maar Jesus het hulle boosheid bemerk en gesê: 19 Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom ‘n penning gebring. 20 En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit? 21 Hulle antwoord Hom: Die keiser s’n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. 22 En toe hulle dit hoor, was hulle verwonderd en het Hom verlaat en weggegaan.

Hier is so ‘n paar idees oor daardie Bybelgedeelte:

1) Anders as die antieke Romeinse ryk waar Jesus gebly het, bly ek in ‘n demokrasie. Government by the people and for the people beteken dat óns die keiser is. Die vers beteken dan seker dat ons die reg het om die regering verantwoordelik te hou om ons te gee wat ons toekom!

2) Jesus se riglyn was: “Gee aan die keiser wat Hom toekom, en aan God wat Hom toekom.” Nou is dit jou plig om te vra: Hoeveel kom die keiser toe? Is daar enigiets wat God nie toekom nie? (Of te wel, Jesus het nie ‘n duidelike antwoord gegee nie, maar ‘n strikvraag gevra.)

3) Waar die onderdaan van imperialistiese Rome die Keiser niks behalwe gehoorsaamheid skuld nie, het die burger van ‘n demokratiese land ‘n verantwoordelikheid om te kyk dat sy verkose regering wettiglik volgens die konstitusie regeer.

Nou ja, hierdie is nie noodwendig die regte interpretasie(s) nie. Ondersoek maar self die Bybel, en vra self die Here wat waar is! En kom vertel wat jy dink.

Die konneksie tussen misdaad, Vadersdag en die Departement van Welsyn. (Of te wel: Waar is al die “ware mans”heen?)

Hoekom is misdaad in Suid Afrika so hoog? Hoekom het dit juis in die nuwe Suid Afrika so gestyg? Daar is seker baie redes vir die antwoord. Maar hier is so ‘n paar, of is dit een?

  1. Vaderlose kinders is disproporsioneel geneig om misdaad te pleeg, en ons het te veel vaderlose kinders.
  2. Mense wat nie skool voltooi nie, is disproporsioneel geneig om misdaad te pleeg, en kinders sonder pa’s is disproporsioneel geneig om nie skool te voltooi nie.
  3. Mans sonder gesinne pleeg ook meer misdaad as mans met gesinne.
  4. Kinders wat hulle pa in die huis het is veel minder geneig om slagoffers van misdaad te word as vaderlose kinders.
  5. Vroue wat getroud is se kans om slagoffers van misdaad te word is baie kleiner.

 Maar stop, voor jy misverstaan. Hierdie is nie ‘n feministiese geskel teen almal wat nodig het om hulle kenne te skeer nie. Mans is nie die muishonde in hierdie verhaal nie.

Die moeilikheid is dat ons in ‘n samelewing bly waarin dit hopeloos te maklik is om mans eenkant toe te gooi:

  1. Maklike egskeidings waarin niemand geblameer word nie, waar ma’s onderhoud kry sonder dat sy enigsins hoef te bewys dat die geld op haar kinders spandeer word.
  2. Jong vroue in townships kry babas sodat hulle welsynstoelaes kan kry. Die man word nie gesien as voorsiener deur hierdie jong vroue nie, maar as ‘n metode om regeringsgeld te kry. Die staat word die versorgende huweliksmaat.
  3. Wette bevoordeel vroue bo mans by aanstellings, wat dit moeliker vir die man maak om die voorsiener en versorger van ‘n gesin te wees.

‘n Samelewing waar:

  • dit gevaarlik is vir mans om te trou (huwelike is duur, egskeidings ruineer baie totaal);
  • vroue voordele kry as hulle uit verhoudings stap en kinders alleen grootmaak (die man se geld sonder enige verpligting teenoor die man);
  • geen stigma daaraan kleef as ‘n vrou rondslaap eerder as by een man bly nie,
  • jy geld van die staat kry vir kinders wat nie jy of jou seksmaat kan bekostig nie
  • vroue bo mans bevoordeel word vir bevordering, sodat mans in baie gevalle nie meer nodig is, of in staat is, om te voorsien nie

… kan verwag dat mans commitment-fobie kry. Dat mans enkellopendheid verkies bo gemelk word. Dat vroue amper móét rondslaap om aandag te kry. Dat ons arme kinders vaderloos grootword. Dat misdaad meer word. Dat mans min motivering het om hard te werk. (Hoekom sal hy hard werk? Hy kan homself versorg op min, hy het nie ‘n vrou en kinders om voor te sorg nie. En hoe harder hy werk, hoe meer vat die belastinggaarder- SA het reeds 2,5 welsyntoelae-ontvangers vir elke belastingbetaler.)

Al ons oënskynlik mooi wette oor onderhoud en welsynstoelae en regstellende aksie vir vroue maak ‘n wêreld waar vroue, en kinders, en mans, minder geliefd en minder veilig voel.

Vroue kla dikwels oor mans nie meer is wat vorige geslagte se mans was nie. Maar waarom sal mans in ‘n rondslapende welsynskultuur wat wat egskeiding makliker as trou maak, optree soos mans in ‘n monogame verantwoordelikheidskultuur wat die huwelik makliker as skei maak?

 - – - – - – - – - – - – -

Naskrif, as jy verder hieroor wil dink: Vir ‘n klomp kort kommentare hieroor, lees die kommentaar hier. En vir ‘n lang, deeglike behandeling met talle kruisverwysings, lees The misandry bubble.

Ekonomie vir beginners

Eendag, in ‘n land nie vêr van hier nie, het die mense oor ‘n probleem begin kla: Hulle kry nie ‘n groot genoeg deel van die pastei nie. Party mense in die land het meer as genoeg pastei om te eet, en ander hopeloos te min.

Die regering maak toe wette dat enigeen wat ‘n pastei bak, sy pastei met ten minste 50 ander mense moet deel. En dat enigeen wat voel dat hy te min pastei het, maar kan vat by enigiemand wat lyk of hy genoeg het.

Party bakkers besluit sommer dadelik dat as sake so staan, gaan hulle nie meer pastei probeer bak nie. Dis nie die moeite werd as jy self al die werk moet doen, maar almal in die omgewing eet saam nie. Hulle gaan staan maar liewer voor in die ry waar die ander pastei-bakkers uitdeel.

Met al minder pastei wat gebak word, begin almal honger ly, behalwe die diewe. As te min pastei gelykop verdeel word, bly dit te min. Op die ou end het die land ‘n nare reputasie gekry as ‘n plek waar niemand genoeg kry om te eet nie, en waar jy heeltyd oor jou skouer moet kyk vir skelms wat jou bietjie pastei wil vat.

 

In ‘n ander land het mense oor dieselde ding gekla: Hulle kry nie ‘n groot genoeg deel van die pastei nie. Party mense in die land het meer as genoeg pastei om te eet, en ander hopeloos te min.

Die regering raak toe ontslae van ‘n paar wette wat vir mense voorskryf waar hulle mag bak en wie hulle mag help bak, en hoeveel geld hulle vir die regering moet gee as hulle meel of vleis invoer. Die regering maak dit dus makliker vir bakkers om pastei te bak. Die regering vervolg ook enigiemand wat iemand anders se pastei steel, en die bakker voel dus nie dat hy alles kan verloor deur pastei-bestanddele te koop nie.

Party bakkers begin sommer dadelik meer bak, ander eers later.

Met al meer pastei wat gebak word, kry die bakkers en hulle families meer as genoeg. Die bakkers se werknemers en klante kry meer as genoeg. Selfs die bedelaars wat nie wil help bak nie en nie kan betaal nie, kry genoeg oorskiet. Die pastei word nog steeds nie regverdig verdeel nie, maar almal is versadig.

TV-lisensies en regverdigheid

Ek sien die regering wil TV-lisensiegeld afskaf en met ‘n belasting vervang. Belastings is die mees oneffektiewe manier om so iets te doen. Met ‘n belasting wat by almal ingesamel word wat geld het, ongeag of hulle TV kyk, hoef die SAUK al minder aan sy kykers (sy klante) verantwoording te doen- talle van sy kykers betaal hom nie en het geen sê oor hom nie, en talle van sy betalers gebruik nie sy diens nie. En selfs kykende betalers het so geen sê nie- as belasting-ontvanger behoort die Es Y Bie Sie aan die Y En Sie en nie aan sy kykers nie. Dit word so ‘n manier om die regering se waardes en idees af te dwing.

En dít is so onregverdig as kan kom. ‘n Stelsel waarin enige TV-koper ‘n lisensie moet kry is al klaar meer regverdig. (Al is daar maniere om dit te omseil.)

Maar die heel regverdigste sal wees om uitsendings te kodeer, soos M-Net. Net mense wat betaal kan die sein opvang. En as al minder mense jou programme kyk, en jou sein probeer opvang, dan moet jy jou klante/ potensiële klante vra: “Hoekom kyk julle nie meer nie? Hoe kan ek vir julle ‘n beter produk lewer?” En dan doen die uitsaaier net verantwoording aan sy klante- wat vir sy produk betaal.

Is “We demand” dalk die probleem?

Party slimmes vertel ons armoede is die rede vir misdaadvlakke in Suid Afrika. Dis seker nie 100% onwaar nie. Maar heelwat lande is armer as Suid Afrika, met laer misdaadvlakke. En hoe verklaar armoede korrupte parlementslede? Hoe verklaar armoede verkragting? En is armoede werklik die rede vir die moordsyfer?

Miskien is armoede nie die regte probleem nie. Miskien is die probleem eerder dat mense armer is as wat hulle dink hulle moet wees? In 1994 is die massas huise, elektrisiteit, yskaste en stowe belowe- en vir die meeste van die armes het dit nie gerealiseer nie. Dis nie dat Suid Afrika nou armer is as toe die misdaadsyfers laer was nie. Mense se verwagtings is wel anders. Hulle begeer hulle naaste se “bees” (gebruiksimplimente- yskaste en stowe) en “donkie” (ryding- Mercedes) en alles wat aan hulle “naaste” behoort meer.

Omdat mense glo hulle het die reg op die “rykes” se goed, stem hulle vir ‘n party wat uitgebreide welsynspakkette beloof. (Suid Afrika het 2,5 welsyntoelae-ontvangers vir elke 1 belastingbetaler.)* Omdat mense glo hulle het die reg op die “rykes” se goed, steel en roof hulle en kaap hulle motors.

Miskien is die oplossing in die eenvoud van die tien gebooie opgesluit: “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie of enigiets wat aan jou naaste behoort nie.” Werk vir jou eie huis en jou eie “donkie.” Maak vir jouself ‘n vrou (of man, as jy vroulik is) die hof wat nog nie iemand anders s’n is nie..

As ek glo mense moet werk eerder as om te vra of te gryp, vergeet ek dan die gelowige se plig het om te gee? Is ek onsimpatiek? Nee, die Christen mag nie sy hart verhard teenoor sy medemens nie. Maar verse oor hulp aan weduwees en weeskinders (mense wat te oud of jonk is om te werk) kan byvoorbeeld nie netso van toepassing gemaak word op elke arme in enige kultuur nie.

Dis boonop so dat God nie mense indeel in ‘n ryk klas wat moet gee en ‘n arm klas wat net hoef te vat nie. Die gelowige moet deel, al het hy net twee kledingstukke. My droom is dat sowel misdadigers as welsyn-ontvangers, gewers (van hulle talente en gewilligheid- vir werkgewers of klante), in plaas van net vatters sal word.

————

* Volgens verskeie bronne is daar 5,3 miljoen belastingbetalers en 13,3 miljoen ontvangers van staatshulp in Suid Afrika. Hierdie toedrag van sake gaan na verwagting vererger. Selfs buitelanders, as hulle wettiglik die land binnegekom het, mag welsynstoelaes vanaf die regering kry. (Lees “belastingbetaler” waar “regering” staan.)