Gister en eergister het die idioom-makers van eeue terug weer vir my gedemonstreer hoe wys hulle was. (Niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie en Jy kan ‘n perd tot by die water lei, maar jy kan hom nie laat drink nie. ) Op Sonkind se “Hoekom ek glo”-draad het ek met ene Andrew gepraat. Dele van die gesprek het so min of meer as volg verloop:
Andrew: God is unlikely to exist.
Retha: These 20+ pieces of evidence lead me in the direction of believing in His existence.
Andrew: There is no evidence. God’s existence is increasingly unlikely as you believers continue to not give evidence.
Retha: But I did give evidence! Did you miss it?
Andrew: What you give is not evidence, because there is no evidence.
Retha wonder: And how do you know there is no evidence?
Andrew: Because nobody ever provided evidence! If you did, it would have been the first evidence ever and millions would have visited this site!
Ai tog. Ek het sopas vir hom bewyse voorsien! En die bewyse het inderdaad al miljoene getrek die afgelope 2000 jaar, dis waarom daar Christene is en was. Dit lok nie miljoene na een spesifieke webblad nie, want die bewyse word nie net op een blog of nou eers verkondig nie. (Selfs ‘n totale leek op die gebied kan aflei die “Om Jesus te volg maak sin” blad is nie nuwe bewyse wat ek uitgedink het nie, want die blad is deurtrek van skakels na ander blaaie.) Dis verstaanbaar as mense my vertel daardie redes/ bewysstukke is a) onvoldoende; of b) geplant; of c) kan ook tot ander gevolgtrekkings lei. Maar iemand wat ontken dat hier enige bewysstukke voorgelê is, is tragies verblind.
Dit laat my dink aan ‘n stukkie uit CS Lewis se boek “The Magician’s Nephew:”*
In een toneel (een van my gunsteling-tonele uit enige storieboek, en beslis die glorierykste een) is die leeu, Aslan, besig om te sing en uit sy woorde ontstaan Narnia. Daarna kies hy diere wat hy gemaak het en hulle praat met mekaar. Die diere ontdek selfs lag in hierdie mooi nuwe wêreld waarin hulle sopas gemaak is. Eenkant staan ‘n man wie se naam toevallig oom Andrew is:
“Nou moet ons eers ‘n entjie teruggaan en verduidelik hoe die toneel vanuit oom Andrew se standpunt daar uitgesien het. Op hom het dit ‘n gans ander indruk gemaak as op die drywer en die kinders. Want wat mens sien en hoor … hang ook af van watter soort mens jy is.
… Hy het glad nie agtergekom dat Aslan net één paar van elke diersoort uitsoek nie. Al wat hy opgemerk het – of gedag het dat hy opmerk – was ‘n spul wilde diere wat daar ronddwaal. En hy het bly wonder waarom die ander diere dan nie vir die groot Leeu probeer weghol nie.
Toe die groot oomblik aanbreek en die diere begin praat, het hy glad nie gesnap wat aangaan nie – en die rede daarvoor was nogal interessant. Toe die Leeu oorspronklik begin sing het, destyds al in die stikdonkerte, het hy besef dat die geraas ‘n lied was. En hy het ‘n renons in die lied gekry. Dit het hom dinge laat dink en voel wat hy nie graag wou dink en voel nie. Toe, met die opkoms van die son, toe hy agterkom dat die sanger ‘n Leeu is (“maar net ‘n Leeu”, soos hy gedink het) het hy sy bes gedoen om homself te oortuig dat die dier glad nie sing nie en ook nog nooit gesing het nie – dat dit sommer net ‘n gebrul was, soos van enige leeu in ‘n dieretuin in ons wereld. “Natuurlik het hy nooit regtig gesing nie,” het hy gedink. “Ek moes my dit sommer verbeel het. My senuwees is op hol. Wie op aarde het nou al van ‘n singende leeu gehoor?” En hoe langer en mooier die Leeu bly sing het, hoe naarstiger het oom Andrew homself probeer oortuig dat hy net ‘n gebrul hoor. Die probleem is nou dat as mens probeer om onnoseler te wees as wat jy klaar is, jy dit gewoonlik regkry. Dis wat met oom Andrew gebeur het. Na ‘n rukkie het hy inderdaad niks anders as ‘n brul in AsIan se lied gehoor nie. Weldra sou hy niks anders kon hoor nie, selfs al probeer hy. En toe die Leeu oplaas praat en sê: “Narnia, ontwaak,” het hy geen woorde gehoor nie, net ‘n gegrom. En toe die diere antwoord, het hy net ‘n geblaf en gebrom en gebalk en getjank gehoor. En toe hulle begin lag – nou ja, dit kan julle mos nou vir julleself voorstel! Vir oom Andrew was dit erger as enigiets wat hy nog ooit gehoor het. So ‘n bloedstollende gedruis van honger, verwoede ondiere het hy nog nooit in sy lewensdag teëgekom nie.”
Wat leer ek uit hierdie twee Andrews? Wel, as verkondiger van die boodskap dat geloof in die Bybelse God ook verstandelik sin maak, moet ek onthou: Die toppunt van swak logika is om my boodskap te verkondig asof mense suiwer logiese wesens is. Ek kan nie dink enige boodskap moet net mense se koppe swaai, dan sal hulle dit volg nie. Mense volg nie suiwer hulle logika nie, hulle harte moet ook verander. ‘n Andrew wat wil glo Aslan is net ‘n leeu of Jesus net ‘n mens, sal nie sy logika toelaat om hom anders te oortuig nie.
En as mens? As mens moet ek nie blind wees vir wat ander mense my probeer oortuig nie, al gaan dit reëlreg in teen wat ek dink en glo. Maar dit is moeilik. Maak iemand se standpunt geen sin nie oor my logiese kop so sê? Of sê my kop dit maak g’n sin nie oor ek dit nie wil glo nie? Dit is baie maklik, ook vir ‘n gelowige, om ‘n Andrew te wees. As ek dink dat niemand my iets kan leer nie, word ek ‘n Andrew. As ek die wetenskap sou ignoreer sodra dit nie by my skrif-interpretasie inpas nie, sal ek ‘n Andrew wees. As ek mede-gelowiges wat anders as ek glo oor spreek in tale, of die bepaalbaarheid van wederkomstyd, of wat ookal, bloot sou wou ignoreer (want EK weet mos wat EK weet) , word ek ‘n Andrew. As ek opregte geloofsvrae van mense wat sukkel om te glo beskou in dieselfde lig as wat ek die kommentaar van Andrew op Sonkind se blog beskou, word ek self ‘n Andrew. Wat ek moet leer hier, is om nie te dink ek weet alles nie. Want sodra ek dink ek weet alles, kan ek nie meer na nuwe inligting en insig oor ‘n saak kyk nie.
Of dis hoe ek dit sien.
———
* Ek het ‘n Afrikaanse kopie van die boek en daarom is my aanhaling Afrikaans.