Tag Archives: blog

‘n Regse blog?

Alleman maak hierdie beskuldiging:

Ek dink hierdie is een van die mees regse blogs op WordPress.

Hy verduidelik verder:

Ek bedoel regs soos wat dit internasionaal gesien word – die politiek van die bevoorregte klas. Nie soos in Suid-Afrika waar mense wat eintlik afskuwelik rassisties en hatig is, regs genoem word nie.
Ek voel nog steeds jou blog is regs – vol sieninge wat in ander lande as SA as regs beskou sal word, en wat byvoorbeeld by die Amerikaanse Republikeinse party inpas. Daarteenoor is daar meer mens-vriendelike politieke sienings, ook onder Christene, in byvoorbeeld Europa, sieninge wat ek al lankal gehoop het jy sal ontdek.
Die tekens van regse sieninge in jou blog is volop.

Toe ek hom vra om regse sieninge op my blog uit te wys, het hy nie. Ten minste het hy my nie valslik van rassisme beskuldig nie. Goed, kom ons kyk of die blog regs (in die internasionale en Amerikaanse sin) is. Eerstens, drie definisies van regsheid:

1) Right-wing ideologies and movements support social order… focus on a support for tradition… Nationalism … support capitalism…Government support for the majority religion… Anti-communism.

2) In the United States, right-wing ideas and movements are associated with traditional values, conservative ideologies, support for a strong military, resistance to legal equality or protection for disfavored minorities, censorship of expressions of sexuality and nudity, nationalism, disfavor of too much immigration, and much reverence and support for symbols of the state, such as the flag.
3) Die politiek van die bevoorregte klas. (Alleman se definisie.)

Ek spreek my telkens hier uit teen dinge doen of glo net oor dit tradisie is (mens glo/ doen dinge oor daar goeie rede daarvoor is), is sterk ten gunste van gelykheid voor die wet, en is gekant daarteen om enige sosiale orde of godsdiens-idee met regeringshulp in stand te hou. (Ek wil bv. nie ‘n verbod of verpligting op skolegodsdiens sien nie, want albei sal ‘n regering-afgedwingde sosiale orde wees.) Ek glo in vryheid van spraak eerder as regering-sensorskap, en noem dit in my ouer inskrywings. Ongeag wat ek dink oor ‘n sterk weermag, nasionalisme, immigrasie, en die landsvlag, die onderwerpe kom nie op hierdie blog uit nie.

Die mees regse sentimente op hierdie blog is dus ondersteuning vir kapitalisme en teenkanting teen kommunisme. En gematigdes glo dit ook. En hoeveel aandag word op die blog gegee aan sulke sake?

Van die laaste 20 inskrywings op gelowigenondersoekend, voor die datum waarop Alleman daai mening gegee het, het 2 daardie sake ondersteun. Die 20 inskrywings het omtrent 7400 woorde, die 2 inskrywings het omtrent 540 woorde. Maar die veel langer inskrywing van die 2 gaan grootliks oor ander sake. Dus is dit eintlik so 180 regse (teen kommunistiese ekonomiese idees) woorde. Daarteenoor sluit 5 van die 20 inskrywings idees in wat gekant teen regse idees soos tradisie as motivering vir dade is.

2,5% van wat hier gesê was voor daai aantyging noem dus gematigde tot regse ekonomiese idees. 25% van blog-inskrywings noem idees wat teen regse idees is. En die meerderheid van die blog gaan nie oor politiek nie. “Een van die mees regse blogs op WordPress?” Onwaarskynlik. En die inskrywing waarop hy my regs noem, bevat nie enige ekonomiese idee nie.
Is wat ek glo net vir die bevoorregte klas bedoel? Wel, die eerste idee op hierdie blog is dat ek ‘n Christen is, en Jesus het nie gekom net vir die bevoorregte klas nie. Om presies te wees, hy’t onderdruktes kom vrymaak. En dan glo hierdie blog dat Christenskap rasioneel verdedigbaar is – dis nie eerstens ‘n politieke idee nie, en dit kan die regte van gewone Christene beskerm teen die seksie van bevoorregte intelligentsia wat reken God moet uit die samelewing verwyder word. Intussen het ek selfs al ‘n ander blog begin teen hierargiese, bevoorregte-klas teologie.

Is dit Alleman se enigste fout? Nee. Regsheid is byvoorbeeld nie “die politiek van die bevoorregte klas” nie. Die rykstes is minstens ewe lings as ander Amerikaners.

En om regses uit te beeld as minder mens-vriendelik as lingses is ook verkeerd- hulle gee meer tyd en geld vir liefdadigheid en skenk meer bloed. Om gekant te wees teen kommuniste- ‘n groep wat meer as ‘n 100 miljoen mense doodgemaak het in die 1900′s- is ook baie mens-vriendeliker as om hulle te ondersteun.
Waarom maak dit saak? Want as jy mens-vriendelik wil wees, leer wat regte mens-vriendelike mense dink.

Hoe om meer indrukwekkend kommentaar te lewer op blogs en forums.

Judith vertel my gister:

Ek weet nie hoe om die cool italics en bolds en quotes te doen nie so skuus as my teks bietjie moeilik lees.

Ek verstaan jou probleem, Judith. Sulke goed is belangrik. Wat sonder leestekens só lyk:

Die kinders van die Suiderland

het 10 vingers aan elke hand

vyf en twintig vingers en tone

Ai die liewe klein patrone

lyk met leestekens só:

Die kinders van die Suiderland

het 10 vingers, aan elke hand

vyf, en twintig vingers en tone.

Ai, die liewe klein patrone!

En sonder leestekens moet jy liefs niks skryf oor jou vriende se dogter op hoërskool nie…

Vir vetdruk, doen:

<b>JOU WOORDE</b>

Vir onderstreep, doen:

<u>JOU WOORDE</u>

Vir skuinsdruk, doen:

<i>JOU WOORDE</i>

Vir ‘n aanhalingsblok, doen:

<blockquote>JOU WOORDE</blockquote>

 

‘n Skakel is bietjie moeiliker. Doen:

<a href=http://JOU WEBBLAD>WOORDE WAT BESOEKER SIEN</a>

Byvoorbeeld

<a href=http://gelowigenondersoekend.wordpress.com/>Die swakste blog op die Internet</a>

Dan sien die leser:

Die swakste blog op die Internet

Sien? As jy eers weet hoe, kan jy dit nie vergeet nie!

Gesondheid van ongelowige samelewings- en ongelowige statistiek

Hierdie blogger het so ‘n klein Engelse blog wat nie gereeld gebruik word nie. Omtrent net as ek die moeite doen om met gepubliseerde statistiek te stry. Vandag was weer een van daardie dae.

Ongelowiges in God op hierdie blog het al vir my gesê dat ongelowige samelewings die gesondste is. Sulke ongelowiges het ongesond sterk geglo in ‘n stel syfers van ene Phil Zuckerman, wat ek hier bevraagteken. (Kortom, hy het abnormaal hoë syfers vir die aantal ongelowiges in Skandinawië se oënskynlik gesonde samelewings, en abnormaal lae syfers vir ongelowige lande soos China, Kuba en Noord-Korea. En dis nie sy enigste probleem nie.)

My Afrikaanse lesers is welkom om daar te gaan lees en hier (of daar) kommentaar te lewer. (Op daardie blog, omdat ek nie so gereeld by hom uitkom as hierdie een nie, word die kommentaar gelees voor plasing. Julle mag dus verkies om hier te praat eerder as om te wag.)

Integriteit

‘n Ander blogger vra my ‘n tyd gelede of ek nie Adgator ads wil gebruik nie. Gesien in die lig daarvan dat verskeie van my poste op daardie stadium aandag getrek het, kon ek net sowel ‘n wins daaruit maak. Dis seker die regte ding vir party ander mense om te doen. Maar ek ken vir Retha. En ek weet hierdie Retha kan nie vertrou word daarmee nie. As ek Adgator ads gebruik op hierdie stadium, sal dit my in die versoeking plaas. Hierdie mensie sal dan wil sê wat aandag trek, oor watter temas ook al aandag trek. En wil antwoord op maniere wat aandag trek.
   
Dit sal opregtheid hier dalk ‘n knou gee. En opregtheid is belangrik.

“Oor my” is opgedateer

Die bewoording op die “Oor my” blad is verander. Gaan kyk maar as dit jou interesseer.

Hoe gemaak met internet-trolle?

As jy ‘n ou hand op die internet is, ken jy dit seker:

 Jy begin deelneem aan ‘n blog of forum waarvan jy hou. Daar daag later iemand op wat gruwelik beledigend is, of ellelange poste vol twak praat, of op ‘n ander manier net die blog of forum se hele karakter verander. Dalk het só iemand al by jou blog opgedaag. Wat nou gemaak? Hoe maklik mag mens iemand blok, sodat sy kommentare nie kan verskyn nie?

 

Jy mag dalk selfs ‘n etiese probleem hê met die saak: Die soort trolle wat jou forum of gunsteling-blog binneval, het natuurlik ook vryheid van spraak. Beperk jy iemand se vryheid van spraak as jy hom jou blog verbied? Beperk ‘n forum-moderator die trol se spraakvryheid as hy dit doen?

 Ek sien die saak só: Veronderstel ek skryf ‘n brief aan Huisgenoot/ Vrouekeur/ watter tydskrif ookal, met die idee dat dit op hulle brieweblad verskyn. Hulle kies om dit nie te publiseer nie. Hulle het dan nie my spraakvryheid belemmer nie. Hulle het bloot nie vir my ‘n mikrofoon geleen nie.

Dieselfde met enige ander publikasie: Mens kies wat jy in jou publikasie wil hê. Om te kies wat jy wil publiseer en wat nie, is deel van jou vryheid van “spraak.” As jou publikasie ‘n blog of ‘n forum is, waarom moet die reêls anders wees? As iemand jou blog lelik maak, blok hom as jy so voel, sê ek. Dis jou blog, jy het begin blog oor jy dit geniet. Moenie dat jou lesers/ kommentaar-leweraars heeltyd in irriterende twak vaskyk nie.  En as iemand jou gunsteling-forum lelik maak, moenie sleg voel as jy die moderator vra om hulle te verban nie. Spraakvryheid kom nie in gedrang nie. Dis debateerbaar of “Oopkop luister” in die gedrang kom.

 

En as jy geblok word iewers? As jy nie jou opinie op ‘n bepaalde koerant of blog of forum mag sit nie? Dan beoefen jy jou vryheid van spraak elders. Ons in die blogosfeer kan in elk geval nie maklik stil gemaak word nie.

 

trollWat dink julle? Hoe maklik moet/ mag mens iemand blok? Wat is swak/ eties onaanvaarbare redes om iemand uit te blok? Waarvoor sal jy iemand nie meer op jou blog toelaat nie? Het jy al mense gekeer om aan jou blog deel te neem? Moes jy al inskrywings uitvee?

Geseënde Kersfees, almal

dreamingofpeace1adreamingofpeace2aEk wens al my blog-lesers ‘n geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige Nuwe Jaar toe. Bestuur veilig. Rus goed uit as jy die kans kry. Mag die Here julle seën.

 

Van Retha

 

Of dalk moet ek dit stel soos my prokureur aanbeveel:

 

Please accept with no obligation, implied or implicit my best wishes for an environmentally conscious, socially responsible, low stress, non-addictive, gender neutral, celebration of the summer solstice holiday, practiced within the most enjoyable traditions of the religious persuasion of your choice, or secular practices of your choice, with respect for the religious/secular persuasions and/or traditions of others, or their choice not to practice religious or secular traditions at all. Along with a fiscally successful, personally fulfilling, and medically uncomplicated recognition of the onset of the generally accepted calendar year 2009, but not without due respect for the calendars of choice of other cultures whose contributions to society have helped make our nation great, and without regard to the race, creed, colour, age, physical ability, religious faith, choice of computer platform, or sexual preference of the wishee.

——–

 

Naskrif: Hierdie papierpop uit Contemporary Doll Collector hoort dalk eerder op hierdie ander blog van my, maar die prent van die leeu en lam van Jesaja 11 wat saam wei maak dit iets besonders.

Die Baie Belangrike Woernaal Inskrywing

Gister het ek kliphard gewerk en nagevors: Ek skryf ‘n Baie Belangrike Woernaal Inskrywing! Ek blog om ‘n Baie Belangrike Waarheid oor te dra!

 

Vanoggend het ek ‘n leun vertel. Sommer, oor die leuen meer gerieflik as die waarheid was.

 

En toe praat die Gees met my: “Ek kan jou nie vertrou met daardie Baie Belangrike Woernaal Inskrywing nie, Retha.”

 

En ek onthou: ” Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die klein dinge oneerlik is, is ook in die groot dinge oneerlik.” As ek nie oor iets klein by die ongerieflike waarheid kan bly nie, hoe kan ek eerlik oor dinge blog wat vol ongerieflike waarhede is?

 

Jammer, Here. Dit was U wat die visie vir die Baie Belangrike Woernaal Inskrywing vir my gegee het. Dis U wat my nou lei om te stop, want my hart is nie eerlik genoeg nie. Ek sal verder skryf wanneer U my ka vertrou.

Ander bloggers, ek vra raad

Ek beskryf myself op hierdie blog as iemand met diverse belangstellings. “Party mense sorg dat hulle al meer en meer van al minder leer. Op die ou end weet hulle alles- van niks. Ek  weer, leer al minder en minder oor al meer en meer. Een van die dae weet ek niks oor alles!”

 

Nou ja, daar is twee diverse temas, albei baie anders as dit waaroor my blog meestal gaan, waaroor ek baie materiaal versamel het. Sedert ek 1994 kinderbediening-opleiding gekry het by KEO (Ou naam van Petra Kollege, Witrivier) is ek elke jaar by minstens twee groepe van Sondagskool of Kleuterkerk, Kinderkrans of Goeie Nuus klubs betrokke. Ek het intussen ‘n hele klomp materiaal vir Christen-werk met kinders versamel en uitgewerk. Die ander tema is papierpoppe, waarvan ek heelwat versamel/ ontwerp het. Ek wil graag my lesmateriaal en papierpoppe deel.

 

Nou vra ek julle ander bloggers: As mens werklik diverse temas wil deel, is aparte klein blogs wat selde opgedateer word beter? Of sit mens alles op een blog, en tag/category dit net verskillend? Laasgenoemde irriteer dalk mense wat RSS feed kry wanneer die blog opgedateer word: hulle kry kort-kort ‘n boodskap oor temas waarin hulle nie belang stel nie.

 

Dalk dink een van julle selfs ek moet my papierpoppe apart blog, maar my kinderlesse hier?

Afrikaanse leestekens vir Afrikaanse bloggers

deelteken en kappie

Is daar nog mense wat met hulle Afrikaanse leestekens soos die deelteken en die kappie sukkel op rekenaar? Jy het seker all gevind dis moeite om die ALT-kodes te onthou van letters soos die ê in “sê” en die ë in “hoërskool.” Om nie eers te praat van letters wat minder gebruik word nie, soos die ô in môre en die ï in ateïs.

 

 

 

 

Of dalk het jy soos ek ‘n groter probleem – ‘n Skootkomper met ‘n sleutelbord wat nie eers die regterkantste nommer-sleutelbord het, wat gebruik word vir ALT-kodes, nie. Daar is ‘n maklike oplossing vir die probleem in XP.

 

Wat jy eenmalig doen:

1. Kliek op Start

2. Kliek op Control Panel

3. Kliek op Regional and Language Settings

4. Kliek op Language

5. Kliek op Details

6. Kliek op Add

7. Op oopvalvenster kliek op Keyboard layoute/IME

8. In daardie oopvalvenster, kliek op United States International.

9. Kliek op OK

10. Kliek op Apply en OK

11. Restart jou rekenaar.

 

Wat jy van nou af elke keer doen wat jy ‘n leesteken -karakter nodig het:

1)         Druk eers die leesteken se simbool. Dit is:

Shift+6 vir ‘n ^

Shift+’ vir ‘n “

 ‘ (enkel aanhalingsteken) vir ‘n vorentoe-aksent soos bv. op die é

` (die sleutel onder Esc) vir ‘n agtertoe-aksent soos bv. op die è

2)         Jy sal sien dat die karakter nie verskyn wat jy getik het nie. Tik nou sy letter regs van hom. (byvoorbeeld Shift+ ^ ; en dan ‘n e vir ê) Jy sal vind dat die simbool en letter saam verskyn.

3) As jy vir een of ander rede een van die karakters (` ‘ ” of ^ ) wil gebruik sonder ‘n letter reg onder dit, tik die leesteken en dan ‘n spasie.

 

Ah, uiteindelik is my probleem opgelos! Hoop dit help jou ook.