Is an acorn an oak tree?
Akker staan teenoor eikeboom soos embrio teenoor volwassene. Nie soos embrio teenoor mens nie. Akkers is nie eikebome nie. En embrios is nie volwassenes nie. Maar menslike embrios bly mens.
Is an acorn an oak tree?
Akker staan teenoor eikeboom soos embrio teenoor volwassene. Nie soos embrio teenoor mens nie. Akkers is nie eikebome nie. En embrios is nie volwassenes nie. Maar menslike embrios bly mens.
Posted in (Soort van) filosofeer, Apologetiek
Ek lees gister die woorde op ‘n advertensie: SAFE ABORTIONS
Veilige aborsies? Mens kry ewe min ‘n veilige aborsie as ‘n veilige galgtou of ‘n veilige elektriese stoel. Die punt van ‘n aborsie is om dood te maak. Dit maak dit die presiese teenoorgestelde van veilig.
Posted in (Soort van) filosofeer, Apologetiek, Los gedagtes
“Raai wat?” vertel die klip-beeld van ‘n vrou. “Ek hoor party van ons gaan lewendig word. Lewendig- soos die Beeldhouer.“
“Daar is nie ‘n Beeldhouer nie” vertel ‘n klei-renoster. “Hoe kan daar een of ander soort ding bestaan wat beter as onsself is? Ek dink hierdie Beeldhouer-stories gee ons net ‘n minderwaardigheidskompleks oor wie en wat ons is. Ons beelde het ‘n Beeldmaker-storie uitgedink eeue terug, en nou voel party van ons minderwaardig daaroor. Ons beelde is die beste ding in die ateljee. Beter as beitels of tafels of vloerteëls. Hoekom nou maak of een of ander “beeldhouer” slimmer as ons is?”
“Ek het nie ‘n minderwaardigheidskompleks nie,” protesteer ‘n klipweergawe van ‘n St. Bernard. “Inteendeel, ek is trots daarop dat ‘n maker my spesiaal gemaak het!”
Die klei-renoster kap terug: “Spesiaal gemaak se kleivoet! Winderosie en watererosie laat klip verweer. Ons is erosie-verweer, en nou dink party misleides maar net dat hierdie vorms wat ons het spesiaal ontwerp is. Wat ons klei-beelde betref, ons almal weet die son laat klei hard word. Daar is g’n Beeldhouer nodig nie.”
“Ja,” voeg ‘n klip-mansbeeld by, “die beste moontlike bewys teen ‘n Beeldhouer, en vir erosie, is hoe almal van ons van dieselfde soorte goed is. Hier is klein perd-beelde van klip, en groot mens-beelde wat ook uit klip ge-erodeer het. Kleipotte en klei-paddas en klei-leeus is almal van dieselfde soort klei gebak. Maar julle met julle Beeldhouer-idees glo mos erosie gebeur nie.”
“Ons glo erosie gebeur, ons glo egter erosie verklaar nie alles nie,” val ‘n klei-luiperd in die rede.
“O, wat meer is, as daar ‘n beeldhouer is, wil ek hom nie dien nie. Dit gebeur gereeld dat beelde wat hier in die ateljee gestaan het, nie meer hier staan nie. Watter soort beeldhouer wis sy eie beelde uit?” mor ‘n klip-perd.
“Die wêreld is groter as ons ateljee,” vertel die beelde wat aan ‘n Beeldhouer glo. “Hy wis nie beelde uit nie, hy vat hulle iewers anders heen.”
Die klip-perd stry nog steeds: “Jy annihileer nie beelde nie, ek annihileer nie ander beelde nie. Hoe kan jy ‘n beeldhouer vertrou wat beelde annihileer- of dan wegneem elders heen, soos jy glo?”
“Ek glo in die Beeldhouer, want hy stel my alreeds in staat om te beweeg” vertel die klip-St. Bernard. “En eendag, sal ek net so vryelik soos hy kan beweeg. Dis deel van die lewe wat hy gee.”
“Vryelik? As jy moet beweeg soos die beeldhouer jou in staat stel, wat is vryelik daaraan? In elk geval het ons beelde geen manier om daardie sogenaamde “beweging” te sien nie.. Dis net een van julle bygelowige praatjies,” ontplof die gefrustreerde klip-mansbeeld.
“En nog iets oor hierdie sogenaamde beweging,” kla ‘n klei-aap. “Dit was glo beweging wat nou die dag ‘n groot klip-kameelperd oor ‘n klompie klei-narre laat omval en hulle almal gebreek het. Nee wat. Julle wat in beweging glo, veroorsaak net moeilikheid.”
“Ag Klei-Aap, jy gee elk geval nie vir die kleiner swakker kleibeelde om nie. Vir wat gooi jy nou ‘n vloermoer?” vra ‘n bitsige klei-olifant.
Baie gou ontaard dit in ‘n geskreeu waarin geen beeld meer enige ander beeld se standpunt hoor nie. Die beelde verloor belangstelling in praat sonder luisteraars, en gaan aan met ander dinge. Maar ‘n paar beelde bly dink oor die wonder van om eendag te deel in die soort lewe wat die Beeldhouer het……
Posted in (Soort van) filosofeer, Geloof
Tagged allegories, beeld, beeldhouer, denke, filosofie, Geloof, lewe
Sy was slim ook. Sy het matriek gemaak in die 1920′s. Op daardie stadium is dit ‘n hoë geleerdheid gewees, veral vir ‘n vrou.
Sy het tot op 89 nog op haar eie gebly en nooit vergeet om vir my of my broers te skryf op ons verjaarsdae nie. Mense wat haar geken het in haar laat 80′s, was verwonderd oor hoe helder haar verstand nog is. ‘n Neef van my aan die ander kant van die familie (die kant wat nie verwant is aan haar nie) het haar ontmoet toe sy naby aan 90 was. Sy het bal vir bal krieket met met hom bespreek, en man vir man die meriete van spelers. Hy was verstom.
Sy het haar ook nie sommer laat onder kry nie. My neef, wat op daardie stadium uit was om te skok, het eenkeer ‘n string vloekwoorde oor die telefoon gebruik. Hy het nie gedink dis sy ouma wat die foon opgetel het nie. Sy antwoord hom toe: “Weet jy, Barto? Afrikaans is só ‘n ryk taal, met só baie woorde, dat mens ure lank kan Afrikaans praat sonder om eenkeer te vloek.”
Sy het tot op 89 ook nog ‘n vroue-bybelstudiegroep by haar huis gelei. Die vroue wou net nie hê dat iemand anders dit oorneem nie! Sy het ook stapels koeksisters gebak, die lekkerste koeksisters wat ek nog geproe het. Baie van daardie koeksisters het ten bate van sending verkoop. (Af van die onderwerp af: Heelwat van die interessantste mense wat ek al ooit ontmoet het het ‘n hart vir sending gehad. Passievolle mense is interessante mense. En daar is nie verniet ‘n term soos “missionary zeal” nie.)
As haar hart op 89 gaan staan het sou daar baie mense by haar begrafnis gewees het, mense wat onthou het dat sy merkwaardig was. Maar intussen het sy fisies verswak, en toe doof geraak. Laasgenoemde beteken dat maak nie saak hoe skerp sy nog was nie, sy kon dit moeilik kommunikeer. En toe het haar denke ook begin agteruit gaan. En op die ou end was weinig meer as haar kinders, kleinkinders en hulle wederhelftes daar. Nie oor sy nie besonders was nie. Maar oor te veel mense haar vergeet het.