Hoekom is misdaad in Suid Afrika so hoog? Hoekom het dit juis in die nuwe Suid Afrika so gestyg? Daar is seker baie redes vir die antwoord. Maar hier is so ‘n paar, of is dit een?
- Vaderlose kinders is disproporsioneel geneig om misdaad te pleeg, en ons het te veel vaderlose kinders.
- Mense wat nie skool voltooi nie, is disproporsioneel geneig om misdaad te pleeg, en kinders sonder pa’s is disproporsioneel geneig om nie skool te voltooi nie.
- Mans sonder gesinne pleeg ook meer misdaad as mans met gesinne.
- Kinders wat hulle pa in die huis het is veel minder geneig om slagoffers van misdaad te word as vaderlose kinders.
- Vroue wat getroud is se kans om slagoffers van misdaad te word is baie kleiner.
Maar stop, voor jy misverstaan. Hierdie is nie ‘n feministiese geskel teen almal wat nodig het om hulle kenne te skeer nie. Mans is nie die muishonde in hierdie verhaal nie.
Die moeilikheid is dat ons in ‘n samelewing bly waarin dit hopeloos te maklik is om mans eenkant toe te gooi:
- Maklike egskeidings waarin niemand geblameer word nie, waar ma’s onderhoud kry sonder dat sy enigsins hoef te bewys dat die geld op haar kinders spandeer word.
- Jong vroue in townships kry babas sodat hulle welsynstoelaes kan kry. Die man word nie gesien as voorsiener deur hierdie jong vroue nie, maar as ‘n metode om regeringsgeld te kry. Die staat word die versorgende huweliksmaat.
- Wette bevoordeel vroue bo mans by aanstellings, wat dit moeliker vir die man maak om die voorsiener en versorger van ‘n gesin te wees.
‘n Samelewing waar:
- dit gevaarlik is vir mans om te trou (huwelike is duur, egskeidings ruineer baie totaal);
- vroue voordele kry as hulle uit verhoudings stap en kinders alleen grootmaak (die man se geld sonder enige verpligting teenoor die man);
- geen stigma daaraan kleef as ‘n vrou rondslaap eerder as by een man bly nie,
- jy geld van die staat kry vir kinders wat nie jy of jou seksmaat kan bekostig nie
- vroue bo mans bevoordeel word vir bevordering, sodat mans in baie gevalle nie meer nodig is, of in staat is, om te voorsien nie
… kan verwag dat mans commitment-fobie kry. Dat mans enkellopendheid verkies bo gemelk word. Dat vroue amper móét rondslaap om aandag te kry. Dat ons arme kinders vaderloos grootword. Dat misdaad meer word. Dat mans min motivering het om hard te werk. (Hoekom sal hy hard werk? Hy kan homself versorg op min, hy het nie ‘n vrou en kinders om voor te sorg nie. En hoe harder hy werk, hoe meer vat die belastinggaarder- SA het reeds 2,5 welsyntoelae-ontvangers vir elke belastingbetaler.)
Al ons oënskynlik mooi wette oor onderhoud en welsynstoelae en regstellende aksie vir vroue maak ‘n wêreld waar vroue, en kinders, en mans, minder geliefd en minder veilig voel.
Vroue kla dikwels oor mans nie meer is wat vorige geslagte se mans was nie. Maar waarom sal mans in ‘n rondslapende welsynskultuur wat wat egskeiding makliker as trou maak, optree soos mans in ‘n monogame verantwoordelikheidskultuur wat die huwelik makliker as skei maak?
- – - – - – - – - – - – -
Naskrif, as jy verder hieroor wil dink: Vir ‘n klomp kort kommentare hieroor, lees die kommentaar hier. En vir ‘n lang, deeglike behandeling met talle kruisverwysings, lees The misandry bubble.

