Laat groei die kerk: Die Bybelse manier!

GROWTH.pngIs jy ‘n gelowige, en wil jy jou bediening laat groei? Hier is hoe dit in die Bybel gedoen is.

Handelinge 2:41, 2:47b, 4:4, 5:14, 6:1, 6:7, 9:31, 11:21, 11:24b, 16:5, 17:4, 17:12, 17:34, 18:8 en 19:10 vertel ons keer op keer:

3 000 mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg… die getal gelowiges het aangegroei… toe die gelowiges nog steeds meer geword het… die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem… sodat daar baie mense tot geloof gekom het… ‘n aansienlike groep mense is tot geloof gebring… die getal gelowiges het by die dag groter geword… baie het gelowig geword…

Hoe het hierdie mense die kerk laat groei?

Keer op keer, in al die gedeeltes uit Handelinge wat hier bo gelys word, hoor mens dat hulle een van twee dinge gedoen het toe die kerk gegroei het: Hulle het óf uit die Bybel gepreek, óf uit die Bybel geleer. (Ek is nie seker presies waar die streep tussen preek en leer is nie.) Beginsel #1 is dus:

#1 Preek die Bybel en nie jou eie inhoud nie.
Jy kan dalk nou vertel dat Lees voort

Advertisements

Sou jy hom gekorrigeer het?

Die onderstaande storie is so ampertjies waar. So hier en daar is klein detailtjies verander om die skuldiges te beskerm.

Koos* (nie sy regte naam nie) weet dat sy godsdienstige, konservatiewe Dopperkerk-neef, wat gereeld kommentaar op sy plasings lewer, selibaat gay is. Koos is ook Facebook-vriende met ‘n liberale pastoor. Op ‘n dag skakel Koos na ‘n kritiese artikel oor ‘n politikus, wat onder meer beskuldig word dat hy “homofobies” is. Gay sake was nie eintlik waarom Koos die artikel gedeel het nie, maar die pastoor het onmiddelik gereageer deur te vertel waarom en hoe die politikus se houding teenoor gays verkeerd is. Waarop die godsdienstige neef, wat moeite doen om sy natuur in toom te hou, vir die pastoor vra: “Het jy al ooit jou Bybel gelees?”

Nou ja, die twee ken mekaar nie. Die een weet nie die ander is ‘n predikant nie. Die ander weet nie dat as hy vooroordele teenoor gays wil verminder, hierdie man iemand is wat sy boodskap dalk nodig het nie. Liberale Pastoor beskuldig Gay Neef toe van ‘n liefdelose houding teenoor gays, terwyl die kanse goed is dat Gay Neef ‘n meer genadige interpretasie van die Bybel oor die saak sou kon waardeer, as die pastoor net sou gekies het om hom daaraan bloot te stel.

Nie lank daarna nie pos die gay neef ‘n meem op Facebook met hierdie woorde:

It takes a real man to live for God – a lot more man than to do whatever you want.

Eers dink Koos sy feministiese suster gaan reageer: “Mans wat reg doen, is nie meer man as mans wat verkeerd doen nie! Man wees is ‘n biologiese feit, nie ‘n stelling oor karakter nie! Om goed doen met manlikheid te vereenselwig is ‘n belediging vir vroue, en ‘n ‘n voorbeeld van die No True Scotsman Fallacy!”

Maar sy doen dit nie. Dis haar neef ook, en kan ook raai van die stryd wat hy stry, die eensaamheid waarteen hy sukkel. Hy doen wat hy glo goed is, en vermy wat hy glo sleg is, teen ‘n hoë koste vir homself. Hy is tegnies verkeerd oor man wees, maar in ‘n wêreld wat hom om ander redes vertel hy is nie man genoeg nie, gaan sy nie nog ‘n rede vir man wees by hom wegvat nie.

Hoeveel reg moet die staat hê om vir die kerk voor te sê?

Uitspraak

Foto uit Kerkbode

Party mense het ‘n talent om so te praat dat hulle lingse vriende glo hulle is lings, en hulle regse vriende glo hulle is regs. Soms wens ek dat ek ook daardie talent gehad het. Maar helaas: As ek hier nie eers ‘n opinie gee nie, maar ‘n spul vrae vra gaan my behoudende maats reken ek is nie behoudend genoeg nie, en my progressiewe maats ek bevorder nie gay regte genoeg nie. Maar ongeag wat enigiemand anders hieroor dink, miskien is hier tussenin vrae wat jy of ek nog nie vir onsself of God gevra het nie.

Die Pretoriase hooggeregshof het hierdie week ‘n besluit ter syde gestel waarin die NG Kerk in 2016 gekies het om nie gay huwelike te bevestig nie. Die hele storie laat my uit twee teenoorgestelde hoeke ongemaklik voel. Lees voort

Dominee Tienie: Verstaan die film-makers die boodskap?

“Spoiler” waarskuwing: Hierdie blog inskrywing bespreek die einde van die film.

dstienie

Foto: IMDb

 

Dekades gelede moes ek kinderkransmateriaal aanbied oor ‘n ryk seun wat besef dat die arm seun klere nodig het wat hy te veel het. Dit het daaroor gegaan om kinders te leer gee. Eers jare later het ek besef die storie is onvolledig: Dit beeld die ryk seun as ‘n meerdere uit wat uit sy oorvloed goedheid kan gee. Dit beeld die arm seun uit as ‘n mindere wat bloot kan ontvang (en natuurlik baie dankbaar moet wees oor tweedehandse klere wat nie met hom in gedagte gekoop is nie, meer dankbaar as wat die ryk seun waarskynlik daaroor was toe dit splinternuut was).
Dit dek nie ‘n situasie waar arm mense ewe veel oor geestelike wysheid kan beskik as rykes nie, of “deel, al het jy net twee kledingstukke” nie.

Dit is so min of meer hoe ek oor Dominee Tienie voel.

Die film handel oor ‘n moeë predikant, Tienie Benade (Frank Opperman), in ‘n krimpende Moedergemeente. Sy tyd word só opgeneem deur gemeentesake dat sy familie, hoewel nog in sy huis, vervreemd begin raak. Die gemeente se verwagtings van hom en sy vrou is soms teenstrydig of onredelik.

Party tonele in die film was werklik roerend: Sy storie van bekering, sy begeerte om God te dien wat hom genoop het om te gaan teologie studeer, en sy studeerkamer-gesprek met ‘n kollega wat ook nie meer raad weet in ‘n veranderende wêreld wat nie meer die dominee se opinie soek nie, byvoorbeeld nie meer hom vra vir getuigskrifte nie… En die eindtoneel, waar di kerk almal nooi om saam te eet is treffend.

Maar het die makers van die film met swart mense en vroue gepraat oor hoe hulle uitgebeeld word? Sou ‘n swart mens daarvan hou dat die vernaamste swart karakter in die film se naam Zero (niks) is, en dat daardie naam nie eers ‘n rol speel in die film nie? Niemand vra vir Zero wat hy dink of nodig het nie, en daar word nooit ‘n woordspeling gemaak waarin dit gewys word dat Zero méér as niks is nie.

Die karakters wat hulle gekies het om wit en swart te maak in die film is grootliks realisties. Mens sou byvoorbeeld nie sommer ‘n paar van Moedergemeente se kerkraad anderskleuriges kon maak sonder om die aard van die storie (‘n gemeente wat inkyk na hulle minderheidsgroep, maar moet leer om wyer te kyk) te verander nie.

Dis realisties dat die uitgebrande dominee, sy kollega Johan, en die “cool” dominee Dirkie (genoem, nie gewys nie) al drie mans is. Die meeste predikante is inderdaad mans. (Tot 1990 was vroue nie as NG predikante toegelaat nie.) Maar die haweloses Sparky en die man wat vra of Sparky weer in die moeilikheid is, die gemeente-werknemers wat bel om ‘n inbraak/ dooie man by die kerk aan te kondig, die kerkraadslede wat hulle monde oopmaak op die kerkraadsvergaderings, die selfde-geslag paartjie wat trou, die polisielid wat hom vat om sy orrelpype in die skrootwerf uit te ken, die begrafnisondernemer, die regerings-werknemer wat kom vertel wie Sparky Jordaan was – is dit nodig dat hulle almal mans is?

Buiten vir Ester Benade (Ds. Tienie se vrou) is die vroue randfigure: Hulle word gegroet voor die kerk, die dominee kry party van sy lastige oproepe van vroue, een tannie ondersteun haar gay (manlike) susterskind, en sy dogter word uitgebeeld as iemand wie se vernaamste belangstel ‘n outjie is (Tienie se seun stel in musiek belang).

Gestremdes word op die ou end vir die ete genooi, maar speel geen rol (letterlik of figuurlik) vroeër in die film nie.

Dominee Tienie se idees oor wat om vir sy gemeente(vroeër in die film) en swaarkry-mense (later in die film) te doen kom nie eintlik van raad wat hy kry by vroue, anderskleuriges of die hawelose karakters nie.

Kortom, die beste en slegste ding wat ek van Dominee Tienie kan sê is dat dit by ‘n begin eindig: Dit eindig waar hy mense wat anders as hy is oornooi om uit hulle stories te leer. Ons hoop dat die makers van die film dan ook sal leer by diegene wat anders is, dat hulle sal sien wat mense van ‘n ander kultuurgroep, wat op ‘n ander geldelike vlak vir oorlewing stry, met ander genitalieë, of ander fisiese of verstandelike vermoeëns, het om te bied. En dat hulle volgende stories dan karakters wat nie gesonde blanke mans is nie se insette ook sal bevat – nie net as ontvangers nie, maar ook as mense wie se standpunte tel.

Idees met ballonne vir Sondagskool

Een van my Facebook-vriende is ‘n mede-Aspie winkel (iemand wat met dieselfde soort outisme gediagnoseer is) met ‘n groot liefde vir ballonne. Ek word toe ge-tag in sy Ballonne-groep toe hy die vraag vra: Hoe gebruik mens ballonne in die Sondagskool?

Dis ‘n oulike vraag! Ek maak toe ‘n lys van maniere wat ek al gesien het.

1) Hersienspeletjies. Lees voort

As God se koninkryk kom…

In 2002 het ek een keer notas gemaak van iets waaroor ek dikwels probeer dink het: oor hoe dit sou lyk as ons probeer om God se koninkryk te laat kom, hier op die aarde soos in die hemel. Wat hier volg is die lys wat ek gemaak het: Hoe sou dit lyk as die koninkryk kom? Ek het geen insigte van die laaste 16 jaar nou bygesit nie:

———————–

Spreadthelove

“Spreading the love from above” – Akriliese verf en merkpen, Oktober 2017 (Vir meer van my kuns, kyk hier)

As die koninkryk van God kom

* Sal ons verstaan – die antwoord op elke vraag.
* Sal uiterlikes nie wees waarop ons oordeel nie. (1 Sam 16:7b, Jak. 2:1+9)
* Sal mense vir mekaar omgee.
* Sal God die belangrikste onderwerp van gesprekke en gedagtes wees.
* Sal materiële behoeftes bevredig word vir dié wat swaarkry – direk deurdat hulle wat het, gee, en indirek deur God se seën.
* Sal romantiese liefde nie die liefde wees waaroor die meeste gefantaseer en flieks gemaak en nagejaag word nie.
* Sal misdaad, vrees, pyn en trane nul wees, siekte ook.
* Sal tonge onder God se beheer wees, gedagtes ook.
* Sal karakter en wysheid eerder vir iemand die geleentheid gee om ander te beinvloed as welsprekendheid, mag, of geld.
* Sal status en mag nie belangrik wees nie. Die hoogste status sal gegee word aan dienaars en kinders – en aan Die Kind wat gekom het om die gestalte van ‘n slaaf aan te neem. (Fill. 2)
* Sal mense vanuit verskillende kulture en oortuigings één word.
* Sal die Gees van die Here ons lei in gedagtes, woorde en dade wat bogenoemde dinge waar maak.
* Vreugde sal so volop soos suurstof wees.
* Vriendelikheid sal vanselfsprekend wees – vanaf almal.
* Sal toewyding aan God die enigste, die maklikste en die mees logiese manier van leef wees.

———————–

Laat u koninkryk kom. Laat U wil op die aarde geskied, net soos in die hemel. – Mat. 6:10

 

Damestee

Kolwyntjies, servette en deftige glase,
Stoele met strikke en blomme in vase.
Fyn teekoppies, mooi bordjies en pienk gedekte tafels
Eenkant staan kaaskoek en ‘n hele hoop wafels.

Die spreker in die kerksaal vertel hoe sy siek vroue grimeer – Lees voort