Huisgenoot-betroubaarheid: Sleg genoeg om die tydskrif te boikot?

Huisgenoot het glo laasweek ‘n storie op die voorblad gehad van ‘n SA model wat vertel van sy verhouding sedert laasjaar met tennisspeelster Justine Henin. Maar eintlik het sy hom, luidens ander berigte, al die trekpas gegee binne ‘n week nadat hy die eerste keer vir haar gaan kuier het. En Justine het ‘n paar maande gelede in ‘n ander onderhoud ontken dat sy in ‘n verhouding betrokke is. Maar dit lyk al lankal of Huilgenoot nie mooi van hulle feite seker maak nie.

So ‘n maand of twee, drie terug blaai ek êrens weg van my huis deur ‘n 2005-Huisgenoot. (Daar was niks anders om te doen nie.) Daar is ‘n artikel in waarin Jan Blohm sê hy raak nie aan dwelms nie -hy het ‘n vriendin daardie paadjie sien loop en hy sal nie. Daardie selfde week wat ek die ou boek lees, vertel iemand anders my, het die nuwe Huisgenoot glo van Jan Blohm se jarelange stryd met dwelms vertel! Mens kan seker Huisgenoot vergewe vir daardie een. Hulle het seker Jan ‘n paar jaar terug geglo toe hy sy dwelmgebruik ontken het. En nou weet hulle seker beter as daardie tyd, en Jan weet van beter as om sy probleme te ontken.

 

Ek lees ook op ‘n internet-webblad dat Huilgenoot verlede week ‘n onderhoud met Elize Human (Sheldean se ma) gehad het. Nou ja, díé vrou het al vantevore in Rapport erken o.a. dat haar kind baie dae nie kos gehad het om te eet nie. Sy sê nou haar kind het aldag geëet. Miskien kan ons positiewer wees oor die Huisgenoot-artikel. Dalk kan ons dink Huisgenoot het vorige negatiewe stories in die media, wat ‘n wanindruk geskep het, reggestel. Maar nee, ons kan nie. As Huilgenoot Rapport verkeerd wou bewys het, sou hulle verwys het na die stellings wat hulle korrigeer. Huisgenoot het waarskynlik net nie omgegee of die kind genoeg geëet het, al dan nie. Huisgenoot betaal die ma(Elize Human is oor die R100 000 betaal vir haar storie, sê ‘n bron my), Huisgenoot kry ‘n scoop, mense koop Huisgenote en Huisgenoot maak ‘n wins, waarom gepla wees of die lesers iets akkuraat lees?

 

21 Februarie het Huisgenoot ‘n artikel ingehad waarin Robbie Klay vir Jurie Els van kindermolestering beskuldig. Die volgende week rugsteun hulle dit met ‘n artikel waarin andere in die vermaaklikheidswêreld omstandigheidsgetuienis gee. Die week daarna het hulle ‘n artikel in waarin Jurie vir Robbie ‘n seksbehepte leuenaar noem. In verband met hierdie teenoorgestelde artikels kan ‘n mens 1 van 3 dinge aanneem: 1) Huisgenoot glo Robbie 2) Huisgenoot glo Jurie 3) Huisgenoot het geen idee watter storie waar is nie, maar publiseer albei vir sensasie.

As hulle Robbie glo, het hulle die volgende gedoen: Eers met ‘n simpatieke oor geluister en gemaak of hulle omgee, en toe ter wille van sensasie ‘n lasterlike storie geplaas oor die karakters van Robbie en sy ma. Wie van ons sal ‘n kindermolesteerder help om in die openbaar sy slagoffer se naam swart te smeer?

As hulle Jurie glo, het hulle die volgende gedoen: Willens en wetens vir sensasie ‘n man wat hulle as onskuldig beskou, se naam so sleg gemaak dat die publiek hom wil seermaak, winkels nie sy CDs wil aanhou nie, en die nuus “Hestrie verwag ‘n seun” die skindertonge laat klap. Wie van ons sal so gewetenloos lieg?

As Huisgenoot nie ‘n mening het oor watter een van die twee se verhaal waar is nie, het hulle nog steeds geweet dat hulle karaktermoord op een van die twee uitvoer met lasterlike leuens.(Ek het ‘n idee watter een van die twee belieg was, maar dis nie relevant hier nie.) Huisgenoot het na my mening minstens een van die twee vir sensasie misbruik. Omdat ek tot die gevolgtrekking gekom het dat Huisgenoot ewe maklik onsin as waarheid publiseer, het ek van daar af besluit om Huisgenoot te boikot.

 

Intussen het ek weer een Huisgenoot gekoop. Daardie week se voorblad het 2 artikels opgehad wat my laat koop het. Die een is oor Dana Snyman en Frank Opperman, wat ‘n positiewe boodskap probeer uitgee met hulle nuwe Pottie Potgieter- toneelstuk. Die ander was oor René Burger, waarin sy sê sy is ‘n oorwinnaar, nie ‘n slagoffer of selfs ‘n oorlewende nie. (Dis die gees, René!) Daardie René Burger-berig eindig met die woorde: “René is deur haar regsverteenwoordiger aangeraai om geen besonderhede oor die aanval met die pers te bespreek nie, omdat dit die polisie-ondersoek kan belemmer.” Die week daarna skree die Huisgenoot-voorblad dat hulle ‘n eksklusiewe onderhoud met René het met die besonderhede! Lieg Huisgenoot met die woorde oor haar regsverteenwoordiger se raad? Of skep hulle ‘n vals indruk op die volgende voorblad, waarin die inhoud van die artikel nie is wat op die voorblad beloof is nie? Of het haar regsadviseur haar wel daardie raad gegee, maar Huisgenoot se mense het haar nogtans -heel oneties van hulle, want lyk nie wetlik in René se belang nie- oortuig om hulle ‘n sensasie-storie te gee?

 

Hoe dit ook al sy, Huisgedood gee klaarblyklik glad nie om vir waarheid, hulle lesers se breine, of die belange van die mense oor wie hulle skryf nie. Daarom verstaan ek die grappie van die ou wat sy Huisgenote onder sy ou Scopes wegsteek as die dominee kom kuier.

 

4 responses to “Huisgenoot-betroubaarheid: Sleg genoeg om die tydskrif te boikot?

  1. Dis ‘n interessante inskrywing!! Ek het nie eers geweet mense word so baie betaal vir ‘n storie nie!!

    Ek lees nie eindelik die Huilgenoot nie behalwe as ek desperaat is vir leesstof. Dit gebeur feitlik nooit!

  2. christianrethinker

    Jip, wipneus, Huisgedood betaal soms baie vir stories.

  3. Sies vir al die skinder stories Ag nee man soek oordentlike nuus vir ons ons is nou gat vol vir ander mense se vuil wasgoed

  4. Ek dink as julle Minki genoeg geld aanbied sal sy met die waarheid uitkom hoekom sy van haar man wou geskei het. So hou maar moed dit sal nog kom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s