Monthly Archives: Augustus 2008

Werkgewers is ook mense!

 

Die hof het onlangs besluit dat die NG gemeente Moreletapark onbillik teen die musiekdosent Johan Strydom gediskrimineer het toe hulle sy mondelingse kontrak beeindig het. Dit het hulle natuurlik gedoen na hulle uitgevind het hy bly saam met ‘n man.

Prof. Piet Strauss, moderator van die NG Kerk, het geantwoord dat ’n kerk die vryheid moet hê om gedragsreëls, gegrond op die Bybel, vir sy personeel en lidmate neer te lê. “Hoe kan die kerk Bybelgetrou bly en terselfdertyd die mensgemaakte grondwet van die land kan nakom? Hoe ver kan ’n hof in intern-kerklike sake inmeng?” het Strauss gevra.

En dis vir my die issue! Binnekort sal kerke seker van diskriminasie aangekla word as hy enigsins gedrag-standaarde vir sy werknemers wil opstel.

Hy sal gays en rondslapers en geldvrate en wie ookal moet aanstel, want die grondwet beweer mens moenie diskrimineer nie.

Die kerk moet die reg behou om aan te stel wie by sy beleid inpas. Ek vra nie spesiale regte vir die kerk hier oor hulle anders is nie. (Mens kan. Ek verstaan hoe die kerk anders is.) Ek vra die reg om aan te stel wie jy wil, en wie jy dink vir jou organisasie goed is, vir almal.

·                    Die gym moet die reg hê om eerder skraal as vet mense aan te stel, bloot oor eersgenoemde beter by hulle beeld inpas.

·                    ‘n Portugese sakeman in SA moet die reg hê om voorkeur te gee aan ‘n Portugees om een van sy winkels te bestuur, bloot oor die Portugees beter met die baas kan kommunikeer.

·                    ‘n Klub vir lesbiërs moet die reg hê om te adverteer vir ‘n vrou, eerder as man, om in die kroeg te werk.

·                    Die plaaslike ANC-tak moet die reg hê om ‘n boekhouer wat ANC-gesind is aan te stel, eerder as een wat Vryheidsfront wil stem.

·                    Kerk-denominasies moet op dieselfde redenasie die reg hê om nie gays, of vroue, in sekere poste aan te stel nie as hulle glo dis teen hulle waardes. (As gays of vroue dan voel die gemeente is verkeerd daaroor, moet hulle die gemeente oortuig om anders te dink oor die saak. Hulle moenie die kerk wetlik dwing om teen sy gewete te gaan nie.)*

Die grondwet moet nie die reg hê om vir mense voor te sê wie hulle in hulle organisasie moet aanstel nie. Die vraag is nie of ek of die grondwet dink dat ‘n besigheid/ kerk se besluit reg is nie. Die vraag is watter reg het die regering om in te meng met wie organisasies aanstel? Dis – letterlik- nie hulle besigheid nie.

Die regering beskerm nie hier die reg van individue (mense) teen dooie organisasies nie. Hulle gee een mens (die potensiële werknemer) ‘n eis teen ‘n ander mens of groep mense (die werkgewer.)

______________

* Naskrif: Moenie hieruit aflei hoe ek voel oor gays en oor vroue in die kerk, of dat ek eenders voel daaroor nie. Hierdie pos gaan oor regte wat ek glo elke organisasie se mense moet hê, of ek nou met hulle doelwitte saamstem of nie.

Advertisements

Glimlag!

Ek sien onlangs iemand wat na hierdie blog kruisverwys noem dit ‘n “godsdiens” blog. Is dit regtig? Nie alles hier pas mooi presies in die gaatjie “godsdiens” nie. Maar then again, vir iemand wat die Here liefhet, is alles wat hy doen of dink of lees deel van sy of haar “godsdiens.” Dalk is die persoon wat my blog as ‘n godsdiens-blog beskryf só ‘n persoon.
Hier wil ek iets deel wat nie lyk soos enige van my ander blog-inskrywings nie. Maar dit bly deel van wat ek, Retha Faurie doen. Ek teken so nou en dan papierpoppe in my spaartyd. Hier is ‘n papierpop wat ek onlangs geteken het. Ek noem dit “Jest clowning around.”

As jy ‘n papierpop wil maak hiervan, maak só:
1) Druk die papierpop en klere in kleur uit. (Onthou net dat as jy iets vergroot of verklein moet jy alles ewe veel vergroot of verklein, sodat die klere sal pas. As jy jou nar bv. teen 80% grootte uitdruk, moet jy elke uitrusting ook teen 80% grootte uitdruk.
2) Plak die nar-pop op karton. (Dis nie nodig vir die klere nie.)
3) (Opsioneel) Beskerm die pop en klere met DCFix as jy wil. Jy kan selfs die pop (nie die klere nie) laat lamineer.
4) Sny die pop en klere uit.

Gee my krag! Hoe (on)waarskynlik is hierdie “conspiracy theory?”

Volgens JOY magazine het die ACDP ‘n ruk gelede ‘n paar vrae gevra aan Minister Alec Irwin.

Hulle vra oor die besluit om kernkrag te gebruik as vernaamste komponent vir hulle energieplanne. Het die regering die publiek genoeg betrek? Nadat gevaar en probleme veroorsaak is in myne en fabrieke en oral, het Eskom heeltemal opgehou met kragonderbrekings en vermeerderde aanvraag in die winter het nie nuwe onderbrekings nodig gemaak nie. Dit verhoog glo suspisie dat die onderbrekings niks met kragaanbod te doen gehad het nie.

Daar is beskuldigings dat die onderbrekings ‘n lomp, ingewikkelde plan was om die nasie te manipuleer. Sodat ons kernkrag sal aanvaar sonder om vrae te vra oor die effek wat dit op die omgewing sal hê.

Wat dink julle van hierdie sameswerings-teorie? Wat maak dit meer waarskynlik? Wat maak dit minder waarskynlik? En watter samesweringsteorie is vir jou die vreemdste? (Die teorie dat die Amerikaanse regering 9/11 beplan het? Dat niemand ooit op die maan geland het nie?) En as dit geen sameswering was nie, hoe kom dit dat “load shedding” ewe skielik onnodig is, selfs al gebruik mens meer krag in die winter? Veels geluk aan ons Suid-Afrikaners as ons ewe skielik so goed krag spaar!

Toe-oog soekers na waarheid, of te wel, die logika van gelowiges en ateïste

Een aand kom iemand op ‘n dronkaard af wat onder ‘n straatlamp iets soek. Omdat hierdie soekery toe al ‘n rukkie aanhou, vra hy hom waarna hy soek. “My beursie. Ek het hom verloor” verduidelik die dronk vent.
“Het jy hom hier verloor?” vra die bystander.
Dronk vent: “Nee, ek het hom doer af met die straat verloor.”
Bystander: “Nou hoekom soek jy hier?”
Dronk vent: “Want die lig hier is beter!”

Die probleem met hierdie benadering spreek vanself: Mens moet soek waar die item is waarna jy soek, nie waar dit lekkerder is om te soek nie. Dis tragies wanneer selfs intelligente mense hierdie benadering gebruik.

In ‘n onderhoud op die webwerf Kletskerk, (‘n blad wat oorloop van anti-godsdienspropaganda) is daar byvoorbeeld ‘n onderhoud met George Claassen, ‘n prominente ateïs. George vertel onder andere: “Ek sluit die moontlikheid van ‘n skeppende en lewende godheid heeltemal uit. Ek soek bewyse omdat ek wetenskaplik ingestel is.” (Dis duidelik dat George en sy denkgenote taamlik verward is. Hy erken openlik dat hy sy oë toemaak vir sekere moontlikhede. Dan verseker hy ons dat hy bewyse soek. Ai, George. Maak nie saak hóé slim jy is nie, jy kannie toe-oë soek nie.)

Maar George Claassen is nie die enigste een nie. Om op te som:
Gelowiges beweer: “Daar is ‘n God”
Agnostici sê: “Ek weet nie of daar ‘n God is, of nie”
Ateïste beweer: “Daar is geen God nie.”

(Daar is ateïste wat bogenoemde sal ontken. Hulle sal beweer dat hulle bloot nie God se bestaan erken nie, maar dat hulle dit nooit ontken nie. In die praktyk beleef ek dit egter anders: Ongelowiges sal in een sin vir jou sê hulle standpunt is nieDaar is geen God” nie; maar in die volgende sin sal daardie selfde ongelowige beweer “Blasphemy is a victimless crime.” En baie van hulle, soos Claassen, ontken die moontlikheid van God se bestaan ruiterlik.)

As ‘n gelowige (kom ons noem hom Gerrie) beweer dat daar ‘n God is, beweer hy dat hy iets weet, dat hy vir iets al bewyse gesien het.
As ‘n agnostikus (kom ons noem haar Aggie) sê sy weet nie of daar ‘n God is, of nie, beweer sy dat daar iets is wat sy nie weet nie.
Vir die ateïs (kom ons noem hom Attie) om te beweer dat God nie bestaan nie, moet hy alles weet. Want as die ateïs 1% weet van alles wat te wete is in die heelal, kan God nog bestaan as deel van die 99% van sake waarvan hy nie weet nie.

Wie is die rasioneelste van bogenoemde drie?

Wel, die rasioneelste standpunt tussen Gerrie en Aggie s’n hang af van wat die bewyse is. Voorbeeld 1: Gerrie gelowige en Aggie agnostikus sien albei ‘n 3-verdieping woonstelblok. Gerrie sê hy glo die woonstelblok bestaan. Aggie sê sy weet nie of die woonstelblok bestaan, en of hulle albei dieselfde visioen het nie. Hier is geloof dat die woonstel blok bestaan, soos Gerrie het, meer logies. Voorbeeld 2: Gerrie sê hy glo dat daar onsigbare seekoeie bestaan. Aggie weet nie so mooi of dit so is nie. Nou is Aggie se agnostisisme meer logies.

En Attie ateïs? Hoe logies is hy? Wel, hy beweer dat Iemand nie bestaan nie. Hoe weet hy, tensy hy alles weet? Want as daar dinge in die heelal is wat hy nie weet nie, plekke/ dimensies/ lewensvorme wat Attie nie ken nie, dan kan God onder die dinge wees waarvan hy nie weet nie.

Dieselfde ou (nuwe) storie

Daar is nou ‘n boek uit met die naam: “Die Nuwe Geskiedenis van Suid Afrika.”

Nuwe geskiedenis? Wel, hulle bedoel klaarblyklik nie “onlangse geskiedenis” nie.

Geskiedenis bly dieselfde. Wat gebeur het, het gebeur. Al wat verander , is dat mense ander dinge wil beklemtoon as voorheen- en ander dinge wil verswyg. Oorlede helde word skurke en oorlede skurke word helde. Intussen het die “helde” en “skurke” almal al die tydelike met die ewige verwissel en moes hulle almal al voor ‘n Ander Gesag verantwoording gedoen het vir hulle dade. Held of skurk, hulle kan nie meer omgee wat ons hierdie kant van hulle dink nie.

Maar die vraag is nie of ons geskiedenisboeke her-interpreteer en herskryf nie. Die vraag is: Leer ons iets prakties uit die geskiedenis? Of herhaal ons hom net?