Toe-oog soekers na waarheid, of te wel, die logika van gelowiges en ateïste

Een aand kom iemand op ‘n dronkaard af wat onder ‘n straatlamp iets soek. Omdat hierdie soekery toe al ‘n rukkie aanhou, vra hy hom waarna hy soek. “My beursie. Ek het hom verloor” verduidelik die dronk vent.
“Het jy hom hier verloor?” vra die bystander.
Dronk vent: “Nee, ek het hom doer af met die straat verloor.”
Bystander: “Nou hoekom soek jy hier?”
Dronk vent: “Want die lig hier is beter!”

Die probleem met hierdie benadering spreek vanself: Mens moet soek waar die item is waarna jy soek, nie waar dit lekkerder is om te soek nie. Dis tragies wanneer selfs intelligente mense hierdie benadering gebruik.

In ‘n onderhoud op die webwerf Kletskerk, (‘n blad wat oorloop van anti-godsdienspropaganda) is daar byvoorbeeld ‘n onderhoud met George Claassen, ‘n prominente ateïs. George vertel onder andere: “Ek sluit die moontlikheid van ‘n skeppende en lewende godheid heeltemal uit. Ek soek bewyse omdat ek wetenskaplik ingestel is.” (Dis duidelik dat George en sy denkgenote taamlik verward is. Hy erken openlik dat hy sy oë toemaak vir sekere moontlikhede. Dan verseker hy ons dat hy bewyse soek. Ai, George. Maak nie saak hóé slim jy is nie, jy kannie toe-oë soek nie.)

Maar George Claassen is nie die enigste een nie. Om op te som:
Gelowiges beweer: “Daar is ‘n God”
Agnostici sê: “Ek weet nie of daar ‘n God is, of nie”
Ateïste beweer: “Daar is geen God nie.”

(Daar is ateïste wat bogenoemde sal ontken. Hulle sal beweer dat hulle bloot nie God se bestaan erken nie, maar dat hulle dit nooit ontken nie. In die praktyk beleef ek dit egter anders: Ongelowiges sal in een sin vir jou sê hulle standpunt is nieDaar is geen God” nie; maar in die volgende sin sal daardie selfde ongelowige beweer “Blasphemy is a victimless crime.” En baie van hulle, soos Claassen, ontken die moontlikheid van God se bestaan ruiterlik.)

As ‘n gelowige (kom ons noem hom Gerrie) beweer dat daar ‘n God is, beweer hy dat hy iets weet, dat hy vir iets al bewyse gesien het.
As ‘n agnostikus (kom ons noem haar Aggie) sê sy weet nie of daar ‘n God is, of nie, beweer sy dat daar iets is wat sy nie weet nie.
Vir die ateïs (kom ons noem hom Attie) om te beweer dat God nie bestaan nie, moet hy alles weet. Want as die ateïs 1% weet van alles wat te wete is in die heelal, kan God nog bestaan as deel van die 99% van sake waarvan hy nie weet nie.

Wie is die rasioneelste van bogenoemde drie?

Wel, die rasioneelste standpunt tussen Gerrie en Aggie s’n hang af van wat die bewyse is. Voorbeeld 1: Gerrie gelowige en Aggie agnostikus sien albei ‘n 3-verdieping woonstelblok. Gerrie sê hy glo die woonstelblok bestaan. Aggie sê sy weet nie of die woonstelblok bestaan, en of hulle albei dieselfde visioen het nie. Hier is geloof dat die woonstel blok bestaan, soos Gerrie het, meer logies. Voorbeeld 2: Gerrie sê hy glo dat daar onsigbare seekoeie bestaan. Aggie weet nie so mooi of dit so is nie. Nou is Aggie se agnostisisme meer logies.

En Attie ateïs? Hoe logies is hy? Wel, hy beweer dat Iemand nie bestaan nie. Hoe weet hy, tensy hy alles weet? Want as daar dinge in die heelal is wat hy nie weet nie, plekke/ dimensies/ lewensvorme wat Attie nie ken nie, dan kan God onder die dinge wees waarvan hy nie weet nie.

8 responses to “Toe-oog soekers na waarheid, of te wel, die logika van gelowiges en ateïste

  1. Wow. Ek hou van jou redenasie.

  2. Baie interesante redenasie. Maar nou argumenteer die aties dat gelowiges se God in die “gaps” wegkruip waar ons nog nie dinge verstaan nie. Hulle praat van “God of the gaps”. Ek voel dat God ook die God van die wetenskap is wat reeds verstaan word. Om egter God self te probeer “bewys” is buite die wetenskap se vermoe.

  3. Flippie, jy sal dalk belangstel in die navorsingswetenskaplike Rich Deem se argument in verband met “God of the gaps.”

    Hier is die skakel: http://www.godandscience.org/apologetics/god_of_the_gaps.html

    Ek vertel self dat God heeltemal in pas is met wat ons wel weet en kan verifieer- soos gesien op my “Om Jesus te volg maak sin” bladsy.

  4. Dankie vir die skakel. Dit lyk interesant. Lyk asof dit deel is van die Intelligent Design debat. Fisici haat hierdie hele beweging. Ek vind dit effens amusant.🙂

  5. Ek dink atheiste sê dat hulle nie kan sê of daar ‘n god is of nie. Dat die waarskynlikheid van ‘n god baie laag is, en omdat daar geen bewyse is vir ‘n god nie, is dit nie nodig om in een te glo nie. Net omdat ‘n daar nie bewys is vir Zeus is nie, is dit ook nie nodig om in hom te glo nie. Daar is wel ‘n waarskeinlikheid dat die Flying Spaghetti Monster god is, maar weereens is die waarskynlikheid baie laag dat hy bestaan.

    Ek dink meeste Christene sal nie glo in die Flying Spaghetti Monster nie, dus is hulle ook ateiste teenoor die die Flying Spaghetti Monster. Ateiste is egter agnostics wat nie oortuig is vir die bestaan van enige god nie, en dus verkies om nie daarin te glo nie.

  6. Wouter, jy wys ons daarop dat dat party mense deesdae die woord “ateïs” wil verdraai. Dis nie sinoniem met agnostikus nie.
    “Ateïs“ beteken nog altyd iemand wat beweer God bestaan nie. Omdat atties self die onlogika van bogenoemde insien, probeer baie van hulle die betekenis van die woord verander. Sien ook paragraaf 5 van die pos self, die paragraaf wat met ‘n ( begin.

    Net omdat ‘n daar nie bewys is vir Zeus is nie, is dit ook nie nodig om in hom te glo nie.

    Ja, en ek redeneer dat dit ‘n opsig is waarin die Christene se God baie anders is as Zeus, daar is talle bewyse vir hom: https://gelowigenondersoekend.wordpress.com/om-jesus-te-volg-maak-sin/

    Ateiste is egter agnostics wat nie oortuig is vir die bestaan van enige god nie, en dus verkies om nie daarin te glo nie.

    Behalwe dat “ateïs” nie sinoniem is met “agnostikus” nie, is daai argument nie bietjie soos om nie oortuig te wees van die korrektheid van enige spesifieke uitrusting vir ‘n geleentheid, en dus kaal te gaan nie?

  7. Jy verwoord in ‘n paar sinne wat ek al 10 jaar probeer om te s^e. Dis eintlik ‘n baie ernstige saak die. Ek sal graag eendag kopstukke met Nathan en George gesels, maar ek dink nie hulle gaan wees waar ek gaan wees nie. Jis, mens het net een kans.

    Ek het ‘n paar jaar gelede gedink ek gaan God vra om vir hulle te gaan kuier in die hel en te s^e “Sien julle nou?”, maar nie meer nie. My hart bloei vir hulle. Wat ek gedurig oor wonder is wat in hulle binnenste aangaan. Is hulle regtig oortuig van wat hulle glo of is daar tog ‘n klein bietjie twyfel?

  8. Dankie, Hendrik. Hoewel ‘n hart wat bloei ‘n mooi gesindheid is, dink ek dat mens maar vir sulke mense ‘n skerper kant van geloof kan wys. Want hulle is in wese hoogmoedig. (“Ons is slimmer en meer wetenskaplik en minder naief as julle Godgelowiges” is hoe hulle dink.)

    En God weerstaan hoogmoediges. Hy dryf vlg. Ps. 1 selfs die spot met hooghartige spotters. Daarom vertel ek maklik vir sulke mense hulle vooropgestelde idees is verkeerd. Want as hulle nie afklim van hulle hoogmoedige “Ek-weet-beter-as-julle-dom-gelowiges” perdjies nie,sal hulle nooit God se genade sien nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s