Werkgewers is ook mense!

 

Die hof het onlangs besluit dat die NG gemeente Moreletapark onbillik teen die musiekdosent Johan Strydom gediskrimineer het toe hulle sy mondelingse kontrak beeindig het. Dit het hulle natuurlik gedoen na hulle uitgevind het hy bly saam met ‘n man.

Prof. Piet Strauss, moderator van die NG Kerk, het geantwoord dat ’n kerk die vryheid moet hê om gedragsreëls, gegrond op die Bybel, vir sy personeel en lidmate neer te lê. “Hoe kan die kerk Bybelgetrou bly en terselfdertyd die mensgemaakte grondwet van die land kan nakom? Hoe ver kan ’n hof in intern-kerklike sake inmeng?” het Strauss gevra.

En dis vir my die issue! Binnekort sal kerke seker van diskriminasie aangekla word as hy enigsins gedrag-standaarde vir sy werknemers wil opstel.

Hy sal gays en rondslapers en geldvrate en wie ookal moet aanstel, want die grondwet beweer mens moenie diskrimineer nie.

Die kerk moet die reg behou om aan te stel wie by sy beleid inpas. Ek vra nie spesiale regte vir die kerk hier oor hulle anders is nie. (Mens kan. Ek verstaan hoe die kerk anders is.) Ek vra die reg om aan te stel wie jy wil, en wie jy dink vir jou organisasie goed is, vir almal.

·                    Die gym moet die reg hê om eerder skraal as vet mense aan te stel, bloot oor eersgenoemde beter by hulle beeld inpas.

·                    ‘n Portugese sakeman in SA moet die reg hê om voorkeur te gee aan ‘n Portugees om een van sy winkels te bestuur, bloot oor die Portugees beter met die baas kan kommunikeer.

·                    ‘n Klub vir lesbiërs moet die reg hê om te adverteer vir ‘n vrou, eerder as man, om in die kroeg te werk.

·                    Die plaaslike ANC-tak moet die reg hê om ‘n boekhouer wat ANC-gesind is aan te stel, eerder as een wat Vryheidsfront wil stem.

·                    Kerk-denominasies moet op dieselfde redenasie die reg hê om nie gays, of vroue, in sekere poste aan te stel nie as hulle glo dis teen hulle waardes. (As gays of vroue dan voel die gemeente is verkeerd daaroor, moet hulle die gemeente oortuig om anders te dink oor die saak. Hulle moenie die kerk wetlik dwing om teen sy gewete te gaan nie.)*

Die grondwet moet nie die reg hê om vir mense voor te sê wie hulle in hulle organisasie moet aanstel nie. Die vraag is nie of ek of die grondwet dink dat ‘n besigheid/ kerk se besluit reg is nie. Die vraag is watter reg het die regering om in te meng met wie organisasies aanstel? Dis – letterlik- nie hulle besigheid nie.

Die regering beskerm nie hier die reg van individue (mense) teen dooie organisasies nie. Hulle gee een mens (die potensiële werknemer) ‘n eis teen ‘n ander mens of groep mense (die werkgewer.)

______________

* Naskrif: Moenie hieruit aflei hoe ek voel oor gays en oor vroue in die kerk, of dat ek eenders voel daaroor nie. Hierdie pos gaan oor regte wat ek glo elke organisasie se mense moet hê, of ek nou met hulle doelwitte saamstem of nie.

7 responses to “Werkgewers is ook mense!

  1. Beste Retha,
    Ek sou voorstel dat jy die uitspraak van regter Basson lees om ‘n beter begrip te hê waaroor die uitspraak eintlik was. Prof Strauss se kommentaar waarna jy verwys, is ook gelewer alvorens hy die uitspraak gelees het.
    Ek vertrou dat, nadat jy dit gedoen het, jy jou blog feitlik korrek sal aanpas.

    Vriendelike groete
    Johan Strydom

  2. christianrethinker

    Kan jy my vertel waar ek die uitspraak kan kry? As hier feite-foute is op my blog, sal ek dit met graagte regmaak.

  3. christianrethinker

    O, ek het dit gekry:
    http://www.news24.com/Beeld/In-Diepte/0,,3-67_2386469,00.html
    “Art. 14 (2) bepaal dat diskriminasie as billik beskou sal word as die respondent kan aantoon dat dit redelik en geregverdig tussen persone differensieer op grond van “objektief bepaalbare kriteria, intrinsiek aan die betrokke aktiwiteit” (my vertaling).”
    “Die regter moes nou bepaal of aan die twee vereistes van die Gelykheids- wet voldoen is om die diskriminasie teen Strydom as billik en geregverdig te bepaal:
    Vereiste 1: op grond van objektief bepaalbare kriteria;
    Vereiste 2: intrinsiek aan die betrokke aktiwiteit.
    Die regter het bepaal die diskriminasie was nie billik nie; dat daar dus nie aan die twee vereistes van art. 14(2) voldoen is nie.
    In dié verband is sy uitspraak veelseggend. Ek haal aan: “Ek is nie oortuig dat Strydom, op getuienis wat voor die hof is, in ’n posisie was waar hy ’n geestelike leier was nie,” en: “Strydom moes musiek doseer. Sy werk het nie enige geestelike verantwoordelikhede behels nie.”
    Volgens die regter se uitspraak is die uitleef van ’n bepaalde seksuele oriëntasie nie ’n objektief bepaalbare kriterium vir die “betrokke aktiwiteit” van musiek doseer nie. ”
    Die regter het bevind dat om musiek te doseer en jou gedrag niks met mekaar te doen het nie. Moreleta glo egter anders. Hulle sou ‘n musiekdosent waarskynlik o.a. aangestel het omdat musiekkennis op een of ander manier by die gemeente se geestelike doelwitte inpas.
    Hierdie maak nie enige feit hier bo onwaar nie, waar moet ek my inskrywing “feitlik aanpas?”

  4. christianrethinker

    Terloops, Johan, het Moreleta al uitgekom by die verskoning wat die hof hulle gelas het om te maak?

    Vriendelike groete
    Retha

  5. Retha,
    Moreleta het hulle verskoning aan my gestuur. Dit moet egter nie verwar word met die persverklaring wat die gemeente Dinsdagaand vrygestel het nie.

    Rondom die feite, die volgende:

    Ek haal aan: “Volgens regter Dion Basson het hulle teen hom gediskrimineer op grond van sy seksuele voorkeure toe hulle nagelaat het om sy kontrak te hernu.”

    My reaksie: Regter Basson het dit slegs bevestig. Die NG Gemeente Moreletapark het toegegee dat hulle gediskrimineer het. Die vraag wat hulle moes beantwoord het, was of dit geregverdige diskriminasie was of nie. Hulle kon dit nie bewys nie, en is daarom skuldig bevind. Verder is die mondelinge kontrak summier gestaak, en nie “nagelaat [het] om sy kontrak te hernu” soos jy in eufemismiese terme daarna verwys nie.

    Ek haal aan: “Binnekort sal kerke seker van diskriminasie aangekla word as hy enigsins gedrag-standaarde vir sy werknemers wil opstel.”
    My reaksie: Dit is bloot spekulatief. Tydens die vorige sitting van die Sinode is daar besluit dat kerke ‘n diskresie kan uitoefen. Die wet sê slegs dat hierdie besluite geregverdig moet wees. Die regter het verder in sy uitspraak gesê dat godsdiensvryheid ‘n belangrike pilaar en vryheid van ons grondwet is. Die vraag ontstaan oor presies waar mens die lyn moet trek. As jou geloof bepaal dat jy jou vrou moet stenig as sy owerspel gepleeg het, sal die wet beslis ingryp, want dan is dit moord.

    Ek haal aan: • ‘n Portugese sakeman in SA moet die reg hê om voorkeur te gee aan ‘n Portugees om een van sy winkels te bestuur, bloot oor die Portugees beter met die baas kan kommunikeer.
    My reaksie: Verkeerd. Dit sou nie as geregverdigde diskriminasie deurgaan nie. Dit hoef nie ‘n Portugees van nasionaliteit te wees nie, die persoon hoef bloot Portugees te kan praat.

    Ek haal aan: • Die plaaslike ANC-tak moet die reg hê om ‘n boekhouer wat ANC-gesind is aan te stel, eerder as een wat Volksfront wil stem.
    My reaksie: Verkeerd. ‘n Boekhouer se politieke oortuigings het absoluut niks met sy integriteit en werk te doen nie. Dit sou dus onbillike diskriminasie wees.

  6. christianrethinker

    Ek haal aan: “Volgens regter Dion Basson het hulle teen hom gediskrimineer …..”

    JS reaksie: Regter Basson het dit slegs bevestig. Die NG Gemeente Moreletapark het toegegee dat hulle gediskrimineer het.

    My reaksie: Dit maak nog nie my stelling verkeerd nie. Jy erken hy bevestig my stelling.
    ———

    … nagelaat het om sy kontrak te hernu.”

    JS reaksie: Verder is die mondelinge kontrak summier gestaak, en nie “nagelaat om sy kontrak te hernu” soos jy in eufemismiese terme daarna verwys nie.

    My reaksie: Goed. Ek verander daardie deel.

    ———–
    Ek haal aan: “Binnekort sal kerke seker van diskriminasie aangekla word as hy enigsins gedrag-standaarde vir sy werknemers wil opstel.”
    JS reaksie: Dit is bloot spekulatief.

    My reaksie: Ja, ek weet dis spekulasie. En daarom het die sin die woord “seker” in. (Die woord seker het snaaks genoeg twee teenoorgestelde betekenisse afhangende van sinskonstruksie. Die een is “waarskynlik,” die ander is “ongetwyfeld.” Volgens daardie sin se konstruksie erken ek die spekulatiwiteit deur die woord te gebruik op die manier wat “waarskynlik” beteken. Nie ‘n feite- fout nie, net spekulasie soos jy ook sê.
    ———-

    JS oor voorbeelde wat ek noem: “ Verkeerd. Dit sou nie as geregverdigde diskriminasie deurgaan nie.”

    My reaksie: Let op die bewoording. Dis nie “het die reg” nie. Dis “moet die reg hê” Ek vertel hier hoe ek die samelewing sou wou sien, nie hoe die samelewing is nie. My punt is immers juis dat die SA wet regte gee aan werkers (een groep mense) ten koste van werkgewers. (‘n ander groep mense.) Dis myns insiens sleg vir die samelewing, want die regering maak mense wat kan werk skep minder lus om dit te doen.

  7. christianrethinker

    Terloops, Johan, ek het die woorde “Volgens regter Dion Basson het hulle teen hom gediskrimineer” waaroor jy kla ook sommer uitgehaal. Nie oor die stelling onwaar is nie, maar oor dit deel van ‘n lomp sin was. Buiten die naam van die regter het die uitgehaalde stukkie geen inligting wat nie elders in die paragraaf voorkom nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s