Daar is party stellings van ateïste wat ek maar net nie kan kleinkry nie. Een van hulle is: “Julle God is ‘n versinsel van predikante om werk te kan hê. God word net verkondig sodat predikante ‘n salaris kan hê.”
Nou as dit waar was, waarom sou die aspirant-prediker nie vir iets anders gaan leer het nie? Predikante is gewoonlik van die laags besoldigde mense vir hulle aantal jare opleiding.
En jou gemiddelde gemeente het meer onbetaalde verkondigers – Sondagskool-onnies, Bybelstudie-groepleiers, ens. – as predikante. Die woord word dus nie net/ hoofsaaklik vir finansiële redes verkondig nie.
Dit wil vir my voorkom dat die beskuldiger wat dit sê, dit glo oor hy dit op ‘n ateïstiese webblad/ in ‘n ateïstiese boek lees. En hy glo dit maar sonder bevraagtekening, want as hy daaroor sou dink, sou hy dadelik sien dis onrealisties.