Monthly Archives: Oktober 2008

Van prys en waarde

Eendag, lank gelede, het ‘n dief in ‘n juwelierswinkel ingebreek. Die juwele was goed beveilig in geslote uitstalkaste met alarmstelsels, maar die pryse was buite-op die kaste. Hy het toe al die pryse omgeruil met die doel om bedrog te pleeg: Peperduur diamant-en-platinum hangertjies het die pryse van kostuumjuwele gekry, en goedkoop plastiek-oorbelle die pryse van duur ringe. Die volgende dag maak die winkel soos gewoonlik sy deure oop. Maar die snaaksste ding was dat niemand dit agtergekom het nie! Die klante het ingekom en hulle neuse opgetrek vir goeie werkmanskap in goud en edelstene, maar soms jare lank afbetaal aan namaaksels. (‘n Storie)

 

 

“Hollywood is a strange place. They give you $10 000 for a kiss and 50 cents for your soul.” – glo gesê deur Marilyn Monroe

 

 

Kougom wat Britney Spears na bewering gekou het is op ‘n stadium op die Internet verkoop. Dis moeilik om agter die ware syfer te kom, maar dit het volgens gerugte $270; $350, of $5 200 gehaal. “The meaning of life”  was ook ‘n tyd gelede op e-bay verkoop- vir $3,26.

 

 

 

Dis nie net Hollywood nie, Marilyn. Die hele wêreld is ‘n snaakse plek.

Papierpoppe het geskuif

Ek sien nie minder nie as 5 mense het gister by my blog uitgekom met die soekterm “papierpop.”

As jy na my papierpoppe soek, ek maak hulle deesdae hier bymekaar: Paper dolls and other paper toys

Laerskool-les oor getuienis

Die Bybelles: jona-les

Die visuele hulpmiddels: jona-prente

‘n Bybelvers-boekmerkie van die les se teksvers: jona-boekmerk

‘n Kinder-Traktaatjie: traktaatjie

Kan iemand ‘n goeie mens wees sonder God?

Jou eerste reaksie as jy hierdie opskrif lees is dalk: “Retha Faurie, jou vermetele, bevooroordeelde [voeg selfstandige naamwoord in]! Daar is ongelowiges wat net sulke goeie – en selfs beter – lewens leef as gelowiges!

Met daardie laaste sin stry ek nie. Maar wag. Die vraag is nie of ‘n ongelowige ‘n goeie mens kan wees nie. Die antwoord op daardie vraag spreek vanself. Die vraag is: Kan enigiemand – gelowig of ongelowig – ‘n goeie mens wees in ‘n heelal waar geen gesag hoër as die mens bestaan nie?

Kom ons dink bietjie wat “goed” beteken, sodat ons “goeie” mense kan uitken. Jy behoort saam te stem dat mense goeie en slegte eienskappe het. ‘n Man wil byvoorbeeld in sy hart aan sy vrou getrou wees, maar sien terselfdertyd versoekings raak. Iemand anders se gewete pla haar as sy ‘n leuen vertel, want sy wil eerlik wees.

Jy kan seker sê hierdie is twee goed binne-in jou. Aan die een kant is daar die wil om reg te doen, om getrou of eerlik of wat ook al te wees. Aan die ander kant is daar die wil om verkeerd te doen, om ontrou of oneerlik of wat ookal te wees.

Maar dit lyk my daar is ook ‘n derde ding. Daar is iets binne-in ons mense wat ons vertel die een keuse is reg en die ander een verkeerd. Iets vertel ons aan watter een van sy twee instinkte ons behoort in te gee. Hierdie ding – wat ons vertel wat ons behoort te doen- kan nie een van die 2 instinkte wees nie, ewe min as wat die padreël “hou lings”die linkerkant van die pad is.

 Maar waar kom hierdie derde ding – hierdie konsep dat party dinge reg en ander verkeerd is- vandaan? Wat bedoel jy met reg en verkeerd, goed en sleg? Bedoel jy net: “Die meeste mense vind vriendelikheid goed en moord sleg.” Of bedoel jy dat party dinge goed of sleg is, ongeag wat mense dink?

 Hier is ‘n voorbeeld: Byna almal sal saamstem dat die Nazi-regime se dade afskuwelik sleg was. Maar veronderstel die Nazi’s het die oorlog gewen, en ontslae geraak van almal wat dink hulle dade was sleg. As almal gedink het hulle was reg, sou hulle dade dan reg gewees het?

 As jy antwoord dat dit in daardie geval reg sou wees, wat beteken “goed”en “sleg”dan? Dan is “goed” en “sleg” maar net ‘n saak van mense se smaak. Dan sou die stelling “Dis verkeerd om kleuters te mishandel” in dieselfde klas geval het as “olywe smaak nie lekker nie.” Dan sou ‘n ander samelewing welkom wees om kleuters te mishandel, soos olywe eet, as hulle daarvan hou. As goed en sleg afhanklik is van wat mense reken goed of sleg is, wie kan dan een persoon se dade goed en ‘n ander een se dade sleg noem?

 En as niemand se mening oor goed en sleg meer gewig dra as die volgende persoon s’n nie, word die stelling: “So-en-so is ‘n goeie mens” eintlik betekenisloos. Dan is moed niks beter as ingee aan jou vrese nie, omgee niks beter as haat nie, eerlikheid niks beter as skelmstreke beplan nie. Want daar is mense wat vrees, haat of skelmstreke kies. En hulle waardes is in daardie geval ewe geldig.

 As jy antwoord dat party dinge reg of verkeerd is, ongeag wat mense daaroor sê, dan kry goed en sleg eers werklik betekenis. Maar hoekom is hierdie dinge dan reg/ verkeerd as dit nie is oor mense so sê nie? Wel, dit moet dan verkeerd wees oor een of ander hoër wet as die mens so sê.

 Evolusioniste bespiegel dat ons idees van reg en verkeerd kom van wat vir ons spesie se evolusie voordelig was. Maar dit verklaar nie hoekom ons aanneming, of sorg vir weeskinders, as ‘n goeie ding beskou nie. (Aanneming is evolusionêr sleg. Dit help ander gene as joune om te oorleef.) Dit  verklaar ook nie hoekom ons verkragting as sleg beskou nie. (Verkragting is evolusionêr goed. Dit help jou gene om te oorleef.)

 En as evolusie die hoër wet is, beteken dit ook die wet kan verander. Ons mag dalk net “evolve” tot op die punt waar dit moreel reg is om byvoorbeeld kleuters te mishandel. Nee wat, dis myns insiens sinloos om na evolusie te kyk vir ‘n hoër wet.

 Ons weet dat wette ‘n wetmaker het. As goed en sleg iets meer beteken as persoonlike smaak, is dit oor iets of iemand groter as ons self daardie idee van goed en sleg in ons harte gesit het. In daardie geval bly hierdie iets of iemand se standaard reg, of jy nou saamstem met die hoër gesag oor wat reg/ verkeerd is, of nie.

Om te erken dat sekere dade reg of verkeerd is, is om te erken: “Daar is Iets of Iemand hoër as die mens. Daardie Iets of Iemand kan my dade as goed of sleg klassifiseer. Omdat daardie Iets of Iemand bestaan, kan iemand ‘n beter of slegter mens wees.”

 

 Kan ‘n mens, (hetsy gelowig of ongelowig,) ‘n goeie mens wees sonder die bestaan van ‘n hoër gesag? Ek sou dink dis onmoontlik. Want sonder daardie Hoër Gesag verloor goed en sleg hulle betekenis. Deur betekenis te heg aan die woorde “goed”en “kwaad”, erken jy klaar dat ‘n hoër gesag as die mens die reëls maak.

Is dit waar?

Ek het onlangs meer as een keer met mense gepraat wat dinge sê soos: “Net oor dit waar is vir jou, hoef dit nie waar te wees vir my nie.” Ek het ook verskeie mense op die internet raakgelees wat reken waarheid is ‘n relatiewe begrip, hulle dink nie absolute waarheid bestaan nie.

Maar die stelling: “Absolute waarheid bestaan nie” kan ook só gestel word:

“Dis absoluut waar dat daar geen absolute waarheid bestaan nie.”

En nou verstaan jy self hoekom ek skepties is oor mense wat waarheid as ‘n relatiewe begrip beskou.

————–

Naskrif: Die stelling: : “Net oor dit waar is vir jou, hoef dit nie waar te wees vir my nie.” het my eenkeer genoop om hierdie stuk Engelse rymelary te skryf.

 

Godsdiens veroorsaak oorlog, konflik en vervolging?

Die bewerings:

 

Pat Johnson sê:

“As Professor in Geskiedenis by ‘n Junior Kollege daag ek my klasse uit om kommentaar op die volgende stelling te lewer:

“Georganiseerde godsdiens het meer lyding, oorlog, en geweld as enige ander saak veroorsaak.”

Bykans al die studente steek ineenstemmend hul hande op.”(1)

 

Ongelukkig word daardie soort stellings deesdae algemeen gepropageer. ‘n Suid-Afrikaanse blogger, Emil Jung, beweer:

“And again, as with Christianity, the long-term legacy includes the familiar horrors of intolerance, bigotry and persecution which characterise all organised religion” (2)

 

Daar is ‘n (besonder belaglike, feitelik verkeerd van bo tot onder) artikel op die internet met die titel:

“Religion, the cause of all wars.”(3)

 

Op ‘n ander Afrikaanse blog is “Skoor”se kommentaar:

“Godsdiens en politiek. Twee dodelike dinge in die wereld.”(4)

 

Is dit waar?

 

As dit waar was dat “intolerance, bigotry, and persecution” ‘n vername karakter-eienskap van “georganiseerde geloof” was, dan sou arme Emil, van wie my tweede aanhaling kom, seker baie gereeld deurgeloop het onder vervolging, want hy is ‘n Suid Afrikaner, ‘n land met sowel hoë geweldsvlakke as baie gelowiges. (Hy bly tans elders, maar nog nie lank nie.) Het enigiemand al vir Emil in die tronk gestop oor hy anders dink oor geloof en nie wil glo wat hulle glo nie? Ek dink nie so nie.

 

In nog ‘n land met ‘n baie hoë Christen-persentasie, Amerika, vertel PZ Myers op sy blog hoe hy in die openbaar ‘n Bybel opgeskeur het- onder die aanmoediging van sy bewonderaars – om sy minagting vir godsdiens te wys. As Christene so ‘n onverdraagsame en vervolg-sugtige groep is, sou hy mos moes vrees vir sy werk en sy lewe as hy so iets doen?(5)

 

Waar in die wêreld kry jy die meeste mense wat in die tronk gestop en vervolg word vir hulle wêreldbeeld? Wel, China. Die nare Christen-regering daar vervolg ateïste… Oeps, verkeerdom. Dis die ateïstiese regering wat Christene in die tronk stop en doodmaak in China.

 

Vox Day se boek, the Irrational atheist, (gratis aflaaibaar hier), het somme gemaak met syfers in Encyclopedia of Wars, wat 1763 oorloë lys. Net 123 van die oorloë- 7% – het waarskynlik te doen met godsdiens. (Selfs dan het oorlog gewoonlik verskeie redes – polities, territoriaal, etnies, ens.) En meer as helfte van daardie oorloë het met een spesifieke geloof, Islam, te doen. Tussen al die ander gelowe in die wêreld het hulle maar 3,2 % van oorloë veroorsaak. (Dit is, as jy die kruistogte as 9 oorloë tel. As jy dit as 1 tel, maak ander gelowe as Islam maar 2,8% van oorloë uit.)

 

As jy gekant is teen godsdiens oor dit oorlog en konflik veroorsaak, dan is daar ‘n hele klomp ander dinge waarteen jy nog meer gekant kan wees. Jy kan byvoorbeeld teen regering gekant wees. Regerings veroorsaak nader aan100% van oorloë.

 

Die beste getuienis, of dan gebrek aan getuienis, oor die verband tussen godsdiens en oorlog kom dalk uit die geskrifte van militêre strategiste deur die eeue. Sun Tzu, Julius Caesar, Vegetius, Maurice, Leo die Wyse, en Clausewitz se geskrifte het niks in oor godsdiens, of hoe om godsdiens in jou oorlog-strategieë te gebruik nie. (6) As godsdiens so belangrik was vir oorlog, sou mens verwag dat militêre strategiste daardie invloed deeglik bespreek?

 

‘n Laaste gedagte

 

Dennis Prager gebruik hierdie voorbeeld om Christen-toewyding se invloed op vooroordeel en geweld te demonstreer:

Jy stap in ‘n gevaarlike buurt rond na donker, alleen. ‘n Groep jong mans, van ‘n ander ras as jy, kom in jou rigting aangestap. As jy sou weet hulle kom nou net van ‘n Bybelstudiegroep af, sou jy veiliger of minder veilig voel?

 

 

————————–

 

(1)      ‘n e-pos wat op net-burst-net gepubliseer is, deur Pat Johnson. Johnson, ‘n historikus, wys dan op die verkeerdheid van bogenoemde stelling.

(2)     Emil Jung, More Ramblings on faith and religions, Okt. 2008

(3)     Charles Sabillon

(4)     Duskant Sutherland, kommentaar op “Angus se aartappels en Benny se biljoene”

(5)     Ek sal graag wil sien hoe Myers in ‘n Moslem-land die Koran opskeur, of in China iets soortgelyk doen om die ateïstiese regering te beledig, om te kyk of  dit regtig so is dat godsdienste maar dieselfde is en ateïste heeltemal verhewe bo sulke laakbare vervolging is. Maar ek vermoed dat selfs Myers die verskille en ooreenkomste goed genoeg verstaan om een te waag, en die ander nie.

(6)     Bladsy 91, Vox Day, the Irrational Atheist

Oppas vir Nathan Bond!

‘n Deel van my wil nie hierdie pos maak nie. Ek gee publisiteit aan iemand vir wie ek nie publisiteit wil gee nie. Maar ‘n paar poste wat ek oor die Afrikaanse blogosfeer opgetel het, onder andere deur Gormendizer en Frank Botha, wys vir my dat Nathan Bond, en besprekings oor sy opinie, weer besig is om aandag te trek op die Afrikaanse Internet.

Gesien in die lig dat ek openlik in God glo, en Nathan (regte naam Drewan Baird) openlik teen godgelowigheid is, kan jy maklik reken dat ek net daaroor teen Bond is. Maar dit is nie waar nie. George Claassen, nog ‘n ongelowige wat eintlik Nathan se opinie oor geloof steun, waarsku byvoorbeeld ook op sy blog teen Drewan Baird.

Op die forum Kletskerk was Nathan die deelnemer met die meeste poste, tot hy begin geld insamel het by Kletskerk-ongelowiges vir ‘n boek wat hy oor (teen) “kinders en godsdiens” wou uitgee. (Hier is ‘n intelligenter en meer wetenskaplik nagevorste opinie oor die saak as hy en sy held Dawkins s’n.) Hy raak toe weg met hulle geld. Hier is die storie. Die mense daar beweer ook dat hy ‘n paar jaar terug in die hof was op aanklagte van bedrog van oor ‘n miljoen Rand. (Ek het nie toegang tot die koerant-argiewe nie.)

Hy het ook op ‘n Kletskerk-byeenkoms ‘n vrou ontmoet wat by wie hy, getroud met iemand anders, ingetrek het. Nadat hy haar uit haar spaargeld verkul het, het die verhouding doodgeloop. Hier is daardie storie, uit haar oogpunt.

Nathan Bond is gevul met haat. Hy het al, nadat ek gepraat het oor gelowiges wat gesterf het vir hulle geloof, gesê: “Eintlik wens ek dat meer Christene vir hulle geloof sterf.” (Terloops, volgens groepe soos the Christian World Encyclopedia en Voice of the Martyrs was daar verlede jaar alleen 160 000 Christene doodgemaak vir hulle geloof. En Nathan wens dat dit meer is???) Hierdie aaklige, haatgevulde karakter en sy bewonderaars het jare gelede Kletskerk verander van ‘n geloofsforum na ‘n plek waar mens skaars toegelaat word om te noem dat jy ‘n gelowige is. Ek is weg by Kletskerk toe stellings soos “Godgelowiges is goed as jy breindood kanonvoer nodig het” niemand daar meer twee keer laat opkyk het nie. Ek wou nie dat sulke haatgevulde mense my beïnvloed nie.

‘n Vername probleem met sy benadering is die volgende: Hy beweer hy is teen godsdiens (Ek is, terloops- ook teen godsdiens- ek verkies ‘n verhouding met Jesus) grootliks oor godsdiens irrassioneel is. Hy self, en persone soos Richard Dawkins wat hy graag aanhaal, is geensins voorbeelde van rasionaliteit nie, maar van bitterheid, haat, woede en soortgelyke emosies. Hy is teen godsdiens oor godsdiens glo doodslag veroorsaak, maar dan moet hy eerder teen iets soos ateïstiese kommunisme wees- wat nog meer doodslag veroorsaak. En teen wetenskap en tegnologie, want wetenskap en tegnologie het ons alles van buskruit tot die atoombom gegee. (Verstaan my mooi, ek spreek my nie hier uit teen wetenskap en tegnologie nie. Ek sê Nathan Bontpraat is nie konsekwent nie.)

Ek het hom op Kletskerk al – toe ek nog daar rondgehang het jare terug – “Nathan Bontpraat” genoem vir sy vermoë om te mislei. Op die Afrikaanse Lighuis- forums het iemand ook al genoem hy bly op dieselfde dorp as Drewan, en Drewan is bekend as ‘n “sakeman” wie se geldmaak-plannetjies ook nie geglo kan word nie.

Gelowig of ongelowig, oppas vir Nathan. Dit wat hy doen, sê en is bring -volgens alle getuienis wat ek het – nie waarheid of wins, skoonheid of geluk nie.

——————

Ns: Ek praat hier ook oor Nathan. Hier betreur ek wat gebeur het op ‘n Internet-forum waarvan ek deel was op ‘n stadium.

 

Bly te kenne, Staat, ek is die belastingbetaler

Daar is mense wat beweer voorgestelde straatnaam-veranderings in Pretoria gaan “die Tswane-metropool”soveel miljoen uit die sak jaag. Dan hoor mens stories van hoe “die gesondheidsdepartement” mense betaal wat deur nalatigheid gestrem is.

 Nou ja, as my kind gestrem uit ‘n hospitaal kom, sal ek ook geld uit “die gesondheidsdepartement” eis. Ek het volkome begrip dat die ouers dit doen. Vir straatnaam-veranderings het ek egter geen simpatie nie.

Maar die onderwerp wat ek hier wil aanraak, het min te doen met my persoonlike gevoelens oor ‘n saak.  Die punt wat mens moet onthou oor hierdie 2 verhale, en duisende ander, is dat niemand in werklikheid geld kry uit “die regering” of  “die stadsraad” of  “die departement vir Welsyn” of  “die gesondheidsdepartement” nie. Hulle kry geld uit die belastingbetaler.

En dis hoe ons enige ding waarop die regering of  munisipaliteit wil geld spandeer moet beoordeel: Is dit ‘n goeie aanwending van ons geld? Is dit ‘n goeie aanwending van my geld? Want alle belasting kom van mense. Belasting is altyd ‘n persoonlike saak. “Erfbelasting” belas byvoorbeeld nie erwe (dooie stukke grond) nie. Dit belas eienaars van erwe (mense). Jy kan nie regtig ‘n belasting hef op boedels (dooie batelyste) nie. Jy belas erfgename (mense). Dieselfde vir belasting op sigarette, wat eintlik belasting op rokers is. “Belasting op maatskappye” belas eintlik geld wat in die hande van aandeelhouers (mense), en selfs werknemers en klante (want die maatskappy sou beter salarisse kon betaal, en minder vir hulle produk of diens kon vra, as hulle nie daardie belasting moet betaal nie), sou beland het andersins.

As ‘n privaat persoon moet opdok vir nalatigheid na iemand by sy besigheid seergekry het, dok hy self op en dit behoort hom te leer om nie in die toekoms dieselfde op te tree nie. As “die gesondheidsdepartement” opdok oor nalatigheid by ‘n hospitaal, dan voel die skuldige departement of hospitaal of verpleegster of dokter nie dit aan hulle eie sak nie- die departement kry net nog geld uit die belastingbetaler. Daar is dus geen rede om te glo dat die departement in die toekoms anders sal optree nie.

Wanneer die staat of munisipaliteit geld onnodig uitgee, moet ons belastingbetalers ons ontevredenheid duidelik maak. Straatnaam-veranderings in Pretoria is ‘n onnodige uitgawe, want talle strate in swart woonbuurte het nog glad nie name nie. Geld uitbetaal weens hospitaal-nalatigheid behoort onnodig te wees, want die hospitaal-nalatigheid moet nie gebeur nie. Staatshospitale word op belasting-betaler geld bestuur en die blote feit dat iemand nalatig is, beteken dat swak personeel hulle werk – waarvoor die belastingbetaler die salaris betaal – swak gedoen het. Enige staatsuitgawes moet ons laat vra: Is dit nodig? Want dit is nie regtig die staat se uitgawes nie. Dis ons uitgawes.

Of dis hoe ek dit verstaan.

Leer kinders Bybel lees

Hierdie is ‘n uitdeelstuk wat gebruik word as jy kinders (minstens Gr. 4, sodat hulle darem kan lees) leer hoe om self stiltetyd te hou. so-hou-jy-stiltetyd

Jy gaan met hulle deur, na elkeen ‘n uitdeelstuk het, wat hulle nodig het  vir stiltetyd (‘n Bybel, ‘n notaboek, ‘n pen, ‘n stil plek, ‘n spesifieke tyd)

Verduidelik vir die kinders die stappe op die bladsy. As jy by stap 2 kom , maak seker almal weet hoe om verse in die Bybel op te soek.

Oefen dit in jou volgende paar lesse in deurdat jou groep elke keer:

1)      Bid dat God jou sal help verstaan

2)      Lees uit die Bybel*

3)      Dink (en in die klas praat) oor wat hulle geleer het.

4)      Bid oor wat hulle geleer het.

5)      Herinner word om na klas te doen wat hulle geleer het.

 (Dis ook ‘n goeie idee om vir hulle lysies te gee met kort Bybelgedeeltes wat kinders kan sinvol vind, sommer met die spasies vir regmerkies langs dit en plek om te skryf/teken daaronder op dieselfde blad, soos in stap 3.)

Hier is ‘n blad wat jy een van daardie weke, weke waarin die Bybellees-vaardigheid ingeoefen word, kan gebruik. (Hierdie bladsy word middeldeur gesny om vir elke kind ‘n A5-uitdeelstuk te gee.) dank

Naskrif: Dis nie nodig dat hierdie aktiwiteit langdradig moet wees of jou hele les moet beslaan nie. As jy Bybelgedeeltes kies wat met jou dag se tema verband hou, kan die bid-lees-dink-bid-doen inoefen elke keer so min as ‘n paar minute van jou les wees.

Doen dit met passie!

Ek is elke keer half verbaas as ek hoor mense stel belang in my blog. Hoekom sal iemand nou my goed wil lees? Op skool het ek maar taamlik middelmatige punte vir meeste opstelle gekry. En dan onthou ek die verskil. Op skool het Juffrou of Meneer vir my vertel waaroor ek moet skryf, en dan moet die onderwyser deur 100 St. 7’s se meestal on-geïnspireerde werke oor daardie tema lees. Nou skryf ek wat ek voel om oor te skryf. En enigeen is interessanter as hy praat oor dit waaroor hy sterk voel.

Dale Carnegie gee in sy boek “A quick and easy guide to effective  public speaking” die raad dat jy ‘n onderwerp moet kies waaroor jy sterk voel. En terwyl jy jou toespraak voorberei, herinner jy jouself aan hoekom jy sterk voel daaroor. Ekself reken dat enigiemand wat toelaat dat iemand anders sy/ haar toesprake skryf, nie die moeite werd is om na te luister nie. As jy nie jou eie gedagtes oor ‘n saak wil bespreek nie, is jy nie die regte persoon om oor die onderwerp te praat nie. (Dit grief my as ons politici op TV-nuus gewys word terwyl hulle toesprake aflees!)

Die heel interesantste mense vir my is passievolle mense, besig om te praat oor hulle gunstelingsaak. En dis wat ek wil wees: Iemand wat dit wat ek doen, met passie doen. Iemand wat dit wat ek sê, passievol sê.

As jy jou werk geniet, hoef jy nooit in jou lewe te werk nie.

If you cannot do what you love, love what you do.

Ken jouself. Weet waaroor jy passievol is. En wy jou tyd daaraan.