Godsdiens veroorsaak oorlog, konflik en vervolging?

Die bewerings:

 

Pat Johnson sê:

“As Professor in Geskiedenis by ‘n Junior Kollege daag ek my klasse uit om kommentaar op die volgende stelling te lewer:

“Georganiseerde godsdiens het meer lyding, oorlog, en geweld as enige ander saak veroorsaak.”

Bykans al die studente steek ineenstemmend hul hande op.”(1)

 

Ongelukkig word daardie soort stellings deesdae algemeen gepropageer. ‘n Suid-Afrikaanse blogger, Emil Jung, beweer:

“And again, as with Christianity, the long-term legacy includes the familiar horrors of intolerance, bigotry and persecution which characterise all organised religion” (2)

 

Daar is ‘n (besonder belaglike, feitelik verkeerd van bo tot onder) artikel op die internet met die titel:

“Religion, the cause of all wars.”(3)

 

Op ‘n ander Afrikaanse blog is “Skoor”se kommentaar:

“Godsdiens en politiek. Twee dodelike dinge in die wereld.”(4)

 

Is dit waar?

 

As dit waar was dat “intolerance, bigotry, and persecution” ‘n vername karakter-eienskap van “georganiseerde geloof” was, dan sou arme Emil, van wie my tweede aanhaling kom, seker baie gereeld deurgeloop het onder vervolging, want hy is ‘n Suid Afrikaner, ‘n land met sowel hoë geweldsvlakke as baie gelowiges. (Hy bly tans elders, maar nog nie lank nie.) Het enigiemand al vir Emil in die tronk gestop oor hy anders dink oor geloof en nie wil glo wat hulle glo nie? Ek dink nie so nie.

 

In nog ‘n land met ‘n baie hoë Christen-persentasie, Amerika, vertel PZ Myers op sy blog hoe hy in die openbaar ‘n Bybel opgeskeur het- onder die aanmoediging van sy bewonderaars – om sy minagting vir godsdiens te wys. As Christene so ‘n onverdraagsame en vervolg-sugtige groep is, sou hy mos moes vrees vir sy werk en sy lewe as hy so iets doen?(5)

 

Waar in die wêreld kry jy die meeste mense wat in die tronk gestop en vervolg word vir hulle wêreldbeeld? Wel, China. Die nare Christen-regering daar vervolg ateïste… Oeps, verkeerdom. Dis die ateïstiese regering wat Christene in die tronk stop en doodmaak in China.

 

Vox Day se boek, the Irrational atheist, (gratis aflaaibaar hier), het somme gemaak met syfers in Encyclopedia of Wars, wat 1763 oorloë lys. Net 123 van die oorloë- 7% – het waarskynlik te doen met godsdiens. (Selfs dan het oorlog gewoonlik verskeie redes – polities, territoriaal, etnies, ens.) En meer as helfte van daardie oorloë het met een spesifieke geloof, Islam, te doen. Tussen al die ander gelowe in die wêreld het hulle maar 3,2 % van oorloë veroorsaak. (Dit is, as jy die kruistogte as 9 oorloë tel. As jy dit as 1 tel, maak ander gelowe as Islam maar 2,8% van oorloë uit.)

 

As jy gekant is teen godsdiens oor dit oorlog en konflik veroorsaak, dan is daar ‘n hele klomp ander dinge waarteen jy nog meer gekant kan wees. Jy kan byvoorbeeld teen regering gekant wees. Regerings veroorsaak nader aan100% van oorloë.

 

Die beste getuienis, of dan gebrek aan getuienis, oor die verband tussen godsdiens en oorlog kom dalk uit die geskrifte van militêre strategiste deur die eeue. Sun Tzu, Julius Caesar, Vegetius, Maurice, Leo die Wyse, en Clausewitz se geskrifte het niks in oor godsdiens, of hoe om godsdiens in jou oorlog-strategieë te gebruik nie. (6) As godsdiens so belangrik was vir oorlog, sou mens verwag dat militêre strategiste daardie invloed deeglik bespreek?

 

‘n Laaste gedagte

 

Dennis Prager gebruik hierdie voorbeeld om Christen-toewyding se invloed op vooroordeel en geweld te demonstreer:

Jy stap in ‘n gevaarlike buurt rond na donker, alleen. ‘n Groep jong mans, van ‘n ander ras as jy, kom in jou rigting aangestap. As jy sou weet hulle kom nou net van ‘n Bybelstudiegroep af, sou jy veiliger of minder veilig voel?

 

 

————————–

 

(1)      ‘n e-pos wat op net-burst-net gepubliseer is, deur Pat Johnson. Johnson, ‘n historikus, wys dan op die verkeerdheid van bogenoemde stelling.

(2)     Emil Jung, More Ramblings on faith and religions, Okt. 2008

(3)     Charles Sabillon

(4)     Duskant Sutherland, kommentaar op “Angus se aartappels en Benny se biljoene”

(5)     Ek sal graag wil sien hoe Myers in ‘n Moslem-land die Koran opskeur, of in China iets soortgelyk doen om die ateïstiese regering te beledig, om te kyk of  dit regtig so is dat godsdienste maar dieselfde is en ateïste heeltemal verhewe bo sulke laakbare vervolging is. Maar ek vermoed dat selfs Myers die verskille en ooreenkomste goed genoeg verstaan om een te waag, en die ander nie.

(6)     Bladsy 91, Vox Day, the Irrational Atheist

19 responses to “Godsdiens veroorsaak oorlog, konflik en vervolging?

  1. Goeie inskrywing! Jy vat raak!

  2. Religion is an insult to human dignity. With or without it you would have good people doing good things and evil people doing evil things. But for good people to do evil things, that takes religion.

  3. Die radikale ateiste skree so hard en skril, mens wonder wat hulle so aan die gang kry.
    Die stelling wat stilman hierbo maak kan net soveel op enige ander sterk ideologie van toepassing gemaak word, byvoorbeeld nasionalisme, kommunisme, kapitalisme ens.
    Al hierdie goed is soos ‘n byl of hamer – dit kan ten goede of ten kwade gebruik word, maar is nie op sigself goed of sleg nie.

  4. Dankie vir julle kommentaar.
    Stilman, you never motivated your comments. Can you please start by explaining: Is good and evil absolutes to you, are some things always wrong? Or is it a case of opinion, are things only good/ evil because people find them so?

  5. Baie goeie inskrywing Retha. Ek is bly om te hoor van die statistieke wat jy noem. Ek was nie daarvan bewus nie.

  6. Godsdiens is net dit wat dit is, godsdiens.Induviduele interpretasie daarvan kan soms problematies wees.

  7. Onverdraagsame ateiste herinner my aan onverdraagsame geheelonthouers. “Die probleem is drank, die probleem is dranK!”, klink die refrein. Maar beteken dit dit almal in die wereld wat alkohol gebruik verkeerd is en alkoholiste is? Ongenuanseerde en deterministiese veralgemenings is kortsigtig en bied ongelukkig geen ruimte vir enige vorm van gebalanseerde sintese nie.

  8. Dit was baie insiggewend Retha, dankie! Dit sou darem baie beter gegaan het as diegene wat soveel energie spandeer om selfs die GOEIE uitmekaar te skeur, meer DAARAAN wil aandag gee.

  9. Hello en dankie vir ‘n goeie skrywe. Laat mens weer dink. Dink mens moet nooit stellings maak wat nie gestaaf kan word met erkende feite nie. Jou skrywe bevat die feite wel, dankie.

    Alles van die beste

  10. O gits, Emil is glad nie ‘n ongelowige nie! Hy is maar net uiters katvoet vir georganiseerde godsdiens, dogma en veral ander mense wat hom wil voorskryf hoe hy kwansuis moet glo! Dat mense so verkeerd kan verstaan.

    Hy was al in die tronk, ja, maar oor sy geloof in gelyke regte vir almal.

  11. Terloops Retha, gee tog die (a href=”http://emiljung.co.za/?p=1515″>volledige skakel dat die mense self kan lees, binne die konteks van my oorspronklike bedoeling.

    Ek het nog net twee inskrywings ooit oor godsdiens (eintlik oor geloof) gemaak, die eerste in reaksie na aanleiding van ‘n gesprek met iemand wat selfmoordbommers goed gepraat het juis vanuit ‘n geloofsoogpunt, en tweedens ‘n reaksie op flippiefanus se “absolute waarheid”.

    Ek dink as enigiemand ordentlik my blog lees, sou hulle ‘n verstaan kon ontwikkel dat my denke juis bevry is van spesifieke dogma – al vat ek tog boeke met my eie opinie.

    Ek volstaan by my opmerking dat geloof en geloofsoortuigings aanleiding gee tot onverdraagsaamheid en konflik – hetsy Christelik, Islam of enige ander vorm waar “God se woord” nie bevraagteken mag word nie.

    Laat my tog maar toe om soos Kierkegaard die nie-Christelike Christen te wees!

  12. Jammer, Emil, my woorde is aangepas van “ongelowige” na “nie glo wat hulle glo nie.”

    Natuurlik laat ek jou toe om nie te glo wat ek glo nie. Ek skakel selfs na jou webblad, en het jou al vertel om aan te hou blog.

    Off-topic, maar help my verstaan hoe jy kan sê jy glo sonder dogma? Ek sou reken iemand se dogma is juis dit wat hy glo?

  13. Emil “Ek het nog net twee inskrywings ooit oor godsdiens (eintlik oor geloof) gemaak,…” Nou wat dan van jou reeks oor “Volledige menswees” handel dit nie oor geloof nie? Dit handel tog wel oor gelowe.

    Nes Retha wil ek ook weet wat jy met die term “dogma” bedoel. As iemand se^ hy/sy glo maar verwerp dogma klink dit vir my soos ‘n teenstrydigheid. Ek moet dus aflei dat ons verskillende goed onder die term verstaan.

  14. Goed, ek dink ek moet poog om myself duideliker uit te druk.

    Met dogma bedoel ek “leerstellings”, of menslike interpretasie, of “kerkleer”.

    So beskou ek dus al Paulus se briewe as dogma, ‘n interpretasie van sy Damaskus-pad gebeure, en is sy geskrifte nie noodwendig vir my ‘n gegewe dat dit juis God se woord is nie.

    Daarmee saam sal julle ook kan aflei dat ek dan ook nie die Bybel as uitsluitlike Woord van God beskou nie. Dat dit wel ‘n getuienis is van ons gosdiens is vir my voldoende, maar ek is versigtig om die “uitverkore volk”-handelsmerk onomwonde en sonder besinning om my nek te hang – wat ek in die wêreld sien waar mense hulself hierdie titel toeeien, weerhou my.

    Dwarsdeur die Bybel deur sien ek die ontwikkeling van die Godsbesef by die skrywers en dit is dan eers in 90n.C. wat ‘n paar slim kerkvaders besluit het om die Bybel soos ons Dit vandag ken, te vestig, deur ‘n draad te probeer span van die Begin tot die Einde, om ‘n deurlopende verhaal van ‘n spesifieke godsdienstige worsteling te skryf, tekskritiek en historiese konteks ten spyt, en die nalating van ander relevante geskrifte wat dalk nie hierdie ragfyn draadjie ondersteun het nie. Goed, mens sou kon argumenteer en debateer oor Inspirasie van die Heilige Gees, maar aan die uiteinde bly die geskrifte vir my steeds net dit: geskrifte, getuienis oor tydsgebonde gebeure, geskep – soos baie geskrifte – uit reaksie op gebeure in die realiteit van daardie skrywer(s), en versamel vir die doel van spesifieke agenda’s.

    My reeks oor menswees, opsommend gesien, is steeds soos ek in die Voorwoord geskryf het:

    Ek wil in ‘n paar skrywes menswees ontleed – nee, beskou – uit ‘n seleksie van hierdie denkwyses, sonder om breedvoerig die verskillende religieuse, sosiale en filosofiese sisteme aan te raak, te verduidelik of te oordeel. Dit is nie ‘n godsdienstige gesprek nie; eerder ‘n eksegese vanuit my eie beskeie mening oor hoe hierdie ragwerk van idees die konsep “menswees” beskou. Ek hoop om nie in ‘n spesifieke tradisie te verval nie, waarvoor ek verseker gekritiseer gaan word. Ek verkies aspris om selektief en kortstondig met die konsepte om te gaan. Vir hulle wie ek moontlik mag beledig of irriteer, vra ek byvoorbaat om verskoning – dit is natuurlik nie by bedoeling nie. Maar ek waag dit, nieteenstaande die kritiek, want ek het ’n verskuilde agenda: ek wil illustreer dat, al het ons almal verskillende wyses van aanbidding, sekere gedragspatrone oor die hele spektrum algemeen aanvaarbaar is, dat daar ongelooflike raakpunte is, en dat dit hierdie algemene aanduiders ons almal in ons menswees aan mekaar verbind.

    Ek voel dus nog steeds dat ek oor geloof (faith) nog net twee keer direk geskryf het. Die mensweeskonsepte trek ek wel uit ander geloofsdenkrigtings, maar ek weerhou my van ‘n oordeel oor die Godsbesef in elk van daardie gelowe. Dit is veel eerder ‘n moreel-etiese beskouing, m.a.w. ‘n poging om te verstaan wat dit beteken “om reg te lewe,” konsepte soos “waarheid” en “reg” se betekenis ten spyt.

    Ek bevind myself weer terug in my studiejare waar ek sterk aangevoer hoe ‘n intense persoonlike saak godsdiens werklik is, en – al word dit aangevoer dat godsdiens dalk nie die oorsaak van baie konflik in die wêreld is nie – is die konsepte van “geloof” (beliefs/faith) toegewend tot onderliggende konflik, hetsy Islam se selfmoordbommers, Indië se Hindus wat die Christene daar vervolg en moor, of die Chinese wat Tibet en Christene onderdruk – alles, mynsinsiens gebore uit een of ander geloofstelsel (wat nie altyd religieus is nie) – juis omdat dit so persoonlik is. In hierdie verband het die Engels sulke lekker woorde om met hierdie konsepte om te gaan: “belief”, “opinion” en “conviction.”

    Opinion is something we feel relatively certain about, but the certainty is only temporary because it can be changed easily. Our cognitive function is supported by wobbly, unverified reference legs that may be based on impressions.

    Belief is formed when we begin to develop a much larger base of reference legs, and especially reference legs about which we have strong emotions. These reference legs give us absolute sense of certainty about something.

    Conviction eclipses belief, primarily because of the emotional intensity a person links to an idea. The person does not only feel certain, but gets angry if their conviction is ever questioned. References are not questioned, there is resistant to new input, often to the point of obsession.

    So “glo” baie mense nog vandag dat swartmense minderwaardig is, ander het daardie opinie, en ‘n klein handvol is oortuig dat dit die absolute waarheid is. Ander sal jou bom, of die vesting afbrand uit die oortuiging van hierdie intense geloof.

    Julle behoort – en ek is baie spyt as dit nie so duidelik oorgekom het – te sien dat my godsdienstige benadering tot my realiteit eerder sterk op die horisontale as van die driehoek gefokus is, en dat ‘n geloof (vir my persoonlik, in iedergeval) in ‘n Bo-natuurlike wese dus nie van allergrootste belang is nie. Dit maak alleen saak sou ek in die konsep van “Verlossing” wil glo, of in ‘n “beter” realiteit na die bestaande lewe wat ons tans lei. Dit is – weer eens – nie vir my die absolute van my geloof nie. Ek leef nou, en het ‘n veranwoordelikheid nou – maak dit werklik saak wat hierna gebeur? (Ok, ek klink bietjie soos Nietszche; sy invloed sal ek nie ontken nie!)

    Miskien is ek eerder soos Berkhouwer, wie God as ‘n transendente Entiteit beskou het, eintlik ontoereikend vir die menslike verstaan – daar hou ek van Retha se verwysing van “buite/binne” tyd in haar kommentaar op my blog.

    Ek het probeer om my “aktiewe geloof” dan in die volgende te verwoord:

    Religion speak much about beauty and goodness, personhood, and subjective experience. These are indeed things that matter most. But faith and religion make a standard mistake of conflating these high and good matters of human experience with anything supernatural. Humanity’s sense of beauty, and decency, our power to love, our creativity – all the best things about being human – belong to us, to human experience in the real world. They are ours, just as much as the evil, stupidity, greed and cruelty, which oppose the wonderful things.

    Noem my geloof dan maar “New Age” as daar nie ‘n beter omskrywing kan wees nie.

    Net soos ek ‘n broertjie dood het aan dogma, staan militante ateisme my ook nie aan nie. Ek lees Richard Dawkins en ander, en vind werklik min aanklank van wat hulle skryf by my moreel-etiese beskouing van die lewe. Hierdie mense, net soos fanatisie uit enige ander godsdiens, hang simbole aan, soos my voorvader Carl Jung sou omskryf. En as simbole eers begin waarde kry bo redelike norme …

    Daarom bly ek steeds dankbaar dat ek my self verlos kan ag, nie noodwendig van die sonde soos ons dit uit die Bybelse konteks verstaan nie, maar van die boeie van geloof.

    Dit is en bly steeds …

    The Blog of Emil Jung, where the considerations about life should help to achieve liberation from such tyrannies of belief, replacing them with informed commitments to human affections, tolerance, and the wisdom taught by individual experience.

    Ek bly Ombeskaamd Mens! Dit is vir my meer belangriker as enige geloof in enige Bo-natuurlike wese, daardie keuse van my om ‘n “goeie” lewe te lei.

  15. Emil ek sal graag wil terugkeer na my punt oor alkoholisme. Die gebruik van alkohol lei nie noodwendig tot alkoholisme nie maar KAN daartoe lei as jy dit misbruik. Andersyds gestel: Die matige gebruik van alkohol is eintlik ‘n baie positiewe en gesonde gebruik. Ditto met geloofsoortuigings. Dit KAN lei tot konflik en onverdraagsaamheid, maar dis glad nie ‘n noodwendigheid nie. Maar net soos ek respek het vir geheelonthouers, het en ook respek vir geloofonthouers. Elkeen maak maar sy eie keuses.

    Dat ek nou drank moet gebruik om my punt oor geloof te beklemtoon.🙂

  16. Ek sien niks fout my jou analogie in daardie verband nie😆 Ek herhinner my aan ‘n Persoon wat self wyn gemaak het tydens die viering van ‘n bruilof. Dis soos jy sê: matige gebruik, hetsy alkohol, godsdiens, ateisme, ens.😉

  17. Emil ek hoop nie jy het my kommentaar hierbo as aanvallend ervaar nie. Dit was glad nie die bedoeling nie. Ek verstaan dat godsdiens vir jou meer gaan oor die lewensbeginsels as oor geloof in ‘n God. Jou hele relaas oor die Bybel bevestig dit ook. As jy vanuit die oogpunt dat daar wel ‘n God is wat bemoeienis maak met ons, na die Bybel en sy ontwikkeling sou kyk sou jy dit dalk heel anders gesien het. Mysinsiens hoef daar nie enige teenstrydigheid te wees tussen geloof in ‘n God en om ‘n goeie lewe te lei nie. Om die waarheid te se^ dis deels hoekom God wil he^ dat ons in hom moet glo. Dit gaan nie net oor die hiernamaals nie.

  18. Emil, dis ‘n baie goeie en eerlike uiteensetting van wat jy glo en daarvoor het ek respek. Dis vir my (en miskien vir andere ook) baie moeilik om werklik oor te dra wat die Here in daaglikse wandel vir my beteken en wat Hy alreeds in die verlede vir my beteken het. Seker maar soos om ‘n meesleurende fliek te sien wat werklik ‘n impak op jou gemaak het en dan daardie storie te probeer oordra aan iemand wat dit nie gesien het nie.
    Eweneens klink dit of jy rustigheid en vrede gevind het met jou eie geloof wat nie noodwendig afhanklik is van die bestaan van ‘n godheid nie (as ek reg verstaan). So kies elkeen sy eie persoonlike pad en sal ons niks ten volle weet voor ons uiteindelik ons tydelike tentwoning verlaat nie.

  19. Pingback: A Different View of Reality » Gebrabbel oor die Filosofie, godsdiens en die soeke na kennis

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s