Kan iemand ‘n goeie mens wees sonder God?

Jou eerste reaksie as jy hierdie opskrif lees is dalk: “Retha Faurie, jou vermetele, bevooroordeelde [voeg selfstandige naamwoord in]! Daar is ongelowiges wat net sulke goeie – en selfs beter – lewens leef as gelowiges!

Met daardie laaste sin stry ek nie. Maar wag. Die vraag is nie of ‘n ongelowige ‘n goeie mens kan wees nie. Die antwoord op daardie vraag spreek vanself. Die vraag is: Kan enigiemand – gelowig of ongelowig – ‘n goeie mens wees in ‘n heelal waar geen gesag hoër as die mens bestaan nie?

Kom ons dink bietjie wat “goed” beteken, sodat ons “goeie” mense kan uitken. Jy behoort saam te stem dat mense goeie en slegte eienskappe het. ‘n Man wil byvoorbeeld in sy hart aan sy vrou getrou wees, maar sien terselfdertyd versoekings raak. Iemand anders se gewete pla haar as sy ‘n leuen vertel, want sy wil eerlik wees.

Jy kan seker sê hierdie is twee goed binne-in jou. Aan die een kant is daar die wil om reg te doen, om getrou of eerlik of wat ook al te wees. Aan die ander kant is daar die wil om verkeerd te doen, om ontrou of oneerlik of wat ookal te wees.

Maar dit lyk my daar is ook ‘n derde ding. Daar is iets binne-in ons mense wat ons vertel die een keuse is reg en die ander een verkeerd. Iets vertel ons aan watter een van sy twee instinkte ons behoort in te gee. Hierdie ding – wat ons vertel wat ons behoort te doen- kan nie een van die 2 instinkte wees nie, ewe min as wat die padreël “hou lings”die linkerkant van die pad is.

 Maar waar kom hierdie derde ding – hierdie konsep dat party dinge reg en ander verkeerd is- vandaan? Wat bedoel jy met reg en verkeerd, goed en sleg? Bedoel jy net: “Die meeste mense vind vriendelikheid goed en moord sleg.” Of bedoel jy dat party dinge goed of sleg is, ongeag wat mense dink?

 Hier is ‘n voorbeeld: Byna almal sal saamstem dat die Nazi-regime se dade afskuwelik sleg was. Maar veronderstel die Nazi’s het die oorlog gewen, en ontslae geraak van almal wat dink hulle dade was sleg. As almal gedink het hulle was reg, sou hulle dade dan reg gewees het?

 As jy antwoord dat dit in daardie geval reg sou wees, wat beteken “goed”en “sleg”dan? Dan is “goed” en “sleg” maar net ‘n saak van mense se smaak. Dan sou die stelling “Dis verkeerd om kleuters te mishandel” in dieselfde klas geval het as “olywe smaak nie lekker nie.” Dan sou ‘n ander samelewing welkom wees om kleuters te mishandel, soos olywe eet, as hulle daarvan hou. As goed en sleg afhanklik is van wat mense reken goed of sleg is, wie kan dan een persoon se dade goed en ‘n ander een se dade sleg noem?

 En as niemand se mening oor goed en sleg meer gewig dra as die volgende persoon s’n nie, word die stelling: “So-en-so is ‘n goeie mens” eintlik betekenisloos. Dan is moed niks beter as ingee aan jou vrese nie, omgee niks beter as haat nie, eerlikheid niks beter as skelmstreke beplan nie. Want daar is mense wat vrees, haat of skelmstreke kies. En hulle waardes is in daardie geval ewe geldig.

 As jy antwoord dat party dinge reg of verkeerd is, ongeag wat mense daaroor sê, dan kry goed en sleg eers werklik betekenis. Maar hoekom is hierdie dinge dan reg/ verkeerd as dit nie is oor mense so sê nie? Wel, dit moet dan verkeerd wees oor een of ander hoër wet as die mens so sê.

 Evolusioniste bespiegel dat ons idees van reg en verkeerd kom van wat vir ons spesie se evolusie voordelig was. Maar dit verklaar nie hoekom ons aanneming, of sorg vir weeskinders, as ‘n goeie ding beskou nie. (Aanneming is evolusionêr sleg. Dit help ander gene as joune om te oorleef.) Dit  verklaar ook nie hoekom ons verkragting as sleg beskou nie. (Verkragting is evolusionêr goed. Dit help jou gene om te oorleef.)

 En as evolusie die hoër wet is, beteken dit ook die wet kan verander. Ons mag dalk net “evolve” tot op die punt waar dit moreel reg is om byvoorbeeld kleuters te mishandel. Nee wat, dis myns insiens sinloos om na evolusie te kyk vir ‘n hoër wet.

 Ons weet dat wette ‘n wetmaker het. As goed en sleg iets meer beteken as persoonlike smaak, is dit oor iets of iemand groter as ons self daardie idee van goed en sleg in ons harte gesit het. In daardie geval bly hierdie iets of iemand se standaard reg, of jy nou saamstem met die hoër gesag oor wat reg/ verkeerd is, of nie.

Om te erken dat sekere dade reg of verkeerd is, is om te erken: “Daar is Iets of Iemand hoër as die mens. Daardie Iets of Iemand kan my dade as goed of sleg klassifiseer. Omdat daardie Iets of Iemand bestaan, kan iemand ‘n beter of slegter mens wees.”

 

 Kan ‘n mens, (hetsy gelowig of ongelowig,) ‘n goeie mens wees sonder die bestaan van ‘n hoër gesag? Ek sou dink dis onmoontlik. Want sonder daardie Hoër Gesag verloor goed en sleg hulle betekenis. Deur betekenis te heg aan die woorde “goed”en “kwaad”, erken jy klaar dat ‘n hoër gesag as die mens die reëls maak.

11 responses to “Kan iemand ‘n goeie mens wees sonder God?

  1. Ek dink dit hang van die konteks af. “Goed” en “Sleg” verteenwoordig persoonlike oordeel, gemeenskapsnorme, eise as absolute waarde in verhouding tot die menslike natuur en die transendasie van godsdienstige standaarde.

    ‘n Hele paar Nazi’s het tot aan die einde geglo hulle is reg.

    Dit is in my opinie nie ‘n uitgemaakte saak of goed en sleg inherente en intrinsieke elemente van die menslike natuur is nie. Hoe dan gemaak met sogenaamde psigopate wat oënskynlik nie tussen die twee kan onderskei nie? Vrye wil, evolusie, godsdiens – alles net pogings om dit te probeer verduidelik. “Goed” en “sleg” is oorals om ons, in die natuur, nie net intrinsiek deel van die menslike kondisie nie, maar van die ganse heelal. Waar ander vetroosting, aanvaarding en verduideliking in godsdiens daarvoor vind, vind ek dit in die filosofie, en vanselfsprekend dan ook in die gosdiens en spirituele as vakgebiede van die filosofie. Miskien is die antwoord in die mens se redelik besef dat hy/sy in bewustheid aan alles verbind is.

  2. Emil, ek noem mos juis dat “goed” en “sleg” in verskillende kontekste verskillende dinge beteken. As “goed” en “sleg” persoonlike oordeel verteenwoordig, verloor dit sy betekenis sodra jou oordeel verander- en kan almal hulself “goed” noem, volgens hulle eie oordeel. (Dit sluit die Nazi’s in waarvan jy praat.) En dan beteken “goed” niks.
    As “goed” en “sleg” gemeenskapsnorme verteenwoordig, verloor die woorde hulle betekenis sodra die gemeenskap se norme verander. Dan is selfmoordbom-terroriste byvoorbeeld ‘n goeie ding, want hulle gemeenskappe vind dit goed.

    Vir “goed”en “sleg” om ‘n betekenis te hê wat hoër strek as menslike opinie, moet die bepalings van wat goed en sleg is van ‘n hoër gesag af kom. Anders beteken die woorde “goed” en “sleg” myns insiens niks.

    Jou mees waardevolle bydrae, vir my, is die voorstel dat goed en sleg dalk kan kom van die rasionele besef dat jy deel van alles is. Maar in daardie geval sal jy ook, rasioneel, moet bevoordeel waaraan jy meer deel het (jou familie, jou dorp se mense, jou generasie) en minder omgee vir regverdigheid teenoor almal van wie jy verder staan (nie-familie, buitelanders, of die aarde bewaar vir die nageslag).

  3. Daar is niks goed aan godsdiens.Te veel moreel-etiese konflik is vervat in geloof. As jy god self beoordeel aan die 10 gebooie-sou nie eers god die toets slaag.

  4. Costello
    As jy noem daar is niks goed aan godsdiens, definieer asseblief vir my wat jy verstaan met “goed.” Is die mens vir jou die hoogste beoordelaar van wat goed is? In daardie geval het ek reeds in my draad geantwoord waarom jy geen waarde aan die woord goed kan heg nie. Want dan is mense wat anders as jy dink se mening oor goed en kwaad ewe waardevol as joune!

    God beoordeel aan die 10 gebooie? Hoe kan God beoordeel word op “jy moet jou Vader en Moeder eer?” Hy het nie ouers nie! God beoordeel op “jy mag nie steel/ jou naaste se eiendom begeer” nie? Hoe kan die eienaar van die hele skepping iets vat/ begeer wat nie syne is nie? Dalk dink jy aan moord pleeg. Dit antwoord ek hier: http://christianrethinker.wordpress.com/wp-admin/post.php?action=edit&post=40

    Maar as jy probeer redeneer dat God verkeerd doen deur mense dood te maak (vir wie hy kan verantwoordelikheid vat in ‘n volgende lewe), dan moet ek jou herinner dat, as reg en verkeerd vir jou van mense se opinies afhanklik is, kan iemand anders net sowel die teenoorgestelde as jy voel. Wat maak jou mening van reg en verkeerd beter as ‘n psigopaat s’n? Julle is dan altwee mense?

  5. Ek sal darem ook nie onomwonde verklaar dat daar niks goeds aan gosdiens is nie.

  6. Ek weet jy sal nie.

  7. Terloops, beskou jy spiritualiteit as ‘n ‘godsbesef’?

  8. Nee, nie noodwendig nie, Emil. Jy lyk bv. vir my na ‘n baie spirituele mens.

  9. En jy beskou jou bybel as ‘n goeie maatstaf vir moraliteit?

    So volgens jou kan ek my kind doodmaak as hy ongehoorsaam is asook mense wat op die sabbat werk?

    Jy probeer verkragting in ‘n evolusie-sense goedpraat maar jou EIE BYBEL stel dat Lot sy dogters uitgee vir verkragting? God wat vir mense beveel om die vrouens van ‘n vyand vir hulle self te neem?

  10. Dis duidelik, aan jou vrae, dat jy hierdie blog nog nie gelees het nie. Die verse oor rebelse kinders (kinders soos in nasate van ouers, nie soos in minderjariges nie), en oor mense wat werk op die Sabbat word wel hier beantwoord. Wat jy op ateïstiese webblaaie lees, is gruwelike verdraaiings deur God-haters- nie wat werklik in die Bybel staan in konteks nie.
    Oor Lot- as die Bybel iets noem, beteken dit nie dat die Bybel dit goedkeur nie. En wat jou ander vers betref – jy is weereens besig om te verdraai. Om iemand in jou volk op te neem is nie verkragting nie, sies vir jou vuil gedagtes!
    Maar eintlik is daai dinge, of jy nou reg of verkeerd daaroor is, alles van die onderwerp af. Punt is, jy kan nie daai dinge moreel veroordeel as jy nie ‘n definisie vir goed en sleg kan gee waarby ander moet inval nie. En dis die punt van die artikel.

  11. Ferdie Devenier

    Retha
    Tien uit tien vir jou puik opsommings en waardestelsel. Ek aanvaar die Bybel as die enigste gesag vir hierdie lewe en hierna. 2 Tim 3:15-17
    Ferdie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s