Afsonderlike kinderdienste? Ja of nee?

‘n Predikant vra my eenkeer, omdat ek opleiding in jeugwerk het, of ek dink dat gemeentes ‘n aparte kinderdiens moet hou, of glo ek kinders en grootmense hoort saam in die kerk.

Uhm, sê ek toe. Ek dink dis nodig om om eers seker te maak wat bedoel word met “kinders en volwassenes saam in die kerk.” Dalk moet ons onderskei tussen 3 dinge:

[a] is ‘n aparte kinderdiens en aparte volwasse erediens.

[b] is ‘n volwasse erediens waar die kinders in die gemeente ook maar moet insit omdat hulle nie ‘n keuse het nie, maar waar die meerderheid van hulle niks leer nie. (Ek weet ek het tot so st. 5 of 6 orrelpype getel en gedagdroom in die kerk, want ek was in sulke gemeentes.)

[c] is wat die kerk bedoel as hulle van gesinsbediening praat: ‘n Diens waar die predikant sy tema verstaanbaar wil maak vir groot en klein, reg van die begin af daaraan dink dat daar kinder (en tieners) in die kerk is wat ook die erediens moet verstaan, en toepassings gee vir almal. Liedere word gekies dat dit singbaar en relatief eenvoudig om te verstaan is, ens.

Daar is geen twyfel by my dat opsie [a] of [c] ‘n honderd keer beter kans het om die kind te laat word wie God wil hê hy moet wees as opsie [b] nie. (Tussen opsie [a] en [c] kan mens nog gesels oor wat die beste is.) Daar is ook beslis predikante wat sê: “Ons gemeente het nie aparte kinderdienste nie. Hier bedien ons groot en klein saam” terwyl hulle opsie [b] gebruik en nie ‘n oomblik dink aan die kinders in die gemeente nie.

Die kind in die gemeente is minstens net so belangrik as die volwassenne vir God. Die kerk wat sy kleintjies minag -nie belangrik genoeg ag om erns mee te maak nie – staan skuldig voor God.

Hoe leer ‘n predikant die beste om kinders en volwassenes sáám suksesvol te bedien? My vermoede is as volg, maar daar sal uitsonderings op hierdie reël wees: Deur eers te leer om met kinders apart te gesels en te werk sodat hy hulle behoeftes ken. Deur terselfdetyd te leer om met volwassenes apart te gesels en te werk sodat hy hulle behoeftes ken. Dan moet hy daardie kennis saamvoeg om hulle saam te bedien. As ‘n gemeente dan nét in gesamentlike bediening glo, waar sal die predikant met kinders leer werk?

Die samelewing is werklik verdeeld tussen generasies deesdae: Ons driejariges is saam met ander driejariges in dagsorgsentrums. Ons tieners is in klasse saam met ander tieners, en na skool by sport of kulturele groepe van tieners wat nie net in omtrent dieselfde ouderdomsgroep is nie, maar ook dieselfde belangstelling(rugby of drama of wat ookal) het. Ons bejaardes is saam in aftree- oorde, ens. Teen die tyd wat gesinne saam tuis kom is almal dikwels te moeg vir ware samesyn. Die kind en jongmens soek dan sy samesyn (nog meer) by sy portuurgroep. Om daardie rede sal die kerk die samelewing ‘n fantastiese diens bewys as hy dit kan regkry om gesinne één te maak in die geloof deur hulle saam te bedien, en met mekaar oor God te laat praat. Om dieselfde rede is dit werklik moeilik om almal suksesvol so te bedien, en is so ‘n situasie vreemd vir ons jong mense.

Dit was gedagtes, hier is ‘n vraag: Ek het al gehoor van kinders van kerklose of kerklos ouers wat die kerk so geniet dat hulle op die ou end hulle ouers ook oortuig om kerk toe te kom! Dit het ek nog altyd net van gelees in gevalle waar die gemeente ‘n sterk aparte kinderkerk het, Gebeur dit ook in gesinsgerigte gemeentes? Sal ‘n kind wat sonder sy ouers ‘n gesinsgerigte erediens bywoon nie dalk “uit” voel en nie terugkom nie?

Dit wil vir my voorkom of ‘n kind albei nodig het: Deel wees van die gemeente (en dit sluit saam gesels en saam dien ook in, nie net saam luister na ‘n predikant nie), en om op sy eie vlak bedien te word.

‘n Sinvolle gemeentebediening teenoor kinders sal myns insiens aparte en gesamentlike aspekte bevat:

Aparte lering (Sondagskool) wat apart op ‘n kind se vlak, en apart op ‘n tiener se vlak, hom ‘n basiese geloofskennis gee.

Gesamentlike en aparte aanspreek van die kind se hart- sy liefde vir God, en sy wil om God te dien, en lofprysing. (Apart, omdat die Sondagskool nie net oor kopkennis mag gaan nie, en gesamentlik, want die gemeentekinders moet darem weet die grootmense het ook God lief.)

Gesamentlike diens-geleenthede. (‘n Kind kan bv. ewe maklik as ‘n volwassene kollekte opneem, en tieners is ewe in staat as grootmense om ‘n basaartafel te beman, en enige ouderdom lidmaat kan aan ‘n gemeente-konsert deelneem. En hierdie is net enkele werklik eenvoudige voorbeelde.)

My kort antwoord op die vraag heelbo aan hierdie artikel? Dominee/ Pastoor, sinvolle inter-generatiewe bediening is moeilik, maar hoogs aan te beveel. Dalk is die beste manier om dit aan te leer deur kinders sinvol te leer bedien-apart, en tieners sinvol te leer bedien-apart, en graatmense sinvol te leer bedien-apart. Maar moenie dink dat, net oor kinders saam met ouers in die kerk sit, jy met inter-generatiewe bediening besig is nie.

 gesin

5 responses to “Afsonderlike kinderdienste? Ja of nee?

  1. Ons kerk het al seker vir so 3 jaar ‘n kinderkerk en ek het nog net goeie terugvoer van dit gekry. My meneertjie word volgende jaar 2 en sal dan na die kleuterkerk toe gaan.

    Ek sit gewoonlik met hom in die moederskamer en dit is vir my so moeilik omdat mens nie regtig kan konsentreer op die preek nie. Vandag het ek hom vir die eerste keer in die kerk ingevat en ek was heel verbaas dat hy so stil gesit het. Miskien was dit maar omdat daar baie beweging was omdat dit ons Kers sangdiens was.

  2. In Kanada het die eredienste meeste van die tyd ‘n stadium waar die klein kinderjies onder ‘n sekere ouderdom na ‘n aparte lokaal gaan waar hulle besig gehou word. Partykeer word die kindertjies eers voorentoe geroep in die erediens om rondom die pastoor te gaan sit vir ‘n kinderstorie en ‘n kindergesang wat almal in die erediens saam sing en waarna die kindertjies dan uitgaan. Party kerke maak ook voorsiening vir ‘n babakamer waar die babas versorg word terwyl die ouers die erediens kan bywoon.

    Ek dink op die ou ent gaan dit oor wat prakties is. Dis nie ‘n kwessie van reg of verkeerd nie. As ‘n gesin so kerkdiens bywoon en dis baie ongerieflik sal hulle dalk nie weer soontoe wil kom nie. As daar voorsiening gemaak is om die kinders te akkommodeer sal mense meer geneig wees om weer na die kerk toe terug te kom.

  3. Ek pos oor hierdie onderwerp, omdat dit gaan oor meer as wat vir ouers/ die kerkraad gemaklik is. Alle mense, en dit sluit kinders in, het God nodig. En God wil hê alle mense, kinders ook, moet Hom dien en eer. Dis nie tot sy eer as kinders in die kerk sit, maar niks verstaan wat aangaan nie.

    Daar is iets soos ‘n verkeerde benadering tot kinderwerk: Die benadering dat laerskoolkinders of kleuters maar net “besig gehou” moet word, terwyl mens “regte geloofsake” met die ouers bespreek. Ongeag of die gemeente aparte dienste vir laerskoolkinders hou of nie, die waarheid is dat die kind baie belangrik vir God is, en dat God selfs wil hê grootmense in die kerk moet “verander en soos kinders word. (Wat, terloops, níé beteken hulle moet “glo sonder bevraagtekening” nie – kinders vra talle vrae.)

    Spurgeon het gesê: A child of 5, if properly instructed, can savingly believe and be regenerated as well as any adult.

    Tania Schultz, ‘n jeugwerker wat my gementor het, waag dit om van Spurgeun te verskil. Sy reken: An adult, if properly instructed, can savingly believe and be regenerated as well as any five-year-old child.

    (Terloops, hier is ‘n skakel na Tania se webblad vir kinderwerk-lesse. http://www.kidsxpress.org/ )

  4. Retha, ek stem saam met jou dat mens reeds op ‘n jong ouderdom kan begin om kinders te betrek en te leer van God. Dit is inderdaad sover ek weet wat gedoen word met die kinders wat oud genoeg is om te verstaan.

    Die opmerking wat ek gemaak het oor die ongerief is gebasseer op ‘n baie ernstige probleem wat hulle daar ondervind. Iemand vertel my dat as hulle die iets drasties doen nie gaan die kerke binne een generasie daar verdwyn. Ek glo nie regtig dat so iets sal gebeur nie, maar dit beteken nogtans dat die pastore moet aandag gee daaraan.

  5. Toemaar, FF, ek verstaan. My opmerking gaan daaroor dat almal dit moet verstaan.

    Ek glo daardie laaste paragraaf- die kerk is altyd een generasie van uitsterf af, sê iemand anders weer. Want as mens nie die volgende geslag kry om te glo nie, is ons die laaste Christen-generasie. (Die titel van ‘n Josh McDowell boek oor jeugwerk – en wat mens jongmense moet laat verstaan- is dan ook “The Last Christian Generation.”)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s