Jy het dalk al die beskuldiging teen die Christendom gehoor: “Dis gevaarlik om die Bybel letterlik op te neem, want netnou stenig jy jou rebelse kinders soos Deuteronomium sê.”
Maar wat presies sê die verse wat hier bespreek word? Deuteronomium 21:18-21 Wanneer ‘n man ‘n opstandige en ongehoorsame seun het, wat nie na sy pa en ma wil luister nie, selfs al straf hulle hom, moet hulle hom na die leiers van die stad toe vat… ‘n Vraat en ‘n suiplap… Dan moet al die mans van die stad hom met klippe doodgooi.
Eksodus 21:15 brei uit op die soort opstandigheid deur dit te beskryf as ‘n kind wat sy eie ouers slaan.
Die rebelse kinders is dus dronkaards, wat al vantevore deur hulle ouers reggehelp is, wat hulle eie ouers slaan (in hulle dronkenskap?). Ons praat nie hier van klein kindertjies wat teëpraat nie. Ons praat van jong lummels wat al moes werk, maar wat eerder dronk word en selfs na pogings om hom reg te help nie wil verander nie.
Val dit in dieselfde kategorie as hierdie storie, dan? Nee, want vir een ding het Ellen Pakkies self besluit om haar seun dood te maak. Wanneer iemand gestenig is in Ou Testamentiese Israel, het ‘n regbank besluit om hom te stenig.
En dit bring my by nog ‘n punt uit: Die persoon wat hierbo ‘n kandidaat vir steniging is, se dronkenskap en slanery moes bewys wees voor ‘n regbank. Die rebelse kind van hierdie verse is nie ‘n kleintjie wat teëpraat nie. Dis ‘n jong volwassene wat bewysbaar ‘n las vir die samelewing is.(1) Ellen Pakkies se seun is seker ‘n voorbeeld van die soort “kind” wat vir die (wetlik gevonnisde) doodstraf sou kwalifiseer in ‘n samelewing met daardie wette. En selfs as iemand vandag die Ou Testament sou letterlik opneem, buite konteks met die Nuwe Testament, sou hy nie daardie straf kon voorskryf as hy nie deel is van die wettige regbank nie.
Is daar enige ander insidente in die Bybel waar stout kinders doodgemaak word? Die voorval in 2 Konings 2:23-24 lyk na een:
Elisa is daarvandaan op pad na Bet-El toe. Terwyl hy op pad was daarnatoe, het ‘n klomp klein seuntjies uit die stad gekom en hom gespot: “Hoër op, kaalkop! Hoër op, kaalkop! Hy het omgedraai, hulle aangekyk en hulle vervloek in die naam van die Here. Twee bere het uit die bos gekom en 42 van die kinders verskeur.”
Kom ons kyk wat hier aangaan:
Daar word twee Hebreeuse woorde gebruik vir die “seuntjies” in hierdie vers. Nie een van hulle is ‘n spesifieke woord net vir klein kindertjies nie. Een van die twee woorde beteken altyd mense tussen 12 en 30, elke plek waar hy in die Bybel gebruik word. Dit beskryf bv. weermagmanne in 1 Konings 20:14-15. Die “vertaling” klein seuntjies” is dus nie ‘n goeie woordkeuse nie.
‘n Groep van minstens 42 tieners/ jong mans het op Elisa begin skel. Wat beteken hulle skelwoorde?
“Hoër op” word op twee maniere deur skoliere verstaan. Party dink dis ‘n verwysing na Elia, wat kort voor dit in die hemel opgeneem is in ‘n vuurwa. Volgens hulle het hierdie jongmense geterg dat hulle nie iemand soos Elisa op die aarde soek nie, hulle wou hom dood hê. Ander wys daarop dat Jerigo , waarvandaan hy op reis was, vêr onder seespieël en Bet-El vêr bo seespieël is. Hulle sê dus hy moet aangaan op sy pad en vêr weggaan. Die boodskap is in elk geval duidelik: “Ons soek nie ‘n profeet van God nie! Ons wil nie God se verteenwoordiger hier hê nie!” (2)
En die kaalkop-deel? Elisa was nie bles van ouderdom nie, hy het nog 60 jaar geleef na die voorval. Party vertolkers wys daarop dat Joodse mans oor die algemeen hoed gedra het, en teoretiseer dat die bende nie sy kop kon sien nie en sommer net beledigend wou wees. (Of dalk al sy hoed afgestamp het?) Ander noem dat sy kop dalk geskeer was as simboliek vir treur oor Elia. Hulle spot volgens laasgenoemde met Elisa se hartseer oor die ander profeet.
Elisa, omring deur ‘n bende van 42 of meer tieners/ jong mans(3), vervloek hulle in God se naam. Nou ja, meer as 40 dreigende tieners wat jou dreig en doodwens kan maklik tot geweld oorgaan. (Was hulle nie dalk normaalweg ‘n gewelddadige bende nie?) Is dit ydel om iemand te vervloek oor hulle jou sopas persoonlik beledig het? Dit sou seker wees, maar dis nie wat hier gebeur het nie. Elisa vervloek in God se Naam, want die jong mans wou nie God verkondig hê in hulle gebied nie.
Kort daarna verskyn 2 bere op die toneel. Niemand sê Elisa het vir bere gevra nie. Die beer kry 42 van die bende beet. 42 mense word beseer of gedood.
Ofte wel, hierdie is ‘n verhaal van ‘n bende tieners, of dalk jong mans, wat gedreig het dat hulle nie God se boodskap in hulle omgewing soek nie. Waarskynlik het Elisa selfs vir sy veiligheid of lewe gevrees. Elisa vra God om die situasie te hanteer. Na daardie gebeurtenis, sonder dat Elisa dit so gelaat gebeur het, is minstens party van hulle beseer of dood.
As mens die Bybel sinvol wil benader, moet jy leer om te kyk wat die Bybel self sê. As iemand die Bybel kritiseer, vra hom om teksverwysings te gee. Dan lees jy ten minste die verse wat hy jou gee. (Dit op sigself wys dat Deuteronomium se steniging-verse van dronkaards praat en nie klein kindertjies nie.) As dit nog nie die probleem oplos nie, soek rond vir antwoorde. Selfs Google kan jou deesdae help om verklarings vir “probleme” soos Deut 21:18-21 of 2 Kon 2:23-24 te kry. Wie soek, sal vind. En wie rede soek om die Woord van God af te kraak, sal ook vind.
————————–
(1) Die regstelsel in daardie land het vir bewyse gevra voordat hulle iemand sou stenig. Hulle wou die eenparige getuienis van minstens 2 of 3 getuies hê, volgens Deut. 17:6 en ander verse.
(2) Reg voor hulle God se verteenwoordiger weggewens het, het hy- met samewerking van die inwoners- die watervoorraad in Jerigo gered. (:19-22) Mense daar weet dus wie Elisa is en vir Wie hy staan. Dan kan mens ook onthou dat party van die afgode wat daar gedien is tot mense-offers gevra het, en dat die bekeer vanaf afgode na Yahwe dus letterlik lewens sou red.
(3) In Engels sal seker na hulle verwys word as “a mob of hooligans.”
—————————————–
Naskrif: Niemand het nog kritiek gelewer op my Deuteronomium 21:18-21verklaring nie, maar party mense het my 2 Konings 2:23-24 verklaring “subjektief” genoem. Hulle kon egter nie met ‘n meer objektiewe verklaring vorendag kom nie.
Die feite van die saak is: Die stuk gebruik 2 woorde vir die jong mense hier. Een van hulle beteken mense tussen 12 en 30 wanneer ‘n ouderdom daarby genoem word in die OT. Die ander is ook ‘n nie-spesifieke terms vir jong mense of kinders, wat nie noodwendig kleintjies bedoel nie. Ek het die kommentaar van verskeie mense wat Hebreeus ken opgesoek – en almal verklaar dat die vertaling “seuntjies” waarskynlik verkeerd is. Hulle almal glo ook dat die groep Elisa doelbewus, wetend waarvoor hy staan, weggejaag het. Om daardie verse te interpreteer asof 42 mense – kindertjies boonop – dood is oor hulle iemand se kaal kop bespot het, is nie net subjektief nie, maar onwaar.
Mense wat twyfel of hierdie ‘n algemene of unieke interpretasie is, kan hier, hier, hier, hier, en hier gaan kyk. Ek is só seker dat hierdie interpretasie nie seldsaam is nie, dat ek selfs aanbeveel- en dit staan so in die stuk hierbo – dat mense met behulp van Google kan uitvind hoe Bybelskoliere die stuk vertolk.