Waar en wanneer jy gebore is bepaal wat jy glo?

Ek het onlangs weer iets gelees wat ek al talle kere by ongelowiges gehoor het:
     “wat jy glo is geheel en al verbonde aan geografie, waar en wanneer jy gebore is  bepaal  wat jy glo.”

Glo mense daardie stelling, sonder bevraagtekening, oor waar en wanneer hulle gebore is? Of glo hulle dit uit persoonlike oortuiging? Moet mens regtig niemand in bv. die Afrikaanse blogosfeer enige krediet gee dat hulle uit verskillende moontlike opinies gekies het wat vir hulle die waarste lyk nie? Is al ons bloggers se opinies oor godsdiens, politiek, of ons medemens en samelewing bloot die gevolg van ons grootwordjare? En blog ons almal maar met geen hoop om iemand (gedeeltelik) na ons wêreldbeeld oor te haal nie, want hulle is elders gebore?

“Waar en wanneer iemand gebore is bepaal wat hy glo?” Hoe waar is dit? Ken jy enige jongmens wat nie die kerk hoog aanslaan nie, ondanks die feit dat sy ma diep betrokke is by haar kerk? Ken jy enige broers/ susters wat nie ewe gelowig is nie? Weet jy van enige ongelowige wat uit ‘n godsdienstige huis kom? Het jy al mense ontmoet wat beweer dat hulle tot bekering gekom het- m.a.w. begin het om anders te glo? Hoekom is daar talle Hollywood-sterre wat Kaballa aanhang, al het hulle ouers nie dit geglo nie? En talle ander Hollywood-sterre wat dit nie aanhang nie?

Wat mens glo het natuurlik nie net te doen met godsdiens nie. Jy mag dalk glo dat jou span ‘n goeie kans het om die Curriebeker te wen. (Iemand anders wat geografies naby jou gebore is ondersteun dieselfde span, maar glo nie noodwendig hulle gaan wen nie.) Jy kan glo dat kommunisme ‘n slegte/ goeie idee is. Jy kan glo dat ons land beter/ slegter daar sal uitsien oor 10 jaar. Jy kan glo dat rare vleis lekkerder as well done is, of dat iemand verlief is op jou, of dat jy ‘n goeie kans staan op bevordering. Glo jy hierdie dinge op grond van geografie? Ek dink nie so nie.

Selfs in lande wat hulself as 98% of 100% Moslem aandui, glo almal seker nie dieselfde nie. Party glo, ander gaan waarskynlik deur die motions wat by hulle kultuur inpas. En in enige kultuur waar ‘n nuwe geloof verkondig word (of dit nou New Age; of Christen-bekering; of die geloof dat daar g’n God bestaan nie is) is daar gewoonlik mense wat hulle geloof verander om by die “nuwe” idee in te pas. Hulle kies dus iets wat nie is hoe hulle gebore is of van kleins af geleer het nie.

Ek self het nie die soort geloof waarin ek groot geword het nie. My geloof het al ‘n paar keer verander: Van die soort moraliteit-gesentreerde geloof van my kleintyd wat sonder bevraagtekening aangehang is, tot agnostisisme teen ouderdom 10, tot ‘n Jesus/ wedergeboorte gesentreerde, maar ondeurdagte geloof, wat ontwikkel het na ‘n Jesus/ wedergeboorte gesentreerde geloof wat van talle kante deurdink en bevraagteken is.

Gevolgtrekking: As almal in elk geval geglo het wat hulle gebore is om te glo, sou dit sinloos om te vra dat iemand van opinie moet verander. Maar die mens is ‘n denkende wese. Hy kan self besluit, uit alle opsies wat voor hom neergesit word, wat die waarste lyk. Ek was al ‘n agnostikus, ek was voor dit ‘n wie-reg-leef-is-‘n-Christen gelowige, maar ek weet nou meer. Maar jy kan dalk anders dink. Miskien reken jy (a.g.v. waar en wanneer jy gebore is), dat ek bloot gebore is om te stry met bogenoemde idee.

9 responses to “Waar en wanneer jy gebore is bepaal wat jy glo?

  1. Ek stem grotendeels saam met paragraaf 4, maar ek wonder nogal of ‘n mens nie dalk ook moet vra wat dit wat jy nie glo nie te doen het met waar jy grootword.

  2. Johan, dit klink vir my of wat ‘n mens nie glo nie ewe veel (ewe min) verband met geografie sal hê as wat ‘n mens glo.
    ‘n Voorbeeld: Veronderstel dat waar en wanneer jy gebore is wel bepaal wat jy glo, en veronderstel dat almal wat in Nigel gebore is in die 1980’s glo dat well done vleis lekkerder as rare is. Dit sou ook beteken dat wie in Nigel gebore is in die 1980’s nie glo dat rare vleis lekkerder as well done is nie.

    Ek is natuurlik onder die indruk dat waar en wanneer jy gebore is net twee van die faktore is wat beinvloed wat jy glo en nie glo nie. Ek gaan nie iemand se geloof/ ongeloof (in wat ookal) bloot blameer op waar hy of sy gebore is nie.

    Terloops, daar is mense wat ateïsme met hoe mens grootword verbind. Hulle sê dat feitlik alle bekende, uitgesproke ateïste nie pa’s gehad het nie/ ‘n bitter slegte verhouding met hulle pa’s gehad het. Ek vermoed dis soms ‘n bydraende faktor, maar ek gaan niemand se geloof/ ongeloof (in wat ookal) net op sy herkoms blameer nie.

  3. Ek is ‘n bietjie ongemaklik met daai laaste stelling van jou. Ek het ‘n baie goeie vriend wat ‘n ateis is en ‘n baie goeie verhouding met beide sy ma en sy pa het.

  4. Ek is grootgemaak in die NG kerk- met goed gelowige christen ouers, met wie ek baie ‘n goeie verhouding het…..en toe het begin lees …..en dink… Dalk het party mense die “mooi storie” nodig (Soos in the Life of Pi), maar dit het niks met die “waarheid” te doen nie.

  5. Ek stem, Duusman. Mens moenie goed glo oor dit mooi stories is nie, mens moet goed glo oor dit waar is.

    (Die man wat in die Guinness Book of Records gelys word as die suksesvolste prokureur- Lionell Luckoo – het acquittals in 245 moordsake in ‘n ry gekry. Hy weet dus alles van getuienis betwyfel, maar Luckoo reken daar is geen ruimte om die opstanding van Jesus te betwyfel nie.)

    Johan, ek het self nie gesê dis waar van alle ateïste nie.

  6. Ek het nie gesê jy het nie. Maar hoekom dit hoegenaamd sê?

  7. Ek het dit genoem, want dis glo waar van die meerderheid bekende, uitgesproke ateiste. Die meerderheid is nie almal nie, nes dit waar is dat rook sleg is vir mens gesondheid, maar daar is nie-rokers wat vroeg sterf en rokers wat lank leef.

  8. Ja, maar dis ook waar dat ek ‘n tydjie terug gelede via spitsverkeer teruggekom het van die werk af. Wat daarvan?😉

  9. Een probleem hier is egter die invloed van geloof en hoe dit ondersteun word as deel van ‘n sosialiseer middel. Die ondersteuning van ‘n span, in sekere gesinne ook nie geloof nie, maar meestal wel.

    As rugby vir jou pa ‘n ernstige ding is en jy julle huis is vol blou bul truie en al jou pa en jou vriende ondersteun dieselfde span word jy gesosialiseer om deel te wees van die groep. Dit kan selfs ‘fondamenteel’ word soos geloof, bv sokker hooligans.

    Ek ken geen persoon in my familie wat ‘n Muslim is nie, en die waarskynlikheid dat een binnekort een gaan word is uiters skraal, tensy iemand met ‘n Muslim trou. Dit gaan dis nie net oor geografiese ligging nie, maar die demografie van primere sosialiseer bronne, soos jou ouers, jou skool, jou vriende en jou gemeenskap.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s