Moraliteit = moet niks doen wat ander mense seermaak nie?

Daar is mense wat beweer dat moraliteit opgesom kan word as “moet nie ander mense seermaak met wat jy doen nie.” Maar som dit werklik moraliteit op? Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:

Jy leen R500 aan ‘n arm mens. Maande later begin jy aandring op terugbetaling. Iemand anders steel R200 uit daardie selfde arm mens se beursie, dieselfde week wat jy vra vir tergbetaling. Wie het daardie arme die seerste gemaak daardie week? Argumenteerbaar jy, wat R500 terug geeis het. Is jy dan minder moreel as die dief?
Iemand kom, met ‘n swaar trollie, 1 sekond voor jou by die supermarktou aan. Jy is haastig en wil net 5 items koop. Sy wil nie jou voor haar laat gaan nie. Of andersins: Iemand kom, met ‘n swaar trollie, 1 sekond na jou by die supermarktou aan. Jy is haastig en wil net 5 items koop. Sy druk voor jou in met haar trollie. Is albei gevalle ewe immoreel, want albei maak ‘n haastige persoon ewe seer?

Doen iemand jou leed aan as hulle jou tweede kar steel? Of doen jy iemand leed aan deur ‘n tweede kar vir jouself te koop, eerder as ‘n eerste kar vir iemand anders?

Dis hoofsaaklik ongelowiges wat dink moraliteit gaan oor “moet niemand seermaak nie.” Maar maak hulle verkleinering van geloof nie soms gelowiges “seer” nie? Indien wel, is hulle mos immoreel volgens hulle eie standaard?

Daar is ‘n tweede waarneming wat ek oor hierdie gedagte wil maak: “Moet niks doen wat ander seermaak nie” is ‘n afgewaterde moraliteit, omdat dit ‘n lui moraliteit is. Dit vertel niks wat mens móét doen nie, net wat mens níé mag doen nie. Veronderstel jy wil jou morele waardes op skade en leed aandoen, en sy teenoorgestelde, heelmaak en goed doen, grond. Selfs dan is “geen skade” ‘n nul vir die toets. As jy geen verkeerde antwoord by ‘n eksamen ingevul het nie, beteken dit nie jy het volpunte nie. Dit kan bloot beteken dat jy nog nie begin skryf het nie.

As jy jou moraliteit op leed aandoen/ goed aandoen wil grond, vra ek nederig dat jy jou punte-skaal só maak:

Iemand heelwat pyn en leed aandoen: -10

Niks goed of kwaad vir jou medemens aandoen nie: 0

Iemand besonder baie help, sy lewe verryk en genesing bring vir leed voorheen aan hom/ haar gedoen: +10

Nie só nie:

Iemand heelwat pyn en leed aandoen: -10

Niks goed of kwaad vir jou medemens aandoen nie: +10

Ek vermoed daar is meer aan moraliteit as leed aandoen/ goed doen. Nogtans stel ek voor dat mense wat anders dink in elk geval konsentreer op pro-aktief goed doen, nie net op “moenie seermaak nie.”

—-

Naskrif: Daar is mense wat sê mense gebruik 5 standaarde, eerder as 1 standaard, vir moraliteit: Authority, community, harm, fairness en purity. Mense heg nie ewe veel waarde aan al 5 nie.

9 responses to “Moraliteit = moet niks doen wat ander mense seermaak nie?

  1. Ja, maar trollies en geldleen is kwalik verskeur deur ‘n beer, nie waar nie?

  2. Jou voorbeelde is veel meer voorbeelde van “Etiek”, wat opsigself ‘n (klein)onderafdeling van “Moraliteit” is.- jou voorbeelde buitendien nie goed deurdenkte voorbeelde, om etiese dilemmas te illustreer nie bv… “Of doen jy iemand leed aan deur ‘n tweede kar vir jouself te koop, eerder as ‘n eerste kar vir iemand anders?”

  3. Duusman het gesê: Jou voorbeelde is veel meer voorbeelde van “Etiek”, wat opsigself ‘n (klein)onderafdeling van “Moraliteit” is.-
    Retha sê: En as dit is, wat daarvan? As die skade-beginsel dan nie werk om etiek te verduidelik nie, dan werk die skade-beginsel mos vir minstens een afdeling van moraliteit nie.

    Duusman het gesê: jou voorbeelde buitendien nie goed deurdenkte voorbeelde, om etiese dilemmas te illustreer nie bv… “Of doen jy iemand leed aan deur ‘n tweede kar vir jouself te koop, eerder as ‘n eerste kar vir iemand anders?”
    Retha sê: As my pos nie goed deurdinkte voorbeelde van etiese dilemmas is nie, gaan my pos seker nie oor etiese dilemmas nie? Maak seker jy verstaan wat jy lees, voordat jy daarop kommentaar lewer. En in hierdie geval het jy nogal ‘n goeie hulpmiddel byderhand: Jy kan die skrywer van hierdie pos vra: “Verstaan ek jou reg as dit vir my lyk of …..”

    (Terloops, Duusman, het jy geweet dat ‘n wise guy en ‘n wise man teenoorgesteldes is?)

  4. Johan, beperk asb. jou kommentaar oor Elisa tot die betrokke draad.
    Maar ek stem saam dat dit verskillend is: As jy indruk in ‘n tou/ jou plek hou in ‘n tou/ geld steel/ geld terugvra wat jy geleen het, dink jy net aan jouself. God het heel moontlik aan die hele samelewing se belange gedink toe Hy daardie bende laat seerkry het. Reg oor die hele Bybelboek 2 Konings, waarin daardie storie vertel word, is talle mooi voorbeelde van hoe God mense help!

  5. Etiek is die sistematiese studie van moraliteit. Moraliteit is ‘n “code of conduct,” of die ideale manier van optrede. Etiek spreek die “goeie lewe” aan, wat dit beteken om ‘n betekenisvolle lewe te lei.

    moet nie ander mense seermaak met wat jy doen nie is dus wel ook ‘n morele waarde, maar moraliteit is dit uitsluitlik nie. Dit kan wel vir baie hul vorm van moraliteit wees, net soos Christelike moraliteit kan. In “doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê” en “jou naaste soos jouself” sien ek nie hoe hierdie moraliteit noodwendig verskil met moet nie ander mense seermaak met wat jy doen nie.

    Groete uit Doha.

  6. AAA, Retha!
    Uitstekende redenasie van jou – mense is geneig om werklik lui te wees om iets daadwerkliks goed te doen. Dit is tog soveel makliker om te praat. Morele waardes en etiese beginsels bestaan blykbaar net onder ongeveer 5% van die mensdom nog – volgens ‘n studie wat by RAU gedoen is ongeveer 5 jaar gelede.
    Vir my gaan dit oor eerlikheid, empatie, deernis en respek teenoor jou medemens.
    So, jou een vraag van “maak hulle gelowiges seer?” Sal my antwoord wees “Absoluut ja”, maar ek verstaan “from where it comes”
    Is hulle disrespekvol? Sommiges beslis! Ten minste is hulle eerlik…hmmm, behalwe vir empatie en deernis natuurlik. Ek vind nogal baie ongelowiges sukkel met daardie konsep.

  7. Dankie, Sammi. (Jy weet, elke keer as jy kommentaar lewer op wat ek sê, is dit dat jy saamstem of dat jy hou van wat ek sê. Mense gaan begin dink ons is dieselfde mens!)
    Jy het gesê: “Morele waardes en etiese beginsels bestaan blykbaar net onder ongeveer 5% van die mensdom nog – volgens ‘n studie wat by RAU gedoen is ongeveer 5 jaar gelede.”

    Dis baie interessant, wat presies bedoel hulle daarmee? Watter soort beginsels? En hoe het hulle getoets?

  8. Baie van jou inskrywings is vir my vanselfsprekend, maar ek lees en absorbeer eerder as om deel te neem vir die sommer. How can I differ when it feels right?

    Ek kan nie detail oor die studie gee nie, behalwe dat grootseun en ek ‘n lang gesprek gehad het tydens sy finale jaar oor hierdie studie. Sy reaksie, en uiteraard myne, was ongeloof, maar ons beide het soos die jare aangegaan het, dit opgelet. Kyk maar net om ons en dit word benadruk. Ek onthou dit was oor morele waardes en etiese beginsels soos geskoei op die begrip van ordentlike menswees, onder andere vertroue, eerlikheid, empatie, respek.
    As dit vir jou belangrik is, sal ek hom kontak en vra wie die prof was.

  9. Toemaar, Sammi. Dis nie belangrik nie. Ek was maar net geïntresseerd.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s