Monthly Archives: September 2009

Skepties SA, ons kinders verdien beter

Skepties SA, soos koerantlesers of selfs lesers van hierdie blog reeds weet, wil ‘n hofsaak maak om godsdiens in skole te beperk.

Een van die kommentare hier oor die saak was van ‘n blogger genaamd Skoor:

Ek vertrou dat die George Claassen en die res van die heksejagters sal kry wat hulle toekom. Om spesifieke skole uit te sonder en te teiken, gaan my verstand te bowe. Ek kan horror verhale neerskryf oor hoe dit in skole in die land gaan. Van hoenderpote wat in ‘n groot kastrol kook in personeelkamers, en waar GEEN klasgee plaasvind tot na eerstepouse, wanneer die onderwysers hulle pote klaar geeet het, tot viktimisering van onderwysers en vandalisme. En dan mors hulle tyd op sulke twak!

Ja, ons land het talle swak skole met totaal ongemotiveerde onderwysers, soos Skoor uitwys. Ek kan my kop op ‘n blok sit die skole wat Claassen by die naam noem en wou vervolg, is van die beter akademiese skole in sy gebied. Wat Skepties SA beoog, is eintlik om goeie skole af te trek na die vlak van skole waar niks onderrig voor eerste pouse plaasvind nie- en Skepties SA verstaan dit nie. Hulle verstaan dit nie, want hulle kan nie skepties kyk na hulself, na menslike natuur, of die resultate van godsdiens uit skole haal elders in die wêreld nie.

 Skepties SA besef nie, vir een ding, dat goeie skole juis skole is waar die ouers betrokke is, en kies wat hulle kinders leer en wie die onderwysers is nie. Die regering voel vere vir jou kind. Jy as ouer gee die meeste om. As Skepties SA wil hê die regering moet meer beheer neem oor wat kinders mag en nie mag leer nie, word ouerbetrokkenheid- wat baie goed vir skole is- afgewater. (Hans Pietersen en diesulkes is egter vanselfsprekend welkom om as ouers ook deel te neem aan besluite oor wat geleer word by hulle kinders se skole.)

Vir die soort onderwyseres wat vrywillig haar geloof met kinders deel, is onderwys ‘n missie wat sy doen om God te eer en kinders vir wie God lief is te help. Maar om haar te vra om nie God te deel met kinders nie, is om eintlik te vra dat sy haar missie op die agtergrond skuif. En om te dink dat ‘n onderwyser(es) wat se missie en visie op die agtergrond geskuif/ vergeet word, ‘n ewe goeie en toegewyde onderwyser sal bly op die lang termyn (net ene wat stilbly oor godsdiens) is naief. Om te glo alle jong SA-ners wat in God hulle motivering vind, kan maar ander beroepe as onderwys kies, en dat skole nie sal ly wanneer daardie soort innerlik gemotiveerders wegbly uit die onderwysberoep nie, is uiters kortsigtig.

Om dit eenvoudig te stel: Daar is ‘n minderheidsgroepie onderwysers wat gemotiveer word deur hulle geloof. Hulle sien hulle werk as ‘n missie en doen dit met ‘n visie. Selfs waar hulle in die minderheid is, trek dit ander onderwysers by hulle skool om ook goeie werk te lewer. Toegewyde onderwysers skep ‘n kultuur van toewyding. Hulle is die sout en die lig van die onderwysberoep. As jy die visie- en missie- onderwysers vra om stil te bly oor hulle geloof, is die kanse goed dat jy party van hulle sal demotiveer. Op die lang duur demotiveer jy ook diesulkes om onderwys as beroep te kies.

En ons kinders het elke gemotiveerde onderwyser nodig wat ons kan kry. In ‘n ander onlangse pos (nie oor godsdiens in skole nie) het ek juis ook gevra vir meer aansporings om onderwysers te motiveer, nie minder nie.

Ek hoop en bid regtig dat ons land nie die soort skole kry wat die Skepties SA mense verdien nie. Want ons kinders verdien beter…

Godsdiens in skole: Claassen gee saak aan Pietersen

Ek sien George Claassen het die saak van godsdiens in skole gelos, en aan Hans Pietersen oorgegee. Claassen beweer sy opponente is “onaanvaarbaar beledigend en lasterlik.” Nou ja, niks wat ek in die media teëgekom of gehoor het kom neer op lasterlike aanvalle of selfs persoonlike beledigings teen Claassen nie. (In elk geval het ek al biografieë gelees van martelare vir geloof soos Richard Wurmbrand, Brother Yun, en Roger Youderian- hulle. Daardie mense laat “martelare” soos Claassen wat “belaster” en “persoonlik aangeval word” vir hulle aksies teen geloof maar taamlik on-indrukwekkend klink.)

Vermoedelik het Claassen om ander redes die saak in iemand anders se hande gelos. Sluit daardie redes dalk die volgende redes in:

* Dat hy weet party van sy bewerings teenoor skole in sy omgewing heeltemal onwaar was? Met ‘n nuwe man aan die stuur kan hulle voortgaan sonder daardie leuens en sonder dat hy verskoning hoef te vra daarvoor? Pietersen gaan nie uitgedaag word op wat Claassen gesë het nie.

* Dat hy bang is die hof vra hom hierdie blog se vraag: Deel hy sy opinie oor geloof in (tersiëre) klaskamers? (Pietersen gee heel waarskynlik nie enige soort onderwys nie, en die vraag hoef dan nie vir hom gevra word nie.)

* Dat hy reeds weet minder gaan met die saak bereik word as wat hy sou wou? Hy het ‘n week gelede gepraat van kriminele vervolging van skole, en Hans Pietersen praat nou bloot van duidelikheid kry oor wat presies toelaatbaar is.

(Pietersen sê hy voel “soos Dawid teen Goliat.” Nee, Hans, dink weer. Dawid se gevoel in die Goliat-saak was sterk daarop gegrond dat hy geglo het God is aan sy kant. – Lees 1 Sameul 17, veral vers 45. En Hans – ek hoop en bid regtig jy kan eendag soos Dawid voel!)

Ek hoop dat wat die hof ook al besluit, dat daar pertinent gesê word dat dit ook vir ateïste en Claassens-tipe “skeptici” tel wat leerders wil indoktrineer. Indien daar bv. besluit word: Godsdiens opinies mag net met kinders gedeel word as die ouer/ voog van die kind dit skriftelik goedkeur” dan moet dit ook vir iemand soos Claassen geld. Dan moet opinies soos Claassen s’n net op universiteit verkondig word, reken ek, waar die beurs-betalers/ studielening-borg dit goedkeur.

—————–

Naskrif: Christene, sit hierdie hofsaak hoog op julle gebedslysie. Want, soos pous Pius XI gesê het: “since education consists essentially in preparing man for what he must be and for what he must do here below, in order to attain the sublime end for which he was created, it is clear that there can be no true education which is not wholly directed to man’s last end.” Sit dit op julle gebedslysie, want kinders het God nodig. Sit dit op julle gebedslysie, want ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. Sit dit op julle gebedslysie, want God hoor. Sit dit op julle gebedslysie, want neutraliteit oor aanbidding is ‘n mite- waar God nie in die skole aanbid word nie sal iets of iemand anders aanbid word- soos hierdie Noord Koreaanse Amerikaanse video van Kim Jong Il Obama wys.

George kla!(sen)

George Claassen van Skepties SA wil glo skole wat gebed en Bybel lees in klastyd toelaat strafregtelik vervolg. Volgens hom luister sulke skole nie na die nasionale beleid oor godsdiens in skole nie.

Die skole wat hy by die naam noem maak kapsie teen wat hy sê, en antwoord hom met:

“Die Grondwet sê jy kan nie godsdiens afdwing nie, maar jy kan ewe min die afwesigheid van godsdiens afdwing,” Enige beleid oor dié kwessie is ondergeskik aan die Grondwet se beskerming van godsdiensvryheid.- prof. Rassie Malherbe, grondwetkenner aan die Universiteit van Johannesburg, wat al artikels oor die grondwetlikheid van skolegodsdiens gepubliseer het.

Die staat moet ’n ruimte skep waar mense hul geloof vrylik kan beoefen. Dit sluit openbare skole in. – ook prof. Rassie Malherbe

Claassen beskuldig die skool verkeerdelik. Ons godsdiensbeleid “is nagesien en in orde bevind deur vooraanstaande kenners van die onderwysreg en konstitusionele reg. “Dit is bevestig deur die direkteur van onderwys in die Wynlandstreek en die twee kringbestuurders.”- Dr. Johan van der Merwe, voorsitter van die Laerskool Stellenbosch se beheerliggaam

Deelname aan dié skool se godsdiensaktiwiteite is “absoluut vrywillig” – Mnr. Hawkie de Villiers, skoolhoofDie beskuldigings teen my skool is feitelik verkeerd. -. Mnr. Arrie Genis, skoolhoof van die Laerskool Louw Geldenhuys

“Ingevolge die raamwerk van die Grondwet kan ’n skool steeds ’n Christelike of ’n Moslemskool wees. Die Grondwet bepaal bloot jy kan nie meer alle leerlinge verplig om aan godsdiensaktiwiteite deel te neem of mense met ander menings uitsluit nie. Skole moet begrip en verdraagsaamheid kweek, eerder as om een siening rigied af te dwing.” – Jaco Deacon, nasionale bedryfshoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole

Dit wil voorkom dat Claassen se idee oor skolegodsdiens en die grondwet verkeerd is. Dit wil ook voorkom dat sy feite oor wat die skole doen verkeerd is, volgens Mnr. Arrie Genis. (Verder wil dit voorkom dat dit ‘n vendetta teen Christene spesifiek is – ek sien nie dat hy bv. een Moslem-skool insluit nie.)

Claassen sê:

“Skepties Suid-Afrika oorweeg dit om strafregtelike klagte teen skole aanhangig te maak tensy dié optrede dadelik gestaak word en skole begin om die nasionale beleid oor godsdiens in onderwys te gehoorsaam. Ons woon nie meer in Nazi-Duitsland of die apartheidstaat nie.”

Nee, George, ons bly nie in Nazi-Duitsland nie. Ons bly in ‘n demokrasie. En in ‘n demokrasie moet die gewone, belasting-betalende mens die reg hê om self te kies dat hy dit wat hy goed vind – soos sy geloof – ook met sy kinders wil gedeel hê. En evangeliese Christenskap is juis ook iets waarin mens nie ingedwing kan word nie, maar waarin mense- ook kinders -vryelik moet kies of hulle dit wil volg of nie. En ons demokrasie het vryheid van spraak ook. Dit geld sekerlik ook vir Christen-onderwysers?

Dan wil ek ‘n vraag vir George vra: As onderwysers nie in klastyd met leerders mag praat oor hulle geloofstandpunte nie, geld dit vir universiteitsprofessors wat in klastyd ateïsme verkondig ook? Sal George hulle ook wil strafregtelik laat vervolg?

En die punt hier? Die punt is dat ons gelowiges nugter en wakker moet wees. Ons moet ons regsgeleerdes vra om ons regte te verdedig, voor dit van ons weggeneem word. Voor ons soos kommunistiese China of Rusland word. Maar ons moet ook onthou ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, nie teen die George Claassens van hierdie wêreld nie. Ons moet onsself toerus om die stryd te stry teen die propaganda van ongelowiges, en teen die magte wat agter hulle sit. Ons moet ook ons kinders toerus om die waarheid te ken.

————————————-

Naskrif: Kan iemand vir ons bevestig dat George Claassen, ‘n professor in Stellenbosch,

a) Nooit sy standpunt oor godsdiens(hy is daarteen 🙂 ) in klastyd deel nie

OF dat hy

b) Wel sy standpunt oor godsdiens in klastyd deel?

Want dit wil vir my voorkom dat, indien hy wel sy standpunt oor godsdiens in klastyd deel, hy skynheilig is en net agter (sy verstaan van) “die grondwet” wegkruip. As hy egter volkome selfbeheersing toepas en nooit sy standpunt oor godsdiens deel waar mense wat dit nie wil hoor daaraan blootgestel sal wees nie, is hy bloot ‘n opregte ou wat die grondwet misverstaan

Gelyke geleenthede = ewe swak?

 
Nou wil die regering weer keer dat goeie onderwysers nie na skole in ryker gebiede gelok word met beter salarisse, aangevul deur gegoede ouers, nie. Die idee is só edel: “Arm kinders moet ook goeie onderwys hê.” “Onderwysers moet tevrede wees met wat hulle kry.”

Maar in die praktyk werk edel idees nie altyd nie. Bekwame onderwysers kan nog steeds oorsee hulle talente vir meer verkoop as hier, en dan het ons kinders – ryk en arm – minder onnies in die land. Of hulle kan die onderwys los vir iets meer winsgewend- en dan het ons weereens minder onnies. Onderwysers wat bekwaam kan wees as hulle hul beste gee, maar onbekwaam as hulle moed verloor (die meerderheid onderwysers) sal steeds moed verloor as daar nie aansporings (waarvan geld net een moontlike een is) is wat hulle motiveer nie. En bekwame jong mense sal, as hulle sien daar is geen verskil in die geldelike beloning vir ‘n goeie en swak onderwyser nie, minder geneig wees om onderwysers te word. Die ANC beplan nie hier om ryk en arm kinders almal goeie onderwysers te gee nie, dit is ‘n plan om ryk en arm van goeie onderwysers te ontneem.

 Is daar iets wat die ANC kan doen om beter onderwysers vir ryk en arm te gee? Ja! Begin om prestasie-gegronde bonusse vir onderwysers in te faseer.* Toets aan die einde van elke jaar waar ‘n student is met standaardtoetse, en betaal onderwysers volgens hoeveel die gemiddelde kind in sy klas in ‘n jaar se tyd gevorder het. Maak dit so dat ‘n goeie onderwyser (“goeie onderwyser” het niks met kwalifikasies te doen nie, wel met sy studente se vordering) meer uit bonusse verdien as uit sy basiese salaris. Baie gou sal meeste onderwysers goeie onderwysers wil wees, en meer bekwame, hardwerkende jongmense sal wil onderwys studeer. En voila, beter onderwysers vir ryk én arm!

 ANC, moenie die rykes keer om goeie onderwys te koop vir die kinders wat hulle liefhet nie. Wie is julle in elk geval om te wil hê dat alle goeie goed net van julle af moet kom? As julle die kinders van die land liefhet, “koop” liewer goeie onderwys vir hulle almal.

———–

* Ek besef dat dit die belastingbetaler is wat eintlik alle staatsdienswerkers betaal. Maar selfs hulle sal sekerlik eerder wil sien dat hulle geld aan eerlik berekende bonusse vir prestasie bestee word as aan salarisse vir niksdoeners?

 

Prys die Here- of die Rooi See diep is of nie

MosesEendag het ‘n middeljarige vrou ‘n nuwe werk gekry. Hierdie werk sou beteken dat sy elke oggend ‘n halfuur lank moet bus ry werk toe, en elke middag ‘n halfuur terug huis toe. Sy besluit toe om nie daardie uur elke dag te mors nie, en liewer die Bybel van voor tot agter deurgelees te kry. Sy lees nog so een oggend aan Eksodus, toe skree sy skielik: “Prys die Here!”

Die student langs haar hop omtrent in die lug van skrik. “Wat is dit nou, tannie,” vra hy.
“Ek het sopas gelees”, vertel sy, “dat God ‘n skare Israeliete droogvoets deur die Rooi See laat gaan het!”

“Ag, tannie” vertel die jong man “die Rooi See is plek-plek net kniediep. Dis nie so wonderlik as mense daar kan deur nie.”

“O,” antwoord die tannie. Sy gaan sit en lees haar Bybel verder. Nie lank nie, of sy skree weer: “Prys die Here!”

Die wysneus student langs haar hop weer van skrik. “Wat is dit hierdie keer, tannie,” sug hy.

“Ek het sopas gelees”, vertel sy, “dat God ‘n leërmag Egiptenare in kniediep water laat verdrink het!”

Ek skat die punt van die storie is dat jy jou deur die Bybelkundiges en teoloë moet laat leer soms, maar moenie dat hulle jou van jou sin van verwondering oor die God van die Bybel beroof nie…