George kla!(sen)

George Claassen van Skepties SA wil glo skole wat gebed en Bybel lees in klastyd toelaat strafregtelik vervolg. Volgens hom luister sulke skole nie na die nasionale beleid oor godsdiens in skole nie.

Die skole wat hy by die naam noem maak kapsie teen wat hy sê, en antwoord hom met:

“Die Grondwet sê jy kan nie godsdiens afdwing nie, maar jy kan ewe min die afwesigheid van godsdiens afdwing,” Enige beleid oor dié kwessie is ondergeskik aan die Grondwet se beskerming van godsdiensvryheid.- prof. Rassie Malherbe, grondwetkenner aan die Universiteit van Johannesburg, wat al artikels oor die grondwetlikheid van skolegodsdiens gepubliseer het.

Die staat moet ’n ruimte skep waar mense hul geloof vrylik kan beoefen. Dit sluit openbare skole in. – ook prof. Rassie Malherbe

Claassen beskuldig die skool verkeerdelik. Ons godsdiensbeleid “is nagesien en in orde bevind deur vooraanstaande kenners van die onderwysreg en konstitusionele reg. “Dit is bevestig deur die direkteur van onderwys in die Wynlandstreek en die twee kringbestuurders.”- Dr. Johan van der Merwe, voorsitter van die Laerskool Stellenbosch se beheerliggaam

Deelname aan dié skool se godsdiensaktiwiteite is “absoluut vrywillig” – Mnr. Hawkie de Villiers, skoolhoofDie beskuldigings teen my skool is feitelik verkeerd. -. Mnr. Arrie Genis, skoolhoof van die Laerskool Louw Geldenhuys

“Ingevolge die raamwerk van die Grondwet kan ’n skool steeds ’n Christelike of ’n Moslemskool wees. Die Grondwet bepaal bloot jy kan nie meer alle leerlinge verplig om aan godsdiensaktiwiteite deel te neem of mense met ander menings uitsluit nie. Skole moet begrip en verdraagsaamheid kweek, eerder as om een siening rigied af te dwing.” – Jaco Deacon, nasionale bedryfshoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole

Dit wil voorkom dat Claassen se idee oor skolegodsdiens en die grondwet verkeerd is. Dit wil ook voorkom dat sy feite oor wat die skole doen verkeerd is, volgens Mnr. Arrie Genis. (Verder wil dit voorkom dat dit ‘n vendetta teen Christene spesifiek is – ek sien nie dat hy bv. een Moslem-skool insluit nie.)

Claassen sê:

“Skepties Suid-Afrika oorweeg dit om strafregtelike klagte teen skole aanhangig te maak tensy dié optrede dadelik gestaak word en skole begin om die nasionale beleid oor godsdiens in onderwys te gehoorsaam. Ons woon nie meer in Nazi-Duitsland of die apartheidstaat nie.”

Nee, George, ons bly nie in Nazi-Duitsland nie. Ons bly in ‘n demokrasie. En in ‘n demokrasie moet die gewone, belasting-betalende mens die reg hê om self te kies dat hy dit wat hy goed vind – soos sy geloof – ook met sy kinders wil gedeel hê. En evangeliese Christenskap is juis ook iets waarin mens nie ingedwing kan word nie, maar waarin mense- ook kinders -vryelik moet kies of hulle dit wil volg of nie. En ons demokrasie het vryheid van spraak ook. Dit geld sekerlik ook vir Christen-onderwysers?

Dan wil ek ‘n vraag vir George vra: As onderwysers nie in klastyd met leerders mag praat oor hulle geloofstandpunte nie, geld dit vir universiteitsprofessors wat in klastyd ateïsme verkondig ook? Sal George hulle ook wil strafregtelik laat vervolg?

En die punt hier? Die punt is dat ons gelowiges nugter en wakker moet wees. Ons moet ons regsgeleerdes vra om ons regte te verdedig, voor dit van ons weggeneem word. Voor ons soos kommunistiese China of Rusland word. Maar ons moet ook onthou ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, nie teen die George Claassens van hierdie wêreld nie. Ons moet onsself toerus om die stryd te stry teen die propaganda van ongelowiges, en teen die magte wat agter hulle sit. Ons moet ook ons kinders toerus om die waarheid te ken.

————————————-

Naskrif: Kan iemand vir ons bevestig dat George Claassen, ‘n professor in Stellenbosch,

a) Nooit sy standpunt oor godsdiens(hy is daarteen🙂 ) in klastyd deel nie

OF dat hy

b) Wel sy standpunt oor godsdiens in klastyd deel?

Want dit wil vir my voorkom dat, indien hy wel sy standpunt oor godsdiens in klastyd deel, hy skynheilig is en net agter (sy verstaan van) “die grondwet” wegkruip. As hy egter volkome selfbeheersing toepas en nooit sy standpunt oor godsdiens deel waar mense wat dit nie wil hoor daaraan blootgestel sal wees nie, is hy bloot ‘n opregte ou wat die grondwet misverstaan

7 responses to “George kla!(sen)

  1. Ai…mens sou dink dat mense in SA BAIE drukkender probleme het as om tyd en energie op sulke snert te mors!

  2. Ek glo dat die oordra van my geloofs-erfenis baie belangrik is. Dis ‘n feit dat godsdiens wel ‘n invloed het, ook op jong leerders. Daarom kan ek insien dat die nie-oordra van my geloofserfenis vir George belangrik is. Ek vermoed die saak is nie snert vir my of Claassen nie, en nog belangriker vir die volgende geslag leerders, en die soort mense wat hulle gaan word.

  3. Retha, ek het in my kommentaar spesifiek na Claassen verwys en nie na jou reaksie (waarmee ek, terloops, saamstem) nie. Dis vir my skreiend dat hy en sy groepie juigsangers tyd en energie mors, wanneer daar baie meer knellende aspekte binne die onderwys is wat aandag kort.

  4. Julle geloofs-erfenis word nie bedreig nie. Die leer van ateisme word ook nie toegelaat nie al is dit nie ‘n godsdienstige geloof nie. Skole moet gesien word as neutraal oor geloof/ongeloof kwessies.

    Miskien kan ‘n mens staats departemente gebruik as analogie. Geen skriflesing of gebed word gedoen voor die dag se werk (sic) begin nie. Maar werknemers behou nog steeds hul geloof en kan dit selfs uitleef gedurende kantoor ure, ek dink nou spesifiek aan Moslems op ‘n Vrydag. Dit pla niemand en niemand word “ge-victimise” nie.

  5. @ BiB
    Nou verstaan ek beter.

    @ Andrew
    Ek stem met jou saam dat daar nie van bo af godsdiens op mens afgedwing kan word nie. Maar selfs in die staatsdiens kan dit gebeur dat die meerderheid mense n sekere geloof aanhang en byeenkomste van daardie geloof wil bywoon. Ek het relatief onlangs nog in ‘n byeenkoms gesit waar ‘n polisiekapelaan Bybel lees en bid saam met almal by ‘n bepaalde SAPD-eenheid.

    Dis twak (ek weet dit uit ervaring) om te besluit om elke standerd [X aantal] godsdiensperiodes ‘n week te gee, ongeag of die onderwyser in die vak belang stel of nie. Die meerderheid van my onderwysers het nie in die onderwerp belang gestel nie en dit was dan net ‘n huiswerkperiode.

    Dus stel ek ook nie voor dat een of ander wet afdwing dat onderwysers x aantal godsdiensperiodes moet gee, of ‘n rooster waarop elke onderwyser ‘n beurt kry vir skriflesing by saalopening nie. Ek stel voor dat onderwysers wat passievol oor geloof is, die reg moet hê om hulle geloof te deel.

    En skole is natuurlik nie regtig die staat s’n nie, dis die publiek s’n. Die belastingbetaler (en die ouer, by veral voormalige model C skole) is die befondser van skole. Daarom kan die regering nie van bo af alleen besluit wat kinders nodig of nie nodig het om te weet nie. Die ouer gee meer vir sy kind om as die regering. Wanneer die ouer dan wil hê iets objektief goed* vir kinders, soos Christenskap, moet met sy kinders gedeel word, sien ek geen rede om gelowige onderwysers se vryheid van spraak in die klaskamer te beperk nie.

    “Skole moet gesien word as neutraal oor geloof/ongeloof kwessies.”

    Hoekom? En geld dieselfde vir universiteite?
    ———–
    *objektief goed: Sien http://christianrethinker.wordpress.com/2008/11/02/child-abuse/

  6. Ek vertrou dat die George Claassen en die res van die heksejagters sal kry wat hulle toekom.

    Om spesifieke skole uit te sonder en te teiken, gaan my verstand tebowe.

    Ek kan horror verhale neerskryf oor hoe dit in skole in die land gaan. Van hoenderpote wat in ‘n groot kastrol kook in personeelkamers, en waar GEEN klasgee plaasvind tot na eerstepouse, wanneer die onderwysers hulle pote klaar geeet het, tot viktimisering van onderwysers en vandalisme.

    En dan mors hulle tyd op sulke twak!

  7. Skoor, in my opinie sal die “heksejagters” nie kry wat hulle toekom nie. Hierdie kan maar gesien word as die begin van die begin. Nog lank sal ons moet wag vir die begin van die einde … maar ten minste het ons nou wegespring uit die blokke.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s