Waag dit om te dink – oor “hulle” (Deel 2)

Ek let op dat die AVB die inleidende blad van hulle webwerf verander het. (Die aanhalings in my vorige pos is bv. nie meer almal daar nie.) Die eerste verandering is dat dit nou sê: “AVB waag dit om te weet” en nie meer “AVB waag dit om te dink” nie. Maar my probleem is nog steeds dat ek weet hulle praat nie die waarheid nie.

Die aanhalings is weereens van daardie webblad af:

waag dit om te weet

Maak nie sin nie: Daar is niks waaghalsig daaraan om iets te weet nie. Dit kan soms waaghalsig wees om iets te wete te kom, of om op te tree volgens wat jy weet, of dit te verkondig, maar “Waag dit om te weet” is onsinnig.

Ons leuse rakende opvoeding is eenvoudig: Leer ons kinders alles wat ons weet, maar geen van ons vrese nie.

Ja, ons doen dit/? Met die eerste helfte van die sin stem ek saam. En baie van ons (die onderwysers onder ons ook) weet- uit ervaring- dat Jesus van binne af nuut maak as mens jou lewe aan hom oorgee. En dit moet ons vir ons kinders leer, want ons weet dit. Wat die tweede helfte betref: Is ek seker dat die AVB niks van hulle vrese vir kinders wil oordra nie? Party ongelowiges het byvoorbeeld die belaglike vrees dat godsdiens oorlog gaan veroorsaak, of die vrees dat die leer van godsdiens dalk die kind minder rasioneel gaan maak. Maak die AVB seker dat hulle glad nie hulle vrese op hulle kinders oordra nie?

 Ongelukkig omseil baie Afrikaanse (gewoonlik ou model-C) openbare skole en individuele onderwysers die wette rakende godsdienste-onderrig en godsdiensinskerping wat sedert 2003 van krag is.

Kort bewyse: Skole en regsverteenwoordigers ontken dit. Hoe weet ek die AVB praat hier die waarheid, en die regsverteenwoordigers wat in koerante aangehaal word nie?

Die kern van die saak wentel daarom dat skole, veral Afrikaanse skole, steeds voortgaan met die Calvinistiese gebruik van ons ou Christelike Nasionale Onderwys-agenda wat ‘n ras-gebaseerde … elitisme bevorder

Onwaar: Soos ek reeds uitgewys het: Calvinisme bevorder nie ‘n ras-gebaseerde elitisme nie. Ek het ook nog nooit beleef dat godsdiens in skole ‘n ras-gebaseerde elitisme bevorder nie. (Ek vermoed dat die AVB hier oneerlik die rassekaart speel om aandag te kry van die regering.)

Julle ook: My vraag is: Deur hulself die Afrikaanse (nie Engels nie, nie Zoeloe nie) Vrye Denkers (bewering dat hulle denke superieur aan ander s’n is) te noem, bevorder hulle nie ‘n soort taal- en denke- gebaseerde elitisme nie? Hierdie saak gaan alkante toe: Almal wat ‘n opinie het reken hulle opinie is reg. Dis wat opinie beteken. As jy reken dat jou opinie (oor geloof of vrye denke of politiek of wat ook al) reg is, maak dit jou (nog) nie ‘n elitis nie. Dit geld ook vir onderwysers wat hulle opinie oor geloof verkondig.

Weens polities-geïnspireerde inmenging groei ons kinders egter steeds op in ‘n omgewing van geloofsapartheid (Geloofsapartheid = “Ons” geloof … is die “regte” een, en blootstelling van kinders aan ander “dwaalleringe” skep ‘n geleentheid vir “Satan” om die kind se siel te verlei. Sulke “heidense” “agendas” lei dan tot ‘n politieke teologie waar geloofsmotiewe verdedig word ter wille van die behoud van een of ander denkbeeldige ideaal.)

Verwarde denke: “Hulle” sê dat kinders nie in ‘n omgewing moet grootword waar ‘n idee oor geloof as die regte een voorgehou word nie. Eerstens wil ek vra: Sal hulle hul standaarde oor godsdiens ook op ander dinge toepas, soos lees of morele waardes of higiene of wiskunde? Mag geen kind geleer word dat vriendelikheid met ander kinders beter is as om hulle te boelie nie; dat die “k” klank anders uitgespreek word as die “t” klank nie, dat gereeld tande borsel beter is as om dit glad nie te doen nie; dat 1+2=3 en nie 7 nie? Hoekom op aarde moet kinders nie op skool geleer word watter idee reg is nie? Wat is die punt van onderwys as jy nie daar mag sê wat reg en verkeerd is nie? Waarom wil hierdie mense godsdiens op skool anders hanteer as enigiets anders? Skool gaan daaroor om sekere idees as reg voor te hou! En dis nie ‘n fout van skool nie, dis ‘n fout van die AVB om te dink skole moet ophou daarmee.

Kort bewyse/ onbenullig selde waar: ” polities-geïnspireerde inmenging”: Hulle moet my wys dat onderwysers wat oor geloof op skool praat polities gemotiveerd is. Want ek kan eerlik sê dat van al die mense wat ek al ooit in my lewe oor christenskap of die Bybel hoor praat het (dis baie mense) was net 2 polities geïnspireer. Dis seker so dat daar iewers in die land enkele onderwysers is wat polities gemotiveer is as hulle oor geloof praat. Maar dis nie iets om oor te veralgemeen nie.

word kennis van die wêreld en ander kulture van hulle weerhou

Non sequitur (Gevolgtrekking wat nie volg op gegewens nie): Om iemand ‘n sekere kennis te leer, beteken nie dat kennis oor ander sake van hom weerhou word nie. Ek sien absoluut geen rede waarom ‘n Christen kennis van die wêreld en ander kulture van kinders sal weerhou nie.

word ‘n ongewensde klimaat van “ons” teen “hulle” in gemeenskappe bevorder

Misleidend: Enigiets wat almal nie doen/ is nie, skep ‘n ons-hulle. “Ons” is meisies, “hulle” is seuns; ons huistaal is Afrikaans, “hulle” s’n is Zoeloe; “ons” is deel van die interskole-atletiekspan, “hulle” nie, ens. Maar ‘n ons/ hulle beteken nie noodwendig dat ons iets téén hulle moet hê nie.

Julle ook: Nota aan die hulle-webblad: As daar een manier is om ‘n ons-teen-hulle houding tussen Christen en nie-Christen te bevorder, is dit deur Christenskap/ geloof “onwetenskaplike wensdenkery” te noem. (Julle inleidingsblad het tot onlangs daardie woorde opgehad.) Ander suksesvolle manier om ons-teen-hulle te bevorder, is deur spesifiek Christene uit te sonder vir aanvalle, (julle webblad noem bv. nie enige probleme met Moslem-skole, of universiteitsprofessors wat ateïsme verkondig nie.); deur te beweer-soos julle maak- dat kinders in die donker gehou en “perdevye gevoer word” deur gelowiges; of deur “evangelisties” en verkramp in een paragraaf te noem. (Dit was ook nog onlangs deel van julle inleiding.)

nog ‘n geslag Afrikaanse kinders word onkundig gehou (en wonder later hoekom ander groepe voorkeur kry in die werksplek).

Misleidend: Die AVB probeer die indruk hier skep dat a) Afrikaanse skole akademies minderwaardig is bo meeste ander skole in die land en b) dat godsdiens die rede vir daardie minderwaardigheid is. Onwaar. Oor die algemeen is die Afrikaanse skole oraloor van die akademies beste staatskole in hulle gebied- en ek glo dis juis te danke aan die sout en lig van toegewyde Christen-onderwysers. Ons almal weet hoekom ander groepe voorkeur kry. Dis nie oor Afrikaanse kinders dom of onkundig of swak werkers is nie.

 

Om op te som: Die AVB se klagtes is misleidend en grootliks onwaar. En hoewel hulle beweer dat hierdie nie ‘n Christen-teen-ongelowig saak is nie, gee hulle webblad my die teenoorgestelde idee. Die blote feit dat George Claassen van Skepties SA die saak eerste aangeroer het, vertel my ook: Selfs waar hulle nou iets sê waarmee Christene kan saamstem, is hierdie groep se uiteindelike agenda nie iets waarmee ek kan saamgaan nie.

3 responses to “Waag dit om te dink – oor “hulle” (Deel 2)

  1. Ek wil net my 5 sent gee oor Calviniste. Alle Christenne is nie Caliviniste nie. Ek het wel in ‘n sterk Calvinistiese skool skool gegaan. Ek, as ‘n Katoliek, was oor die algemeen net so aanvaar. Die een onderwyseres wat wel ‘n probleem met my kerk gehad het, het my ‘n beter, sterker persoon gemaak.

  2. Wil byvoeg, ek dink nie godsdiens in skole is skadelik nie. Mits dit nie afgedwing word nie. As die ouers nie van die Bybelonderrig, geloofsaktiwiteite hou nie, kan hulle versoek dat hulle kinders daarvoor verskoon word. Dit het ook in ons skole gebeur en weereens was die betrokke kinders nog deur die onderwysers nog deur die ander kinders geviktimiseer.

  3. Dankie, Xena
    Ek gaan verder as om te sê “godsdiens in skole is nie skadelik nie.” Ek sê godsdiens is objektief fisies goed, emosioneel goed, intellektueel goed, en maatskaplik goed vir kinders.
    http://christianrethinker.wordpress.com/2008/11/02/child-abuse/
    http://www.godandscience.org/apologetics/religion_as_child_abuse.html

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s