Monthly Archives: Februarie 2010

Ekonomie vir beginners

Eendag, in ‘n land nie vêr van hier nie, het die mense oor ‘n probleem begin kla: Hulle kry nie ‘n groot genoeg deel van die pastei nie. Party mense in die land het meer as genoeg pastei om te eet, en ander hopeloos te min.

Die regering maak toe wette dat enigeen wat ‘n pastei bak, sy pastei met ten minste 50 ander mense moet deel. En dat enigeen wat voel dat hy te min pastei het, maar kan vat by enigiemand wat lyk of hy genoeg het.

Party bakkers besluit sommer dadelik dat as sake so staan, gaan hulle nie meer pastei probeer bak nie. Dis nie die moeite werd as jy self al die werk moet doen, maar almal in die omgewing eet saam nie. Hulle gaan staan maar liewer voor in die ry waar die ander pastei-bakkers uitdeel.

Met al minder pastei wat gebak word, begin almal honger ly, behalwe die diewe. As te min pastei gelykop verdeel word, bly dit te min. Op die ou end het die land ‘n nare reputasie gekry as ‘n plek waar niemand genoeg kry om te eet nie, en waar jy heeltyd oor jou skouer moet kyk vir skelms wat jou bietjie pastei wil vat.

 

In ‘n ander land het mense oor dieselde ding gekla: Hulle kry nie ‘n groot genoeg deel van die pastei nie. Party mense in die land het meer as genoeg pastei om te eet, en ander hopeloos te min.

Die regering raak toe ontslae van ‘n paar wette wat vir mense voorskryf waar hulle mag bak en wie hulle mag help bak, en hoeveel geld hulle vir die regering moet gee as hulle meel of vleis invoer. Die regering maak dit dus makliker vir bakkers om pastei te bak. Die regering vervolg ook enigiemand wat iemand anders se pastei steel, en die bakker voel dus nie dat hy alles kan verloor deur pastei-bestanddele te koop nie.

Party bakkers begin sommer dadelik meer bak, ander eers later.

Met al meer pastei wat gebak word, kry die bakkers en hulle families meer as genoeg. Die bakkers se werknemers en klante kry meer as genoeg. Selfs die bedelaars wat nie wil help bak nie en nie kan betaal nie, kry genoeg oorskiet. Die pastei word nog steeds nie regverdig verdeel nie, maar almal is versadig.

Dis nie soos velkleur nie

In die koerant lees ek oor ‘n lesbiese predikant, Eerw. Ecclesia de Lange, wat geskors is uit haar amp oor sy met ‘n ander vrou getrou het. Eerw. Peter Storey het daaroor gesê:

Soos apartheid gediskrimineer het teen mense oor iets (hul velkleur) wat hulle nie kon verander nie, word daar nou teen gays gediskrimineer oor iets (hul oriëntasie) wat hulle nie kan verander nie…

Ja, ja, daai een het ek ook al gehoor. Maar dit is nie waar nie: Sy is geskors oor haar keuse (om lesbies te trou), nie oor sy ‘n gay oriëntasie het nie. Daar is ‘n verskil tussen lus voel vir iets en toegee aan die lus.

Daar is byvoorbeeld redes waarom mense wat al lus was om moord te pleeg- en dit erken – nie vervolg word nie, maar moordenaars wel. Seksmisdadigers word nie gestraf “vir hulle seksuele oriëntasie” nie, maar vir hulle dade. Is ek besig om homoseksuele dade met moord en seksmisdade te vergelyk? Nee. Reken ek dat sulke dade tussen konsensuele volwassenes onwettig moet wees? Nee. Ek wys daarop dat dade glad nie iets soos velkleur is nie, dat onderskeid gemaak moet word tussen begeertes en dade.

Die verskoning dat die kerk mense afdank oor ‘n “oriëntasie”waaraan hulle niks kan doen nie, word gebruik deur mense wat geen verantwoordelikheid wil vat vir hulle dade en keuses nie. Die gay persoon het, nes ons almal, die keuse of hulle wil toegee aan hulle begeertes, of nie. Die Here se krag is daar vir enigeen- straight of gay – wat vir Hom wil leef!

As eerwaarde de Lange redes het waarom sy die Bybel anders vertolk oor homoseksualiteit, sal ek dit wil hoor. Maar moenie vir my vertel dat enigiemand- gay of straight – bloot ‘n slagoffer is van onbeheerbare drange, so onkiesbaar soos jou velkleur, nie. Dit is nie waar nie. As seksuele drange onbeheerbaar was, sou ons gereeld mense in die openbaar sien … uhm … verder gaan as kafoefel … het. Maar mense kan gewoonlik hulle drang beheer, byvoorbeeld tot hulle agter toe deure kom. Dis nie ‘n onbeheerbare drang soos nies of hik nie. Nog minder is seksuele keuses ingebore soos velkleur. (Daar is meningsverskille oor of seksuele oriëntasie ingebore soos velkleur is.)

—————-

Hierdie soort stuk lok dikwels reaksie soos hoe immoreel dit is om homoseksuele te veroordeel en hoekom haat Christene gays en hoe my reaksie nog ‘n rede is om die Christendom te haat. Maar dan, ek is al beskuldig daarvan dat ek die inkwisisie en heksejagte goed praat as ek vertel wat die sterftesyfer was en hoe die Christendom minder betrokke was as wat party mense wil voorgee. Meer oor ander gay argumente se antwoorde hier en hier.

JP Moreland oor “How do we know Christianity is right out of all the religions in the world?”

George Claassen van Skeptic SA het my laas hier gevra:
Retha jy noem dat Jesus God is en dat dit al op talle maniere bewys is. Kan jy asb. net een stukkie bewys bring dat enige een van hulle bestaan (het).

En ene Annette het my al vertel:
Christenskap mag dalk waar wees vir jou, maar dis nie waar vir my nie.

Louwie stel dit dalk goed:
Wie is dan reg? Wie se “waarheid” is DIE waarheid? Wie se Gees is die regte Gees? Wie se heilige geskrif is die regte heilige geskrif? Hoe toets jy dit?

Is daar enige redes om te glo dat Jesus bestaan het, en was wie die Christene glo hy was? Hoekom, behalwe oor mens voel dis reg vir jou, kan mens in die Christendom se God glo? Hier kan jy ‘n .mp3 aflaai waar JP Moreland ‘n eenvoudige inleiding daaroor gee.

Luister dit, en moenie ‘n Wonmug* wees nie!

———–

*Jy vra dalk nou: Wat is ‘n Wonmug? Wel, Moreland beskryf hom in hierdie lesing.
Naskrif 2: Waarom liasseer ek hierdie ook onder “Idees vir Sondagskool …”? Want dit sal tieners ook baat om hierdie dinge te leer by die Sondagskool. En dit sal enige kategeet of jeugwerker baat om dit te weet. Selfs as die kinders in jou groep te klein is om dit te vra, maak  dit van jou ‘n meer oortuigde (en dus oortuigende) Christen.

As die donkie begin te praat…

Hier is nog een van daardie belaglike stellings waarmee New Atheists hulle eie onnoselheid ten toon stel, nie die beweerde belaglikheid van geloof in God nie:

Julle gelowiges glo dat slange en donkies kan praat! Dis mos gekkigheid!

                                                                                 – Nuwe ateïste

Gelowiges glo ewe min in pratende slange en pratende donkies as wat normale volwassenes in pratende buiksprekerpoppe (ventriloquist dummies) glo.

Ons glo dit het al gebeur dat wesens wat kan praat, deur ‘n spesifieke slang/ ‘n spesifieke donkie/ buiksprekerpoppe gepraat het. Die ateïs wat met hierdie belaglike, spottende, strooipop-argument kom, is óf moedswillig óf onnosel. Hy is in elk geval nie gewillig/ nie in staat om sinvol sy eie standpunt te verdedig/ sy opponent se ware standpunt teen te staan nie.

 

Aborsies is nie veilig nie

Ek lees gister die woorde op ‘n advertensie: SAFE ABORTIONS
Veilige aborsies? Mens kry ewe min ‘n veilige aborsie as ‘n veilige galgtou of ‘n veilige elektriese stoel. Die punt van ‘n aborsie is om dood te maak. Dit maak dit die presiese teenoorgestelde van veilig.