Ekonomie vir beginners

Eendag, in ‘n land nie vêr van hier nie, het die mense oor ‘n probleem begin kla: Hulle kry nie ‘n groot genoeg deel van die pastei nie. Party mense in die land het meer as genoeg pastei om te eet, en ander hopeloos te min.

Die regering maak toe wette dat enigeen wat ‘n pastei bak, sy pastei met ten minste 50 ander mense moet deel. En dat enigeen wat voel dat hy te min pastei het, maar kan vat by enigiemand wat lyk of hy genoeg het.

Party bakkers besluit sommer dadelik dat as sake so staan, gaan hulle nie meer pastei probeer bak nie. Dis nie die moeite werd as jy self al die werk moet doen, maar almal in die omgewing eet saam nie. Hulle gaan staan maar liewer voor in die ry waar die ander pastei-bakkers uitdeel.

Met al minder pastei wat gebak word, begin almal honger ly, behalwe die diewe. As te min pastei gelykop verdeel word, bly dit te min. Op die ou end het die land ‘n nare reputasie gekry as ‘n plek waar niemand genoeg kry om te eet nie, en waar jy heeltyd oor jou skouer moet kyk vir skelms wat jou bietjie pastei wil vat.

 

In ‘n ander land het mense oor dieselde ding gekla: Hulle kry nie ‘n groot genoeg deel van die pastei nie. Party mense in die land het meer as genoeg pastei om te eet, en ander hopeloos te min.

Die regering raak toe ontslae van ‘n paar wette wat vir mense voorskryf waar hulle mag bak en wie hulle mag help bak, en hoeveel geld hulle vir die regering moet gee as hulle meel of vleis invoer. Die regering maak dit dus makliker vir bakkers om pastei te bak. Die regering vervolg ook enigiemand wat iemand anders se pastei steel, en die bakker voel dus nie dat hy alles kan verloor deur pastei-bestanddele te koop nie.

Party bakkers begin sommer dadelik meer bak, ander eers later.

Met al meer pastei wat gebak word, kry die bakkers en hulle families meer as genoeg. Die bakkers se werknemers en klante kry meer as genoeg. Selfs die bedelaars wat nie wil help bak nie en nie kan betaal nie, kry genoeg oorskiet. Die pastei word nog steeds nie regverdig verdeel nie, maar almal is versadig.

5 responses to “Ekonomie vir beginners

  1. En omdat daar nou so baie pastei is val die prys van pasteie toe deur die vloer en veroorsaak dat van die kleiners bakkers almal bankrot speel sodat daar weer minder pasteie is wat veroorsaak dat party mense weer nie genoeg kry nie. Ekonomie is ‘n chaotiese stelsel.😉

  2. Catch22 die armes word armer en die rykes ryker.

  3. Ag nee, Flippie, nou maak jy dit weer te moeilik vir hierdie beginner!😀

  4. Ek verstaan nie so goed Ekonomie.

  5. Ja, Flippie, dis net soos jy se, maar eendag bereik die stelsel ekwilibrium en dan word daar genoeg pastei gemaak sodat almal genoeg kry. Die bakkers wat bankrot gespeel het kan altyd hul fokus verskyf na die vervoer van die groter bakkers se pasteie, of selfs net daaraan dink om pizzas te maak.

    Die ekonomie is net chaoties wanneer ‘n regering probeer inmeng en vals aanvraag skep. Maar nou begin die gesprek heavy tegnies raak en ek het nie lus vir ‘n kopseer nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s