Die Christendom se onlogiese, onredelike kritici

Jaco Roux skryf in Beeld ‘n brief wat ek hier woordeliks gaan aanhaal. My kommentaar verskyn in rooi, tussen sy woorde. Let op hoe hy homself die reg gun om te praat, maar hy gun dit nie vir mense wat die teenoorgestelde as hy dink nie. Hy mag met die media praat-en hy doen dit- maar die opposisie moet volgens hom wegkruip en stilbly :

Ek wil net ’n paar goed sê oor die artikel wat verlede week op Beeld se voorblad verskyn het oor die moontlikheid dat MultiChoice ’n pornografiese kanaal die lig gaan laat sien.

As so ’n kanaal wel begin gaan word, sal ek dit self nie kyk nie omdat ek geen plesier daaruit sal put nie, maar dit is steeds vir my belangrik om te weet dat ek die vryheid van keuse het om dit te kyk as ek dit sou verkies. Jy wil dit nie kyk nie, maar jy wil die geleentheid hê om dit te kyk. Ons verstaan. Ons glo jou.

My vraag aan die mense wat die pornografiese kanaal so vurig teenstaan, is: Hoe dink julle wie is julle? Het iemand julle as morele polisie aangestel?

Ek is eerlikwaar siek en sat vir hierdie “Christene” wat rondloop en kerm oor alles wat nie aan hul morele standaarde voldoen nie.

Argument van gevoel. Ander mense is siek vir pornografie, of siek vir mense wat kerm soos wat Jaco nou kerm. Hoekom moet enigiemand hulle steur aan waarvoor Jaco Roux siek is? Of waarvoor die anti-pornografie mense siek is? Sowel Jaco as die anti-pornografie brigade moet beter redes gee as “ek is siek vir …” as hulle mense wil beïnvloed.

Hulle dink die wêreld behoort aan hulle en hulle voel vere vir ander mense se sienings en gelowe.

En jy, Jaco? Dink jy die wêreld behoort aan jou en voel jy vere vir die porno-teenstanders se sienings, geloof en selfs vryheid van spraak?

Die argument dat die pornografie kinders gaan beïnvloed, is sommer twak.

Jy as ouer moet mos weet wat jou kinders kyk. Dit is ook hoekom DStv ’n funksie het waarmee ouers sekere programme kan blok.

So, die argument dat gewere mense kan doodmaak is twak, want ‘n geweer het ‘n veiligheidsknippie en kan in ‘n kluis gebêre word? As pornografie op TV is, sal dit soms deur kinders gesien word. Pornografie het ‘n negatiewe effek op kinders. En selfs as Mev. Toegewyde Gelowige nie haar kinders in haar huis laat pornografie kyk nie, gaan hulle by die skool beïnvloed kan word – en selfs mee gelol word- deur ander kinders wat dit wel kyk en wil eksperimenteer.

So hou jul prehistoriese sienings vir julself …

Dus, jy mag jou siening met koerante deel, maar ander mense moet hulle sienings vir hulself hou? En voor jy die Christene se sienings prehistories wil noem, skuld jy ons ‘n argument wat minstens wys dat die teenstand teen pornografie ‘n ouer idee is as die nie-teenstand daarteen. (Dis natuurlik logies onmoontlik, want daar moes eers porno gemaak word – en gebruik word deur goedkeurendes – voor enigiemand hulle daarteen kon uitspreek.)

… en gaan kruip weg in jul kerke sodat julle teen hierdie groot, slegte pornografiese wêreld van ons beskerm kan wees.

Jaco, gaan kruip weg in jul porno-teaters sodat julle teen hierdie groot, slegte Christelike kerk van ons beskerm kan wees. (Nee, ek bedoel nie daardie laaste sin nie. Dis net ‘n manier om jou te wys wat jy gesê het.) Die Christendom is nie wegkruipers nie, maar sout en lig. Ons kan nie eenkant gaan wegkruip nie.

11 responses to “Die Christendom se onlogiese, onredelike kritici

  1. Mooi gestel Retha!

  2. My gevoel oor pornografie is net: Hoekom behoort mens dit nodig te hê?

  3. Is dit nie maar net hoe die tipiese mens redeneer nie. Almal se opinies word in hulle kele afgedwing, maar dit maak net saak as dit van hulle eie opinie verskil wat hulle graag in almal se kele wil afdruk.

  4. “Maar die mense wou nie na die lig kom nie, omdat hulle die duisternis lief het, en hul werke boos is.”

    Alles wat in die donker floreer, soos nagklubs, pornografie en hoerery, kan nie bestaan in die skerp, helder lig van die (Sondag)-oggend wanneer kerkmense gewoonlik bymekaar kom om hul ding te doen nie.

  5. Terloops, oor porno: Ek lees op een webblad ‘n opinie dat romantiese stories vir vroue dieselfde funksie vervul as wat porno vir mans vervul, en dat predikante teen dit ook moet preek as hulle teen porn praat.
    Ek weet nie hoeveel ek stry of saamstem daarmee nie- daar is ooreenkomste en verskille.

    En oor die onderwerp van die draad: Christene hoef nie te voel dat hulle liewer moet stilbly oor hulle opinie nie populêr/ polities korrek is nie.

  6. Ek is nie die Suid-Afrikaanse sede-polisie nie, so dit is nie vir my om te besluit of oordeel nie. Watookal jou hare terugblaas… Ek kan julle egter verseker, daar is mense wat bereid gaan wees om daarvoor ekstra te betaal, en DSTV is ‘n maatskappy wat wins bejag, so niks wat ek, jy, die NG Sinode op die Pous sê gaan iets verander nie.

    Snaaks dat jy gewere noem, ek het nog nie een van hierdie sede en moraliteit bewakers sien kla oor die geweldadige programme wat hulle kinders op tv kyk nie? Dit het seker geen invloed nie…. jy kan moor my kind, maar moet asseblief net nie na die seksprogram kyk nie.

  7. “DSTV is ‘n maatskappy wat wins bejag, so niks wat ek, jy, die NG Sinode op die Pous sê gaan iets verander nie.”

    O, daar is tog iets wat gelowiges sê wat wel iets daaraan kan verander. DSTV is tereg ‘n maatskappy wat wins bejag, en dus is die slimste ding om te sê- en wat heelwat reageerders inderdaad sê: “As julle sulke kanale uitsaai, sal ons ons DSTV subskribsie kanselleer.” As genoeg mense dit sê en sal deurvoer, sal ons winsjagters porno-kanale daar weghou.

    “Snaaks dat jy gewere noem,”
    Verstaan jy die konteks waarin ek gewere noem? Dis ‘n analogie.

    “ek het nog nie een van hierdie sede en moraliteit bewakers sien kla oor die geweldadige programme wat hulle kinders op tv kyk nie?”
    Ek het al ouers vertel waarom hulle versigtig moet wees oor hoeveel geweld hulle kinders kyk. Wil selfs nie hê seuntjies moet WWE-T-hemde kry nie. Het nog nooit vir ouers probeer leer watter seksuele inhoud hulle kinders moet sien nie.

  8. Maar het hierdie duisende ouers briewe aan DSTV geskryf en oor die geweldadige program-inhoud gekla?

    Ek verstaan jou analogie, dit het net ‘n gedagte by my getrigger… of mag mens nie nuwe idees op die tafel plaas nie?

    Daar is ‘n groot verskil tussen sê en deurvoer. Baie van die wat sê NEE wag met gewronge hande om hulle subskripsie na “Porno-ingesluit” op te gradeer.

  9. “Maar het hierdie duisende ouers briewe aan DSTV geskryf en oor die geweldadige program-inhoud gekla?”
    Ek stem saam met jou. Daar is baie meer probleme as net porno en mens moet die ander ook aanspreek.
    “Baie van die wat sê NEE wag met gewronge hande om hulle subskripsie na “Porno-ingesluit” op te gradeer.”
    Dit maak nie sin nie. Hoekom, wanneer mense nie sien of jy ‘n petisie onderteken of nie, sal jy ‘n petisie onderteken wat heel moontlik sal maak dat jy nie kry wat jy soek nie? Dis dalk moontlik dat van die bekendes wat aangehaal is oor die saak dit doen om “shine” te vang. Maar daar is geen motief vir die gemiddelde lid van die publiek om hier dit teen te staan as hy porno-kanale met ‘n seer… uhm, hart soek nie.
    Dan is daar ook ouens wat nee sê, terwyl hulle weet dat as die kanaal in hulle huise sou wees, hulle nie die versoeking sal kan weerstaan om dit te kyk nie. Dis ook nie skynheilig nie, dis om vêr weg te bly van wat vir jou sleg is. Soos iemand wat tot 5 jaar terug aan drank verslaaf was en nou glad nie kroeg toe gaan of selfs een drankie drink nie.

    “Ek kan julle egter verseker, daar is mense wat bereid gaan wees om daarvoor ekstra te betaal, en DSTV is ‘n maatskappy wat wins bejag, so niks wat ek, jy, die NG Sinode op die Pous sê gaan iets verander nie.”

    Dit lyk my of wat ons sê iets verander het. http://www.beeld.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1928/6e1e59b5fbe84dce8fb32127d35f663c/11-03-2010-10-49/G%E2%80%99n_porno-kanale_kom,_besluit_MultiChoice

  10. Baie mense sê dinge of teken petisies omdat dit die “regte ding is om te doen” , nie noodwendig omdat hulle dit gaan doen of selfs enigsins saamstem nie.

  11. Demoerin- net as daar ‘n rede is. Byvoorbeeld as hulle onderteken of nie-onderteken gesien gaan word, wat seker nie die geval is met ‘n internet-petisie nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s