Jesus het opgestaan! (Maar hoe verstaan mens die 3 dae?)

Daar is ‘n soort ding op hierdie blog wat baie gevaarlik is. Ten ergste kan dit ontaard in die “sinlose getwis oor woorde” waarteen die Nuwe Testament meer as eenkeer waarsku (Bv. Kol. 2:8 2 en Tim 2:14). Ten beste kan dit vrae opklaar waarmee party van ons worstel.

 As die vraag “hoekom praat die Bybel dan dat Jesus 3 dae in die graf was, terwyl ‘n bietjie Vrydag, ‘n hele Saterdag en ‘n stukkie Sondag nie eers twee vol dae is nie?” nog nooit by jou opgekom het nie, dan hoef jy nie verder te lees nie. As die vraag egter vir jou iets is wat jou laat wonder oor Jesus se getuienis (Toe Jesus gevra is op watter gesag Hy doen wat Hy doen, en watter teken Hy kan wys, het Hy gesê dat as die tempel (Sy liggaam) afgebreek word, Hy dit in 3 dae kan opbou, Johannes 2:19), of as jy iemand ken wat dit as argument teen Jesus se betroubaarheid gebruik, kan hierdie dalk help.

 Die Bybel, die ou bronne waaruit ons vertaal, vertel nie in soveel woorde Jesus is op ‘n Vrydag gekruisig nie. Dit vertel Hy is op die dag voor ‘n spesiale Sabbat gekruisig. (Johannes 19:31) Party vertalings van die Bybel vertaal dit as Vrydag. Daardie vertaling is nie noodwendig reg nie, soos jy nou sal sien.

 Elke Saterdag, van Vrydag sononder tot Saterdag sononder, is ‘n Joodse Sabbat. Maar die Jode het ook spesiale Sabbatte gehad. Hulle het dit nog steeds. Spesiale Sabbatte is vakansiedae wat elke jaar op dieselfde dag van die jaar val. Dit beteken dat sulke Sabbatte nie altyd op dieselfde dag van die week val nie, nes Kersfees of Nuwejaar nie elke jaar op dieselfde weeksdag val nie. As Jesus “die dag voor ‘n spesiale Sabbat” gekruisig is, weet ons nog nie watter dag van die week dit was nie.

 Jesus was op die dag van die paasmaaltyd, die 14de van die maand Nisan, gekruisig. (Mark. 14:16-17 vertel dat dit Pasga was toe die Nagmaal gebeur het. Jesus is die nag in hegtenis geneem en die volgende oggend – omdat Joodse dae by sononder begin was dit nog 14 Nisan – gekruisig.) Die dag na dit – 15 Nisan – was ‘n spesiale Sabbat, die fees van die ongesuurde brode. (Lev. 23:6-7)

Party geleerdes reken Hy is op ‘n Woendag gekruisig. Volgens hulle was Jesus begrawe net voor sononder. Hy spandeer dus die hele Donderdag (wat by sononder begin het), Vrydag en Saterdag in die graf. Hy is volgens daardie teorie opgewek met sononder Saterdag. Toe die vroue Sondagoggend by die graf kom, was Hy nie meer daar nie.

 Ander reken Jesus is op ‘n Donderdag gekruisig. Tot Vrydag, Saterdag, en Sondag is dan 3 dae.

 Dan is daar ook die mening dat “3 dae” vir die Jode ‘n term was wat ook gedeeltes van 3 dae kan beteken in Joodse spraak van die era. Rabbi Eleazr ben Azariah het in 100 A.D geskryf:

 “A day and night are an Onah (period of time) and the portion of an Onah is as the whole of it.”

 As dit die geval was, kon hy op ‘n Vrydag gekruisig gewees het, want dan kan die laaste ure van Vrydag, die hele Saterdag en ‘n bietjie Sondag “3 dae” wees, in Joodse idioom.

 Die punt is dat die 3-dae “probleem” glad nie vir ‘n Joodse leser, wat die kultuur van die Bybel verstaan, ‘n probleem is nie. En dit hoef ook nie vir ons te wees nie. Daar is geen rede om aan te neem die Bybel is verkeerd daaroor nie. Ongeag watter taal jy praat of uit watter kultuur jy kom: Hy het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan.

19 responses to “Jesus het opgestaan! (Maar hoe verstaan mens die 3 dae?)

  1. Retha kan jy my laat weet hoekom jy my komentaar uitgevee het asseblief?

  2. Vrye Denker

    Ek verstaan ook nie party mense se beheptheid met sulke fyn detail nie. Ek hoop net hulle pas sulke volledige annalise toe op die res van hul lewens ook.

  3. Omdat jy Retha probeer verkleineer miskien, Andrew? jy moet onthou dat Retha haar plig doen wat God aan haar opgfra het. Ek geniet elke inskrywing.

  4. Andrew: Dit was van die onderwerp af, en my blog-riglyne vra duidelik dat mens op die anderwerp bly. En ek het dit beleef as verkleinerend teenoor Jesus en wat Hy gely het. My blog is nie ‘n plek om Jesus se lyding te verkleineer nie. As die blog-inskrywing nie eers oor die kruisiging en lyding gaan nie, nog minder.

    Net sodat ons mekaar goed verstaan: Wat jy wou sê is nog steeds van die onderwerp af. Hierdie kommentaar van my maak dit nie ewe skielik deel van die onderwerp nie. As jy my nog iets hieroor wil vra, gebruik my e-pos.

    Harry, dankie! Wat verkleineer betref – mense mag my verkleineer op hierdie blog, mits hulle genoeg bewyse gee om hulle negatiewe stelling oor my te staaf. Maar dis nie wat Andrew gedoen het nie.

  5. En Vrye Denker: Jy het sekerlik al die soort mense raakgelees wat enige verskoning gebruik om te rasionaliseer hoekom hulle nie wil glo nie. Nog erger, hulle gebruik sulke kleinighede om verwarring te saai by meer oopkop mense wat nie die Bybel ken nie. En dis waaroor baie goed op hierdie blog gaan. Soos TIA*, gaan dit om mense te help wat verwar word.
    ——–

    *TIA – Soos Vrye D reeds sal weet, maar ter wille van ander lesers, is ‘n boek, “The Irrational Atheist,” wat gratis van die Internet kan afgelaai word.

  6. Inskrywing uitgevee oor dit nog steeds van die onderwerp af is- Retha

  7. Antwoord uitgevee oor om my te beledig oor my kommentaar beleid (wat Andrew goed ken) van die onderwerp af is. -Retha

  8. Of Jesus na drie dae, twee dae, n dag opgestaan het dit is nie waaroor dit gaan nie. Liewe mense wees bly Hy het opgestaan en Hy leef.

    As alles wat in Jesus se tyd gebeur het in boeke opgeskryf moes wees dan was daar nie genoeg boeke om dit te kon doen nie.

    Een ding is seker Satan loop deesdae soos n brullende leeu rond om twyfel te saai waar hy kan want Hy weet Jesus se koms is naby en hy hou nie daarvan nie want sy tyd loop uit. Hy het Jesus gehaat nog voor jy en ek daar was.

    Wat is geloof dan? Geloof vir my is om seker te wees van dit wat ek hoop om te wees. Om tenvolle in my gemoed en in my hele wese as mens oortuig te wees van dit wat ek nie met die blote oog kan sien nie.

    God se beloftes vir my is onsigbaar maar ek is die besitter daarvan. Dit is soos n transportakte ten opsigte van n eiendom dit waarborg my dat ek n besitter is. Geloof beteken om God op sy woord te neem.

    Die bose is nog deur al die eeue besig met groot bedrog. Met vals beloftes en leuens probeer hy nog altyd om God se kinders van hom af weg te rokkel en te mislei. Selfs Paulus in sy bediening het deurgeloop onder valse leraars wat sy werk onder die Korinthiers en sy gesag bevraagteken en beskinder het. Sy verdediging was gegrond op sy liefde vir Jesus. Laat dit ook ons verdediging wees om Jesus Christus lief te he met ons hele hart ons hele siel en alles wat in ons is.

  9. Of Jesus na drie dae, twee dae, n dag opgestaan het dit is nie waaroor dit gaan nie. Liewe mense wees bly Hy het opgestaan en Hy leef.

    Dankie vir die kommentaar en ek stem saam.

  10. Om jou vraag te antwoord gaan dit vir my moeilik wees om nie vir jou te sê dat dit wat jy geleer het en dit wat werlik gebeur het nie dieselfde ding is nie, as jy daarop ingaan soos wat dr. Walter Veith van Amazing Discoveries dit doen dan sal jy siel dat ons kalender gebaseer is op die St. Gregory of te wel Gregorian kalender wat deur die rooms katolieke kerk opgestel is, en dat dit nie op die dae wat hul sê plaasgevind het nie. Maar dit is nie my plek om hul te kitiseer nie gaan kyk wat sê dr. Walter. Die Webwerf is: http://www.amazingdiscoveries.org, bestel sy DVDs en yk self dan besluit jy.

    Henk die Vent

  11. Henk, ek is nie seker waar die Gregoriaanse kalender inpas in jou gedagtes nie? Jesus se kruisiging- en die neerskryf daarvan(eerste eeu)- het lank voor die Gregoriaanse kalender (1582) gebeur.

    Watter foute ookal gemaak is deur die makers van die kalender, dit kan hoogstens beteken dat ons deesdae nie meer Paasfees vier op die regte tyd van die jaar nie. Maar dat Jesus op die dag voor ‘n spesiale Sabbat gekruisig is en op ‘n Sondag opgestaan het is deel van die oudste geskrifte wat waarskynlik binne enkele dekades na Sy dood geskryf is. Niks hierbo is gegrond op die Gregoriaanse kalender nie, wel op die ou Joodse kalender se feesdae. Hoe kan dit geraak word deur die Gregoriaanse kalender?

  12. Retha, Daar voor is daar ook ‘n verduideliking gaan kyk bietjie wie die bybel soos ons dit nou ken opgestel het en hoekom dan sal jy ook sien dat daar baie goed uitgelaat is, so vra liewer of ek dit wat in die bybel staan kan glo as die waarheid, wanneer ‘n koning dit opgestel het om aansien terug te wen en ek weet ook dat die RK sekere goek wil laat verwyder van die bybel. gaan ky gerus na die webblad wat ek vir jul van vertel het vroeer en registreer daar dit kos niks, mens kan vrae daar kry en ook antwoorde van mense wat meer geleerd is as ek.

  13. PS, Jul kan sy dvds en ander s’n kry by http://www.edenlewe.co.za, dis ook in afrikaans beskikbaar

  14. Henk, sê jy maar:
    Wie het die Bybel soos ons dit ken geskryf? Hoe weet jy dit?
    Wat is uitgelaat? Hoe weet jy dit?
    Watter koning het wat opgestel? Hoe het dit hom gesag laat terugwen? Watter bewyse het jy dat dit hy is wat dit opgestel het?
    Watter bewyse het jy dat die dae waarop Jesus (na bewering, volgens jou?) gekruisig is/ opgestaan het, eers in die Gregoriaanse kalender opgeteken is, 1500 jaar na Christus?

    Moenie my vra om ‘n webblad (ek het vinnig al die artikels waarheen geskakel word vanaf die hoofblad se name deurgelees, en nie een lyk of dit oor die (on)waarheid- van die Nuwe Testament se geskrifte oor Jesus gaan nie) te lees in plaas van dat jy vrae antwoord nie. As jy antwoorde ken, praat. Jy kan selfs na langer verduidelikings as jou kort antwoorde skakel. (Gee dan die bladsyskakel wat antwoord, nie die algemene werfskakel met talle artikels daaronder nie.) Maar skakels is nie ‘n plaasvervangers vir antwoorde nie.

  15. Henk, dit wil vir my voorkom dat jy die webwerf wat jy lees dalk misverstaan oor die Bybel? Hierdie blad daar http://www.amazingdiscoveries.org/AD-articles-Bible-Lost-Books-Choose vertel hoekom sekere boeke (wat die Katolieke wel insluit, maar ander Bybels nie) nooit deur die res van die kerk aanvaar is nie: Kortom, daardie boeke is te laat geskryf, het duidelike onwaarhede in, ens.

    Die uitlaat het nie later gebeur om Christenskap te verander na iets anders nie. Inteendeel, die boeke wat uitgelaat is was nog nooit deel van die res van die Christendom se erkende geskrifte nie. Want die vroeë kerk het geweet daai boeke is onakkuraat.(Dis immers nie net Christene wat boeke oor godsdiens kon skryf nie.) En die boeke gee geen rede om die kruisig- en opstaandatums- opgeteken in boeke wat sowel Katolieke as ander kerkmense erken- te betwyfel nie. Dit lyk nie of “Amazing discoveries” die Bybel wat ons het betwyfel nie. Inteendeel.

    Kortom, jy vra of jy dit wat in die Bybel staan kan glo as die waarheid? Ja. Sien afdeling A op die “Om Jesus te volg maak sin” blad vir motivering. Hoop dit help jou in hierdie belangrike saak, sodat jy jou met jou hele hart en VERSTAND en al jou krag aan God kan toewy, met wat jy in Sy Woord vind.

  16. flippiefanus

    Die laaste verduideliking is die een hoe ek dit verstaan: die Jode het in die Bybel se tyd ‘n deel van ‘n dag of ‘n jaar as ‘n volle dag of jaar getel. En daar is ook baie voorbeelde daarvan in die Bybel. In Konings 1 en 2 word daar byvoorbeeld die aantal jare gegee wat elk van die konings regeer het. Maar hierdie aantal jare maak gedeeltes van jare as volle jare.

  17. Andrea van Vuren

    Retha, ek het nou net ingeskakel en jou korrespondensie met die agnostici en nie-gelowiges gelees! Jy is voorwaar skerp, Ek wens ek het jou vermoë gehad om teen-antwoorde in vandag se tye aan my vriende te kan gee! Doe so voort – jy is voorwaar ‘n dapper vrou!
    Andrea van Vuren

  18. Die 3 dae verwys na drie tyd perke en het niks met 3 letterlik dae te doen.

  19. Gerhard, het jy enige bewyse vir jou siening?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s