Monthly Archives: Augustus 2010

Kerk-wees gaan nie oor programme nie (Vir predikante, ouderlinge en ouers)

“BKJA (Belydende Kerk Jeug Aksie, of te wel ‘n omgeegroep vir jong volwassenes) het nog nooit gewerk in ons gemeente nie”, vertel die ouderling my. “Die moeilikheid is dat mense trou en nie die groep verlaat nie, maar eerder saam met hulle huweliksmaats bly kom. En so 5 of 6 jaar later het mens ‘n kliek van meestal egpare waar jong enkellopendes nie meer voel om aan te sluit nie.”

Oom, dit klink vir my of BKJA wonderlik gewerk het in jou gemeente. Die lede bou ware verhoudings en word deel van ‘n groep.  As programme belangriker as gemeenskap was in die kerk, sou hierdie ‘n probleem gewees het. Maar dit is nie. Kry vir julle BKJA ‘n ander naam wat nie “jeug” inhet nie, stig ‘n nuwe groep elke klompie jare vir net-net skoolverlaters en almal wat daar meer tuis voel as in die ouer groep.

Program-gedrewenes reken ook dinge soos dat kinders op omtrent 12 vanuit die “kindergroep” na die “tienergroep” met ander leiers moet skuif, en die verhouding met die kinder-groepleier tot ‘n einde kom.

Die kerk moet onthou dat verhoudings belangriker as programme is. En daarom moet jy dink hoe om ouers te lei om hulle kinders te leer. Daarom moet groepe nie opgebreek word vir definisies (soos “hierdie is die ongetroude jongmense se groep en paartjies wat trou, moet wegraak”) nie.

As jy besef dat verhoudings belangriker as programme is, sal jy anders oor kerk dink. Vir ‘n begin, sal jy verkies om ouers wat Sondagskool gee verkieslik by hulle kinders se klasse in te deel. Op die lang duur sal jy ook, as jy dit besef, ouers leer om self hulle kinders van God te leer- hulle is beter daartoe in staat as ‘n kategeet oor die reeds bestaande verhouding. Maar waar kry mens ‘n predikant wat ouers leer en motiveer om hulle kinders God en geloof te wys?

Advertisements

Die Bybel en wetenskap – The good, the bad, the ugly

Goed: As ‘n koerantberig die hoofopskrif het: Gelowiges hoef nie hul verstand te begrawe om te kan glo nie.

Sleg: As daardie berigskrywer se eerste bewering, na haar verdediging van Adrio König, is:

Die Bybel is immers ’n prehistoriese boek.

Die definisie van prehistories is: Die tydperk voor geskrewe geskiedenis. Daar is per definisie geen geskrewe rekord van prehistoriese tye nie. ‘n “Prehistoriese boek” kan nie bestaan nie.

En iemand wat beweer dat die Bybel prehistories is, beweer ook heeltemal verkeerdelik dat skrif en geskiedenis nog nie bestaan het in Jesus se tyd nie. Die Bybel is nie eers ‘n boek nie- dis 66 boeke.

Lelik: Radikale foute in daardie artikel oor hoekom Galileo in die moeilikheid beland het – die kerk het byvoorbeeld geensins geglo in ‘n plat aarde wat op 4 pilare staan in Galileo se era nie. (Daardie idee is al eeue voor Christus nie meer geglo nie.)

Ten minste erken Elrita “Onskuldige gelowiges is nie oningelig of onintellektueel nie”…

Gun gelowige regeerders of ongelowiges mens meer vryheid? (Op Judith se aanvraag)

Judith vra my om hierdie as ‘n nuwe draad oop te maak. Sy begin goed, deur seker te maak waar ons gemeenskaplike grond het:

Van wat ek tot dusver gesien het, stem ons saam oor ‘n paar baie basiese goed. Die eerste is geloofsvryheid. Uit ons almal se skrywe blyk dit ons glo almal mense behoort nie vervolg te word vir hulle geloof nie. In hierdie konteks verwys die woord ‘geloof’ gewoonlik na ‘n hele geloofstelsel (ie Christen, Moslem, atheis). Ek ons is dit eens dat mense toegelaat moet word om die geloofstelsel van hul gewete aan te hang. So atheistiese Stalin was verkeerd in sy vervolging van gelowiges, en die vervolgings van die Waldense en Jode en Protestante en Anabaptiste etc in Europa (of dit nou deur Christene gedoen is of nie – dis ‘n aparte onderwerp) was verkeerd.

‘n Tweede ding wat ons mee ooreenkom hou verband met die eerste, maar dis nie presies dieselfde nie. Ons voel dat, ook as dit by spesifieke beliefs kom, selfs al is dit baie aaklige beliefs (soos: Amerikaners is almal sondige heidene en hoe meer van hulle in tereur sterf hoe beter), iemand nie vervolg kan word indien hy/sy nie optree daarvolgens nie. Muller se verwysing na Minority Report is uiters gepas hier.

Derdens dink niemand van ons dink geweld in die naam van geloof is aanvaarbaar nie – maw ons stem saam die persoon wat die belief hierbo (oor tereur) aanhang, is immoreel.

Is ons nog almal saam hier?

Tot dusvêr tel ek nog nie probleme op nie, Judith. Miskien kan ons net daardie lysies van Stalin (20 miljoen slagoffers vir hulle Christenskap) aan die een kant en vervolgings van Waldense en Jode en Protestante aan die ander kant met regte syfers aanvul, en nog vervolgers. Maar dis aanvulling, nie argument nie.

Ok, kom ons kyk na waar ons waarskynlik begin verskil. Dit lyk my, Retha, dat jy en Muller die skeiding van kerk en staat wantrou. Ek wil net mooi verstaan wat jy sien hoe die verhouding tussen kerk en staat ideaal moet lyk.

Die staat moet die kerk op geen manier beperk of beheer nie, tensy die kerk die wet wil oortree. As ‘n groep paganiste byvoorbeeld ‘n mens-offer sou wou bring soos hulle antieke voorvaders, dan wil ‘n godsdiensgroep die wet oortree. Staatsamptenare moet ewe vry as enigiemand anders wees om hulle geloof te beoefen, en selfs by die werk as ‘n groep te bid as hulle sou wou.

Ek lei af jy wil hê die staat moet eksplisiet sy wetgewingsbasis bou op die Christelike Bybel. So as ons parlement bv wetgewing oor handeldryf op Sondae, egskeiding, dobbel, aborsie of gay verhoudings ter tafel het, moet hulle hulleself amptelik (maw, nie net in die lede se privaat morele oortuigings as Christene nie) wend tot Bybelse riglyne aangaande sulke sake. Mens kan amper sê die Bybel word ons grondwet; alle wette word gemeet aan die standaard wat die Bybel daar stel.

Freedom!
Nee. Die regering moet so klein as moontlik wees, en so min as moontlik wette hê. Wette moet beperk wees tot wat die oorgrote meerderheid mense in ‘n samelewing kan aanvoel as reg. Wette oor moord en verkragting en diefstal sal byvoorbeeld daar wees. Die siviele hof sal mense by ooreengekomde kontrakte hou. Oor die res moet die gewone mens self kan besluit.
Wat skolering spesifiek aanbetref, neem ek aan jy hou van die stelsel min of meer soos dit onder Christelik Nasionale onderwys gewerk het, maw regeringskolering is eksplisiet Christelik. Praktiese gevolge hiervan is dat die kurrikilum ‘n Bybelklas insluit, skole open en sluit met skriflesing en gebed, sportspanne bid met wedstryde, etc – en daar word verwag dat onderwysers, kinders en ouers betrokke moet wees by sulke gemeenskaplike Christelike aktiwiteite. Is ek reg dat dit die tipe stelsel is wat jy graag sou wou sien?

Wat skole betref, soek ek ‘n stelsel waar die regering glad nie baas speel oor onderwys of onderwysers aanstel nie. Dis ongelowiges soos Madelyn Murray O’Hair en die Afrikaanse Vrye Denkers Beweging wat (godsdiens)onderrig in skole wil reguleer en by wette wil laat inval, nie ek nie. Die ouers stuur die kind na die skool wat hy wil, en ouers is klante wat met die onderwyser en skoolhoof as diensverskaffers praat oor of hy sy kinders in ‘n Bybelklas wil hê, of hy gebed by saalopening wil hê, ens. ‘n Bybelonderrig-klas wat by die kurrikulum ingesluit word, ongeag of enige onnie entoesiasties is om dit te leer of nie, is in elk geval ‘n vrygtelose idee- baie min kinders het iets geleer as kind in Bybelonderrig op skool.

Indien wel, hoe sien jy die rol van andersgelowiges in so ‘n stelsel?

Hulle het die volste reg om te leef soos hulle wil solank dit binne die minimale wette bly. Hulle kan ook hulle eie skole vir hulle kinders begin, of met die skoolhoof onderhandel om hulle kinders uit te sluit uit sekere aktiwiteite. Eweneens kan ‘n lid van ‘n Christen-minderheid in bv. ‘n Hindoe-omgewing dieselfde onderhandel vir hulle kinders met ‘n Hindoe- skoolhoof en merendeels Hindoe-onderwysers.