Monthly Archives: Oktober 2010

Die Bybel noem nie die aarde plat nie

Atties* vertel dit oor en oor: Mens kan nie die Bybel vertrou nie. Die Bybel noem dan die aarde plat. En dan is my volgende vraag altyd: Wáár sê die Bybel die aarde is plat? Ek het nog nie so ‘n vers gelees nie? Op 2 na het hulle glad nie daardie vraag geantwoord nie. Wat niemand hoef te verbaas nie, want die Bybel noem nie die aarde plat nie.

Verlede jaar het een darem ‘n poging aangewend: Job 38:13, vertel hy, praat van “take hold of the ends of the earth, that the wicked might be shaken out of it.” Daardie vers was met goeie rede nie in Afrikaans weergegee nie. In Afrikaans lees hy (en vers 12 voor hom) só: Weet jy waar die daeraad vandaan kom, die daeraad wat lig oor die aarde bring, sodat die goddelose nie in die donker kan bly skuil nie?

Hierdie is simboliese taal vir wat die oggend (daeraad) doen: Vat die aarde en verlig dit, skud die slegte mens figuurlik uit deurdat hy nie meer in die donker kan wegkruip nie.Selfs in ‘n taamlik goeie verbeelding kan die oggend nie letterlik die skurke uitskud nie.

Beteken hierdie vers dat die hele aarde tegelyktydig lig het? Nee. As die oggend die eindes van die aarde vasvat, beteken dit nie dat die oggend gelyktydig alles vasvat nie. (En Lukas 17:31 en 34 praat van daardie dag/ daardie nag oor een en dieselfde gebeurtenis, wat waarskynlik daarop dui dat God weet van tydsones.)

Jy mag dalk nou vertel dat die vers steeds die woord “uithoeke/ Engels edges, Hebreeus kânâph inhet. Aangesien die vers duidelik simboliese taal is, en boonop ‘n vraag is en nie ‘n stelling nie, dra daardie argument nie veel water nie.

Maar daar is ook ander Bybelverse met die term “ends of the earth” in. Verlede week het iemand uiteindelik vir my meer verse gegee om die attie-standpunt “die Bybel noem die aarde plat” te probeer staaf. Hy haal toe onder andere ‘n paar verse aan wat van die uithoeke van die aarde praat, party spesifiek van die 4 uithoeke.

Beteken sulke verse- Jesaja 11:12 is ‘n voorbeeld van een- dat die aarde plat is met (vier) hoeke? Nee, vertel Dr. Joan Sloat Morton, as die Bybel die idee van letterlike hoeke hoeke wou gebruik, kon hy verskeie ander woorde gebruik: Paioh beteken ‘n geometriese hoek, Ziovyoh beteken ‘n 90 grade hoek, en Paamouth beteken vierkant en kon gebruik word as God na ‘n vierkantige aarde wou verwys.

In Jesaja 11:12 en ander sulke verse word die Hebreeuse woord kânâph gebruik. Die webblad Heavenly manna wys duidelik hoe die woord nie na letterlike hoeke kán verwys nie, deur aan te haal uit ‘n paar verse wat die woord kânâph bevat. Hulle reken dit verwys na windrigtings. JP Holding voeg by dat die woord vir aarde in hierdie verse meer gereeld “grondgebied” as ons planeet beteken. Grond het uithoeke, of te wel vêrste punte.

Openbaring 7:1 kan glo meer letterlik met “kwadrante” vertaal word, as (uit)hoeke. Weereens kan die woord vertaal met “aarde” in die vers na grond, land, mensegroepe, of die planeet verwys.

Daniël 4:11 praat van ‘n droom van koning Nebukadneser. As iemand van iets droom, beteken dit ook nie daardie ding is letterlik moontlik nie.

Verse soos 2 Sameul 22:16 wat oor die fondamente van die aarde handel, gebruik ook woorde wat letterlike én figuurlike betekenisse het. En aangesien aarde ook as grond vertaal kan word, kan hulle seker letterlik na die lae onder die grond as die fondamente verwys?

In Matteus 4:8 word Jesus die prag van al die koninkryke gewys. Die plat-aarde-groep reken hierdie beteken dat Jesus van die berg af al die lande kon sien. Hierdie gedeelte praat duidelik van ‘n geestelike ervaring, want a) Jesus kon nie letterlik in die woestyn bly (Markus 1:12-13) én op ‘n hoë berg tegelyktydig wees nie, b) mens kan nie die prag van al die koninkryke van ‘n vêr, hoë punt af sien nie, van vêr af vervaag alles tot vlekke op die grond, c) versoeking is geestelik, en d) Matteus sou nie glo dat daar ‘n hoë berg is waarvan die hele aarde sigbaar is nie, want hy sou weet daar is geenberg wat van oral op die grond af sigbaar is nie. Meer detail hier.

Kortom, daar is geen enkele ding in die Bybel wat vertel “die aarde is plat” nie. Geen objektiewe leser sal tot as gevolg van die Bybel tot daardie gevolgtrekking kom nie. Die plat-aarde interpretasie word gefabriseer deur mense wat baie graag iets negatief van die Bybel wil sê, en nie omgee om betekenisse te verdraai daarvoor nie. Veral die insluit van die Nebukadneser-droom getuig van hulle intellektuele oneerlikheid.

—–
*Atties – Die soort ateïste wat disrespek verdien vir hulle bewysbare intellektuele oneerlikheid, vir verdraaiing van die Bybel.

Ander nota: Lees ook “Almal weet die aarde is rond.” En sien “Ek sien foute in die Bybel? Wat nou? Deel 2” om te weet hoe soek mens antwoorde op as jy wel klaarblyklike probleme in die Bybel teëkom.

Advertisements

Die dissipels se dood- wat vertel dit ons van die evangelie?

Dis reg voor die kruisiging. Jesus se dissipels verlaat hom almal. Judas verraai hom. Petrus verloën hom.

Dis jare later, Johannes se oudag, lank nadat hy as jong man ‘n dissipel van Jesus was. Hy dink aan sy ou mede-dissipels: Judas Iskariot het selfmoord gepleeg kort na hy Jesus verraai het. En die ander?* Petrus, Andreas, Filippus, Bartolomeus, Jakobus seun van Alfeus, en Simon die Seloot is gekruisig. Sy broer Jakobus, en Matteus is albei met swaarde doodgemaak, en Tomas met ‘n spies. Taddeus is met pyle doodgeskiet. Behalwe vir Judas, is hulle almal doodgemaak oor hulle Jesus bly verkondig het.

(Later was Johannes die enigste dissipel wat natuurlik dood is.)

Wat het die dissipels verander van die bang wegkruipers van na die kruisiging, na ywerige verkondigers? Die antwoord is dat hulle nie meer kon glo met die kruisiging nie, maar na dit weer rede gekry het om te glo.

Skeptici sal vertel dat mens nie veel daarin moet lees nie, want baie mense het vir leuens gesterf. Hulle sal voorbeelde soos Moslem selfmoordbom-aanvalle** en selfmoord-kultusse beskryf.

Baie mense sterf vir leuens, ja, maar hulle doen dit oor hulle die leuen glo. Gewoonlik is al die kulturele druk om hulle ook baie sterk in daardie rigting. Ondenkbaar sterk, in die geval van afgesonderde kultusse.

Die verskil, in hierdie geval, is dat die dissipels hulle leier sien sterf het, en toe geen rede meer gehad het om te glo nie. Hulle kon nie glo wat ander vertel soos die selfmoordbom-Moslem nie. Hulle moes self sien wat waar is. Kulturele druk het nie hulle verplig om soos Jesus-gelowiges op te tree nie. Inteendeel: Kulturele druk was teen hulle.

Die argument, wat Jesus se opstanding meer waarskynlik maak, lê nie bloot in die feit dat hulle gesterf het vir hom nie. Die argument is eerder:

1) Jesus se dissipels was bereid om te sterf vir Hom.

2) Mense is nie gewillig om te sterf vir wat hulle weet onwaar is nie.

Gevolgtrekking A): Jesus se dissipels het geglo wat hulle vertel, nie ‘n storie opgemaak om ander te mislei nie.

Gevolgtrekking B): (uit A) Die dissipels het iewers uit iets rede gekry om te glo.

3)Jesus se dissipels kon nie glo op kulturele druk of die woord van ander nie. Dis ook onwaarskynlik dat Jesus se voor-kruisiging woorde dit gedoen het, want dan sou hulle nie met en kort na die kruisiging bangbroeke gewees het, net om later te verander, nie.

Gevolgtrekking C): (Uit B en 3) Die mees waarskynlike rede waarom Jesus se dissipels so sterk geglo het, is dat hulle na die kruisiging redes waargeneem het om te glo.

empty tomb

En bogenoemde is ‘n getuienis wat mens lei in die rigting van dat hierdie manne iets radikaals beleef het. Hulle self het vertel dit was ‘n opgestane Jesus, en ‘n graf met die klip weggerol…

 

—————————————————————————————–

* Toegegee, die historiese bronne vir al hierdie sterftes is nie ewe goed nie. Maar dis nie nodig om elk van hierdie sterftes te bewys om die punt te maak nie. ‘n Demonstrasie dat a) die opstanding die basis vir die Christendom was b) diegene wat Christenskap eerstehands verkondig het genoegsame rede gehad het om te glo dis gevaarlik om so te maak, en c) dat hulle nogtans bly dit verkondig het; is genoeg vir die punt oor sterf vir ‘n leuen.

Die wyse man bou sy huis op die rots: Ekstra vers

Hier is ‘n ekstra vers vir die kinderliedjie “Die wyse man bou sy huis op die rots.” Die ekstra vers is omdat jong kinders baie letterlik dink en die figuurlike boodskap van die liedjie nie noodwendig by ‘n kind insink as hy dit sing nie.

(1) Die wyse man bou sy huis op die rots x3

en die reën het neergeval.

En die reën val neer en die vloed styg op x3

en die huis op die rots bly staan!

(2) Die dwase man bou sy huis op die sand x3

en die reën het neergeval.

En die reën val neer en die vloed styg op x3

en die huis op die sand val plat!

(3) Die wyse mens doen wat God wil hê x3

al wil ander mense nie.

Ander doen verkeerd, luister nie na die Woord x3

maar die mens met die Woord kies reg!

Honde jaag nie geparkeerde karre nie (Waarom wonderwerke skaars is)

Willem vra onlangs die volgende:

In die bybelse tyd het ons groot publieke wonderwerke gesien, water in wyn, opwekking van die dooies, opstaan uit die dood, vuurkolomme, water van die rooi see wat oopmaak om maar ‘n paar te noem – waar is hierdie gebeure vandag?

Watter soort mense het in Bybelse tye die wonderwerke gesien waarvan Willem praat?

*  Water in wyn (Joh. 2) was gesien deur ‘n paar bediendes wat geluister het wat Jesus sê en vir hom wynkanne vol water gaan maak het.

*  Wie weet dat hulle ‘n opgestane Jesus gesien het? Díé wat Jesus gevolg het na die kruisigingsplek, hom gesien sterf, en hom later weer lewendig gesien het. Aan wie het Jesus verskyn toe hy weer lewendig geword het? Aan die vroue wat sy graf opgesoek het, aan sy dissipels, en aan 500 gelowiges op ‘n slag.

*  Wie het die vuurkolom snags gesien? Die wat bereid was om te volg uit Egipte uit. Ditto die twee groepe wat die Rooisee en Jordaan sien oopgaan het, onder Moses en later onder Josua.

*  Wie het Jesus se ander wonderwerke gesien? Die skare wat hom oral agtervolg het en gekyk het wat hy doen.

Wat het al hierdie groepe in gemeen? Lees die vetgedrukte stukkies.

As ‘n selferkende ateïs, wat verskonings soek om die Bybel te verdraai en nie te glo nie, sou wonder hoekom hy nie wonderwerke sien nie, wat vertel bogenoemde jou? En wat is die kanse dat daardie selfde ateïs meer sou sien as hy in Jesus se tyd sy geleef het? Waar mense kies om God te volg ten spyte van die swaarste omstandighede, gebeur sulke dinge vandag nog. Só kan mense soos Broer Yun van China, skrywer van “The Heavenly Man” getuig.

Een sendeling het die Engelse slagspreuk gehad:

No go, no lo.

Dit kom uit Matt. 28:19-20., wat in Engels vertel: Go and make disciples … and lo, I am with you always to the very end of the age.  As jy nie gaan nie, vertel hy, sien jy nie God se teenwoordigheid nie.

‘n Ander gedeelte sê tekens en wonders sal diegene volg wat glo. Honde jaag nie geparkeerde karre nie. En tekens en wonders volg nie, as jy nie “beweeg”vir die Here nie.

Watter soort kleuterskool moet ‘n ouer kies?

Huisgenoot vertel ‘n storie wat genoeg is om ouers koue rillings te gee. Dis van ‘n kleuterskool waar die kinders geslaan en vasgebind is:

 

 

 

 

 

 

 

As iemand wat self in my jeug by 3 kleuterskole/ dagsorgsentrums gewerk het, is my opinie as volg. Mens kan basies tussen 3 soorte kleuterskole kies:

a) Kleuterskole waar bytende, afknouende, skreeuende kinders die plek regeer, (in groen onderstreep in die Huisgenoot-artikel) en wat daarom ‘n onveilige en ongelukkige plek vir jou kind sal wees. Dis die plekke waar juffrouens nie dissipline kan handhaaf nie.

b) Kleuterskole wat, om Noreen Ramsden uit die artikel aan te haal, “vaardighede vir alternatiewe dissiplineringstegnieke” bemeester het. (in blou onderstreep in die Huisgenoot-artikel) Waar stout kinders al die aandag opvat – Ramsden erken self dat lyfstraf vinniger en makliker is en ander strawwe meer tyd en aandag vat. Waar dit dus langer duur om stout kinders in te perk, en intussen sit jou kind met hulle chaos en geboelie opgeskeep. Waar die soet kind, van die tyd wat hy by die skool aankom tot hy in die middag huis toe gaan, nie eenkeer oogkontak of een sin se gesprek van juffrou kry nie.

c) Kleuterskole wat die wet oortree en kinders slaan. (in rooi onderstreep in die Huisgenoot-artikel) Dikwels leer hulle ook kinders “moenie vir Ma vertel van die slaan nie” en myns insiens is die boodskap “Moenie ma vertel wat gebeur nie” baie gevaarliker vir kleintjies as enige slae wat ek al ooit by dagsorg waargeneem het.

Jy hou nie van wat jy hier lees nie? Goed, goed, dis nie heeltemal waar nie. Want kleuterskole het gewoonlik meer as een van bogenoemde 3 faktore in ‘n groter of kleiner mate teenwoordig, en ek het nog nie een gesien wat Ramsden se sogenaamde “vaardighede vir alternatiewe dissiplineringstegnieke” bemeester het nie. En dis by almal so dat kinders mekaar seermaak, en dat soet kinders geen aandag kry nie. En daar is ook ‘n ander alternatiewe vorm van dagsorg:

d) ‘n Tuisbly-ma wat haar kleuter by haar hou en die wêreld wys, die kind leer help in die huis, ‘n voorbeeld stel vir die kind van hoe om mense te behandel, hom of haar verrykende geselskap gee op ‘n vlak wat ander vier- of sesjariges nie kan nie. Waar jy self kan dophou dat jou groter kinders nie die kleintjies boelie nie. Waar jou kind nie lelike woorde leer tensy jy hulle self gebruik nie. Waar jy, as jy sou slaan, kan monitor of dit redelik en met liefde gedoen word. Waar jy kan seker maak stoutigheid is nie al wat aandag kry nie.

Ernstig, watter soort ouer los ‘n kind by iemand wat die ouer nie ken nie, sonder dat die ouer eers op ‘n dag ‘n uur lank in die hoek by die dagsorgsentrum sit en waarneem het hoe die onderwyseres kinders behandel?