JUIG en haar sustertydskrif JOY magazine het hierdie maand ‘n artikel gepubliseer in reaksie op iets wat ek geskryf het. Hulle Afrikaanse artikel se naam is Geslagshiërargie in die huis.
Hier kan julle die volle teks lees van die brief wat ek aan hulle gestuur het. Die dele wat JUIG weggelaat of bygevoeg het, is gemerk. Dit was vertaal vir die Afrikaanse uitgawe. Ek het geen probleem, terloops, met die vertaling nie, net met die weglating.
Ek is bietjie ongelukkig dat my naam, Retha Faurie, uitgelaat is, want sodoende kan mense wat meer wil weet my nie via die Internet soek nie, maar dit was waarskynlik nie met kwade bedoelings uitgelaat nie. Ek vind dit nog hartseerder watter inhoud hulle gekies het om uit te haal.
Later sal ek op die artikel reageer, maar intussen los ek ‘n leidraad: Die woord kephale, wat met hoof vertaal word in die twee “die man is die hoof van die vrou” bybelverse, beteken amper verseker nie wat dit na klink nie.