Wat “die man moet die geestelike leier wees” aan my gedoen het

Kan jy so bietjie in ‘n tydmasjien klim en vir my storie na die nabye verlede teruggaan?

Probeer jou indink aan ‘n introverse boekwurm wat eerder ‘n “late bloomer” as voor op die wa was en op 15 nog nie ge-“bloom” het nie. Dis min of meer Retha Faurie teen die tyd wat sy 15 was. As sodanig het die voor-bekering 15-jarige Retha nooit met ‘n outjie uitgegaan nie. Dit het my ook nie gepla nie. Ek het regtig nie toe al belang gestel nie.

Toe ek op 15 my lewe vir die Here gee, was dit met entoesiasme, en Hy het my swak-selfbeeld lewe regtig sin en betekenis gegee… Dis moeilik om oor bekering te praat sonder om in Christenbabbel-clichés te verval. In elk geval, ek het my nuutgevonde God waardeer en verkondig en uiteindelik die lewe sinvol gevind. En Bybel gelees en gebid en CSV kringleier gewees en begin Sondagskool gee en Diensjaar vir Christus gedoen en basies elke geleentheid aangegryp om vir die Here te werk. (Hier stop die clichés, ek belowe.) Nie alles wat ek intussen gedoen het, was ewe suksesvol en ewe veel van die Here af nie, maar dis ook ‘n onderwerp op sy eie.

Natuurlik, soos ek ouer word, het ek wel begin om ‘n behoefte na die teenoorgestelde geslag te ontwikkel. Ek was ‘n late bloomer, nie ‘n never bloomer nie.

Maar teen daardie tyd het ek al die idee ingeneem dat die man die geestelike leier moet wees, en het ek geglo dat ‘n Christen-vrou net mag belangstel in ‘n man wat haar geestelik kan lei. Nou ja, dit sou beteken ‘n man wat meer van Christenskap weet en meer in Jesus belangstel as ek wat heeltyd vir Hom wil werk. Hy moenie net meer weet van Christenskap en die Here meer liefhê nie, die man moet ook ‘n herderlike en lerende gawe hê, want hy moet die meerdere kennis gebruik om my geestelik te lei.

Geestelik te lei? Wel ek weet die Bybel praat nie spesifiek van geestelike leiding nie (hy noem hoof wees soos Jesus, so dit kan regtig nie geestelik uitsluit nie), en ek het dan ook geglo die man moet in ander opsigte die leier wees. Daarom het ek gesoek na ‘n man wat slimmer as ek is, wie se besluite ek meer kan vertrou as my eie…

En, nodeloos om te sê, enige man wat enigsins ‘n effense indikasie begin gee het dat hy van my hou, het ek beoordeel of hy my geestelik kan lei, of hy my geestelik probeer lei. En die minderheid mans wat wel geestelike leiding in my lewe verskaf het, was klaar getroud en het geestelike leiding aan baie mense verskaf. Die ouens wat belangstelling in my getoon het? Ek het net nie terug belang gestel nie. Hoe kon ek, aangesien ek  as (destyds meer as nou, is ek spyt om te sê) toegewyde gelowige geglo het dat as hy my nie geestelik kan lei nie, die verhouding nie God se wil kan wees nie?

Lag maar as jy wil. Daar word beweer dat vroue dikwels onrealistiese verwagtings van verhoudings het, en “geestelike leierskap” is een van Christenvroue s’n. Min of meer so iets:

Wel, ek kla nie oor die tyd toe ek dit geglo het nie. Dis wonderlik om die Here te dien – met of sonder ‘n man. Maar op 36, en nie net ‘n maagd nie maar iemand wat nog nooit ‘n mansvriend gehad het nie, het ek weer na die Bybel gekyk – en agtergekom dat ek bedrieg was. My probleem was dat ek vasgekyk het in boodskappe wat nie van God  gekom het nie. Die Bybel vertel nie wat ek gedog het nie. Die Bybel vertel nie “soek ‘n man wat kan lei soos Christus lei” nie. Hy vertel ook nie, “man, lei soos Christus” nie. Daai verse sê niks van wat hy moet wees of moet doen nie. Hier is wat daar wel staan:

Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is – Efes 5:23, beklemtoning bygevoeg.

Wel, as daardie teks beteken wat ek op gesigwaarde na lyk, dan is dit nie waar nie. Mans is nie leiers soos Christus dit is nie. Party lei glad nie, en ander lei op maniere wat Jesus nie lei nie. Toe hoor ek daardie hoof is die letterlike Griekse woord vir kop, en dat dit ander simboliese betekenisse het in Grieks. Dit hoef nie leierskap te beteken nie, en dalk beteken dit nooit leierskap nie. En dit maak sin. Dit maak sin vir my kop. Dit maak sin vir my hart.

En toe gaan ek vêrder in op die ou sakie, en kyk wat mense gewoonlik bedoel as hulle brabbel dat die man “die hoof” moet wees. Ek kry toe allerhande stellings waarvan hierdie ‘n tipiese een is:

I believe a male spiritual leader in the home is a man who loves his wife and family, expresses that love often, prays with and for his family on an individual basis and corporately.  He should be an active participant in his church and his family should see him in that role.  He should read scripture often, be seen by his family doing that, maybe listen to Christian media in the car.  He shouldn’t live a life of hypocrisy, he should admit when he is wrong, be strong – but gentle.

Maar dan, ‘n vrou wat haar man en kinders lief het, die liefde gereeld uitdruk, met en vir haar familie bid, in haar kerk en familie betrokke is, Bybel lees, wat opreg is en sterk maar saggeaard is ‘n ewe goeie ding! Om een of ander rede noem mense dit “geestelike leierskap” as dit van ‘n man af kom, en bloot “geestelike toewyding” as die vrou dit doen. Ek verstaan nie hoekom nie? ? ? Hoe vêrder ek gekrap het, hoe meer gelofies oor die saak is as mites ontmasker.

Miskien is die probleem dat mense goeters sê wat hulle nie bedoel nie. Of miskien is die probleem dat ek aanneem mense bedoel iets as hulle dit sê. Toe ek gehoor het dat mans “geestelike leiers” moet wees, kon ek dit nie interpreteer as dat hulle bloot dieselfde moet doen as wat ook goed is as die vrou dit doen nie. Maar dan, ek is die tipe wat vir hoe lank gedog het dat as mense vra hoe dit gaan, stel hulle belang in hoe dit gaan.

En so, nadat ek op 36 die idee van die man se “geestelike leierskap” afgesweer het, kon ek op 37 laas jaar vir die eerste keer ‘n mansvriend kry. Dit was ook ‘n man wat nie geestelik my leier sou kon wees nie, maar dit het nie saakgemaak nie. Al het die verhouding nie uitgewerk nie, bly dit ‘n mooi herinnering.

Miskien kry ek nog eendag ‘n trouman. Miskien is dit te laat. Maar bliksem, ek wens niemand in die kerk het my ooit die twak van “die man moet die geestelike leier wees” geleer nie! Ek kon dalk getroud gewees het, met kinders. En ek hou baie van kinders. Noudat ek nie meer sulke onmoontlike verwagtinge van mans het nie, vind ek selfs ek waardeer die gemiddelde man meer.

4 responses to “Wat “die man moet die geestelike leier wees” aan my gedoen het

  1. Retha, vir my lê alles opgesom in jou laaste stelling:
    ‘Maar bliksem, ek wens niemand in die kerk het my ooit die twak van “die man moet die geestelike leier wees” geleer nie!’ Dis hartseer dat mens a.g.v. wat ander mense ons leer (dikwels korrek, dikwels interpretasies) verwagtinge kweek van hoe ‘mans’ moet wees. Ek kan getuig dat ek vandag gelukkig getroud is,steeds met dieselfde ou, maar ongelukkig vir die eerste 10 jaar so ‘n hoë verwagting op my man geplaas het, hy moes omtrent JESUS self wees! Hoekom? Want dis ook hoe ek van kleins geleer het! EN, ek dink BAIE ander girls, en daarom juis, baie wat ‘ouer’ trou of nooit, want waar is hierdie ridder op die witperd dan nou juis? En dan moet die ‘arme mans’ net perform, perform, perform.
    Ek glo egter in wonderwerke, en joune kom, mag jy met ‘n wonderlike, ‘gemiddelde man trou’, wat baie lief is vir jou!!!!!

  2. Sjoe, ek is jammer oor wat hierdie illusie aan jou gedoen het. En bly dat jy uiteindelik daardeur kon sien.

  3. En net dalkies wag daar ‘n wonderlike man vir jou, een vir wie jy kan liefhê en hy vir jou. En dalk was dit goed om eers volwasse te word en sekere dinge in jou eie hart uit te sorteer… Ek glo niks gebeur sonder ‘n doel nie, al was jy selfs mislei. Sterkte!

  4. Ek het vroeg al geleer om baie krities te wees oor elke liewe ding wat op ‘n kansel of by ‘n selgroepie gese word sommer net te sluk. En dit maak my lewe waarlik ryk op baie verassende maniere. Probleem is, mens word so maklik meegesleur deur mense in jou lewe. So was ek in ‘n verhouding met ‘n dame wat die Bybel en die dinge van die Skepper totaal anders as ek interpreteer het, en ek was so hals oor kop verlief dat ek alles oor boord sou gooi.

    Goeiste, ek mis haar vriendskap nog, want ons was baie ‘close’, maar ek is die selfkastyding uiteindelik gespaar nadat ek haar verloor het.

    Mens kry baie soorte tronke.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s