Waarom ek van gemeente verander, deel 2: Die gemeentevergadering

(Dinge wat ek nou hoor laat my van mening verander oor die insluit van die predikant se naam. Hy is dr. Leon van Zyl, tans van Welkom Moedergemeente NG Kerk. Die woorde in grys is bygevoeg op 19 November 2013.)

Op ‘n dag preek die predikant oor die liefdeloosheid in die gemeente, iemand wat agteraf vir hom lelike boodskappe stuur, mense wat oor hom skinder… Dit laat baie van ons lidmate ongemaklik: Die oorgroteimagesCA706JSM meerderheid van ons gemeente is nie die mense wat agteraf oor hom skinder of hom nare SMS-boodskappe stuur nie. Ek het die preek nogal self-gesentreerd beleef: Daar is liefdeloosheid, want hy word beskinder. Die gemeente, of dan diegene wat skuldig is, moet ophou nare boodskappe vir hom stuur. Daar was geen voorbeelde van hoe daar liefdeloosheid was oor hoe ons gemeente die leierdiaken, die tuinier, ‘n tannie wat vir weke lank al siek is, of ‘n woelige klein seuntjie*, of enigiemand anders in die kerk behandel het nie.

Maar dan, dis nie die eerste keer in my lewe wat ‘n dominee of pastoor of Bybelstudieleier ‘n onderwerp bespreek wat my nie aanspreek nie. Ek meen, party dominees sal 4 preke in ‘n ry oor die huwelik** gee, terwyl daar kinders en tieners wat nog nooit getroud was nie, geskeides, weduwees, en enkellopendes ook in die kerk is. En sprekers gebruik soms voorbeelde uit hulle eie lewens as hulle praat.

Dit kom toe later uit dat ons predikant ‘n gemeentevergadering wil belê waar die mense kan vertel waarom hulle ongelukkig met hom is. Die vergadering was ‘n paar weke gelede.

Die eks-hoofouderling, Oom D, praat eerste toe die vergadering aanbreek. Oom D noem die liefdeloosheid-preek. Hy praat oor ‘n lidmaat wat in die kerk opgestaan het en hoe die predikant gedreig het om die ouderlinge te kry om haar uit te gooi.  Hy lees daaroor hierdie brief voor, wat hy op my blog moes gekry het. Hy noem dat die predikant (6, ek dink,) maande lank in die kerk was voor hy meer geld gevra het. (Bygesê, die salaris wat met hom beding was is minder as sinodale salarisskale, oor ons gemeente geldelik agteruitgegaan het in die tyd met eers ‘n siek, en toe sonder, ‘n predikant.) Oom D vertel die predikant het hom vertel “Jy (Oom D) het lank genoeg die gemeente gelei. Dis nou my beurt.”

Oom D is net na hierdie vergadering weg uit die gemeente – en nie 2 maande later nie, is hy glo alreeds op sy nuwe gemeente se kerkraad.

Toe vertel ‘n ander eks-ouderling dat hy nie meer kans sien vir al die onmin en vure doodslaan sedert die nuwe predikant daar begin werk het nie. (Hy is ook weg.)

‘n Brief word voorgelees van nog ‘n langtermyn-lidmaat met ‘n groot familie wat ook nie meer kans sien vir die onmin nie, en ook die gemeente verlaat het.

‘n Tannie kom op en vertel onder meer met hoeveel liefde haar groep die pastorie se tuin aan die gang gehou het toe ons sonder ‘n predikant was. Toe hierdie een opdaag, het hy disrespekvol (so beleef sy) plante uitgeruk en geen dankbaarheid betoon vir hulle moeite nie.

Ons dominee lyk smoorkwaad terwyl hy hierdie dinge aanhoor. Hy dui aan hy wil ook sy kant stel. Die streek-moderator, wat as waarnemer die vergadering bygewoon het, keer hom. Die ou is te kwaad, reken hy, en moet eers kalmeer en anderdag hieroor praat.

‘n Paar mense kom vorentoe en vertel hoe hulle die nuwe dominee se preke waardeer. Dis goed dat hulle dit gedoen het. Dis aaklig om ‘n halfuur lank by een mens na die ander van jou (werklike of beweerde) foute te hoor.

Die uwe loop ook vorentoe. Ek is hier, vertel ek, oor iets wat ek gedoen het in hierdie vergadering genoem is. Ek hoor van die mense wat kwaad is, maar wil duidelik stel ek is nie een van hulle nie. Ja, ek het eenkeer protes aangeteken toe die dominee oor die vrou se onderdanigheid gepraat het. Die vernaamste eienskap van vroue-mishandelaars is ‘n sense of entitlement, en daardie verwagting van die vrou lei daartoe dat mans voel hulle is op spesiale behandeling geregtig waarop hulle vroue nie is nie. En talle teoloë dink anders as ons predikant hieroor.  Maar ek het met ‘n boodskap verskil, en nie met ‘n predikant nie. Toe spreek ek ‘n hoop vir versoening uit, dat ons as liggaam sal omgee vir die dele van ons lyf wat duidelik (aan die dag se vergadering gemeet) seer het. Ons moet omgee vir die dominee én diegene wat met hom verskil, en aan versoening werk.

Oor die volgende paar weke skuif glo 30 lidmate na ander gemeentes. Dit sluit heelwat van die mees betrokke en aktiewe lidmate in. Ouderlinge. Minstens een kategeet. Die skriba. Die koster…

Intussen word nuwe kerkraadslede aangekondig: Dit lyk (vir my) of almal wat die dominee die vurigste verdedig het, tot die kerkraad verkies word. Die nuwe kerkraadslede, die van wie ek enigsins weet wat hulle doen, is die ryk en suksesvolle mense in die gemeente. Dis nogal anders as wat hy in sy eerste preke vertel het. Ek korrespondeer met ‘n vriend dat ek besorg is oor wat aangaan: Dit lyk of al die kerkraadslede vervang word met mense wat vuriglik met die dominee saamstem. Die ouderlinge, so skryf ek vir die vriend, moet toesighouers oor die gemeente – insluitende predikant – wees, en nie die dominee se rubberstempel nie.

Nogtans, ek ken net party van die name wat nou vir die kerkraad voorgestel word. Wat laat my dink die res is ook ryk, en ook mense wat sal gaan waar die predikant ook al lei? Ek beskuldig dalk nou die man verkeerdelik. Buitendien, ek glo dat die predikant basies in die regte rigting wil gaan wat gemeentewerk betref, dus is dit nie direk ‘n probleem as die kerkraad met hom saamstem nie.

Gister ‘n week gelede preek die dominee oor hoe ons soos kapok-aartappels moet wees: Mens moet nie sien waar een ophou en die volgende begin nie, ons moet nie ons eie eer soek nie. Maar is hy ‘n kapok-aartappel soos die res van ons, of is hy soos koning Simba wat in die ou ek-wil-‘n-Simba-skyfie-wees advertensie sê: “Word eers ‘n bietjie groter”? Lees die volgende artikel en oordeel self.

>>Deel 3

———–

Naskrif

* Hierdie punt skimp nie op enige spesifieke slegte behandeling wat enige spesifieke lidmaat van die gemeente gekry het nie.

** Ek wonder of so ‘n predikant 4 preke in ‘n ry oor Christelike weduwee-skap vir die hele gemeente, waarvan ‘n groot deel nie weduwees/ wewenaars is nie, sal gee, of 4 preke in ‘n ry oor hoe om as Christen te leef op hoërskool?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s