Nee, jy mag nie hierdie Sondag Sondagskool gee nie! (Weggaan uit gemeente, deel 5)

(Dinge wat ek nou hoor laat my van mening verander oor die insluit van die predikant se naam. Hy is dr. Leon van Zyl, tans van Welkom Moedergemeente NG Kerk. Die woorde in grys is bygevoeg op 19 November 2013.)

Die predikant het my sopas gebel. Hy het gevra of ek die Retha Faurie is wat die gemeente los. Hy vra toe hoekom. Ek antwoord toe nie ‘n hele lang storie oor goed wat ek een na die ander sy gedrag oor kon verskoon nie, maar net dat toe hy die erediens vervang met wat ek voel ‘n selfverdedigingsdiens was, toe voel ek dat dit tyd is om te gaan. Ek belowe toe ek sal hom ‘n meer volledige antwoord (skakels na die laaste paar inskrywings op die blog) stuur. Hy vertel dit was nie ‘n selfverdedigingsdiens nie, maar dat ek welkom is om te gaan oor iets so triviaal. (Ek het een sin kans gehad om hom te antwoord. Hy het daardie sin dadelik geantwoord met a) wat ek voel is tegnies onwaar, en b) my klagte is triviaal. Liewe lesers, kan julle sien waarom ek gekies het om eerder ‘n reeks blog-inskrywings te maak hieroor?)

Hy is waarskynlik reg dat dit nie ‘n selfverdedigingsdiens was nie (“selfverdedigingsdiens” was my belewenis en nie ‘n feit nie), maar hy kon nog steeds liefs eers ‘n erediens aan God gehou het, dit afgesluit het, en sy eie saak na dit bespreek het.

Hy vra my toe of ek gaan ophou met kategese gee. Ek vertel hom dat ek reeds die ketegese-sekretaresse laat weet het ek hou op. Maar ek hou nog my beloftes – ek het my mede-kategeet (wat nie hierdie Sondag in Welkom is nie) belowe dat ek hierdie Sondag – die laaste Sondag in die kwartaal – sal alleen klas gee, en ek sal. Hy vertel dat hy nie iemand wat negatief oor die gemeente en hom voel enigsins wil toelaat daar nie, hy sal iemand anders kry om die klas te behartig Sondag.

Iemand vertel my dat hy laas Vrydag die koster, wat van gemeente verander het, ook onmiddelik laat gaan het, maar dis hoorsê. Ek weet hy het afgekondig die koster is weg. Of die koster gevra is om te loop, en of die koster self so gekies het, weet ek nie. Die skriba (admin- en skakelpersoon in die kerkkantoor) by sy gemeente het ook gekies om van gemeente te verander, maar het vandag nog by die kerkkantoor gewerk.

Nou kan julle self besluit: Is dit reg om ‘n langtermyn-lidmaat te verbied om ‘n les oor Moses se roeping en bang wees om die regte ding te doen aan laerskoolkinders aan te bied, oor genoemde persoon voel dat een lidmaat (uit miskien 500 lidmate), die predikant, party dinge anders moet doen? Dis nie eers asof ek in die klas sou praat oor die predikant nie – dis nie waarvoor die kategese daar is nie.

Het die predikant die steun van die kerkraad om te keer dat ek nog ‘n les gee, of doen hy dit in sy eie hoedanigheid? Ek sal dieselfde vraag wil vra oor die beweerde afdanking van die koster verlede Vrydag, indien dit waar is dat hy die koster laat gaan het.

Maar dit maak nie regtig vir my saak nie. Wat meer (in my opinie, wat nie die opinie van enige ander lidmaat hoef te wees nie) saakmaak, is dat hy reken dat die vervang van ‘n erediens aan God op ‘n Sondagoggend, met ‘n geleentheid waar hy oor sy eie situasie –en geskiedenis – praat, triviaal is. So iets stuur dalk die boodskap uit dat dit nie belangrik is om God te vereer nie, dat eer aan God maar vervang kan word met belangstelling in die self. Dalk moet hy heroorweeg of dit triviaal was.

————

Naskrif, vir volle eerlikheid:

  1. Die predikant vertel my aan die einde van die oproep dat hy ‘n getuie op sy kant van die telefoon laat inluister het in sy gesprek met my. Waarom hy dit gedoen het, weet ek nie.
  2. Hoewel ek 12h20 met die predikant oor die foon gepraat het, het ek eers 17h00 vir hom die skakels gestuur. Ek is by die werk nie naby sy e-pos adres nie en sou dit tuis moes opsoek.
  3. Dis moontlik om my as oneerlik uit te maak oor deel 4 impliseer ek gaan weg oor die predikant nie op die gemeente se vlak is nie, en die oproep se eensin antwoord vertel dis oor hy (volgens my belewenis) die erediens met sy storie vervang het.(Een sin, want ek dink nie hy sou lank en vriendelik luister nie. Dis moontlik dat hy lank en vriendelik sal luister na iemand anders as ek. As hy sal, kan ek dit nie weet nie.) Ek reken egter dat albei saam deel is van ‘n eenheid: Die eenheid spreek myns insiens van ‘n houding wat klaarblyklik dink “ek en God bo, gemeente onder” eerder as “God bo, gemeente waarvan ek een is onder.”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s