Ienie, mienie, maainie, mou – Watter kategese-materiaal moet my gemeente kies? Deel 5: LP3/ “Die coolste plan”

LP3‘n Evaluasie van LP3/ Die coolste plan
As hierdie resensie langer is as enige van die ander, is dit oor die benadering agter die materiaal soveel anders is. Ek probeer beskryf wat die materiaal probeer regkry, dit beoordeel daarop, en dan dit te beoordeel op dieselfde dinge as waarop ek ander lesse oordeel.
Hierdie materiaal se uitgangspunt: Die kind wat gereeld kategese bywoon, moet oor 6 jaar van nou af (die tyd wat mens van Gr. 1-6 in die kategese is) ‘n oorkoepelende idee kan vorm van waar die verskillende Bybelverhale op ‘n tydlyn/ op landkaarte/ by die kerkgeskiedenis inpas. Dus hanteer hierdie laerskoollesse materiaal wat ek nog nooit vantevore oor klas gegee het nie, soos Isak en Rebekka se huwelik wat vir hulle gereël word (een hele les – die enigste detail wat uitgelos word is dat Rebekka darem op ‘n stadium gevra is of sy instem – Engels consent – om met ‘n vreemde man weg te gaan), die kruistogte, Calvyn, en weekliks waar in die kerkjaar mens is.
LP3 staan vir Lyne, Panele, Portrette en Prente. Die tydlyn bestaan uit 12 panele (skyfies 4-15 in hierdie Powerpoint stel) wat op die muur geplak word van die grootgroep – lokaal. Op daardie lyn word nog prente bygesit, en “portrette” van prominente Bybel-en geskiedeniskarakters, (Jesus is nie onder die 29 potretkarakters nie, maar Agab en  Josia is?) wanneer mens by die relevante storie kom.
Boodskap: Ek is vertroud met ‘n effektiewe manier van aanbied wat kernboodskap – lesse genoem word, waarin dieselfde boodskap beklemtoon word regdeur die les, maar hier word dieselfde boodskap vir amper elke les regdeur jaar 1 gebruik: God het ‘n plan . Op die ou end word “God se plan” stopwoorde wat min beteken. (Woorde soos plan, planmaker en beplan kom 122 keer voor net in die eerste 5 lesse in aanbieders-handleiding 1.) Ander belangrike Bybelboodskappe word na my mening afgeskeep, en daar is nie genoeg sinvolle toepassings om daardie een waarheid elke week goed toe te pas nie.
Grootgroepe, wat meestal die verhaal (Bybel of soms geskiedenis) van die dag inhet, se verhale is dikwels nie boeiend of met kindervriendelike woordkeuses met ‘n goeie inleiding, klimaks of slot nie. (Inleidings is byvoorbeeld soms op die trant “julle hoor nou al weke lank van…, vandag hoor julle verder van …”, en ander kere lei die inleiding nie logies tot in die verhaal nie.)
Toepassings, waar hulle wel gemaak word, is dikwels bloot moralisasie reg aan die einde van die byeenkoms en nie deel van die boodskap die heeltyd nie.
Om hierdie materiaal te evalueer vir wat dit is, vra ek: “Sal ‘n kind na 6 jaar in hierdie lesse ‘n beter geheel-oorsig van die Bybel hê as met ander lesse?” Na my mening ja, oor die verhalende dele van die Bybel, mits grootgroep-aanbieders die tydlyn/kaarte/ kerkjaarwiel gebruik het (in my gemeente slaan hulle dit dikwels oor, ek dink nie ons grootgroep-leiers vind dit sinvol nie) en die kind moeite gedoen het om te luister. As die kind egter afskakel wanneer hy verveeld is, sal ‘n ander reeks hom meer Bybel laat onthou. Die reeks sluit min in van die nie-verhalende dinge in die Bybel: Wat is die grootste gebod? Wat beteken dit in die praktyk om vir jou naaste lief te wees? Hoe bid ek?
Prente en aktiwiteite:
Weereens lê die fokus op ‘n ander plek as met meeste soorte materiaal.
Die duurste visuele items is ‘n stel muurplakkate wat ‘n tydlyn maak om te weet waar gebeure inpas.
Hier is meer visuele hulpmiddels as in enige ander lesreeks, ‘n voordeel moontlik gemaak deur Powerpoint: ‘n welkom-skyfie as hulle die klas inkom, agtergrondskyfies vir liedjies, ‘n veels-geluk-skyfie vir kinders wat verjaar, ‘n kerkjaar-skyfie en selfs ‘n verdaag-na-kleingroep-skyfie. Dit help met waar die leier in die program is.
Die prente wat deel maak van die les/ boodskap is nie so effektief nie. Soms trek besige Powerpoint-agtergronde aandag van die Bybelverhaal se prente af. Bybelkarakters is nie so mooi geteken soos die moderne kinders wat die skyfies versier nie, en dit lyk of daar doelbewus byna geen uibeeldings van Jesus is nie, selfs waar hy die handelende karakter in ‘n verhaal is.
Maar dan, ek meet die effektiwiteit aan of prente belangstelling wek en ‘n boodskap oordra. Die reeks se doel is egter om een gesigprent van elke Bybelkarakter herhaaldelik te gebruik in elke storie oor hom/ haar, sodat die kind weet dieselfde Jakob wat in laas Sondag se les Esau omgekoop het met lensiesop is die een wat hierdie week by Bet-El van ‘n leer droom. Of die Bybelkarakter hartseer, bly of kwaad word in die storie, sittende of staande, of hy jonk is in een verhaal en oud in ‘n ander, een prent van hom word deurgaans gebruik.
Vir my is dit ‘n nadeel: Dit maak die Bybelles-prente vervelig. Maar LP3 se doelwitte is anders as myne.
Gebed staan nooit op die grootgroep-programme as aktiwiteit nie, en is selde ‘n aktiwiteit in die kleingroep-programme. As jou gemeente hierdie reeks gebruik, herinner die kategete om elke week saam met die kinders te bid aan die begin van die grootgroeples en die einde van kleingroep – of dit op die program staan of nie.
Hulle volkleur-aktiwiteitsboeke vir kinders (wat merkwaardig genoeg in omtrent dieselfde prysklas as ander materiaal s’n val, al is die ander swart en wit!) is baie mooier as enige ander reeks se kinderboeke, maar soms sien ek min van ‘n verband tussen die les in die groot groep en die aktiwiteite wat in die klein groep gedoen moet word. Ander kere herinner die klein groep aan die Bybelverhaal, maar het dit nie ‘n toepassing hoe die les die kind raak nie.
Aktiwiteite is soms baie abstrak, bv. dat die Gr. 1-3’s op ‘n stadium ‘n papierketting moet maak, dan vertel jy hulle: “Net soos die skakels inmekaar pas om ’n ketting te vorm, pas die skakels van God se plan in elke mens se lewe inmekaar om ons lewensketting te vorm.”
Kortom, hierdie lesse wys presies waar alles op ‘n tydlyn, op landkaarte en by die kerkjaar inpas, maar ander lesse wys beter hoe geloof en die Bybel in ‘n kind se lewe inpas.
Metode, groepsgewys: Hierdie boeke is bedoel vir om elke Sondag eers grootgroep (Gr.1-6 bymekaar) aan te bied, en dan te verdeel vir kleingroep-aktiwiteite.
Koste: Tussen R90 en R2 138 vir die tydlyn, en R41 – R175 vir prente vir die tydlyn, afhangende van grootte. Onderwysershandleidings (CD) vir 0-5 groepleiers in die gemeente: R280,00; Onderwysershandleidings (CD) vir 6 en meer groepleiers in die gemeente: R350,00. Kinder-werkboeke R40-45 per werkboek
Voorbeelde:
Klik hier vir Program met grootgroepmateriaal, materiaal vir junior (Gr. 1-3) en senior (Gr. 4-6) kleingroepe, en die kinder-aktiwiteitsboeke se voorblaaie en aktiwiteite van daardie les.
Klik hier vir die Powerpoint aanbieding
Klik hier vir die plakkate

Klik hier vir die Temalys

Klik hier vir deel 1: Inleiding en Lesse wat Leef

Klik hier vir deel 2: Paidion

Klik hier vir deel 3: Modkats

Klik hier vir deel 4: AJK

Klik hier vir deel 6: Voorstelle en vergelyk van materiaal

Klik hier vir deel 7: Voorbeelde van tiener- en kleutermateriaal

One response to “Ienie, mienie, maainie, mou – Watter kategese-materiaal moet my gemeente kies? Deel 5: LP3/ “Die coolste plan”

  1. Vraag aan my: Is daar darem iets waarvan jy hou in hierdie lesse?
    O ja! Op kop-vlak dink ek is die temas– wat alles aan die beurt kom en in watter volgorde – oor 6 jaar baie goed uitgewerk vir Bybelse geletterdheid.
    Dis ook goed, in die lig van hoe klein party gemeentes deesdae het, dat mens kan wegkom in ‘n klein gemeente met 2 kategete vir almal van Gr. 1-6. (1 junior, 1 senior, en hulle doen grootgroepe om die beurt.) Groot- en kleingroepmateriaal het ook die voordeel dat die meeste voorbereiding elke week aan een mens gaan (grootgroep-aanbieder), terwyl die kind persoonlik bereik word en kan reageer in die klein groepe.
    Hoe meer ek oor die tydlyn dink, hoe meer sin maak die insluit daarvan ook vir my.
    Ek wens ek kon deel wees van ‘n taakspan om kindervriendelike lesse met goeie toepassings, waarin Christus sentraal staan, op hierdie fondament te bou. (Die fondament is baie goed, die gebou daarop is myns insiens nie die beste wat mens kan kry nie.) As ek dit doen as deel van ‘n amptelike taakspan van die NG Kerk (hierdie is NG materiaal), soveel te beter, want dan kan ons oulike idees uit die AJK lesreeks, wat ook hulle s’n is, hergebruik.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s