Ek volg nie die God van my kinderjare nie

“Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat…” – Deut. 5:9, Ou Vertaling

Hierdie woorde uit die 10 gebooie is die eerste ding wat ek van die kerk uit my kinderjare onthou: Die jaloerse God wat vir my sal kwaad wees as my ouers en oupas en oumas kwaad doen. Nie dat ek gedink het my ouers en grootjies doen vreeslik kwaad nie, maar dit bly die God wat geslagte lank kwaad bly.

Ek weet, die daaropvolgende woorde was dat Hy liefde betoon tot in die duisendste geslag, maar albei boodskappe vertel dat hoe God oor jou voel hoofsaaklik op jou voorgeslagte gegrond is.

Ek onthou stilsit en voel dat hierdie plek net vir grootmense bedoel is: Daar word met grootmense gepraat en grootmense kry soms brood en wyn. Ek onthou die 10 gebooie self, met die 10 keer se “jy mag nie…” (Die 2de gebod het 2 “jy mag nie’s” en “eer jou vader en jou moeder” nul. Maar vaders en moeders gee natuurlik hulle eie “jy mag nie’s”.)

Gepraat van die 10 gebooie, ek het destyds gedog “sorg dat jy die Sabbat heilig hou, dis as ‘n rusdag ingestel” beteken, as jy ‘n kind is, om nie die grootmense te pla as hulle ‘n middagslapie vat op Sondag nie. Sondag is vir stilsit (in die kerk en Sondagskool) en stilbly (in die kerk, die Sondagskool en as die grootmense slaap) bedoel.

Ek onthou nie veel van wat enige laerskool-Sondagskooljuffrou of meneer (in Gr. 3 en 4 het my pa vir my Sondagskool gegee) my geleer het nie*, maar ek onthou of ek van hulle gehou het.

Ek onthou my pa se geneigdheid om baie Sondagmôres vloermoere te gooi oor goeters soos sokkies wat weg is reg voor kerk, sodat niemand van ons buiten hy met ‘n lekker hart kerk toe gaan nie. Dit klink dalk disrespekvol teenoor my pa, maar ek wil regtig nie die man beswadder nie. Hy was nie altyd so nie, ek is lief vir hom, maar die ou duiwel het gesorg dat sy slegte buie disproporsioneel geneig was om Sondagoggende te gebeur.

Die God van my kinderjare was nie my

Hierdie jong Katoliek voel klaarblyklik oor kerk baie soos ek gevoel het op daardie ouderdom...

Hierdie jong Katoliek voel klaarblyklik oor kerk baie soos ek gevoel het op daardie ouderdom…

God nie. Hy was die God wat met die grootmense gepraat het, wat my genade betoon of vir my kwaad was oor my voorgeslagte.

Eers as ‘n tiener het ek ‘n ander God leer ken: ‘n God wat my wil soek en red. ‘n God wat wil my uitnooi om met Hom te praat, en wat wil antwoord. Wat gesterf het vir my. Wat my liefhet nie oor my voorgeslagte nie, maar sommer oor hoe hy my, Retha, gemaak het. ‘n God wat nie geslagte lank kwaad bly nie, maar wat vergewe as ek sonde bely.

Hoekom sal iemand soos ek, wat min dink van die geloof wat ek as kind geleer het, wil kategese gee vir kinders? Ek doen dit oor die volgende geslag liefs nie dieselfde idees oor geloof moet kry wat ek destyds gekry het nie.

En jy? Hoe het jy kerk beleef in jou kinderjare? En (net as jy wil) watter jare was dit wat jy die kerk so beleef het? My herinneringe kom meestal uit die ’80s, hoewel ekself uit die ’70s kom.

————————

Nota

* Ek skryf die feit dat my geslag kinders meer van die Bybel geweet het grootliks toe daaraan dat my skool-onderwysers elke dag met ‘n kort Bybelstorie begin het toe ek in Gr. 1-5 (of ouer?) was. Ek dink dit was by ander skole ook die geval. ‘n Daaglikse Bybelstorie, 5 dae ‘n week omtrent 38 weke ‘n jaar doen vanselfsprekend meer vir kopkennis as Sondagskool se Bybelstorie een keer ‘n week 25 weke ‘n jaar. Die kategese kan nie die kopkennis vervang dat skole nie meer sistematiese Bybelonderrig gee nie.

En ‘n skoolhoof wat graag daardie taak wil gedoen kry sal meer moet doen as om bloot ‘n Bybelperiode in te sluit: Iemand sal ‘n sistematiese lys Bybellesse moet uitwerk sodat die kind nie bv. 4 keer die verhaal van die vermeerdering van die brood en vis hoor, maar nooit van die barmhartige Samaritaan nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s