Hierdie artikel gaan nie oor lyfstraf nie

Laas sien ek ‘n Christelike tydskrif iewers rondlê met ‘n voorbladartikel: “Wat die Bybel oor lyfstraf sê.”
Daar was nie kans om dit te lees nie. Maar ek weet hoe ek 5 jaar terug die saak sou benader het:
Ek sou verse opgesoek het wat direk iets oor lyfstraf vertel het. En aangesien ons waarskynlik oor lyfstraf vir kinders praat, sou ek verse soek wat die woord “kinders” saam met woorde wat straf impliseer inhet. En as ek sodoende net op enkele verse uit Spreuke afgekom het, sou my volle idee oor die Bybel, kinders en lyfstraf uit Spreuke gekom het.
Nou reken ek die Bybel is groter as dit.
Die saak is nie net lyfstraf nie, maar enige Bybelse saak: Om “die Bybel” se boodskap oor ‘n saak te kry, moet jy meestal dieper kyk as net die kernwoorde oor jou saak. (“Kinders” en “slaan/ straf”, byvoorbeeld.)
Kinders is mense, en straf hou verband met beginsels soos vergifnis, geregtigheid, en genade. Wat vertel die Bybel oor mense en straf? Oor mense en vergifnis? Oor mense en geregtigheid? Oor mense en genade?
Meer nog, as daar ‘n verskil sou wees tussen die oënskynlike Ou Testamentiese boodskap oor mense straf en die Nuwe Testamentiese boodskap, na watter een luister jy, of hoe versoen jy die twee?
En dan, op ‘n kleiner skaal: Verstaan ons hoegenaamd die verse wat ons dink oor straf gaan reg? Daar word byvoorbeeld van kinders gepraat, maar in Afrikaans is sowel ‘n pap babatjie, as ‘n oom van 60 wie se 81-jarige ma van hom praat, ‘n kind. As mens wil slaan oor Spreuke so sê, wie mag jy slaan?
aint got JesusNee, ek gaan nie hier ‘n opinie oor “lyfstraf vir kinders en die Bybel” gee nie. Wat ek jou wel gaan vertel, is dat ek seker is die standaard-opinie van Afrikaanse Christene kan net ‘n deel van die waarheid wees. Want ek het nog nooit een van ons daaroor hoor praat in die konteks van Christus nie. Straf bestaan wel in die konteks van Jesus – Jesus is gestraf vir ons sonde. Maar genade bestaan ook, en om nie vir jou oortredings gestraf te word nie.
En mishandeling onder die naam van straf bestaan ongelukkig ook. Maak ons dalk, met ons houding oor lyfstraf, die lewe moeiliker vir die kind wat mishandel word? En sal Jesus daaroor vir ons vertel dat wat ons aan ‘n mishandelde kind gedoen het, om sy mishandelaar te help wegkom deur agter wettige lyfstraf weg te kruip, ons aan hom gedoen het?
Ek kan nie onthou dat een “Christelike” artikel oor lyfstraf al selfs genoem het dat regverdigheid belangrik is, dat slae disproporsioneel tot die oortreding, of straf vir al drie jou kinders oor jy nie weet wie die venster gebreek het nie, nie pas by die volgeling van ‘n God wat regverdig en genadig is nie. Nog minder het enige so ‘n bespreking al ooit genoem dat wettige straf ‘n struikelblok kan wees vir kinders wat werklik mishandel word, en wat ons verantwoordelikheid teenoor daardie kinders is.
Dis iets wat ek teekom in besprekings oor verskeie onderwerpe: Mense probeer baiekeer vertel wat “die Bybel” oor ‘n saak vertel, sonder om Jesus of genade of naasteliefde of geregtigheid in ag te neem. As ons Jesus uit die Bybel uithaal, mis ons die punt. As ons Jesus ignoreer in enige saak waaroor ons “uit die Bybel” ons besluite wil regverdig, mis ons die punt.

MATTEUS 23:23
“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen en die ander nie nalaat nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s