Monthly Archives: Augustus 2014

Ai tog, verkoopsmense!

“How are you, madam?” vra ‘n vreemde stem oor die foon. En as ek ‘n sekond vat om my gedagtes bymekaar te kry om te antwoord (hoe gaan dit nou eintlik vandag met my?) , vra sy dit weer, hierdie keer effens geirriteerd.Sy wil nie weet hoe dit gaan nie – sy wil “goed dankie” hoor sodat sy kan aanbeweeg na sake wat vir haar belangrik is.

“We want to spoil you today…” Nee, julle wil my nie bederf nie. Julle wil ‘n wins maak deur skoonheidsprodukte te verkoop. Niks fout daarmee nie, maar praat asseblief die waarheid.

do-not-call-me-telemarketer-267x300“Our product packet is valued at R1400, but you can get it for less than R350…” Wie waardeer julle produk op R1400? Ek het al boetiek-tops gesien wat maar baie dieselfde lyk as ‘n Ackermans top teen R100 – en die boetiek kry kopers, dus lei ek af dat iemand (nie ek nie) reken dis dit werd. Wat gee ek om watter waarde ‘n ander antie, of dalk die maatskappy self, aan hulle produk heg? Die punt is, as die kospryswaarde van die goed meer as R350 sou gewees het, sou hulle dit net teen daai prys verkoop het as dit iets is wat niemand wil hê nie, soos rooi ooggrimering (dit lyk of mens gehuil het) of grys lipstiffie, en hulle daarvan wil ontslae raak.

Asseblief, verkoopsmense: Daar is niks fout daarmee om oor die foon te verkoop nie. Maar moenie maak of julle omgee nie. Julle klink vals. En as daar van my verwag word om produkte te koop wat ek nog nie in my hande gehad het nie, dan verkies ek eerlike verkoopsmense.

Advertisements

Kinderkerk of Sondagskool?: Voor- en nadele van om kinders in klein of groot groepe te bereik.

Dit is deesdae algemeen in groter gemeentes om nie meer klasse te hou met so 4-9 kinders nie, maar eerder al die kinders in die saal bymekaar te kry vir ‘n les. Wat is die voordele van elke benadering?

 

Voordele van groot groepe:

  • Lofprysing en ander sang werk beter in groot groepe.
  • Dis dalk makliker in jou kerk om een mens te kry met die visie om les te gee vir 40 kinders as om 5 te kry wat wil les gee vir 8 kinders elk. Dis ook minder moeite om voor te berei.
  • Om lesse te illustreer is goedkoper en makliker. Een stel prente op papier, of een projektorskerm, kan gebruik word vir al die prente van ‘n les.
  • Die kind kry die boodskap dat hy nie bloot iets hoor wat net bedoel is vir een klein groepie nie, maar dat die boodskap vir almal bedoel is.

Lees voort

Neus in ‘n boek

Eendag, in die nie-so-verre verlede (die 1980’s, as jy moet weet) was ‘n klein dogtertjie op die verhoog geroep om ‘n boekprys in ontvangs te neem: Die beste prestasie in Standerd 1A. Daar is natuurlik ‘n paar ander Standerd 1’s (Graad 3’s in vandag se taal) ook op die verhoog geroep om pryse te kry.

Die oomblik toe klein Retha haar prys in ontvangs neem, kyk sy wat op die voorblad staan: “Die wêreld se beste Karelsen” deur Astrid Lindgren. Dieselfde skrywer wat Pippie Langkous geskryf het. Sy kyk weer op. Eintlik, weet sy, moet sy kyk na die persoon wat die boekpryse uitdeel, nie na haar boek nie. Sy begin weer na die stofomslag loer terwyl die hoof nog iets sê. Sy kyk weer op oor sy moet, kyk terug na haar boek oor sy wil…

4505668344_e356e8de85_zMy ma sê sy onthou nou nog hoe almal gesien het dat ek duidelik weet ek is veronderstel om op te kyk en te luister, maar die boek-versoeking is te groot. Toe ek terug op my plek is, dink ek nie dat ek ‘n ding waargeneem het van die Standerd 2’s, 3’s, 4’s of 5’s se pryse nie. Die uitdeel van die sportpryse (nie iets wat ek ooit gewen het nie) het ek nie waargeneem nie. My lyf was in ‘n skoolsaal in Gobabis, reg langs my ouers, my kop was in die lug bo Stockholm, waar Karelsen rondgevlieg het.

Die volgende jaar, by daardie selfde skool, het ek ‘n prys gekry vir “Besondere belangstelling in die biblioteek.” Hoekom, o hoekom, was dit ‘n sertifikaat en nie ‘n boekprys nie?