‘n Storie wat my laat kop krap: Hoekom ‘n toegewyde Sondagskooljuffrou nie meer lus is vir kerk nie

Hierdie is ‘n so-waar-soos-ek-kan storie wat ek nie verstaan nie. Al wat ek weet is “Helena” soek ‘n plek om liefde en lering te gee, waar dit wat sy is en doen mense kan verryk. En dat sy God (en miskien mense) se hulp nodig het om ‘n plek te kry daarvoor. Ek ken nie altwee kant van hierdie saak ewe goed nie, so ek raai so ‘n bietjie.

———

Tia, voorsitter van die jeugkommissie: Helena het by haar heel eerste Sondagskoolvergadering hier al veranderings voorgestel. Ons was nie goed genoeg vir haar nie.

Helena: Ek het een verandering voorgestel, ja. Daar was dae wat niemand voorbereid was vir groot groep (dis waar ons die bybelstorie vir al die kinders Gr. 1-6 aanbied) nie, en partykeer was dieselfde les meer as een week deur verskillende mense voorberei, terwyl ander lesse oorgeslaan was. Toe stel ek voor dat die sekretaresse elke week vooraf daardie week se grootgroep-aanbieder laat weet dis sy beurt, en watter les hy moet gee.

Janine: Sy was oornemerig!

Helena: Ek weet dis voor op die wa, maar eenkeer wat geen aanbieder opgedaag het vir groot groep nie, het ek ingespring en ‘n impromptu vasvra oor die kwartaal se lesse en ‘n paar lofliedjies gedoen , eerder as dat die kinders doelloos in die saal ronddwaal. Die 2de keer wat dit gebeur, het ek ‘n les voorbereid gehad vir sulke gebeurlikhede.

By ‘n latere vergadering het ek selfs voorgestel dat mens dalk ander Sondagskoolboeke kry. Waar leiers nie met mekaar kommunikeer oor wat volgende week gaan gebeur nie, werk boeke waarvolgens elke kategeet sy eie lesse aanbied beter.

Tia: Lofprysing is vreeslik belangrik. Die kategese wat tydens die kerkdiens in ‘n ander lokaal plaasvind begin vroeër as die kerk, sodat ons baie kan sing. Die kerk en Sondagskool kom gelyk uit. Daarvan maak grootgroep-Bybelstorie so 15 minute uit en sang meeste van die res.

Helena, volgende kwartaal: Een tree vorentoe, een terug: Die plan van ons lesse is grootgroep-bybelstories en dan verdeel in klein groepe vir vaslegging. Na ek dit by die vergadering geopper het bly ons by die grootgroep-program, dus weet kleingroepleiers nou wat om voor te berei. Maar ons het nie meer klein groepe nie, oor sang al die tyd opneem! Dit ondermyn dinge.

Tia: Helena verstaan nie lofprysing is belangrik nie.

Helena per e-pos aan ander junior kategete, week voor kategete-vergadering: Ek wil by die vergadering voorstel dat sangtyd verminder word om weer tyd te maak vir klein groepe, sodat kinders persoonlik bereik word. Hoe voel julle? Hoeveel tyd moet vir klein groepe gegee word?

Helena, per e-pos aan Tia: Kan ons maar hierdie week die sang kort maak? (Ek sou graag baie tyd aan die kruisiging-grootgroeples wil spandeer.)

Tia: Wat het Helena teen sang? En sy moet ophou om die e-pos vir haar persoonlike agenda te gebruik. Die Sondag het ek ‘n toets gedoen: Ek het hulle langer as gewoonlik laat sing, en na Helena se les die kinders laat skree: Wil hulle klein groepies toe gaan, of nog sing? Hulle het harder geskree vir “bly sing”. Toe hou ek hulle in die saal en ons sing.

Helena: Dis die mees ekstroverse kinders wat graag wil sing met bewegings, en voor ander kinders bewegings demonstreer terwyl hulle dit doen. Dis ook hulle wat die hardste skree. As sy elke kind gevra het om hand op te steek of hulle wil klas toe gaan of nie, as sy ewe veel omgegee het vir die opinies van die kinders wat nie so hard skree nie, sou die resultaat anders gewees het. En van wanneer af gee mens vir kinders meer van alles wat hulle vra (lekkergoed, speelgoed), en niks van wat hulle nie vra nie (skool, groente)?

Dis jammer dat die belangrike kruisigingsles ondermyn is. Omdat sy min tyd gelos het vir my om les te gee, het ek spesifiek my storie ekstra-kort vertel sodat daar tyd vir klein groepe ook sal wees, dat die kruis bespreek kan word en nie net van gehoor nie. Dit werk toe nie so nie.

Wilna: Op die vergadering het ons almal buiten Helena vertel klein groepe is onnodig. Maar Ds. Karel het ons nie laat stem nie, hy het namens ons besluit hoeveel tyd voortaan vir klein groepe gebruik gaan word.

Helena, aan haar ma ‘n rukkie later die dag: My kleingroep-voorstel is toe aanvaar, al wou die ander nie. Dis sleg dat ‘n besluit deur is net oor die dominee sy stem dik maak – so kry mens nie entoesiasme uit die leiers nie. Ek het gevra hoe voel hulle, nie my opinie afgedwing nie.

Helena, per e-pos aan leiers, paar weke later: Met die onverwagte verlengde vakansie het ons les 16 en 17 oorgeslaan. Ek sal Sondag in die groot groep les 16-18 se storie vertel. Besluit self watter items uit les 16-18 se klein groep lesse die belangrikste is vir julle.

Pieter, Tia se man, wat elke 2de week groot groep aanbied, daardie Sondag voor klas aan Helena: Jy was voorberei om vandag les 18 aan te bied? Die kwartaalprogram het verander. Ek bied vandag les 11 aan, en jy volgende week les 12…

Helena, later die week per e-pos aan kleingroepleiers: Ek hoor die program het verander, maar niemand kan my ‘n nuwe program gee nie. Ek doen hierdie Sondag les 12 volgens die nuwe program, daarna is dit Pieter (les 13) … Ek laat julle weet sodat almal kan weet watter les ons in die klein groep doen.

Dominee Karel, per e-pos: Moenie die program verander nie! Ons was laas op les 18 en Pieter doen hierdie Sondag les 19, soos die program sê.

Pieter, op les 19 se Sondag: Helena, ek gaan kategese los. Ek los dit oor my werk my te besig gaan hou.

Helena: Sterkte met jou werk, Pieter, en ek hoop jy is gou terug.

Helena besluit sy is nie daardie dag nodig terwyl Pieter groot groep aanbied nie, en die beste wat sy kan doen tydens die groot groep is om in haar kleingroep-klas te sit en bid vir Pieter, en die gemeente se kategese in die algemeen. Die kategese het gebed nodig. (Gaan in jou binnekamer, bid waar niemand jou kan sien nie…) Wanneer die groot groep uitkom, sal haar klein groepie na haar klas toe kom, en sal sy gebed los en groepie aanbied. Terwyl sy bid, met die kinders en ander kategete in die groot groep, reël die ander kategete onder mekaar om haar voor stok te kry. Hulle organiseer dat al die kinders na een klas toe gaan saam met een leier in plaas van om normale kleingroepe te hou (die klein groepe word weer ondermyn), sodat die ander leiers haar nie na nie, maar tydens kategese kan takel.

Wilna: Jy wil nie by die kategese betrokke wees nie! Jy gaan sit eenkant in jou klas terwyl daar groot groep is!

Helena: Ek het spesifiek iets vir die kategese gedoen. (Sy vertel nie dis gebed nie. Om in ‘n vergadering te vertel dat jy eenkant gaan bid het is juis om jou gebede aan die groot klok op te hang.)

Wilna, by die vergadering: Helena, ek sien jy het ‘n wrok teen my kind. My Gr. 5 dogter in die voorste ry by groot groepe steek haar hand eerste op, maar jy ignoreer haar…

Helena: ‘n Wrok? Nee! 11- en 12- jarige kinders van kerkouers steek altyd eerste hande op as mens ‘n vraag vra, en ek wil sien dat selfs die 6-jariges en kinders wat min van godsdiens hoor die antwoord verstaan. Daarom bly ek leidrade gee tot hulle ook die antwoorde ken.

Wilna: Helena kom by die kategese aan en groet ons ander kategete nie, maak nie oogkontak nie – sy dink sy is te goed vir ons!

Helena: Ek groet kinders en leer hulle name ken ook, nie net die grootmense nie. So ek groet dalk nie al die ander leiers nie, maar ek gesels met net soveel mense.

Helena: Is daar een van julle wat wil groot groep aanbied? Wat soms wil groot groep aanbied?

Ander leiers: Nee. Jy is op jou eie.

Wilna: Jy dink jy weet beter as ons! Jy verander selfs die program!

Helena: Pieter het my vertel die program het verander. Toe wou ek saamwerk met die nuwe program.

Wilna: Pieter los kategese grootgroepe oor jou, Helena! Hy wil nie saam met jou werk nie.

Pieter aan Helena, na die vergadering: Dis nie waar nie.

Helena, na die impromtu vergadering: Hierdie vergadering het my duidelik gewys party mense by die kategese hou nie van my nie en glo die slegste oor my. Maar wat kan ek doen? Met Pieter weg is daar niemand anders wat die groot groepe wil doen nie, die kinders het lesse nodig. Mens kan jou nie deur onregverdige kritiek laat onderkry nie. Die blote feit dat hulle die kinders in een klassie inboender om in kategesetyd my te beskuldig wys die kinders is vir hulle ‘n lae prioriteit – en dis waarom ek nie kan moed opgee nie.

‘n Maand of 3 later:

Helena: ‘Dis bemoedigende dat noudat ek elke week grootgroep aanbied die kinders se kategesebywoning begin toeneem het, en dit in midwinter wanneer bywoning gewoonlik afneem. Dit beteken nie ek is wonderlik nie, dit beteken seker dat kinders dit waardeer as mens op ‘n plan af werk en kom met ‘n boodskap elke keer.

Dit het egter gepla dat, wanneer ek rondkyk vir die sekretaresse of jeugkommissie-voorsitter om afkondigings te doen, hulle nooit daar was nie. Nog ‘n lastigheid was dat op 2 geleenthede in die kwartaal die kerksaal, waar die junior kategese gewoonlik bymekaarkom, nie beskikbaar was nie. In enige ander gemeente sal ‘n ander saal-gebruiker met die kategeseleier kommunikeer en vertel dat hulle ‘n plan B moet maak. In hierdie gevalle was daar – per ongeluk of doelbewus – nie vir my wat die groep aanbied vertel daarvan nie. Dit ondermyn nogal die aanbiedings. Vir nog ‘n ding, die meeste ander kategete het my soveel geignoreer dat hulle nie eers, toe my pa oorlede is, gesimpatiseer het nie…

Wilna: Mens kan nie met Helena praat nie.

Tia: Ek bedank as voorsitter van die jeugkommissie. My werk hou my te besig.

Wilna, een Sondagoggend aan Helena terwyl die kinders in die saal is met Helena wat ‘n lied lei voor die Bybelles: Ek het gereel dat die kinders almal vandag kerk toe gaan. Kondig dit so vir hulle af.

Helena: Kondig jy dit af.

Wilna: Nee, jy.

Helena: Ek het gestoom oor kategese weer op die laaste nippertjie ondermyn word, maar wat kan ek doen? Ek wil ook hê dat kinders kerkdienste bywoon, maar dit pla dat die kinders en leiers nie vooraf weet wat gaan aan nie. Kinders soek stabiliteit. Ek hou ook nie daarvan dat mens die kinders kerk toe vat op ‘n dag wat die dominee gedog het dat daar geen kinders gaan wees nie, en dus geen plan het om op hulle vlak ook te praat nie. Dis soos om my te dwing om ‘n kerkdiens in Zoeloe by te woon. Maar ek kondig maar, so positief as moontlik, vir die kinders af dat ons kerk toe gaan…

Vermoedelik, ‘n kategeet aan dominee Karel: Helena is so deurmekaar soos ‘n verkleurmannetjie op ‘n Smartieboks. Ek los kategese. Die program is alweer op die laaste nippertjie verander.

Ds. Karel daag dae later by Helena se werk op: Ons wil jou ‘n guns vra. Wil jy nie van hierdie Sondag af die kleuterkerk behartig nie?

Helena: Ek kan nie, ek gee kategese in daardie tyd.

Ds Karel: Hulle het gevra dat jy daar weggaan. Daar is nou nog ‘n kategeet wat wil loop oor sy nie met jou kan saamwerk nie.

Helena: Nog een, oor my? Daar was nog net 1 kategeet, Pieter, weg hierdie jaar. Dit was om werkredes, nie oor my nie. (Tia, wat die jeugkommissie en sang lei om werksredes gelos het, was nie ‘n kategeet nie.) Wie, dan praat ek die saak met hulle uit?

Ds: Karel: Ek weet nie wie nie. Hulle het by ds. Klaas gekla. In elk geval, ons het gereel om van hierdie Sondag af sonder jou klaar te kom by die kategese.

Ds. Klaas, toe Helena hom bel: Hulle het by ds. Karel gekla, praat met hom.

Daardie selfde Sondag daag Tia, wat “om werkredes” bedank het, weer op by die kategese.

Volgende week, SMS boodskap van sekretaresse aan junior kategete: Daar is niemand om groot groep aan te bied nie. Doen hierdie week die Bybelverhaal in die klein groepe. (Aan mense wat juis nie klein groepe wil doen nie! Ten minste, díé van hulle wat in vergaderings praat wil nie.)

Marie, aan Helena se broer: Ek hoor hulle het Helena laat gaan by die kategese. Wat? Dis belaglik. Dominee Karel vertel my sy is die enigste een wat moeite insit by die kategese.

Helena, per e-pos aan almal wat daardie jaar by junior kategese betrokke was: Ek hoor dat van julle iets teen my het. Kom na my toe, dan praat ons dit uit in die gesindheid van Matt. 5:23-24.

(Geen kategeet kom om iets met haar uit te praat nie.)

Tannie Annetjie: Jy is laat gaan oor hulle nie van jou hou nie? Ek hou niks van wat ek hoor nie! Wat as die mense by die Bybelskool volgende week besluit hulle hou nie van my gesig nie, gaan ek ook weggejaag word? Ek het gedog hierdie gemeente sal ‘n veilige hawe wees na ek uit Oos-gemeente weg is. Waarheen gaan ek nou?

Een van die predikante: Jy het niks verkeerd gedoen nie, Helena, dis oor jou Aspergers.

Helena: Hulle het weggejaag wie God my gemaak het. My brein en temperament het Aspergers as ‘n kern daarvan, en daardie gemeente het nie plek daarvoor nie. Ek is nie verbaas dat hulle nie kinders raaksien wat nie die hardste skree nie – daardie kinders is, soos ek, introverte.

—————–

Helena, enkele maande later: Wat is die kerk? Dis ‘n plek vir gemeenskap van gelowiges, waar mens saam jou gawes gebruik tot opbou van mekaar. My gawe is om ander te leer. Kan ek my gawe in hierdie gemeente gebruik? Nee, net as die betrokkenes by kategese ophou om gereelde les-aanbieding in die wiele te ry. Beleef ek gemeenskap? Nee, ek beleef teenstand en ondermyning. Ek het probeer om vrede te maak. Ek het die mense wat vir my kwaad is genooi om met my te praat, sodat mens kan saam die kategese sinvol maak vir kinders. Maar hulle wou nie. Om hierdie gemeente te verlaat is logies, ek moet ‘n plek kry waar ek kan op ‘n plan af les gee.

Ds Karel: Dis nie waar dat sy nie hier kan les gee nie. Sy kan kleuterkerk gee. (Asof ds. Karel, wat self graag ander leer, in die gemeente sal bly as hulle hom vertel hy mag nie meer ‘n predikant wees nie, maar hy kan maar enkele kleuters leer vir solank hulle aandagspan hou.)

Elna, wat 2 jaar gelede kleuterkerk gegee het: Die kleuterkerk se bywoning is soms 2 kinders, soms nul…

Een van die ander kategete: As sy sommer ‘n gemeente los vir niks, is die kerk beter af sonder haar.

Helena: Die arme kinders! Hulle los my om mense te behou wat nie eers wil les gee nie (het by die vergadering vertel dis onnodig oor daar groot groepe is – waar hulle ook nie les gee nie), wat soms doelbewus verhoed dat die kategese op ‘n plan af werk, wat nie verstaan dat elke kind tel en nie net die kinders wat die hardste skree nie, wrokkige mense wat nie sake wil uitpraat nie. Ek kan sien ek kan nie die gemeente se junior kategese red nie, maar die predikante kon ten minste my gevra het wat aangaan, en wat ek dink daar nodig is, eerder as om my sommer te laat loop. Want regtig, die arme kinders word kwalik sinvol bereik daar.

Ek was enkele eredienste by daardie gemeente sedert daai dag. Maar ek voel elke keer bang vir haters wat net die slegste sal sien in alles wat ek doen, en alles wat ek sê sal wil teenstaan. Nie almal in die gemeente is so nie, maar die neutrales help my ook nie met ‘n plek waar ek sinvol betrokke kan wees nie. En niemand het eers my weergawe van gebeure gevra nie (tel net diegene wat die hardste skree/ meeste agteraf skinder?), of my vrae oor wat gebeur het eerlik probeer antwoord nie. Dit wys ook dat hulle iewers langs die pad besluit het om my te wantrou. As ek gemeenskap van gelowiges soek, sal daar beter plekke as hierdie wees.

As hierdie storie ooit ‘n gelukkige einde het, sal ek dit rapporteer. Op hierdie oomblik hoor ek niks goeds van hoe kinders daar die kategese beleef nie, en Helena het nog nie plek in ‘n ander gemeente nie.

Kan iemand uit hierdie storie iets aflei wat Helena dalk mis? Want sy het geen idee wat gebeur het nie.

2 responses to “‘n Storie wat my laat kop krap: Hoekom ‘n toegewyde Sondagskooljuffrou nie meer lus is vir kerk nie

  1. Ek probeer om nie meer aan die saak te dink nie, want dit maak net my koppie plat: Sondag was die kategese-prysuitdeling. Ek het ‘n sertifikaat vir betrokkenheid gekry (want ek was vroeër die jaar nog betrokke), en die predikant was glo verbaas dat ek nie daar was om die sertfikaat te ontvang nie.
    Hulle jaag my weg en is verbaas dat ek nie daar is maande later nie???? Hoe moet ek selfs onthou watter dag die prysuitdeling is?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s